LEES: Psalm 25
“Here, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag (4,5).”
`n Reisiger is besig om sy tas vir `n reis te pak. Hy sê vir sy vriend. “Daar is nog `n hoekie oop, waarin ek graag `n gidsboek, `n lamp, `n spieël, `n teleskoop, `n boek oor gedigte, `n aantal biografië, `n bondel ou briewe, `n liedboek en `n skerp swaard wil pak. Al hierdie belangrike artikels moet in daardie hoek van die tas inpas.” “Hoe op aarde wil jy dit regkry?” vra sy vriend verbaas. Hy antwoord: “Maklik. Die Bybel bevat al hierdie dinge wat ek vir jou genoem het, en daar is net genoeg ruimte nog vir my Bybel.” Walter Knight skryf: “The most wonderful, the most marvelous book in all the literature of the world is the Bible, because it is God’s own Book!”
Jesus is vir ons ons Weg en Gids hemel toe, maar ons beleef aardse situasies wat hulp en raad uit ons hemelse bron nodig het. Ek identifiseer net `n paar, probeer om self die ander raak te sien. Ons padkaart hemel toe, die lamp wat gedurig lig moet bring waar dit in ons hart donker word, `n spieël, sodat ons onsself kan sien, en dit lei dikwels na belydenis van sonde, en so kan ons prakties bepaal wat ons uit die Bybel vir ons reis hemel toe moet gebruik.
Ons is God se mense wat deur hierdie wêreld van sonde op `n kort en sondebedreigde pelgrimstog reis en ons het nodig om een ding te weet, of ten minste daarna te vra: “Is ek nog op die regte weg hemel toe?” God het die koers en die weg hemel toe vir ons duidelik in sy Woord, ons Bybel, aangewys. Die artikels wat die man dus genoem het wat ingepak moet word, is die dinge wat ons ook op `n gewone, moeilike reis nodig sou hê. Hierdie Woord van God is daarom absoluut noodsaaklik as ons praktiese gids en voorsiening, vir ons geestelike behoeftes op ons, soms moeilike reis, hemel toe. Dit gee vir die gevalle mens die beste aanwysings wat hy op hierdie tog nodig het: die liefde, die genade, die ontferming van ons Drie-enige God.
Hoeveel keer, het ons nie in ons daaglikse lees van die Bybel, juis die raad en beloftes gevind wat ons daardie dag, of oomblik, nodig het nie? Kom ons raadpleeg daagliks God se Woord vir God se hulp op ons daaglikse reis ewigheid toe.
“Here, vandag soek ek raad in u Woord.”