LEES: Lukas 15: 11 – 24
“Ek sal…na my vader gaan en ek sal vir hom sê: Vader ek het gesondig teen die hemel en voor U…En toe hy nog ver was,het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen (18,20).”
Na die geveg wat bekendstaan as The Battle of Gettysburg, het `n jongman ernstig verwond in `n hospitaal beland. Sy pa is ingeroep en die dokter het vir hom gesê: “Jou seun sal nie meer lank lewe nie.” Met `n swaar hart gaan die pa na sy seun toe. “Jy mag enige tyd heengaan. Die wonde is ernstig.” Dadelik gee die seun aandag en pleit: “Maar ek kan nie nou sterf nie. Ek is nie gereed om te sterf nie. Pa, maak dit nóú vir my duidelik asseblief, hoe ek met God kan regmaak en vergifnis vir my sondes kry.”
Die pa onthou skielik van `n insident in die seun se skooljare. “Seun, onthou jy, toe jy uit die skool verban is, hoe ek jou uitgetrap het en hoe jy my teruggevloek het? Onthou jy hoe jy later teruggekom het na my toe en hoe hartseer jy was en my vergifnis gevra het? En onthou jy hoe hartlik ek jou vergewe het?” “Ja, Pa,” antwoord die seun. “En Seun, het jy getwyfel dat ek jou heeltemaal en hartlik sou vergewe?” “Nee, Pa, ek het geweet Pa het my uit Pa se groot hart van liefde ten volle vergewe!” Die pa sê: “My seun, net so vryelik en ten volle soos ek jou toe vergewe het, so sal God jou ook vergewe en jou sondes uitwis en nooit weer daaraan dink nie! Dit is waarvoor die Here Jesus vir jou gesterf het, dat God jou volkome kan vergewe.”
Later die aand sê die seun vir sy pa: “Pa, Jesus het my vergewe. Ek weet Hy het. Ek het Hom gevra om my sondige verlede heeltemaal uit te wis en nooit weer teen my te hou nie. Ek het geglo Hy sal dit doen, soos ek daardie tyd geglo het Pa my verkeerdheid teen Pa sou vergewe.”
Jesus het in sy gelykenisse dikwels gebruik gemaak van die kind en ouer verhouding as hy oor God se liefde vir ons, sorg vir ons, vergifnis vir ons, gepraat het. Die Heilige Gees werk in ons hart en gee ons die krag en die geloof om te glo.
Vir die skuldige sondaar is daar `n wye oop pad na God toe. Jesus het met sy bittere kruisdood die pad vir ons wyd oopgemaak. Gaan net in.
“Here,vandag dank ek U vir die oop deur na U toe.”