Vry 29 Apr: Die Groot Oes

LEES: Matthéüs 9: 35 – 38

“Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur (37,38).”

Ons het nie `n begrip van die grootte van die bevolking van ons wêreld nie. Ek lees met verbasing `n beskrying van Walter Knight van `n deel van ons wêreld. Hy vergelyk die bevoorregte Christenwêreld met die sending­nood. Hy skryf in Noord-Amerika is daar 1,448 predikante per `n miljoen mense. (Die getalle gaan my eie verstand te bowe.) In Latyns-Amerika is daar 19 sendelinge per mil­joen mense . Dit laat 87-miljoen mense onge­ëvan­ge­li­seerd. In Afrika is daar 56 sendelinge per miljoen mense. Dit laat 68-miljoen mense ongeëvangeliseerd. In Indië en Pakistan is daar 10 sendelinge per miljoen mense. Dit laat 261-miljoen mense ongeëvangeliseerd. `n Groot deel van Europa, met sy 480-miljoen mense is grotendeels onge­ëvan­geliseerd. Die Russiesbeheerde lande is gesluit vir sendelinge. In watter jaar hierdie inligting geskryf is, weet ek nie. Die boek wat ek het is die 6de herdruk en die datum is 1978. Hoe akkuraat die syfers is, kan ons nie weet nie. Die boodskap wat net maar tot my hart gekom het, is die groot onbewerkte oes.

In Missionary Principles and Practices skryf  Harold Lin­d­­­sell: One-third to one-half of the first-term missio­na­ries do not return to the foreign field for a second term.

“Elke hart sonder Christus is `n sendingveld. Elke hart met Christus is `n sendeling,” skryf iemand in die midde van hierdie gegewens. En iemand an­ders skryf: “`n Sendeling hoef nie noodwendig buite sy land, of selfs sy omgewing, te gaan om sen­ding­werk te doen nie. `n Ware sendeling moet net uit homself uitgaan. As hy om hom rondkyk is daar oral ruimte vir sendingwerk en verkondiging van die evangelie.” Iemand anders skryf: “Vir God is daar nie `n verskil tussen buitelandse- of tuis­sen­ding nie. Waar `n verlore siel is, is dit `n sendingveld.”

Hierdie artikel in Walter Knight se boek het my laat besef hoe waar is iemand anders se opmerking: “Jy kan dalk nie sendingveld toe gaan nie. Maar jy kan vir die sendingveld en sendelinge bid.”

“Here, vandag en voortaan wil ek vir die sending­behoeftes bid.”