Do 31 Julie: Die Regte Plek

Lees Johannes 19 : 17 – 30

“Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel” (17).
  
Die beroemde skilder, Rembrandt (sy voorname word nie dikwels gebruik nie – Harmen­zoon van Rijn) het die kruisigingstoneel van Jesus geskilder. Hy was veral bekend vir die gesigsuitdrukkings wat in sy skilderye na vore kom. Our Daily Bread vertel van `n besondere element in Jesus se kruisigings­to­neel. `n Mens se aandag word heeleerste na die ster­wende Heiland getrek. Later begryp ons hoe­kom Jesus se kruisigingstoneel so `n sterk invloed  op die kyker kan uitoefen – dit het ook die skilder se hart bereik. Van die Persoon van Jesus af dwaal `n mens se aandag na die skare wat om die kruis versamel het. “You are impressed by the various attitudes and actions of the people involved in putting the Son of God to death.” Die kruisigings­gebeure en Jesus se houding en gedrag aan die kruis tref mense altyd. Verskillende reaksies kan op die houding en gesigte van die omstanders ontdek word. Maar die groot bood­skap wat die skildery uitdra, skryf Daily Bread, ontdek `n mens as jou oë die eensame figuur, verskuil in die skaduwees, op die kant van die aktiewe gebeurtenisse, raaksien. Dit is Rembrandt self. Na Hy Jesus, sterwende aan die kruis, en al die mense met hul houdinge en gesigsuitdruk­kings geskilder het, het hy homself ook, laaggebuig, tussen hulle geplaas, waaroor Daily Bread hierdie veelseggende opmerking maak:  “…the artist himself realised that his sins had helped nail Jesus to the cross!”

Deur die Bybel se die vertelling van Jesus se kruisiging, bring die Heilige Gees dieselfde uit­werking in `n mens se hart. Ons moet in die vier evangelies Jesus se kruisiging stadig, pein­­sende lees. Hoe inniger ons, in ons gemoed, lesende na Jesus kyk, oppad kruis toe, by die kruis, aan die kruis, hoe dieper dring die besef van wat Jesus vir ons gedoen het in ons hart in. Die oppervlakkige hantering van die kruisigings­ge­beure is `n groot skade vir ons geloofs­hou­ding. Lukas hoofstuk 23 be­skryf die kruisgingsto­neel duidelik. Rondom die kruis is vroue wat rou­be­dryf en Hom beklaag, die volk staan dit en aan­skou, die owerstes skimp, die soldate dobbel oor sy klere, `n rower bekeer hom, die dissipels en Jesus se familie staar. Kom ons vra onsself af: Hoe kyk ek na Jesus se kruisiging?

“Here, vandag aanskou ek U aan die kruis.”