Ma 18 Apr: Liefde se Vrug

LEES: Romeine 8: 24 – 28

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk…(28)

Jare gelede, vertel Walter Knight, het `n jong­vrou, wat aan Dr. Bob Shuler  se kerk be­hoort het, `n drang in haar hart gehad om as sen­delinge Mexico toe te gaan. Die Heilige Gees het `n liefde vir die Meksikane in haar hart gelê en `n drang opgewek om aan hulle van die redding in Christus te gaan vertel.

Om haar liefde vir die vreemde volk te ver­diep, het sy 1 Korinthiërs 13 dikwels gelees, maar waar liefde genoem word, het sy Meksikane ingelees. Walter Knight gee `n voor­beeld. “She read, for instance, ‘Though I speak with the tongues of men and of angels, and have not love for the Mexicans, I am become as sounding brass, or tinkling cym­bel.’” Haar egte liefde vir hulle het haar in staat gestel om talle van hulle vir die Verlosser te wen. Na jare van onselfsugtige diens, het sy siek geword. Ure voor haar dood was sy be­wusteloos. Talle van haar bekeerlinge het om haar bed ver­gader. Die aanskoue van die talle traanbenatte gesigte om haar bed, het haar na die werk­likheid laat terugkeer. Voor sy gesterf het, het sy haar bekeerlinge gevra, om nie blomme na haar graf toe te bring nie, maar Spaanse By­bels en Nuwe Testamente. Die Bybels en Nuwe Testamente het `n groot hoop om haar kis gevorm. Die By­bels en Nuwe Testamente is uit­gedeel aan dié wat nie Bybels gehad het nie.

“Here, vandag bid ek, om so `n liefde vir die onbekeerde menigte om my, in my hart te wek.”