Lees: Jesaja 30: 19 – 26
“Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou `n stem hoor sê: ‘Hier is die
pad, loop hierlangs.’” (21)
Die Gospel Herald vertel van ’n buitengewoon aantreklike en bekwame jongmeisie,
inwoner van een van die Sendinginstituut se weeshuise, in Indië. Sy het op ’n
waardige jongman verlief geraak en hulle sou, met die Instituut se goedkeuring,
trou. Kort voor die huwelik, begin sere aan haar hande verskyn. Dit is vasgestel
sy is melaats. Die troue is afgestel en sy is na ’n melaatse gestig oorge
plaas. Mooi aangetrek gaan sy die dag na die melaatse gestig toe. Saam met haar
broer stap sy die verskriklike plek in. Al die vroue om haar is vuil en
verwaarloos, hulle gesigte droewig en vol wanhoop. Sy gryp haar broer vas en gaan
droewig aan die huil. “Moet ek soos hulle word?” snik sy. So wanhopig was sy, sy is
dopgehou, dat sy nie dalk in die diep waterput sou spring nie. Die sendelinge
het saam met haar gevoel, diep met haar gesimpatiseer. Een van hulle sê vir haar:
“Wil jy nie vir die arme vroue ’n hulp wees nie.?” ’n Straaltjie lig beek vir haar
deur. Sy het ’n skool begin en die vroue en jongmeisies in die gestig leer lees en
skryf. Die sendelinge het vir haar ’n vouorrel gebring. Sy kon dit bespeel en die
vroue leer sing. Stadigaan het ’n transformasie begin plaasvind. Die huise is
skoon en netjies gemaak. Die vroue het hulself en hul klere begin was en hulle
hare gekam. ’n Atmosfeer van hoop en vreugde het posgevat. Dit het ’n plek van seën
geword. Na sy ’n lang ruk daar was, het sy getuig, sy het met haar aankoms in die
gestig, in God begin twyfel. Dan gaan sy voort om te sê: “Now I know God had a work
for me to do, and if I had not become a leper, I never would have discovered my
work. Every day I live, I thank Him for having sent me here, and had given me this
work to do.” Die pad waarlangs die Here ons soms neem om vir Hom nuttig te wees,
kan ’n steil en moeilike pad wees. So het Paulus en Silas dit ervaar toe hulle die
evangelie in Filippi se tronk moes indra. Hulle is aangekla, geslaan en met hulle
voete in ’n blok opgesluit. Baie groot seën en redding het hieruit voortgevloei
(Hand.16). Ons is veilig as ons ons aan God se wil onderwerp. Hy weet hoe om ons
langs die regte pad te lei, om te kom waar Hy ons wil hê en gebruik. In sy
swaarkry, was dit gedurig Dawid se gerusstellende wete: “Maar ek vertrou op U,
want ek weet U is my God. U het beheer oor my omstandighede” (Ps.31)
“Here, vandag luister ek om u stem te hoor.”