LEES: Johannes 11: 20 – 26
“Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe…” (25).”
Die Gospel Herald vertel hoe die Britse soldate, na die slag van Inkerman van die Krimoorlog, die gesneuwelde soldate bymekaar gemaak het, om begrawe te word en die gewonde soldate, om hospitaal toe geneem te word. Hulle kom af op die liggaam van `n jongman, wat swaar gewond, soos hy was, na die skadu van `n boom gekruip het. Hy het op sy arm gelê asof hy slaap. Hy was egter reeds dood. Toe hulle hom optel hoor hulle papier skeur. Hulle kyk nader en sien, hy het `n oop Bybel onder sy kop. Hy het sy bloeiende vingers op die oop Bybel geplaas. Die bloed het droog geword en sy hand kleef nou aan die bladsy vas en dit is wat hulle hoor skeur. Aan die bebloede hand sit die stuk van die bladsy wat uitgeskeur het nou vas. Hulle bekyk die bewoording van die stuk van die bladsy wat steeds aan sy vingers vaskleef. Die soldaat wat by hom kniel, lees die bewoording op die bladsy wat aan sy bebloede hand vassit. Dit is `n deel van Johannes 11 en tussen die duim en voorvinger kleef die repie bloederige papier met vers 25 op: “…Ek is die opstanding en die lewe…(die res van die vers lees: wie in My glo sal lewe al het hy ook gesterwe.”)
Die jong Chrisen is begrawe met die repie papier tussen duim en voorvinger. Met die belofte dat Christus die Lewe is, het hy uit wêreld van die sterwendes, oorgegaan na die land van die lewendes, van stryd na oorwinning, van duisternis na lig, van pyn na vrede. Ons sal die stukkie papier met so `n belofte op nie saam met ons graf toe neem nie, maar is dit in ons hart geskryf? Want dan is ons gered en gelukkig.
“Here, vandag wil ek die teks se woorde in my hart bêre.”