Lees Romeine 10: 8 – 17
“En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: ‘Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring’” (14).
Dr. Walter Wilson, die Christengeneesheer van Kansas City, was eens in New York vir sy sakebelange. Die oggend voor hy sy hotelkamer verlaat, kniel hy by sy bed en bid: “Here, dit is ’n groot stad met 7 miljoen mense. Ek is vreemd. Hier is my liggaam, my voete, my lippe; lei my na iemand toe tot wie U, deur my, u woorde van lig en lewe wil rig.” Pas na hy by die hoteldeur, in ’n oostelike rigting in 32ste Straat uitstap, stap hy by ’n boekwinkel verby. In die uitstalvenster, sien hy ’n klein notaboekie, wat net reg in sy sak sal pas. Hy wil dit byderhand hê om gebedsversoeke in op te teken.
Hy stap in en vra die Duitse eienaar daarvoor. Terwyl die man die boekie in ’n netjiese papiersakkie sit, sê dr. Wilson. “Ek wil dit vir ’n gebedeboekie gebruik.” Die Duitser hou dadelik op met sy werk en antwoord: “Dis ’n leë boekie, Meneer. Dit het nie gebede in nie.” Dr. Wilson glimlag. “Nee, wat ek bedoel is, ek wil sake waaroor ek bid, met die datum, op die een bladsy opteken, en dan die omstandighede en datum van die gebedsverhoring, op die teenoorgestelde bladsy.” Die winkelier luister met besondere aandag. Dr. Wilson vervolg: “Ek glo in Jesus Christus as my Verlosser, daarom glo ek ek is ’n kind van God. Ek bid tot Hom as my Vader.”
Hy kyk die Duitser in die oë en vra: “En u?” Die Duitser antwoord met groot erns: “Meneer, ek probeer al jare om God te vind. Kan u my help?” Dr. Wilson haal sy sakbybeltjie uit, lees oor Christus se verlossingswerk. “Dit sê hier in Johannes 1 vers 12: ‘Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” En hy verduidelik vir die Duitser hoe om te bid en Jesus Christus as Saligmaker aan te neem en kind van God te word. Die man verstaan dit. Oor die toonbank bid hy en dr. Wilson saam en hy vind die Here.
Twintig minute het verloop vandat dr. Wilson in sy kamer gebid het. Dit is nie onsself wat die pad na iemand se hart vind nie. As ons onsself vir die Here beskikbaar stel om mense te bereik, lei die Heilige Gees ons en doen Hy self die wonderlike werk om by mense se harte uit te kom en hulle te roep.
“Here, vandag is ek in u hand om my te gebruik.”