LEES: Galásiërs 2: 17 – 21
“Ek is met Christus gekruisig , en ék leef nie meer nie…ek leef in die Seun van God (20)
In Skotland se stryd om onafhanklikheid van Engeland, was Robert Bruce, Skotland se aanvoerder. Die Engelse wou Bruce gevangeneem, want hy het gedink, hy is die volgende man om die Skotse kroon te dra. Die Engelse aanvoerder, het Bruce se eie bloedhonde op sy spoor gesit, want hulle het verwag sy honde, sou hulle na hom toe lei. Soos hulle nader kom, kon Bruce hulle geblaf hoor. Sy helper sê vir hom: “Dis verby met ons. Jou honde is op jou spoor en hulle gaan jou skuilplek aanwys.” “Alles is nog reg,” antwoord Bruce en hy draai weg na `n stroom toe, wat naby deur die woud verbyvloei. Hy spring in die stroom en gaan `n endjie teen die stroomvloei op. Toe hy anderkant uit die stroom klouter, was hy en sy helper in die woud se digtheid. Binne `n kort tydjie kom die honde op die plek waar hulle baas se spoor teen die rivier doodloop. Hulle gaan nie verder nie. Die Engelse soldate moedig hulle aan, maar die spoor het nou doodgeloop in die rivier. Die rivier het selfs Bruce se reuk, wat die honde goed geken het, weggestroom. `n Tydjie later het die Skotsekroon wel op Burce se kop gepryk.
Die herinnering aan ons sondes en foute, waarop die Satan klem lê en ons herinner en ons moed wil breek, kan vir ons soos daardie blaffende honde wees. Maar daar vloei vir ons ook `n stroom, die stroom van Jesus se bloed. Deur genade en geloof is ons veilig. Geen sondehond kan ons bereik nie, want die bloed van Christus breek die spoor. Dit is ons ontvlugting van Satan se bekuldigings. As ons ons sondes bely het, moet ons die vergifnis glo en die Satan ontwyk.
“Here, vandag is U bloed en krag my skuiling.”