LEES: Johannes 8 : 1 – 11
“Laat dié een van julle wat sonder sonde is `n klip op haar gooi….toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan,,,(v7,9)”.
Die Griekse woord vir gewete is suneidesis, wat letterlik beteken, “weet saam met jouself” (A knowing with oneself). Dit kan `n pynlike proses wees. Aan Timótheüs skryf Paulus van mense as “gebrandmerk in hulle eie gewete”. Shakespeare het geskryf: “To be alone with my conscience is hell enoug for me!”
Jare gelede, vertel Dr. R. E. Neighbour, het `n pa in `n vlaag van woede, sy byl geswaai en sy seun doodgekap. Die pa is dadelik tronk toe geneem. Tydens sy aanhouding voor sy verhoor, het hy baie tyd gehad om te rou en te ly oor sy aaklige daad, want hy het sy seun liefgehad. `n Regter het sy saak aangehoor. Na hy geluister en beraadslaag het, sê die regter: “Ons het jou in hierdie omgewing geken as `n eerbare wetsgehoorsame burger. Jou aaklige daad was onopsetlik. Jou vonnis gaan wees die herinnering aan jou daad. Jy is nou vry om te gaan.” “Kon daar ` n pynliker straf wees,” vra dr. Neighbour? ”Ek glo nie.”
Ek haal `n gediggie aan. Ek het dit net in Engels:
Trust me, no torture that the poets feign,
Can match the fierce, unutterable pain,
He feels who, night and day, devoid of rest
Carries his own accuser in his breast!
As so iets mens moet oorkom, is dit baie, baie moeilik om vrede vir jou gewete te kry. In so `n geval speel nie net die gewete nie, maar ook selfverwyt die groot rol. Dit is nie net só `n ernstige gewetekwelling wat `n mens se lewe kan moeilik maak nie, maar ook kleiner gewetensonrus. Dit staan tussen `n mens en die Here. Hebreërs 9:14 beskryf die genesing van `n kwellende gewete: “…hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.” As ons enstig is oor ons verhouding met die Here, maar iets hinder die hart se vrede. Dan neem mens dit na die Here toe in ernstige gebed en oordenking. Die Heilige Gees lei dan ook ons gedagtes om Jesus se kruisdood te onthou en ‘n volledige gemoedsgenesing te bekom.
“Here, vandag bring ek my gewetenskwelling na U toe vir genesing. Help my.”