LEES: Markus 2: 1 -12
“Ek sê vir jou: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe (11).”
`n Man wat onder diepe sondebesef geleef het en na redding gehunker het, maar nie mooi begryp het, hoe hy God se vergifnis kan verkry nie, stap een aand met `n klein paadjie straataf. Hy gaan sit uitgeput langs `n digte heining. Na hy `n rukkie gesit en in sy omgewing meer tuis gevoel het, hoor hy twee dogters, aan die ander kant van die heining, met mekaar gesels. Hulle bespreek `n preek waarna een van hulle geluister het. Die een sê: “Een ding wat die dominee gesê het, het my baie moed en hoop gegee.” Die ander dogter vra gretig: “Wat het hy gesê.” “Hy het gesê die wêreld sê altyd, as mens iets verkeerd gedoen het: ‘Jy het self jou bed opgemaak en jy moet self daarin slaap.’ Maar iemand groter as die wêreld, sê die dominee, het eendag vir `n verlamde man gesê: ‘Jou sondes is vergewe, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.’”
Die man luister na die opbeurende woorde. Hy besef dadelik dat die Here Jesus ook sy sondes kan vergewe en hom op `n nuwe weg stuur. Sommer daar op die bank, langs die laning, sluit hy sy oë en vra die Here Jesus om in sy hart te kom, sy sondes te vergewe en hom op `n nuwe pad te laat loop. Hy ervaar `n vrede in sy hart en hy weet sy las is weggeneem. Enige plek kan ons met ons nood na Jesus toe gaan. Die Heilige Gees maak ons hart sag en oop en gee ons geloof om Jesus se redding te glo.
“Here, vandag vertel ek vir U my sondes en vra redding en `n nuwe lewe om uit te leef.”