Ma 25 Apr: Die Plek van Beslissing

LEES: Efésiërs 1: 15 – 23

 …verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping…wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo…”(18,19)

Hoog op in die Alpe, lê `n klein, halfver­steekte, meer, skryf Good News Broad­caster. Die bergagtige weg waarlangs `n mens moet gaan om dit te bereik, laat mens die meer, nie sien, voor mens `n klipgooi ver daarvandaan is nie. `n Stroompie wat uit die meer vloei, vloei `n endjie afdraend. Dan stuit `n groot rots die vloei. Die stroom dam  op, verdeel dan in twee strome. Die een stroom vloei in die Rhonerivier in. Die ander stroom, vloei in die Rynrivier in. Hierdie twee strome wat by die rots van mekaar geskei het, vloei verskillende wêrelddele in en het `n eie einde. Die een vloei die sonnige Sui­de­like Europa in. Die an­der een vloei die koue Noordelike klimaat bin­ne. Dit vertolk die twee belangrikste strome van die lewe, soos dit in verskillende rigtinge vloei.

Die meer is `n beeld van die begin van die mensdom se lewe. Die Rots, vertolk vir ons die groot verdeling van die mensdom, by Jesus Christus se kruis. Die menslike lewens­stroom skei by die kruis. Die stroom wat in die son­nige, aangename warm klimaat van Sui­de­like Europa binne vloei, vertel die weg van Christenlewe. Warmte van liefde en goedheid maak die Christen se lewe `n geseënde en aangename lewe. Die ander rivier vloei die koue klimaat van `n sondige lewe binne: waar naywer, jaloesie en ander onaangename ele­mente van die onbekeerde lewe die oorhand het. Elkeen van ons is in een van daardie riviere. Ons keuse word by die kruis van die Here Jesus gemaak.

Dit is die doel van die evangelie om mense te oor­­reed om Christus se weg te kies. Die einde van die aangename stroom loop uit in die hemelsee. Die koue stroom eindig in die see van die verdoemenis.

“Here, vandag kies ek Jesus se weg.”