Di 3 Mei: Bekende Woorde se Krag

LEES: Johannes 3:14 -17

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo….die ewige lewe kan hê (16).”

`n Jong vrou wat `n sondige lewe gevoer het, gaan na die Engelsespoorweg se kaartjieskantoor toe om `n kaartjie te koop. Walter Knight skryf: “She was weary of her empty, sinfull life.” Bokant die kaartjiesvenster, was die volgende woorde: “God so Loved!” In ons Bybel natuurlik: “So lief het God gehad.” Sy sê vir die kaartjiesman; “Ek het dit nog nooit voorheen gehoor nie. Waar kom daardie woorde vandaan.” “Dis in die Bybel.” “Waar kan ek `n Bybel kry,” vra sy. Hy antwoord: “Oorkant die straat in die boek­winkel.” Sy gaan koop dadelik vir haar `n Bybel en keer terug stasie toe, net betyds vir haar trein. Sy vra vir een van die passasiers om in haar nuwe Bybel vir haar die plek te kry, waar dit sê “God so loved”. Die passasier wys vir haar Johannes 3:16. Sy lees dit oor en oor.

Tuisgekom, storm sy behoorlik die huis binne. Sy wys die vers vir die man saam met wie sy ongetroud le­we. Hy het haar soort lewe gedeel. “Is dit nie wonderlik nie?” roep sy uit. “Ek weet al lankal van daardie vers in die Bybel. Wat is so wonderlik daarin?” vra hy gelate. “Wel, as God my so lief het, gaan ek my slegte lewe laat vaar en Hom met my hele hart liefhê en Hom dien!” antwoord sy. Haar soekende hart het `n reddende Here gevind. Sy het `n vreugdevolle Christin geword. Sy het haar lewensmaat ook vir die Here gewin. Hulle het `n vreugdevolle Chris­ten­­huwelik  gehad. Hulle huis in Lon­don het `n plek met `n ryk en geseënde invloed vir Jesus Christus geword.

Is daardie woorde in baie harte vergete woor­de? Onthou u hulle nog? Leef u in hulle vreugde?

“Here, vandag bring ek die woorde nuut  na my bewussyn toe.”