Woens 1 Julie: Saai en Oes

Lees 2 Korintiërs 9: 6 – 15

 “Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes…want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk…(6-8).

Twee studente van die Leland Stanford-Universiteit, moes vir hulle studiegelde werk. Hulle fondse het ge­daal en hulle moes planmaak vir meer inkomste. Hul­le beplan ’n konsert waarin die Pool­se pianis, Ig­nace Pa­derewski, ’n klavieruitvoering sou gee. Die beroemde kuns­tenaar se bestuurder het ’n waarborg van $2 000 ge­vra. Die twee studente het dit voorsien en die konsert aangebied. Die aand se opbrengs was $1 600. Hulle het hulle saak aan Paderewski gestel en aan hom die vol­le $1 600 en ’n skuldbewys van $400 oorhandig. “Nee, manne,” antwoord Paderewski, “dit sal nie werk nie.” Hy het die skuldbewys op­ge­skeur en die $1 600 aan hulle teruggegee. “Trek julle onkoste af en gee vir jul­le elkeen 10% van die bedrag en laat ek die balans kry.” Die jare het verby gerol en die Tweede Wêreld­oorlog het uitgebreek. Paderewski het met alle mag gewerk om sy hongerige, sterwende Poolse landgenote te help voed. Paderewski het planne beraam om ie­mand in die buiteland om hulp te nader. Voor hy sy plan kon uitvoer, begin duisende ton voedsel in­stroom om die hongeriges te voed. Na al die reë­lings getref is om die voedsel reg uit te deel, gaan Pa­derewski Parys toe om Herbert Hoover, die skenker, persoonlik te gaan bedank vir sy wonder­like hulp. “Dis alles reg, mnr. Pa­derewski” antwoord Hoover hom. “Ek het besef die nood is groot en ek is gelukkig in ’n posisie om te help. Bui­tendien, u sal dit seker nie onthou nie, maar u het eenkeer, toe ek en ’n studentemaat in die moeilikheid was, ons uit ons ellende gehelp.”

Wat ons vir ’n ander doen, lyk soms vir ons gering, maar God, wat ’n goeie gewer liefhet, sal vir ons sorg as ons die dag in nood ver­keer. “Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, propvol…” (Lukas 6:37-42) .

“Here, vandag wil ek ook iemand wat nood het, help.”

Di 30 Junie: Plek in die Optog

Lees Openbaring 7: 9 – 17

“…’n groot menigte…wat niemand kon tel nie…van elke nasie…hulle het hulle klere gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam…” (9,14).

Die prediker, C. H. Spurgeon, vertel ’n man het diep bekom­merd geraak oor sy plek in die Here se ko­­ninkryk. Die nag droom hy hy staan by die poort van die hemelstad. Hy aanskou ’n feesvierende ska­re wat by die hemelpoort ingaan en singende deur die hemelskare verwelkom word. ’n Engel ver­­tel hom: “Dit is die profete.” Die man skud sy kop. “Ek tel nie onder hulle nie.” Kort daarna kom nog ’n jubelende optog verby. Hulle ontvang die­selfde verwelkoming. ”Dit is die apostels”, sê die engel. “Ek is nie een van hulle nie,” sug die man. Nie lank nie of nog skare kom singende verby. “Dit is martelare wat vir hulle geloof gefolter is.” “Ag, ek is nie werd om tussen hulle te wees nie!,” roep die man hartseer uit. Die volgende optog bestaan uit manne en vroue wat met vrug die evangelie op sendingvelde, in vreemde lande en in wêreldstede verkondig het. Die man bedek sy gesig met sy hande en kreun: “Ek hoort nie onder hulle nie!” Toe kom ’n skare verby; groter as enige van die voriges, met groter blydskap en helderder sang. Die vaandeldraer heel voor is die moordenaar vir wie Jesus aan die kruis gesê het: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Agter hom loop die sondares vir wie die Here Jesus gesê het: “Jou sondes is vergewe” Dan loop Saggeus, vir wie die Heiland gesê het: “Vandag het daar red­ding vir hierdie huis gekom…want die Seun van die mens het gekom om te soek te red wat verlore is.” En langs hom is die vrou van Samaria, vir wie Jesus gesê het: “…wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.” Sy word gevolg deur die sipier van Filippi met sy hele gesin, vir wie Paulus het: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”. ’n Ontelbare skare manne, vroue en kin­ders, volg vreugdevol op hulle hakke. Die man wonder watter ontvangs húlle in die hemel gaan kry. Van agter die hemelmure gaan nou ’n gejuig op wat alles oortref en meng met die optog se eie jubelende lied: “Ons red­ding kom van ons God wat op die troon sit en van die Lam”. Die engel sê met ‘n blye glimlag: “Dit is die groot sondaars, wat deur groot genade gered is!” “Dank, aan God!” roep die man uit. “Ek kan saam met húlle in­gaan!” Op daardie oomblik word hy wakker.

