LEES: Galasiërs 5: 13 – 26
“Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor die begeertes van die sondige natuur nie” (16).
Toe Charles Weston Shepson ’n student aan die Sendingopleiding Instituut was, het hy ontsteld geraak oor sy sukkelende persoonlike geestelike lewe. Hy het so vasgevang in sy natuurlike drange en vleeslike begeertes gevoel, so dikwels gefaal in sy getuienis vir Christus, so kortgekom aan ’n oorvloedige en oorwinnende Christenlewe, dat hy een dag sy middagete prysgegee het en teen ’n steil rant agter die Instituut se hoofgebou uitgeklim het. By ’n rots het hy gekniel en sy hart en hande opgehef hemel toe en in radeloosheid van siel uitgeroep: “O God! Wat kan ek doen?” Toe hy sy kop weer afbuig en sy oë oopmaak, sien hy deur die mistigheid van sy trane reg voor hom ’n spinnerak. Juis op daardie oomblik beland ’n klein vliegie in die spinnerak. Hy begin hewig spartel. Charles Shepson hou hom dop. Hoe meer hy spartel hoe meer raak hy vas. Skielik storm die spinnekop op hom af en begin hom verder met taai drade vasspin. Die vliegie se stryd is verlore. Hy kan nie loskom nie. Charles steek sy hand uit en met sy pinkie druk hy die vliegie los. Die spinnekop vlug en die vliegie sit vir ’n rukkie, op Charles se pinkie hom en skoonskrop, voor hy ook vry wegvlieg. In Charles se hart praat God met hom. Sy eie gespartel kan hom nie loskry nie, maar God het oorvloedige krag om hom vry te maak. Toe dié wete tot hom deurdring, kom ‘n groot blydskap en vrede in sy hart.
Charles het ervaar waarvan Paulus in Romeine 7:18 tot 8:5 skryf. (Aanhaling uit Die Boodskap-vertaling): “Ek kan nie verklaar hoekom ek sonde doen nie. Want ek wil dit nie doen nie. Glad nie! Tog doen ek dinge wat ek met my hele wese haat…Dit is omdat die sonde oor my lewe baasspeel. Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die slegte dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek. Iets groots is in my lewe verkeerd. Sonde is my baas… Elke keer as ek besluit om goed te doen, dan pootjie die sonde my. In my binneste is ek regtig bly dat ek God se wet ken (verlustig ek my in die wet van God – Ou Vertaling). Maar as ek die wet moet doen, dan wil iets anders in my net nie saamspeel nie…Ek is vasgevang in ’n geweldige tweestryd: aan die een kant wil ek die wet gehoorsaam met alles wat binne-in my is, maar aan die ander kant is my liggaam ’n gevangene van die sonde. Wat ’n patetiese mens is ek nie! Ek leef in die doderyk. Wie kan my uit hierdie gemors verlos? Goddank! Daar is wel Iemand wat my uit hierdie doodsbestaan kan bevry. Sy naam is Jesus Christus! Hy is nou die Here oor my lewe…Dit is alles aan die Heilige Gees te danke. Hy het ons splinternuut gemaak. Omdat ons in Christus Jesus glo, het Hy die mag van die sonde en die dood in ons lewe gebreek. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het God persoonlik met die sonde afgereken… Ons lewe word nie langer deur die sonde oorheers nie. Nee, die Heilige Gees staan nou aan die stuur van ons lewe…mense wat toelaat dat die Gees hulle lewe beheer, doen wat Hy vra.”
“Here, vandag neem ek die vrymaking aan wat U gee, deur die krag van u reinigende bloed, en die werking van die Heilige Gees in my hart.”