Wo 20 Apr: Gesprek in die Hart

LEES: Johannes 21: 14 – 18

“Simon…het jy My waarlik lief…. ? (15)”

Terwyl `n ou man werk toe loop, een oggend, vertel Walter Knight, kom Jesus se vraag aan Petrus in sy gedagte op. Dalk het sy predikant die vorige Sondag daaroor gepreek. “Simon….het jy my waarlik lief?” Die man wens met sy hele hart hy kon dieseldfe antwoord as Petrus gee: “U weet, Here, dat ek U liefhet.” Die ou man voel bedroef dat hy dit nie kan doen nie. Toe kom dié gedagte by hom op: “As ek nie dieselfde antwoord as Petrus kan gee nie, kan ek miskien eerlik wees en sê: ‘Here, U weet ek het U nie lief nie.” Iets van `n troos oor sy eerlike belydenis kom in sy hart. Maar soos hy aanhou loop, kom `n ander gedagte in hom op en hy sê vir die Here: “Here, maar U weet  dat ek u graag wíl liefhê.” Hy begin dink  aan Christus se groot liefde vir hom. Hy dink aan Christus se lewe, hoe Hy gebore is in die stal, hoe Hy gevange geneem is en gemartel is, hoe Hy aan die kruis genael is, om vir hóm `n plaasvervanger te wees en sy straf en sonde weg te neem.” Uit sy hart uit breek `n bevestiging van die gang van sy gedagtes, “Here, U weet dat ek U liefhet!” Net daar vra Hy Jesus om in sy hart te kom en hom God se kind te maak. Hy loop vol vreugde verder. `n Nuwe mens in Christus Jesus.

Dit kan die lekplek van ons liefde vir die Here wees, dat ons nooit daaroor peins nie. Ons verloor ons innige kontak met die die Here Jesus, want baie ander gedagtes oorheers ons denke en Hy word op die agtergrond geskuif. In ons oordenking van ons verhouding met die Here Jesus, het ons die hulp van die Heilige Gees. Jesus het oor die Heilige Gees beloof: “….Hy sal julle in die hele waarheid lei; want Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.”

“Here, vandag wil ek dink oor my verhouding met U”