“Here, vandag loof ek U. Ek kan ook só u hemel binnegaan.”

Ma 29 Junie: Die Metgesel

Lees Psalm 23 Ou Vertaling

 “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my…” (4).

Eerw. H. F. Lyte het sy teologiese studies met lof geslaag. Sy eerste gemeente was ’n klein Ier­se ge­meente, wat hy genoem het, “a drea­ry Irish curacy”. Hy het met min aan­moe­diging getrou ge­arbei, tot swak ge­sond­­heid hom gedwing het om te bedank. Sy ge­sondheid het verbeter, en hy het, weer on­der moeilike omstandighede, in die be­dien­ing ge­tree in ‘n gemeente in Brixham. Hy werk vir die Here vir ’n verdere 20 jaar, in sy woorde, “u­n­der many a cloud of pastoral difficulty and dis­­cou­rage­ment”. Al was hy siek, en weer in sy eie woorde, “scarcely able to crawl”, wou hy graag een, laaste keer, die nag­maal be­­dien. Voor hy dié dag moei­saam en diep bewoë die nagmaal bedien, wil hy men­se oorreed om met erns hul eie harte te on­der­soek, of hulle regtig die ewige saligheid, deur geloof in die Here Jesus as hulle Verlosser, ontvang het. Met groot erns begin hy: “I may hope to impress it upon you, to move you to prepare for that so­­lemn hour which must come to all, by a time­­ly acquain­tance with, and appre­cia­tion of, and a dependence on the death of Christ”.

Na die diens het hy, bewus van sy nade­ren­de dood, huis toe gegaan. By die huis gee hy aan ’n geliefde familielid ’n vel papier met die woorde van ’n lied wat hy geskryf het. Daardie nag is eerw. Lyte dood. Op die vel papier was die woorde van die lied geskryf wat ons ook ken en wat ons dikwels bemoedig:

 Bly by my, Heer, terwyl die skadu’s daal
Laat tans u lig my donker pad bestraal!
Daar is geen ander hulp of troos vir my –
Hulp van die hulpelose, staan my by!

 Dáárdie onvermydelike gebeurtenis, ons sterwe, wat vir ons elkeen verbiddelik voor­lê, is vir elkeen van ons ’n ge­vreesde vooruitsig. In dáár­die oomblik gaan ons hulp nodig hê. “…ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie…Hy wat ons vir hierdie oorgang voorbe­rei…is God…ons is vol moed …” (2 Kor.5:1-10). Hy belowe om by ons te wees. Maar ons moet seker maak ons ver­houding met die Here is só, dat Hy as Helper en Trooster by ons sal wees. Het ú al vir Jesus Christus as Redder vertrou en aangeneem? Van álle dinge is dít ons belangrikste lewenssaak. Ons weet dit al­mal, ons gaan óf hemel toe, as ons Jesus Chris­tus as Saligmaker aangeneem het, óf ons gaan direk verdoemenis toe as ons versuim het om in Jesus as ons Verlosser te vertrou. Moenie die saligheid wat God vir ons, met die kosbare bloed van sy Seun gekoop het, weggooi nie. Om éwig in eensaamheid, pyn, verskrikking, el­lende te verkeer is bó ons denke aaklig. Om ewig hemel toe te gaan – wat God vir ons bedoel – is ewig heerlik. Om in ons doodsuur die teenwoordig­heid en troos van God deur sy Gees om Christus ontwil te mag hê, sal onpeilbaar kosbaar wees.

 “Here, vandag weet ek U is my Saligmaker en U sal by my wees in die donker uur van die dood.”

Vry 26 Junie: Kroongehalte Diamante

Lees 1 Petrus 5: 6 – 10 Ou Vertaling

 “En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!” (10).

