LEES: Johannes 12: 20 -27
“As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer (27).”
Die briljante dogter van `n multimiljoenêr, vertel Dr.M.E.Dodd, loop een aand by `n klein Presbiteriaanse kerkie verby. Nuuskierig gaan sy in. Vir die eerste keer hoor sy die evangelie en sy vind die Here Jesus as haar Saligmaker. Na `n tydjie weet sy in haar hart, die Here roep haar om in Sjina sendingwerk te gaan doen. Sy verel vir haar ouers, wat self nie Christene is nie. Hulle sê vir haar dit is gekkigheid. Hulle sal dit stopsit. Sy was ook verloof aan `n briljante, jong sakeman, wat ook nie `n Christen was nie. Sy pleit by hom om sy lewe vir die Here Jesus se gee en saam met haar Sjina toe te gaan. Hy lag haar ook uit. `n Tydjie later hou die ouers vir hulle vriende `n feesteike funksie en daar vertel haar pa vir hulle van die dogter se voorneme en hy vra almal om haar te ontmoedig. Dié aand luister die dogter in stilte na almal se ontmoedigende versoeke en waarskuwings. Sonder `n woord staan sy op en loop na die klavier toe. Sy speel en sing:
Jesus, I my cross have taken,
All to leave and follow Thee,
Destitute, despised, forsaken,
Thou from hence my all shall be!
Haar verloofde is diep geraak deur die lied en haar houding. Hy gaan sê vir haar: “Ek het nie gedink Jesus Christus kan vir iemand so baie beteken nie. As Hy dit vir jou beteken, bid vir my dat ek tot bekering kom en ook so `n toegewyde volgeling van Hom kan word.” Haar gebed is beantwoord en hulle is gelukkig getroud. Albei het Sjina toe vertrek om vir baie jare daar sendingwerk te gaan doen, soos die Here se Gees dit in hul harte gewerk het.
“Here, vandag kies ek u weg.”