LEES: Psalm 23
“Die Here is my herder (1)”
Tydens `n geselligheid met `n salonfunksie, word een van Engeland se leidende akteurs gevra om `n voordrag te lewer vir die vermaak van die gaste, vertel The War Cry. Hy stem in en vra of daar iets besonders is waarna die gaste graag wil luister. Na `n paar oomblikke stilte, sê `n ou leraar wat teenwoordig is: “Kan jy, Meneer, vir ons Psalm 23 voordra, asb.” Die akteur huiwer vir `n paar oomblike en antwoord dan: “Ek kan, en ek wil ook, maar op een voorwaarde. Na ek dit voorgedra het, Dominee, sal u dieselfde doen?” “Ek?” vra die leraar verras, “ maar ek is nie `n spraakkundige nie.” Hy kug. “Maar goed as dit is soos jy dit wil hê, dan doen ek dit.”
Die akteur begin die Psalm indrukwekkend voordra. Sy stem en stembuiginge is presies reg. Hy boei en behaag die gehoor en toe hy eindig breek `n hartlik applous van die kant van die gaste los.
Toe die applous bedaar, staan die ou leraar op en begin die Psalm eerbiedig voordra. Sy stemtoon is nie waffers nie en sy stembuiginge, is nie foutloos nie. Toe hy eindig verbreek geen applous die stilte wat oor almal gedaal het nie. Baie koppe is gebuig en talle oë is vol trane.
Die akteur kom op sy voete. Sy stem bewe toe hy sy hand op die ou dominee se skouer lê, en hy sê: “Ek het julle oë en julle ore bereik, my vriende; hy het julle harte bereik. Die verskil is net dit – ék ken die Psalm, maar hy ken die Herder.”
Die nederige aanvoeling van hierdie gevierde voordragkunsenaar, pas by 1 Korinthiërs 13 se erkenning van uiterlike bekwaamhede wat nie opweeg teen geeslike krag nie: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek `n klinkende metaal en `n luidende simbaal geword (1).”
“Here, vandag wil ek nie anders as uit my hart U erken en bely nie.”