Dr. H. A. Ironside skryf oor ’n diamant wat in ’n myn in Suid-Afrika gevind is en wat nou ’n kroon­diamant is. Ek sou graag wou hê dat dit die “Ster van Suid- Afrika” is waaroor hy skryf, want die geskiedkundige verhaal van die “Ster van Suid-Afrika” is self so mooi, dat ek dit graag met die diamant in hierdie storie, sou wou verbind. Die dia­mant waaroor dr. Ironside skryf, kom egter uit ’n myn, terwyl die “Ster van Suid-Afrika”, ’n diamant van 83½ karaat, d.w.s. bietjie meer as ’n ½-ons in gewig (140 karaat = 1 ons) in 1869 op die plaas Sandfontein, in Hopetown distrik, naby die Oranje­rivier deur ’n Griekwa-skaapwagtertjie opgetel is.

Die optrede van Schalk van Niekerk, die boer aan wie die skaap­­wagtertjie die groot diamant gaan gee het, was egter so mooi dat dit, dink ek, pas by die kroondiamant se storie. Schalk het die klip da­delik as ’n diamant herken. Die diamant was na­tuurlik nog dof en ongeslyp, maar dit het anders as die ander klippe gelyk. Hy kon die skaapwag­tertjie twee of drie skape gegee het, en hy sou dood ge­lukkig gewees het oor die groot beloning wat hy kry. Schalk van Niekerk het egter sy kraal leeg ge­maak en vir hom 500 skape, 10 beeste en ’n perd ge­gee. Self het hy die diamant later vir elf duisend pond verkoop. Die “Ster van Suid- Afrika”, soos die Griekwatjie hom opgetel en vir Schalk ge­gee het, was wel reeds baie kosbaar, maar nog nie kroongehalte nie. Dr. Ironside sê dat die dia­mant wat kroon toe gegaan het, eers vry­gemaak moes word van die dowwe dopsteen wat van na­ture om ’n diamant is. Die diamant kom nie skit­terende uit die grond nie. Die dowwe omhulsel moet eers af­ge­kap of weggeslyp word voor dit die glansende, skitterende juweel is wat ons in verloofringe, borsspelde en krone ken.

Die diamant wat kroon toe sou gaan, is we­­ke lank deur die steensnyer, dr. Ironside noem hom die “lapidary”, bestudeer, totdat hy al die nate van die steen geken het. Toe sit hy dit in sy kapin­strument en gee dit een hou. Die dofsteen het af­ge­spring en die skitterende diamant het tevoorskyn gekom. Na dit nog geslyp en gepoleer is, is dit in die kroon gemonteer. Die bekeerde mens is reeds vir God ’n kos­bare juweel, ’n kosbare diamant. Die mens se son­dige natuur, soos die diamant se natuurlike dofrots, is om ’n mens se kosbare siel gevou. Dit is hierdie sondige aard, die menslike dofrots, wat die Chris­ten van sy glans beroof. Die Here Jesus is die steensnyer, die “lapidary”, wat elke naat van ons natuur ken. Hy weet hoe Hy die hou, deur sy Woord, of ’n versoeking wat op ons pad kom, of ’n beproewing wat ons tref, dit wat reg sal meewerk om die glinsterende diamant te voorskyn te bring, moet gebruik om ons kroongehalte diamante te maak.

“Here, vandag vra ek dat U, deur u Gees se werking in my hart deur u Woord en die bestuur van my omstandighede, om my te toets, van my ’n kroongehalte diamant vir U sal maak.”

Do 25 Junie: Bolle en Blomme

Lees 1 Thessalonisense 1: 1 – 10

“…julle (het) die die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom…so het julle ’n voorbeeld geword vir al die gelowiges…Van julle af is die woord van die Here verkondig…” (7,8).

