LEES: Lukas 18: 15 – 17
“Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God (16).”
In The Life Line word `n kinderlike hospitaalstorie vertel. Ek gebruik eers Life Line se woorde want dit kleur die storie vir my mooier.: “Doctor, I want you to get me well by Sunday!” said a dear little lad not yet five years old, stricken suddenly with a fatal disease.
Dié seuntjie, skaars vyf jaar oud, lê met `n noodlottige kwaal in die hospitaal en nou dring hy by sy dokter aan om hom teen die Sondag gesond te hê. “Hoekom, my seuntjie?” vra die goedige dokter. Die seuntjie antwoord: “Ons juffrou by die kinderkerk het ons verlede Sondag gewys hoe lyk die tent waarin die mense God gedien het. Ons het net die buitekant gesien, want daar was `n gordyn, en ons juffrou sê, net die priester gaan daarin om met God te praat. Maar hierdie Sondag wat kom gaan sy vir ons wys hoe dit daar binnekant lyk en wat gebeur. Ag, Dokter, sal ek kan gaan? Ek wil so graag sien hoe lyk dit daar binnekant waar God is.” Die dokter loop na die venter toe terwyl klein Charlie praat. Hy kom nou terug na die kind se bed toe en lê `n strelende hand op die kind se koorsige voorkoppie. Sag antwoord die dokter: “Volgende Sondag, my kind, sal jy dalk by die regtige plek wees waar God is.” Die volgende Sondag is sy bedjie leeg. Klein Charlie het oorgegaan van die aarde af na die plek waar God is.
In die grootheid van sy iefde het Jesus vir kinderhartjies wat na Hom verlang `n besondere liefde gehad. Ek wil dink klein Charlie is regtig hemel toe. Jesus het gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos `n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie (Luk.18:17).”
“Here, vandag verlang ek na die plek waar God is.”