Ma 14 Mrt: 'n Skeermes se snykant

LEES: Romeine 6: 22 – 23

“Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here (23).”

In die Gideon Magazine vertel Dr. Will H. Hough­ton, die insident van`n man wat Chicago besoek het om goedere vir `n New Yorkse sakekamer te ver­koop. Hy het geld van die onderming gesteel, totdat hy `n paar duisend dollars geskuld het. Hy het `n manier uitgedink om sy gewete stil te maak. Hy sou elke dag hard werk. In die aand dan plekke van vermaak, tot laat in die nag, besoek. Dit het gemaak dat hy nie saans wakkergelê het en aan sy oor­treding gedink het nie. Een oggend, in sy Chicago­hotel, slyp hy sy outydse skeermes, op die leer skeermesstroper, om dit skerp te kry. Hy soek `n stukkie papier om die skeermeslem aan af te vee. Al wat hy raaksien, is `n Gideonbybel wat op die kas lê. Hy skeur `n bladsy uit die Bybel en vee sy skeermes daaraan af. Op die spoor van die skeerseep lees hy `n sin op die Bybelbladsy. “Die loon van die sonde is die dood; maar die gawe van God is die ewige lewe deur ons Here Jesus Christus.” Die ontnugterde verkoopsman sit die Bybel vir twee ure lank en lees. Hierna gaan hy op sy knieë langs die bed staan, met die Bybel oop voor hom en hy bely sy sonde en sy nood aan God en hy neem Christus aan as Verlosser. Hy kom onder die indruk van die nuwe lewe wat aan hom gegee is. Hy laat weet sy firma in New York hy keer terug. Aan die firmabestuurder bely hy die diefstal van die geld. Hy is nie vervolg nie, ook nie ontslaan nie, maar hy word toegelaat om maandeliks, soos hy dit kan bekostig, `n terugbetaling van die geld te doen.

Dr. Will Houghton sê, die laaste wat hy van die man gehoor het, is dat hy nou in New Jersey woon, sy Christenskap uitleef en getuig van die krag van die Bybel en die reddings­krag van sy Verlosser, Jesus Christus.

As`n skuldbewussyn die gewete kwel, of `n vrees van die ewigheid maak die hart onrustig, draai dadelik na Jesus toe en roep Hom aan, bely die probleem en vra sy redding. Hy neem almal aan wat met sondeskuld vir redding na Hom toe kom.

“Here, vandag vertrou ek in U as my Verlosser.”