In Emergy Post vertel iemand van ’n blomme­saad­win­­keltjie naby haar kollege in Cambridge. Sy het me­nig­­maal by die winkel se vensters verby gestap son­der om haar te steur aan die uitstalling van blomsade en blombolle. Na een Kersvakansie keer sy terug en vir die eerste keer steek sy vas by die win­kel se vensters. In die een venster is ’n oor­vloed van blomme uitgestal: hia­sin­te, tulpe en nog meer. In die ander venster is die ge­wone uitstalling van saad en bol­­le. Voorheen het die kleur­lose uitstalling van saad en blombolle haar nie in die minster geïnteresseer nie. Toe sy egter die kleurlose bolle se kleurvolle produk van blom­me in die ander venster sien, besluit sy dade­lik om uit haar plat beursie geld te neem en vir haar tulpe­bolle te koop. In haar verbeelding kan sy sien hoe haar woon­plek gaan lyk as die tulpe blom. Aan die einde van haar vertelling maak sy hierdie toepassing: The world is not interested in the Bible. But let the world begin to see fruit in the lives of those who profess to be in Christ Jesus; let the world begin to see beauties hither-to hidden and realise the sweet savour of Jesus Christ, and I doubt not that men and women will begin to ask for the way of salvation. The strongest argument for Jesus Christ today is a convincing SPIRITUAL life!

So ’n aangename en kleurvolle Christenlewe is nie net die produk van stipte navolging van Chris­telike reëls en beginsels, soos dit in die Bybel ge­skryf staan en predikante van ons verwag nie. Met ons aangebore son­di­ge natuur kry ons dit nie reg nie. Dit is die produk van Christus se eie lewe in ons, deur die werk van die Hei­lige Gees. “Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerd­stok bly nie; en julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh.15:4,5).

“Here, vandag bly ek naby U om U bekend te maak.”

Wo 24 Junie: Die Hoogste Waarde

Lees Filippense 3:1-11

“Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer; ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde” (Fil.3:7,8).

In die dertigerjare het die sakekurwes aanme­kaar afwaarts geneig. In `n New Yorkse maat­skappykantoor, vir wie die 22-ja­ri­ge Beverly Shea ge­werk het, het ’n gerug die rondte gedoen: sa­laris­kortings en moontlike afdankings kan te wag­te wees. Beverly Shea het ’n diep, melodiese stem gehad. ’n Radiostasie het hom ’n kontrak aange­bied. Hy het dadelik die toekomstige moont­likhede van so ’n kontrak, waardeur hy gereeld in se­­kulêre programme kon optree en bekend en dalk be­roemd en ryk kon word, besef. Terwyl Shea die saak bedink, gaan sit hy een oggend voor die kla­vier om ’n lied, wat hy later die oggend in ’n kerk moet sing, te oefen. Terwyl hy speel, val sy oë op ’n vel papier waarop geskryf was: I’d rather have Je­sus than silver or gold; I’d rather be His than have riches untold! Dit was ’n gedig deur Rhea Mil­ler en Shea se ma, ’n predikantsvrou. Bewus van die aanbod, wat aan haar seun gemaak is, het sy die papier gesit waar hy dit kon sien. Sy wou hê Shea, wat reeds ’n Christen was, moet hom volkome aan die Here se diens wy. Terwyl Shea se oë oor die woorde jaag, lees hy verdere sinne in die gedig: I’d rather have Jesus than men’s applause…I’d ra­ther have Jesus than world­wide fame…. In sy hart geraak, verlaat sy vingers onbewustelik die melodie wat hy besig was om te oefen en ’n ander me­lodie, wat vandag aan mil­joe­ne mense bekend is, begin vorm aanneem. ’n Paar dae later word die radiodirekteur wat vir Shea sy radiokontrak aan­ge­bied het, verstom deur Shea se ant­woord: ’n be­sliste “nee”. Die woordjie “nee”, was ’n vreemde woord in hierdie radioman se ore, want duisende sangers sou gretig die geleentheid, wat hy die jong basbariton aangebied het, aangryp het. Beverly Shea het ’n bekende evangeliesanger geword. Soos Ira D. San­key saam met die evangelis, D. L. Moody opge­tree het, het Beverly Shea saam met dr. Billy Graham opgetree, om die evangelie van die Here Jesus Chris­tus, bekend te maak. Die lied van Rhea Miller, wat deur Beverly Shea getoonset is, het wêreldwyd bekend geword en het baie harte bereik!

