LEES: PSALM 31: 20 – 25
“O, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil in die teenwoordigheid van die mensekinders (20).”
Die groot en bekende prediker, John Wesley, het aan die einde van sy lewe, wat deur Augustine Birrell beskryf is as, “his unparalledled apostolate”, gekom. Hy was nou 88 jaar oud, waarvan meer as 60 jaar, jare van vrugbare diens vir die Here was. Hy was leier van `n herlewing in Engeland en ook stigterslid van die Wesleyaanse Kerk. Hy het nie gesug en verlang na net nog een jaar van diens en aktiwiteit nie. Daar was geen teken van `n gevoel die beste jare is verby nie. Hierdie laaste ure van hom was net so goed as enige van die goeie jare wat hy deurgebring het. Die skrywer klee dit in hierdie woorde: “Great as those triumphant years had been, these last hours of his were just as good as any.” Die beste was nou juis hier en hy het sy lewe afgesluit met `n kort sin, wat die rykdom en bevrediging van so `n lewe inhou: “The best of all is God is with us.” Die beste van die lewe is wanneer God by en met `n mens is. Toe Dean Stanley die vereringstablet in die ingang van die Westminster Abbey opsit het hy John Wesley se lewe met die een sin opgesom: “The best of all is God is with us.” Gelukkig is elkeen wat hierdie besondere seën in hul lewe het.
Dinge kan verkeerd loop in ons lewe, en ons ervaar dit ook dikwels so, maar as God in ons lewe is, lei Hy dit weer in die beste kanaal in. As ons die Psalms lees, kry ons dikwels die tekse waarin Dawid, in wie se lewe God groot en verheerlik was, sy benoudheid bekend maak, maar altyd met die verwagting, God sal dit regstel. In Jesus Christus is God ons Vader en hy behandel ons soos `n vader. Hiervan het Jesus gesê: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid.” Die beste inhoud van `n mense se lewe is dus, wat Wesley gesê het: “Die beste van alles is, God is met ons.”
“Here, vandag verlang ek God by my.”