Ma 23 Mei: Die Hoogste Noot

Lees 2 Korintiërs 12:1-10

“…ek (is) bly oor swakhede, ontberings, beledigings… want as ek swak is dan is ek sterk” (10)

 Omstreeks 1710 kom George Frederick Händel in Londen aan. Vir die volgende dertig jaar lewer hy sy grootse musiek en oorheers hy die musiek­wêreld. Hy word beroemd, maar dit gaan nie met hom goed nie. Hy is arrogant, geweldig energiek, do­mi­nerend, humeurig, goedhartig, maar opvliënd. Hy het baie vyande en hulle werk saam om hom te vernietig. In 1737 kom die ineenstorting. Hy word ban­krot verklaar. Op 13 April kry hy ’n beroerte­aanval wat sy regterkant en regterarm verlam. Daar is min hoop vir sy herstel, maar hy kom tog weer op die been. Met oorgawe begin hy weer ope­ras komponeer en dit gaan weer met hom goed. Toe sterf sy getroue beskermings­vorstin,  Konin­gin Caroline van Hanover, Duitsland. Händel was nou amper sestig jaar oud. Hy was sieklik, af­ge­mat, vol skuld, en teleurgesteld. Hy het van God en mens verlate gevoel. “Hoekom het God my laat leef?” het hy uitgeroep, “net om my weer deur my naaste te laat begrawe!”

Een aand keer hy na sy powere woonplek in Brook­straat terug. Op sy tafel lê ’n groot pakket. Haas­tig skeur hy dit oop. Binne-in die pakket is ’n li­bretto (teks van ’n operastuk). Dit is Charles Jen­nens se “Gewyde Oratorium” (Bybelse dramateks). Händel steun. Hy wil nie graag ’n godsdienstige werk hê nie. Hy blaas sy kers dood en gaan lê om te slaap – maar hy bly wakker lê. Hy staan weer op, steek sy kers op en neem die manuskrip op. Woor­de op woorde – dit raak sy hart aan. “He was dispised and rejected of men…I know that My Redeemer liveth…Rejoice…” Met bewende hande gaan hy by sy lessenaar sit. Hy wil oopbars van die musiek wat in sy gemoed opwel. Hy neem sy pen en begin skryf. Bladsy op bladsy musieknote vloei uit sy skrywende hand. Met bomenslike krag skryf die kom­ponis dae lank, feitlik sonder kos en slaap. Op die 24ste dag gooi hy sy pen neer, val neer op sy bed en slaap vir elf ure lank. Op sy tafel lê die voltooide komposisie van Die Messias. Op 13 April 1742, die vyfde jaar na sy be­roer­teaanval, speel hy dit in Dublin. Daarna bied hy die uit­voering jaarliks aan. Op 13 April 1759, 22 jaar na sy beroerte­aan­val, 75 jaar oud en blind, derigeer hy met moei­te Die Messias die laaste keer. By die woorde “the trumpet shall sound” steier hy vooroor en val dood neer op die grond.

Die “Gospel Witness” skryf só oor hierdie werk van Händel:  “The Messiah in all its glory, eloquent  in faith and glorious hope, lives and will live.” Na meer as twee en ’n half eeue is hierdie woorde steeds waar. Die Here het Händel gebruik om op ’n besondere manier ’n getuienis oor Christus en sy dood en opstanding voort te bring. In sy boek Treasury of Notes, Quotes and Anecdotes vestig A. Naismith ons aandag op ’n merkwaar­dige feit: “The highest note is in the lovely and lofty air, ‘I know that my Redeemer liveth’, and is reached on the word ‘risen’. The composer realised that this one word is the key to the Gospel and to God’s kingdom, and is proclaimed to all the world in the Gospel…” Die sterk, briljante en gesonde Händel sou nie so ’n geïn­spi­­reerde werk tot eer van die Here kon lewer nie. In sy lewe was nie plek vir die gekruisigde Jesus nie. Die Here moes hom eers afbreek en in homself swak maak en hom met die vernederde, en daarna met die lewende en ver­heerlikte Christus in aanraking bring om hom te kon gebruik. Omdat Christus vir ons gebreek en ver­­brysel is, is daar vir ons ook nuwe krag en bruik­baarheid in sy opstandingslewe.

 “Here, ek wil vandag in swakheid en gebrokenheid na u voete toe kom  en uit u opstandingslewe krag kry om vir U bruikbaar te wees”