Lees Johannes 12: 44 – 50
”Ek het as `n lig in die wêreld gekom sodat elkeen wat in My glo , nie in die duisternis sou bly nie (46).
’n Man wat lief was vir visvang, neem met voorbedagte rade, een Saterdagmiddag sy visgerei en ry af na die groot dorpsdam toe. Langs die wye waterkant van die dam sit van sy hengel-maats reeds, elkeen op sy uitsoekplek, hoek in die water. Hy kry sy visstok reg, sit aas aan die hoek en gooi in. Toe gaan sit hy in sy seilstoel en laat sy gedagtes loop. Hy het ’n probleem met sy geestelike lewe.
Die verhouding tussen die Christen en die Here is vir hom nie duidelik nie. Vroeër die week het hy gelees hoe Jesus saam met sy dissipels langs die see, tussen die visnette en vis wat hulle gevang het, gesit het en hulle vrae beantwoord het. Dít is wat hy vandag by die viswater kom soek het: ’n antwoord. Sy probleem was: hoe kan die Here hóm, as enkeling tussen miljoene mense op aarde, persoonlik ken, hóm persoonlik liefhê en hom persóónlik roep? Hy glo al die evangeliewaarhede: God het die mens lief en het sy eniggebore Seun as ’n offer vir die wêreld se sonde gegee. Hy glo Jesus se opstanding en hy glo die koms van die Heilige Gees na hierdie wêreld toe ná Jesus se hemelvaart. Hy glo dat iemand wat in Christus as Verlosser glo, na sy dood hemel toe sal gaan. Maar die stok in sy wiel was: hoe ken die Here hom persóónlik en hoe het die Here hóm persoonlik lief, gelyktydig met die miljoene ander mense in die wêreld.
Die dominee het verduidelik dat God se liefde, deur Christus en deur die werking van die Heilige Gees, na elke mens toe uitgaan, net soos die lig en warmte van die son, deur die atmosfeer gedra, na elke mens toe uitstraal. Elke mens voel die warmte van die son op sy vel en elke mens loop in die lig van die son se lig. Dit beantwoord egter nie sy diepste behoefte nie. Hy voel die son se warmte op sy lyf en sien die son se lig met sy oë, maar dit is steeds as deel van ’n geheel, van ’n menigte. Hoe kan hy dit verstaan en glo en weet: die Here ken hóm en het hóm lief.
Terwyl hy so peins, en nie eers opmerk hy het ’n byt nie, sak die son laer af aan die westerkim. Vanwaar die son aan die westerhemel hang, weerkaats ’n baan lig oor die spieëlgladde watervlak, direk van die son af, na hom toe. Hy staan op en stap ’n paar tree laer af. Die baan lig volg hom en kom weer direk na hom toe. Hy stap na ’n ander visserman toe en terwyl hy met hom gesels, kyk hy na die son se weerkaatsing op die water. Dit kom reguit na hom toe. Uit ervaring weet hy dat elkeen van die manne wat langs die waterkant versprei sit die son ook so na húlle elkeen persoonlik toe sien straal.
’n Groot blydskap kom in sy hart. ’n Eenvoudige natuurverskynsel het vir hom die antwoord op sy vraag gebring. God ken hom persóónlik en Hy kom in Christus Jesus, deur die werking van die Heilige Gees, direk na hom persóónlik toe. In die diepte van sy hart fluiser hy: “My Vader, my Here, en my God.”
“Here, vandag weet ek dat U my ken en my liefhet.”