Do 19 Mei: Die Betroubare Kompas

Lees Jesaja 58: 8 – 12

“En die Here sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke” (11).

Jare gelede, voor ons era van sensitiewe, elektroniese toe­­rusting op skepe, was die kompas vir die skip ’n be­lang­rike instrument om die skip, net met water omring en geen land in sig nie, op koers te hou. ’n Predikant het so ’n seereis onderneem en ’n groot geloofsles geleer. Die kap­tein het hom op die skip rondgewys. “Die skip het twee kompasse,” het die kaptein hom ingelig. “Die een is op die laer dek. Maar daardie kompas word beïnvloed deur die skip se staalkonstruksie rondom en kan nie ver­trou word nie. Die ander kompas is in die stuurkajuit. Dit is ’n hoër kompas. Vry van omgewingsfaktore is dit die kom­pas waarop die stuurman vertrou.”

Na die besigtigingstoertjie het die dominee se gedag­tes die volgende loop geneem: “Ons is in die lewe ook soos ’n skip wat in ’n wye oseaan, met stormagtige wa­ters omring en geen sigbare, hemelse elemente nie, moet koershou hemel toe. Hiervoor het ons ook ’n laer en ’n hoër kompas. Die laer kompas is ons gevoelslewe en ons waarneming van onmiddellike omstandighede. Weens die inwerking van baie omgewingsfaktore is ons gevoe­lens, ons emosies, nie betroubaar nie. Ons het ook ’n hoër kompas nodig. Geloof in die hart wat net op God se Woord rus.”

Die beroemde prediker, C.H.Spurgeon, was een aand on­gesteld toe hy moes preek. By die aanvang van sy preek het hy vir sy gemeente gesê: “Ek voél vanaand on­be­keerd, maar gelukkig is die evangelie van die Here Je­sus nie gegrond op my gevoelens nie, maar op die Woord van God.” Dit is ons tweede kompas: geloof soos die Heilige Gees dit uit die Woord in ons harte werk. Ge­ves­tig op die onveranderlike God en beheer deur sy onfeilbare Woord, is geloof ons betroubare kompas ewig­heid toe. Deur kennis van die Woord en gehoorsaamheid aan God, stel ons ons kompas in vir ons reis ewige hemel toe.

Voor die slag van Edge Hill het Lord Ashley gebid: “O Here, U weet hoe besig ek vandag sal wees. As ek U vergeet, vergeet U my tog nie.” In tye van menslike swakheid, wanneer omstandig­hede ons oorweldig en ons gevoelens ons in die steek laat, kan ons steeds op God vertrou. “…as ons ontrou is – Hy bly getrou …” (2 Tim.2:13).

“Here, vandag vertrou ek meer op wat U vir my in u Woord sê, as wat ek in my hart voel.”