Oral Bruikbaar

Lees 2 Timoteus 4:1-5

“…verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig…”(2)

In die laat tagtiger jare het ’n kreupel vrou, Irma Jan­sen, in ’n hospitaalsaal in Kaapstad gelê. Vir die soveel­ste keer was sy in die hospitaal. Sy dink nie oor haar eie probleme nie. ’n Belangriker saak verg haar aandag. ’n Siek vrou is so pas ingebring en aan die anderkant van die saal op ’n bed neer­ge­lê. Sy is duidelik baie siek. Irma is dadelik oor haar besorg. Is sy gereed om te sterf? Self is sy te siek om na die vrou toe te gaan. Sy lê nog en prak­seer hoe sy die vrou kan bereik, toe die vrou se toe­stand versleg en sy word haastig na ’n privaat­kamer ge­stoot, waar net die familie by haar toege­laat word. Sy is besig om te sterf. Opnuut aange­daan deur die on­ver­bid­de­likheid van die dood wat nie van uitstel weet nie, bid Irma in haar bed vir die vrou wat nou buite haar fisiese bereik lê. ’n Ver­pleegster kom haastig na Irma se bed toe. Omdat sy so dikwels in die hospitaal beland, ken die ver­pleegpersoneel haar al goed. Hulle weet sy is ’n Chris­tin. “Kan ons tog jou Bybel leen,” vra die ver­pleeg­ster. “Die familie wil graag aan hulle ster­wende moeder uit die Bybel voorlees.” Die ver­pleegster gee ’n skewe glim­laggie. “Ek weet jy het al die belangrike verse onder­streep.” Ure later bring die verpleegster die Bybel terug. Die vrou het heengegaan.

’n Paar dae later bring die vrou se seun vir Irma ’n ruiker. Hy kom dankie sê vir die gebruik van haar Bybel. Hy weet dit het sy ma getroos om na die Here se Woord te kon luister. Maar eintlik wil hy oor iets anders praat. Met hóm het iets ge­beur. Hy het nooit veel vir godsdiens omgegee nie, maar toe hy daar voor die werklikheid en finaliteit van die dood vir sy ma die onderstreepte tekse voor­lees, het hy die verlossing van Christus be­gryp. Geloof het in sy hart wakker geword en hy kom net vir haar vertel hy het ook  tot bekering gekom.

“Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal ’n oes le­wer nie”, (Pred.11:6) “’n Saaier het uit­ge­gaan om saad te saai..die saad is die woord van God (Mat.8:5,11, 15).

“Here, vandag wil ek u woord aan iemand oordra.”