Do 21 Apr: Die Twee Weë

Lees Johannes 12: 44 – 50

”Ek het as `n lig in die wêreld gekom sodat elkeen wat in My glo , nie in die duisternis sou bly nie (44),”

Die dag toe die Kerk Bybelskool sluit, ver­tel Eternity, loop Leon Czolgosz en sy broer, albei tienderjarig, die kerktrappe af. Die een gaan skielik staan en kyk sy broer in die oë. “Jy weet, ek is nou klaar met hierdie kerk­dinge. Dit was my laaste dag in die klas.” Sy broer antwoord, net so ferm, “Dit is nie my laaste dag nie. Ek wil meer van God en van sy wil met my lewe leer, Ek wil vir Hom leef en as ek kan, vir Hom werk.”

Jare later was daar `n reuse funksie by die Pan-American Exposition vir die president van die Verenigde State. Die president het in `n tou gestaan, om die groeiende skare wat sy hand wou skud, die hand te gee. Tussen hulle was `n man, sy hand met `n groot sak­doek bedek. Toe sy beurt kom, lig hy sy hand, maar steek dit nie uit om die president se hand te neem nie. Daar reg voor die president, trek hy die sneller van die pistool, wat hy met die sakdoek, in sy hand, bedek het. Die belangrike William McKinley val dodelik gewond op die grond neer.

Die moordenaar was Leon Czolgosz, die seun wat jare tevore van die Kerkskool af weggedraai het.    Wat uiteindelik van sy broer, wat gekies het om God se weg te loop, geword het, word ongelukkig nie gesê nie.

“Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot be­skik­king van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julle self tot beskikking van God….die loon van die sonde is die dood, maar die genade­gawe van God is die ewigelewe in Christus Jesus, onse Here (Rom. 6:12,13,23)”.

“Here, vandag kies ek om God se weg ewigheid toe te volg.”