Lees Matteus 21:28-32
“Seun gaan werk vandag in die wingerd” (28)
Die uitvinder van reuse grondverskuiwingmasjinerie, Robert G. LeTourneau, het eintlik bekend geraak, deur die reuse bedrae geld wat hy vir evangelisasie- en sendingwerk geskenk het. In King’s Bussiness beskryf hy hoe sy kerk se jongmense gereeld een aand ’n week by ’n sendingkerk dienste gaan hou het. As jongman het hy altyd met hulle saamgegaan. Een aand kon hy nie gaan nie. Daardie tyd was sy fabriek nog klein en hy moes die ontwerp van ’n nuwe masjien, waaroor hyself nog nie seker was nie en wat die volgende dag deur kontrakwerkers vervaardig sou word, voltooi. Hy kon nie sy werk doen en ook nog die diens by die sendingkerk gaan hou nie. “The Lord and I had quite a struggle while I was trying to decide what to do,” skryf hy. Hy het nie geweet hoe hy die masjien nog die aand geteken gaan kry nie, maar hy het tog saam met die jongmense na die sendingdiens toe gegaan. Dit was ’n buitengewone geseënde aand. Ongeveer tienuur die aand kom hy weer tuis. Moeg, maar vol vreugde na die aand se bedrywigheid by die sendingkerk, gaan hy by sy tekenbord sit. Hy skryf: “I sat down at the drafting board. In about five minutes the outline and plan was as plain as it could be. And more, the little piece of machinery designed that night, has been the key machine in all that I have been building since. It pays to put God first.”
Nog nooit het dit iemand berou om God se belange eerste te stel nie, al lyk dit vir die oomblik of dit ’n nadelige gevolg gaan hê. Toe God Abraham gevra het om sy seun, Isak, te offer, het dit gelyk of hy sy seun gaan verloor. Hy het dadelik gehoor-saam, maar in plaas van sy seun te verloor, het hy ’n groot nageslag vir hom gewen. God het gesê: “Ek lê ’n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het…in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam (Gen.22:17,18).” Die slotsom van die Psalmskrywer is: “Here, ek het besluit dit is vir my die belangrikste in die lewe om te maak soos U gesê het (Ps.119: 57 Lewende Bybel).” As ons God se belange ons eerste belang maak, sorg Hy vir ons.
“Here, vandag wil ek maak soos U vir my sê.”