Lees Filipense 2: 5 – 11
“Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (7).
In David McCullough se boek Truman, oor die lewe van die VSA-president Harry Truman, wat net na die Tweede Wêreldoorlog in 1945 president van die VSA geword het, vertel hy dat Truman se groot strewe was om in aanraking met die gewone burgers van die land te bly. So dikwels as wat hy kon het hy tussen die mense beweeg. Hy was lief om alleen te gaan stap en dan met mense te praat. McCullough skryf: “Those were in simpler days when the President could take a walk like everyone else.” So gebeur dit dat Truman een aand besluit om na die Memorial Bridge oor die Potomacrivier te stap. Toe hy by die brug kom, raak hy nuuskierig oor die meganisme wat die middelgedeelte van die brug oplig en weer laat sak. Hy stap oor die brug en met trappies af na die meganiese deel toe. Daar kom hy onverwags af op die brugoppasser wat uit sy bliktrommeltjie met sy aandete besig is. Die man lyk glad nie verras om die wêreld se bekendste en magtigste man by hom te sien nie. Hy sluk die mondvol kos af, vee sy mond af, glimlag en merk op: “U weet, Meneer President, ek het juis nou net aan u gesit en dink.” Hieroor skryf McCullough: “It was a greeting Truman adored and never forgot.”
Ons Koning, Jesus Christus, het sy troon verlaat en as mens, tussen gewone mense beweeg. In die vier evangelies verskyn die naam, Seun van die mens, uit Jesus se mond, 57 keer. Uit die Bybel, uit boeke, deur prediking, het ons die Persoon van Jesus leer ken. Watter plek het Hy in óns gedagtewêreld? Af en toe? Kort-kort? Hoe moet dit ons Here nie behaag as ons dikwels aan Hom dink nie! Wie Hy is; hoe Hy op aarde geleef het, hoe Hy vir ons gesterf het; sy Koningskap waar Hy nou op sy troon in die hemel sit, en tog, hoe Hy deur sy Heilige Gees durig by ons is; sy liefde vir ons en die plek wat Hy in die Vader se huis vir ons gaan regmaak het, sodat ons eendag vir ewig by Hom kan bly;. Laat Jesus u gedagte vol maak. Ralph Waldo Emerson het eens gesê: A man is what he thinks about all day long. En Marcus Aurelius het gesê: Our life is what our thoughts make it.
“Here, vandag wil ek U in my gedagtewêreld vereer.”