Di 24 Mei: Die Krag van Invloed

Lees Handelinge 16: 23 – 34

”En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing en die gevangenes het na hulle geluister (25)

In die Suide van Spanje is `n evangelis in die tronk gegooi. In die tronk was ook Anargiste en Kom­muniste. Hulle was wanhopig en woedend. Hul­le het geskreeu en vreeslike vervloekinge teen hul gevangenemers op die tronkmuur geskryf. Al­mal het verwag om tereg­ge­stel te word. Die evan­gelis het ook op die tronkmuur geskryf. Sy woorde was: “Moenie vrees vir dié wat die liggaam dood­maak, maar die siel nie kan doodmaak nie, maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die lig­gaam kan verder­we in die hel” (Mat.10:28). Net onderkant het hy Johannes 3:16 geskryf: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigegebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Dit het aandag getrek. Een van die ge­van­genes was ’n jong onderwyser. Die evan­ge­lis het die vreugde ge­smaak om die jongman na die He­re te lei. Op ’n dag het die jong onderwyser vir die evan­gelis kom sê: “My naam is op die lys om van­dag geskiet te word. Ek is so bly jy het daardie teks op die muur geskryf. Vroeër sou ek wanhopig gewees het, maar nou, hoewel ek nie graag wil sterf nie, is ek nie wanhopig nie, want ek weet ek het die ewige lewe van Jesus ontvang en ek gaan na Hom toe. Ek sal jou weer eendag sien.” In die omgewing waar iemand die evan­ge­lie van die He­re Jesus bekendmaak, deur woord of skrif, is daar reddende krag.

’n Predikant in Nottingham, Engeland, is gevra om `n kroegman se sterwende vrou te besoek. Tot sy blye ver­ras­sing vind hy ’n gelowige vrou, vol vreugde in haar Ver­losser, Jesus Christus. “Hoe het u die Here gevind?” wil hy nuuskierig weet. “Deur dít te lees,” antwoord sy en gee hom ’n verkreukelde stuk koerant. Dit was ’n Ameri­kaan­se koe­rant wat ’n gedeelte van een van Spurgeon se pre­ke bevat het. Die hoofinhoud van die preek was: “In Christus se offerdood neem God die skuldige sondaar aan as sy kind, met volle vergifnis van al sy sonde.” “Waar kry jy dit?” wil hy voorts weet. “Dit was om ’n pakkie wat van Australië af aan my gestuur is,” antwoord sy. Langs ’n lang omweg, op nederige manier, het die He­­re sy red­dingsgenade by hierdie vrou laat uitkom. Hy spoor die ongeredde mens op en red hom. ”Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:10).

“Here, vandag wil ek ook ’n kanaal vir U genade wees.”