LEES: Lukas 12: 15 – 21
“..wees op julle hoede vir die hebsug…want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie (15).”
Een aand preek die gewilde prediker Canon Hay Aitken voor `n groot gehoor in Bristol, Engeland. Sy teks was: “Julle moet weergebore word.” `n Skitterende jongman, Horatio Bottomley, luister met geboeide aandag. Die preek raak hom diep. Aan die einde van die diens nooi die prediker persone wat nog nie gered is nie, om hierdie geleentheid te gebruik om Christus te bely en redding te soek. Bottomley dink by homself: “Nie ek nie. Dit is nie vir my nie. Ek wil my eie lewe uitwerk.” Dit het hy ook met sy lewe gedoen en hy het `n fortuin gemaak. Hy het vir baie mense `n held geword. Hy was die kampvegter vir die regte van die gewone man. Hy het swendelaars blootgelê en hulle heftig vervolg. Toe hy 63 jaar oud was, is hy ontbloot as iemand, wat self ander verkul. Hy het sewe jaar tronkstraf gekry.
Bottomly word in die tronk besoek deur Capt. Prayer van die Church Army. Hy vertel vir Bottomly die storie hoe hy tot bekering gekom het. “Jare gelede,” sê hy, “was ek in die Colston Hall in Bristol.Die prediker was Canon Hay Aitken. Hy het gepreek oor die teks: ‘Julle moet weergebore word.’ Ek het onder sondeoortuiging gekom en besef ek het `n Verlosser nodig. Ek het Jesus Christus as my Saligmaker aangeneem en sedertdien was Hy alles in my lewe.” Bottomly het diep ingedagte geraak. Toe sê hy, “Ek het ook daardie preek gehoor. Ek het ook die aand by `n diep gevoel van my nood aan `n Verlosser gekom. Maar ek het Hom daardie dag verwerp.” Hy voeg berouvol by, “`n Lewe sonder God is `n verbeurde lewe.” Sy eie woorde: “A life without God is a wasted life!”
Dit is `n genadige moment in `n mens se lewe om bewus te word van die nood aan die Verlosser. Die Heilige Gees ontwaak deur die Here se woord daardie behoefte in`n mens se hart. Dít is wanneer die deur wyd oopstaan om kind van God te word en op koers hemeltoe geplaas te word. As u daardie klop aan u hart se deur ondervind, kniel, of buig net die hoof, en sê: “Here Jesus, red my asseblief. Kom in my hart.” Deur die Heilige Gees se werking in die hart begin die lewe van wedergeboorte en God word in Jesus ons Vader en Jesus word ons Here en die hemel ons eindbestemming.
“Here, vandag maak ek my hart vir U oop.”