LEES: Johannes 20: 11 – 18
“Jesus sê vir haar: Maria! Sy draai haar om en sê vir Hom: Rabboeni! Dit beteken Meester (16). “
Die orkesdirigent, Reichel, gee sy groot orkes en koor, `n afrondingsoefening voor die aanbieding van Händel se Messias-koor, voor `n groot gehoor. Die koor sing saam tot by die punt, waar die sopraansangeres alleen die koorgedeelte, “I know that my Redeemer liveth” sing. Haar tegniek was presies, The Presbyterian of the South, beskryf dit so: “… she had faultless breathing, accurate note placing, flawless enunciation.” Alle oë is nou op Reichel gerig, om sy goedkeuring te hoor. Hy maak die orkes stil. Hy stap met droewige oë na die sangeres toe en vra: “My dogter, weet jy regtig dat jou Verlosser lewe? Wéét jy dit?” “Ja, hoekom?” vra sy met blosende gesig, “ek dink so.” Met luide stem sê Reichel: “Maar síng dit dan só! Vertel dit vir my dat ek dit kan weet en dat almal wat hoor, sal weet, jy kén die vreugde en krag van dít wat hulle hoor jy sing!” Hy beduie vir die orkes om dit weer te speel. Hierdie keer sing sy die waarheid, soos sy dit weet en dit in haar eie siel ervaar en almal wat nou luister, raak bewoë onder die krag van haar lied. Die konsertmeester kom na haar toe met betraande oë, en sê: “Jy wéét dit, want jy het my dit nou vertél.”
By Jesus se graf, het Maria Magdalena se stem, toe Jesus haar by die leë graf vra: “Wie soek jy?” en sy gedink het dit is die tuinier, en sy vra: “Waar het u hom neergelê?” ook sekerlik anders geklink, as toe Hy Hom aan haar bekend gemaak het: “Maria!” en sy oorstelp antwoord “Raboeni! Meester!” Eers twyfelend, vraend, en toe oorwinnend, seker! In ons eie harte is die krag en heerlikheid van Jesus se opstanding ook anders, wanneer die Heilige Gees dié groot waarheid, ons eie bewussyn maak, en dit nie net `n afsydige kennis is wat ons het nie. Kom ons oordink en bepeins sy opstanding, totdat dit deur die Heilige Gees se werking, vir ons `n heerlike werklikheid is, en nie net kennis van `n waarheid nie.
“Here, vandag wil ek U in my hart as die lewende, oorwinnende Heiland ken en só van U getuig.”