SKRIF: Johannes 1: 1 – 16
“.. aan almal wat Hom aangeneem…het Hy die reg gegee, om kinders van God genoem te word” (12)
Tydens die Spaans-Amerikaanse oorlog, het Clara Barton Rooikruiswerk in Kuba gedoen, vertel Onward die storie. Col. Theodore Rooseveldt, die latere president, wou by haar lekkernye vir sy gewonde en siek manne koop. Sy het geweier. Roosevelt was ongelukkig oor haar houding. Hy was bereid om uit eie sak te betaal… “Hoe kan ek sulke eetgoed in die hande kry?” vra hy. “Vra net daarvoor, Kolonel,” kry hy die antwoord. “O,” sê hy verras, “maar dan vra ek dit vir my manne.” Alles wat hy wou hê is dadelik aan hom voorsien. Onward sluit af met die opmerking: “You notice that he got them through grace, and not through purchase.”
Hiermee beklemtoon Onward die taal van Christus se evangelie. Wat ons nodig het vir ons geestelike lewe, gee God deur die Heilige Gees in ons. Jesus het aan die kruis ten volle betaal vir ons sielsbehoeftes en ons hoef nie nou te betaal of dit te probeer verdien nie. Uit die Ou Testament klink die boodskap reeds: “Kom, almal wat dors is, (Jes.55:1) kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” In die Nuwe Testament klink Jesus se stem: “’As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!. Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ Hiermee het Hy na die Gees verwys…,wat die mense wat tot geloof in Hom kom sou ontvang (Joh.7:37,38).” Die wydheid van God se liefde en rykdom sluit ook ons daaglikse fisiese, finansiële en ander behoeftes in. Jesus se belofte: “Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy julle gee….Bid, en julle sal ontvang…” (Joh.16:23).
“Here, vandag vra ek.”