Ma 2 Mei: Blinde Geloof

LEES: Psalm 54.

“Kyk, God is my helper. Dit is die Here wat my siel ondersteun (6).”


O Steun deur genade my swakke hart

Slaan my in liefde gade,

 in vreugde en in smart;

Laat rus nou aan u voete, u arme kind.

Ek sal my oë toemaak. Ek glo U blind

Hierdie vers uit Julie Hausmann se lied  “So nimm denn meine Hände …(O Heiland neem my hande…), word dikwels as `n oor­ver­eenvoudiging afgemaak. Dit word Chris­tene dikwels voor die deur gelê dat hulle hul oë vir die harde werklikheid van die lewe sluit, en sogenaamd, blind glo, in plaas daarvan om siende deur die lewe te gaan. Hierdie vers wat sê: Ek sal my oë toemaak. Ek glo U blind het onder besondere omstandighede  tot stand gekom. In `n Duitse boek deur Axel Kühner en wat vir ons vertaal is deur Prof. Sieg Engelbrecht, word hierdie verhaal vertel, om te toon hoe egte geloof ontstaan.

As jong bruid was Julie Hausmann ter see, op weg om by haar verloofde op die sendingveld, in die buiteland aan te sluit. Sy kon die einde van reis en haar troudag nouliks meer afwag. Uit­ein­delik word die skip by die bestemming vasgemeer. `n Vriend van die bruidegom haal haar af en vol deernis begelei hy haar, na die klein begraafplaas van die sendingstasie. Daar het hulle enkele dae tevore haar verloofde te ruste gelê. Haar hele wê­reld stort vir die jong vrou in duie. In haar smart sluit sy haar in `n kamer in die sendingstasie toe en huil dag en nag en roep tot God. Na drie dae en nagte kom sy by die deur uit en in haar hande hou sy die woorde van die lied, wat ons as Hallelujalied 379 het: “O Heiland neem my hande en lei my voort…. Sy het dié drie donker dae, smart in sy volle hardheid, die le­we in sy onbegryplikheid, maar ook God in sy onmeetlike grootheid ervaar. En iemand wat God as Heer oor alles gesien het – God wat nie deur nood en leed begrens word nie – so iemand kán blind glo. As jy God in sy onbe­gryplikheid en onmeetlikheid deurleef het, kan  jy “blind” glo alles sal goed word, hoe sleg dit ook al mag lyk. Hier is Halleluja 379 se 3 verse (werd om aandagtig te lees)

O Heiland, neem my hande en lei my voort;

Trek my met liefdebande na gindse oord!

Alleen kan ek nie verder, geen enk’le tree;

wees U my troue Herder en neem my mee!

 O, steun deur u genade, my swakke hart;

Slaan my in liefde gade, in vreugde en smart.

Ek buig in onvermoë, diep voor U neer,

Ontsluit U tog my oë, dat ek kan sien, Heer!

Al kan ek soms niks voel nie, Heer, van u mag,

Met U mis ek my doel nie, selfs in die nag.

O Heiland neem my hande, en lei my voort.

Tot aan die saalge strande, u hemeloord!

“Here, vandag wil ek my lewensloop in u hande plaas.”