LEES: Efésiërs 1: 15 – 23
…verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping…en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo…”(18,19)
Die prediker Charles Inglis vertel die ervaring van `n vrou, soos sy dit in hulle biduur vertel het.
Haar man moes in Europa toer en sy en haar dogters is in een van die Westerse State, in hulle groot, eensame huis, alleen gelaat . Daar was nie geleentheid om veiligheismaatreës te tref nie. Een aand net na hulle hulle gewone Bybellees en gebedskringetjie gehou het, het elkeen na hulle kamers toe gegaan. Toe sy in haar kamer instap, kyk sy op die oorkantstemuur in die spieël en sien `n man wat agter haar hangkas wegkruip. Sy was op die punt om te gil, maar dink toe daaraan, dit sal nie help nie. Wie sal hoor. Wie kan kom help. In hulle Bybellees van die aand het hulle gelees van God se getrouheid en krag om ons te beskerm. Sy besluit sy gaan God in hierdie saak vertrou. So dapper as was sy met haar bewende liggaam dit kon doen, loop sy oor die vloer en neem `n Bybel van `n kas af en gaan sit in `n gemakstoel. Hardop lees sy Jesaja 53. Daarna kniel sy by haar bed en bid hardop hoe hulle onbeskermde vroue is en sy vra God om hulle te beskerm van diewe, inbrekers en bose persone. Sy het skaars opgestaan van haar knieë af en weer op die stoel neergesak of `n hand word op haar skouer gelê. `n Stem sê sag, dringend, “Moenie skreeu nie of bang wees nie. Julle is veilig. Ek het hierheen gekom om die huis te beroof, maar daardie hoofstuk wat jy gelees het, het my ma dikwels vir ons in die huis gelees. En toe jy bid, dink ek aan my ma wat vir ons ook so gebid het. Ek gaan nou, maar wees vir niks bang nie.”
Die keuse van haar bybelhoofstuk was God se bestiering. Die man is na sy kinderdae teruggeneem. Ek is net jammer die verhaal vertel nie, wat van die man geword het nie. Het hy tot bekering gekom? Het God hom ontmoet? Ek wil dit dink en glo.
“Here, vandag wil ek onder u hand skuil.”