LEES: 1 Korinthiërs 15: 13 – 24
“…en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes…Maar nou Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het (17,20).”
Walter Knight vertel in sy boek Treasury of Illustrations, van die sendeling wat sy gesin vir `n besigtigingtoer na Costa Rica neem. Die sesjaaroue Mark was die jongste van die kinders. Hulle het `n Katolieke Katedraal in Cargago besoek. Die kinders het hulle verwonder aan die baie aanduidings en herrineringe aan die gekruisigde Jesus, o.a. `n beeld van Christus wat aan `n kruis hang. Later besoek hulle `n ou Spaanse-sending. Sommige van die kinders het bang geword toe hulle `n wasfiguur (wax figure) van Christus in `n glaskis sien.
Daardie aand tydens die gesin se aandgodsdiens, sê klein Mark: ”Pappa, ek het vandag so baie keer Jesus dood gesien. Vertel vir ons weer die storie van sy opstanding!” Die pa het met groot graagte dele uit die Evangelies van Jesus se opstanding gelees en ook nog tussenin verduidelikinkies gegee. Na klein Mark gretig geluister het, sê hy met `n breë glimlag: “Pappa, dít is die beste storie in die hele wêreld.”
So kosbaar as wat die kruisiging van Jesus vir ons was, en kosbaar elke herinnering daaraan, omdat dit sy liefde vir ons openbaar het en vir ons die blydskap van vergifnis by God inhou, sou dit vir ons net aardse waarde inhou. Maar nou, Hy het deur sy opstanding die mag van die dood verbreek en vir ons `n nuwe lewe in hierdie wêreld gebring en ook `n ewige lewe in die hemel by God. Paulus skryf in 1 Kor.15 oor hierdie groot waarheid van die belangrikheid van Jesus se opstanding vir ons: “En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof (14) … dan is julle nog in julle sondes, dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dode… (17-20).”
“Here, vandag verbly ek my in U opstanding.”