LEES: Jesaja 53: 1 – 12 Ou Vertaling
“Maar hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (5).”
“Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom (6).”
“Hy is mishandel hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos `n lam wat na die slagplek gelei word en soos `n skaap wat stom is voor sy skeerders – ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie (7).”
In The Illustrator vertel Dr. J. H. Wilson, hoe hy enige jare gelede, saam met een van die mees gesiene Jode van daardie tyd, Dr. Cappadose van Amsterdam, gereis het. Die belangrike Jood sê vir Dr. Wilson. “Sou jy graag wou weet hoe ek `n Christen geword het?” “Baie, graag,” antwoord Dr. Wilson. Dr. Cappadose vertel: “Ek was besig om my Hebreeuse Ou Testament te lees. Ek kom by Jesaja 53. Ek het die hoofstuk al voorheen gelees, maar hierdie keer is dit of my oë geopen word. Vir die oomblik wonder ek, of ek nie ingedagte, ‘n Nuwe Testament in die hande gekry het nie. Ek draai die rugkant na my toe, om seker te maak dit is regtig my eie Bybel. Soos ek die hoofstuk oor en oor lees, sien ek wat ek nooit voorheen opgemerk het nie – sonde is op iemand anders gelê. En wie anders sou dit kon wees as die Here Jesus. Die einde is, ek het `n Christen geword, geheel sonder gebruik van die Nuwe Testament.
Eeue en eeue terug, in die Ou Testament, het profete reeds die boodskap van Jesus se kruisiging, ter sprake gebring, maar Jesaja is een van die duidelikste vooruitvertellings, van wat met Jesus sou gebeur. Ons eie hart gaan versterk word vir ons eie Goeie Vrydagherdenking, as ons Jesaja 53 deurlees.
“Here, vandag herdenk en glo ek wat U soveel eeue voor sy koms tot sy Verlossersheerlikheid laat weet het.”