LEES: Spreuke 11: 17 – 21
“’n Mens wat iets vir ’n ander oor het, baat self daarby …wie volhou om reg te doen, kry blywende beloning” (17,18).
Die Skotse boer, Fleming, was ‘n arm man, Eendag, terwyl hy in sy land werk, hoor hy ‘n benoude geroep van die modderige vlei se kant af. Hy hardloop daarheen. In ‘n modderpoel, al meer as halflyf gesink, spartel ‘n seun. Sonder om te huiwer spring Fleming in en help die seun uit. By die huis maak hulle die seun skoon.
Die volgende dag kom ‘n deftige kapkar by Fleming se werf ingery. ‘n Manelgeklede edelman klim uit die kar uit, gevolg deur die seun wat Fleming die vorige dag gered het. Hy is die seun se pa, sê die edelman, en hy wil Fleming vergoed vir sy weldaad aan sy seun. “Ek kan nie geld neem vir wat ek gister gedoen het nie,” wys Fleming die aanbod van die hand. Juis op daardie oomblik kom Fleming se eie seun, van dieselfde ouderdom as die edelman se seun, uit die huis uit. “Jou seun?” vra die edelman. “Ja,” antwoord Fleming, sigbaar trots. “Dan maak ek met jou ’n ooreenkoms,” sê die edelman. “Ek voorsien vir jou seun dieselfde studievoorregte as wat my eie seun gaan kry. As hy na sy pa aard, sal hy dit ver bring.” Dít aanvaar Fleming dankbaar.
Die jong Fleming word in die beste skool geplaas en gradueer later in die St. Mary’s Hospital Medical School in London. Later word hy die wêreldberoemde Alexander Fleming, wat penisillien ontdek het.
Jare later doen die edelman, Lord Randolph Churchill, se seun, Winston, wat Fleming uit die modderput gered het, ernstige longontsteking op. Die Skotse boer se seun, Alexander Fleming, se middel, penisillien, word op die edelman se seun gebruik en so word Winston Churchill, die latere premier van Engeland.
Onbaatsugtige goeddoen, is saad wat goeie vrugte oplewer. Jesus het in sy gelykenis gesê, al is die goeie saadjie so klein soos ’n mosterdsaadjie, ’n groot boom, waarin voëls kan nesmaak, groei daaruit (Mat.13:32). Aan die Galasiërs skryf Paulus: “Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus…wat ’n mens saai dit sal hy ook oes” (Gal.6:2,7). Om te bid vir iemand wat swaarkry, is ’n goeie saad. Die belangrikste, en duurste, saad wat ons moet saai, as ons grootste verantwoordelikheid en voorreg, want dit dra die vrug van ewige lewe, is om die saad van die evangelie te saai. Eerste in ons eie hart: “Ek glo in Jesus Christus as my Verlosser.” En dan ewe belangrik, ook in ander se harte, soos die nag in Filippi se tronk, toe die tronkbewaarder vir Paulus vra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” En hy kry die antwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Hand.16:30,31).
“Here, vandag wil ek goeie saad saai.”