LEES: Filippense 4: 4 – 9
“…alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees bedink dit… (8,9).”
Die beroemde psigoloog, Martin Seligman, van die Universiteit van Pennsylvania in Philadelphia, beweer, as die Woord van God in ons gedagtewêreld ingraveer word, verander dit die beskouinge wat ons oor sake het. Dit beteken nie `n mens leef in `n gedurige opgeruimdheid, euphoria, nie, maar dit bewerk `n basis vir optimistiese denke. Dit was Paulus se bedoeling met bostaande teks.
Hierdie storie word bygevoeg: `n Lid van `n jeugorkes, wat op `n Karibiesevaart was, het dit gedemonstreer, vertel die skrywer van hierdie oordenking. Een aand wou sy maats hom saamneem na die skeepskroeg toe. Maar Chad, wie se moeder `n alkohololis was, het geweier. Hy het, weens sy ma se probleem, skrifdele uit Spreuke, oor alkoholmisbruik, gememoriseer. Hy verduidelik vir sy vriende, drankverslawing loop in sy familie en hy is bang om daarby betrokke te raak. Vir iemand onder ander huislike omstandighede, sal `n glasie wyn of `n bier, nie `n probleem wees nie, maar vir hom is dit absoluut verbode. Hy haal uit Spreuke aan wat hy gememoriseer het, om hom te beveilig. “Die wyn is `n spotter en sterk drank `n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.” (20:1). Hulle hou aan. “Kom nou, Chad. Net een bier sal jou nie kwaad doen nie.” Hy antwoord: “Op die end byt dit soos `n slang en spuug gif soos `n basilisk (23:32).” Sy maats verwyt hom, hy verwerp hulle kameraadskap. Hy antwoord: “As sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie (1:10).” Hy hoor een sê: “Los hom. Hy is so vol van die Bybel `n mens kan niks met hom doen nie.!”
Ons het elkeen ander probleme, maar as ons ons teen so `n sondebedreiging in die hart pantser soos Ef.6:14-17 skryf, sal ons ook oorwinnend bly. “…julle lendene met die waarheid omgord, die borswapen van die geregtigheid aan, as skoene aan julle voete, die bereidheid vir die evangelie…neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose kan uitblus…neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die Woord van God – terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid.”
“Here, leer my vandag om u woord te ken”