Wo 13 Apr: Na 'n Lang Tyd

Lees: Lukas 15: 3 -  7

“…hy gaan agter die een aan wat weg is totdat hy hom kry” (4).

’n Jong Skot met die naam Mackay, het na sy hoërskoolloopbaan universiteit toe gegaan om vir dokter te studeer. Sy biddende moeder het vir hom ’n Bybel saamgegee. Sy het haar naam en sy naam, saam met ’n teksvers, op die binneblad ge­skryf. In die universiteit het MacKay homself oor­­gegee, aan die studente se pretlewe en einde­lose partytjies, wat sy beskikbare geld vinnig drei­neer het. Op `n dag het hy geld nodig vir whiskey. Hy verpand sy Bybel daarvoor. Met verloop van tyd behaal hy sy graad as dokter en begin in een van Edinburg se groot hospitale werk.

Op ’n dag word ’n erg be­­seer­de jongman inge­bring. Dr. Mackay moet aan hom aandag gee. Terwyl hy die ver­gruisde liggaam onder­soek, word hy getref deur die kalmte op die man se gesig. Die man vra hom: “Dokter, wat is my toestand presies. Ek wil graag die waarheid weet.” Dr. Mackay ant­woord: “Jy het hoogstens nog drie ure om te leef.” “Dan vra ek, as­seblief, Dokter, laat die boek by my losiesplek haal.” “Watter boek?” vra Mackay. “Vra net vir die boek, en noem my naam. Die eienares sal weet.” Die dokter ­reël om vir die jong­man die boek te laat haal. Terwyl dr. Mackay met sy werk aan­gaan en ander pasiënte in die hospi­taal be­soek, bly ’n opmerking wat die jongman gemaak het hom hinder. Die jong­man het onder sy pyn ge­fluis­ter: “Ek is ge­reed. Ek gaan om met Jesus Christus te wees.”

’n Paar uur later keer dr. Mackay terug na die jong­man se kamer toe. Die suster aan diens, stel hom in kennis sy pasiënt het heen­ge­gaan. “Het hy die boek betyds gekry? Dit was vir hom belangrik. Ek dink dit was sy bank­boek of iets.” “Die boek is nog onder sy kussing,” sê die suster en loop haas­tig weg. Dr. Mackay steek sy hand onder die nog warm kus­sing in. Oorbluf haal hy ’n Bybel uit. Hy herken die Bybel. Die voor­blad val oop. Op die bin­ne­blad lees hy,  sy ma se naam en sy naam en die teks wat sy ge­skryf het. Oorweldig deur herinneringe gaan hy, met die By­bel in sy hande, na sy kantoor toe. Stukkend van be­rou en verpletter onder die wete dat sy ma deur die jare vir hom gebid het, maak hy die deur toe, val op sy knieë en roep God om genade aan.

Dr. W. P. Mackay het daardie dag tot bekering ge­kom. Hy het sy doktersloopbaan prysgegee en predikant ge­word. In die midde van sy vrugbare bediening skryf hy ’n boek, Grace and Truth, wat vir baie mense die weg van redding aangewys het. Dit het lank geneem, maar God het die moeder se gebede vir háár seun ge­hoor, en die boodskap van redding, in sy geliefde Seun, Jesus Chris­tus, deur die werking van die Heilige Gees in die man se hart, per hand van ’n getroue getuie, ‘n beseerde jongman, na hierdie verlore seun gestuur.

   “Here, vandag bid ek vir my kind.”