SKRIF: Markus 8: 34 – 38
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën…en My volg” (34)
Onder die opskrif, The Blessing of Irritations, maak Sunday School Times die opmerking: “Most of us rebel against the things that irritate us…the oyster is wiser. “ As `n irriterende dingetjie, soos `n sandkorrel, onder die mantel van die oester indring, bedek hy dit met kosbare weefsel. `n Pêrel is sy oorwinning oor `n irritasie.
Ek het dit in ons ou Kinderensiklopedie nageslaan. Dit sê, pêrels word langs `n moeilike weg gekweek, soos die Sunday School Times dit vertel. `n Irritasie, bv. `n sandkorrel, beland in die oester se binneweefsels, en word dan lagie op lagie met `n innerlike en kosbare stof van die oester, perlemoenuitwas, bedek om die irritasie teë te werk, en so vorm die kosbare pêrel. Sunday School Times maak hierdie toepassing: “Elke irritasie wat vandag in ons lewe indring, is `n geleentheid vir pêrelkultuur. Ons moet dit verwelkom en met liefde bedek, dan word die irritasie verdring en `n pêrel word gevorm.”
Prof. Stander se vertaling van 1 Korintiërs 13: 4, 5, vir kinders bedoel, en daarom vir ons verstaanbaar, klink so: “As ’n mens regtig lief is vir Jesus en vir mense dan: sal jy nie lelik wees met iemand wat vir almal ’n pyn gee nie… altyd gaaf wees met mense…nie oor jouself loop en praat nie… nie dink jy is darem baie belangrik nie… nie met ander mense lelik maak nie… nie altyd net aan jouself dink nie…nie oor elke ding kwaad raak en dan net wil stry of baklei nie…nie altyd terugdink aan dit wat ander verkeerd teen jou gedoen het nie…” So word die geestelike pêrels in ons lewe gevorm. So `n lewenshouding is nie uit ons eie krag moontlik nie. Ons is van die Heilige Gees se werking in ons hart afhanklik. Die Heilige Gees gebruik God se Woord en vestig ons aandag op Jesus, en só kom die geestelike pêrelproses in ons lewe in.
“Here, vandag wil ek deur u krag, uit my irritasies, pêrels vorm.”