LEES: Matteus 11: 25 – 30
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (28-30).
Arthur Thorwalden, van Denemarke, het die Christusbeeld, “Kristus”, gemaak. Dit staan nou in die Kopenhagen-katedraal. Helen E. Springer vertel in Charles L. Wallis se boek “A Treasury of Sermon Illustrations”, hoe ’n besoeker aan die Katedraal, die verhaal agter die standbeeld, aangehoor het.
Na Thorwalden die beeld, met koninklike, trots en opgehewe kop en uitgestrekte, oorwinnende hande, wat seënend uitgestrek is, met plastiekklei gegiet het, het hy dit op die voetstuk buite laat staan om droog en hard te word, voor dit in die Katedraal ingedra sou word. Daardie nag het ’n digte, vogtige mis van die see se kant af ingewaai. Thorwalden het met skok besef dit gaan sy beeld geruïneer. So gou hy kon het hy na sy beeld gaan kyk. Die vog het die beeld laat smelt. Die kop wat oorwinnend en trots opgehef was – volgens Thorwalden se denke oor Christus – het nou afgebuig en onder toe gekyk. Die hande wat in ’n seëngroet opgehef was, het gesak en was nou uitnodigend vorentoe uitgestrek. Hy het ‘n nuwe “Kristus” aanskou. Die natuurelemente wat deur God beheer word, het die trotse “Kristus”, volgens Thorwalden se beskouing, die houding van ’n soekende, roepende Heiland gegee. Die beeld is net so in die Katedraal ingeneem. ’n Mens sou nou, in antwoord op die uitgestrekte, uitnodigende hande, op jou knieë voor Christus moes kniel om in sy gesig op te kyk.
Die Here Jesus Christus ís die oorwinnende Koning van die ganse wêreld, maar Hy bly steeds die roepende, liefdevolle Verlosser wat afkyk na die mens toe wat in nood na Hom toe kom.
“Here, vandag kom ek vrymoedig met my laste en behoeftes na U toe.”