LEES: Handelinge 16: 24 – 31
“Menere, wat moet ek doen om gered te word?”Toe sê hulle: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word..(30,31).”
Die omgewing waar hy woon, skryf iemand in “Christian Digest”, het `n bedrywige treindiens. By elke stasie, soos dit op mekaar volg, word stilgehou vir opklim of afklim van passasiers. Een van die stasies is naby `n groot kerkhof, met die besondere naam, “Calvary Cemetery.” Omdat daardie deel van die dorp meer dooie mense as lewendige mense bevat, as gevolg van die kerkhof, hou die trein daar net stil as dit gevra word. Net na die trein die stasie, net voor die kerkhofstasie, verlaat, kom die kaartjiesman om. Hy maak die lopende trein se passasierswa se deur oop, en sê: “Die volgende stasie is Calvary. Die trein stop net op versoek. Enigiemand vir Calvary?” Die Engels maak dit meer indrukwekkend: “Anybody for Calvary?” Ons weet Calvary is die Engelse uitdrukking vir Golgota, waar Jesus gekruisig is.
Die skrywer sê van hierdie oordenking (ek gebruik weer sy Engels): It is a parable of life’s train. At all the other stations the train stops. At Market Street, at School Street, at University Avenue, at Main Street, at Vanity Fair, at Broadway, at Church Street, at Home Avenue.” By nie een van hierdie bekende stopplekke hoef kennis gegee te word vir afklim nie. Slegs iemand, wat by Calvary wil afklim, moet kennis gee.
Die ander stasiename wat die skrywer gegee het, is die normale, elke dag se sake in elkeen se lewe: Mark-, Skool-, Universiteit-, Kerk-, en so meer. By Golgota, Calvary, is uitdruklike aanvraag nodig. Die mens draai nie vanself, uit gewoonte, na Jesus se kruis toe nie. Dit is `n stilhou wat uit diepe behoefte gevra word. Iemand het Jesus se redding deur sy kruisdood nodig. Of dit is die ernstige stilhou van die dood. Dis begrafnisstilhou.
In ons eie, persoonlike lewenstrein, is die geleentheid nog daar om te vra: “Hou stil by Golgota”. Die finale, maar die beste stilhouplek vir elkeen van ons. Vra self vir die Golgota-stilhouplek, voor iemand dit vir jou begrafnis vra.
“Here, vandag vra ek, bring my by Golgota.”