Di 15 Julie: God sorg vir ons

Lees Psalm 9:1-13

“Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ’n toe­vlug, ’n skuilplek in tye van nood. Daarom ver­trou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie” (10,11).
           
 ‘n Sendinggenootskap het jare gelede vir die eerste keer vroue as sendelinge begin uitstuur na plekke toe wat eintlik vir “manswerk” bedoel was. Twee jongmeisies is gekies om onder die Mazateca Indiane te gaan werk. ’n Ervare sendeling het be-swaar gemaak en daarop gewys dat niemand ooit nog daardie gevaarlike gebied  betree het nie. Hy het hom tot die ywerige twee meisies gewend en gesê: “Moet liewer nie gaan nie. Dit is te gevaarlik.” Hulle het na die voorsitter van die sendingraad, wat verantwoordelik was vir die uitstuur van die sendelinge, gedraai en onrustig gevra: “Sal God dan nie vir ons sorg nie?” Dit was vir hom ’n uitdagende geloofsmoment. Hy het besef dat as hy aan die vertwyfeling en vrees, wat ook in sy hart opgekom het, gaan toegee, gaan dit die geloof­stutte waarop hulle hele sendingbeweging rus, on­der hulle uitslaan. Hulle het vir al hulle planne en  toekomstige onderneminge geen ander waarborge as net God se getrouheid en almag gehad  nie. Hy het na die bekommerde gesigte van die ander raads­lede gekyk. Hy het die twee gretige jong­mense in die gesig gekyk. Toe antwoord hy met ’n toenemende vertroue in sy eie hart: “Ja, God sal vir julle sorg, want Hy kan vir julle sorg as julle sy werk gaan doen.” Hulle het gegaan en die Here het hulle enduit bewaar. Die tydskrif Sunday School Times maak hieroor die opmerking: “Vandag het die Mazateca Indiane die woord van God, omdat Eunice Pike en Florence Hansen gewaag het om God te vertrou.”
           
 Ons kan waag om op God te vertrou: Hy is almagtig: “Niks is vir God onmoontlik nie” (Luk 1:37). Hy kan ons help en vir ons sorg. Toe die dissipels in die storm in hulle boot in die nood was, het Jesus hulle te hulp gekom, al moes Hy alle natuurwette oorbrug om op die water na hulle toe te loop. Hy is getrou: “Weet dan nou: die Here jou God…is die betroubare God…” (Deut.7:9). “God is getrou …”(1 Kor.1:9). ’n Mens kan dit waag om op Hom te vertrou. Hy is liefde: “Maar God is ryk in barm-hartigheid en het ons innig lief” (Ef:2:4). Hy wil ons help en vir ons sorg. Die grootste bewys van God se liefde is die redding wat Hy vir ons in Christus gegee het: “Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortrednge, saam met Christus lewend gemaak.” Deur ons verhouding met Christus is ons God se kinders en Hy sorg vir ons soos ’n vader vir sy kinders sorg. “Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is” (Ps.103:13,14).

 “Here, vandag vertrou ek in U om vir my te sorg.”