Baie keer kom die Christen in ’n situasie waar hy/sy tussen ’n wêreldse waarde en die hemelse waarde, soos dit in die Persoon van Jesus geleë is, moet kies. Die Christene van die Nuwe Testamentiese tyd, was gewoonlik heelhartige, toegewyde dissipels van die He­re Jesus. Hulle moeilike omstandighede van vervolging en opoffering was ’n siftingsproses. Tog kom daar selfs uit daardie tyd ongelukkige valsnote na vore. So skryf Paulus: “…want Demas het die teenwoordige wêreld liefgekry en my verlaat…” (2 Tim.4:10). En Johannes moet ook kla: “Hulle het wel uit ons geledere voortge­kom, maar niemand van hulle was ooit werklik een van ons nie, want as hulle werklik van ons was, sou hulle by ons gebly het” (1 Joh.2:19).

“Here, vandag kies ek U, Jesus, en wil U heeltemaal volg.”

Di 23 Junie: 'n Onwelkome Gas

Lees Matteus 25: 31 – 46

“…Ek was ’n vreemdeling en julle het my nie gehuisves nie…Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie” (35, 43,45)

Op ’n dag in 1775 het die bestuurder van die groot­­ste hotel in Baltimore, Amerika, uit die hoogte huis­­­vesting geweier, aan ’n man wat soos ’n een­vou­dige boer aangetrek was. Die man se armoedige voorkoms kon die aansien van sy luuk­se hotel skade doen. Die man het son­der ’n woord weggegaan en elders huis­vesting gekry. Die vol­gende dag ontdek die be­­­stuur­der van die luukse hotel, dit was Thomas Jef­­fer­son, onderspresident van Amerika, wat hy van sy deur af weggestuur het. Dadelik stuur hy ’n boodskap vir die beroemde man en vra hy moet asseblief terugkom na sy hotel toe. Jefferson het terugge­antwoord: “Ek stel u uitnoding op prys, maar as u vir ’n arm Ameri­kaanse boer nie plek in jou hotel het nie, het u ook nie plek vir die onderpre­sident van Amerika nie.”

Dit is ook Jesus se beleid: “En die Koning sal hul­le antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My ge­doen’” (Mat.25:40). Ons gedrag jeens medegelowi­ges moet altyd wees met die oog gerig op die Per­soon van Jesus. Hoe bedagsaam, hoe welwillend, hoe ver­draagsaam, hoe opofferend, sal ons nie teen­oor mekaar wees as ons onthou: “Wat ek aan ’n ander gelowige doen, doen ek aan Jesus.” Dit is maklik en aangenaam om aan ’n gesiéne gelowige eer en goedheid te betoon. Maar dan doen mens dit vir dáárdie persoon self. Wanneer ’n mens egter aan ‘n geringe persoon eer en goedheid betoon, omdat dit ’n gelowige is, doen ’n mens dit nie vir dáár­die persoon nie, maar ter wille van Jesus se Persoon.

“Here, vandag vereer ek U met my houding en gedrag aan iemand anders.”

Ma 22 Junie: Onopgemerkte Seëninge

Lees Psalm 8: 1 – 10

“…wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” (5)

Die Earnest Worker vertel die volgende insident om ons bedag te maak op seëninge wat ons geniet, maar nie opmerk nie, omdat ons so gewoond geraak het daaraan. Op die balkon van ‘n somervakansiehotel drom be­soe­kers een aand saam om na ’n verruk­like sonson­der­gang te kyk. ’n Man, effens geset en grof in voorkoms, het lank, na almal reeds weggegaan het, nog steeds na die laaste gloed aan die westerkim gestaar. Hy was dui­de­lik diep geraak deur die na­tuur­skouspel. ’n Gesiene vrou het hom dopgehou en hom later na sy be­sondere be­­­lang­­stelling in die sonsonder­gang gevra. “U het die sons­­on­dergang besonder geniet. Is u ’n kunste­naar?” “Nee,” antwoord hy, “ek is ’n lood­gie­ter. Maar ek was tot onlangs vir vyf jaar lank blind. Nou kan ek weer sien en ek kry nie genoeg van na al die mooi dinge om my gekyk nie.”

’n Ander man sê hy wou kla omdat hy nie skoene het nie, toe sien hy ’n man wat nie voete het nie. Die gebrek aan sy skoene het hom nooit weer gekwel nie. Daar is dinge wat ons nie het nie en dinge wat ons nie kan geniet nie, maar let ons op vir dié dinge wat ons wel hét en wat ons wel kán geniet? “Wees in alle omstandighede dank­baar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (2 Thes.5:18). Ons bekende ou Hallelujalied leer ons dit:

Tel jou seëninge , tel hulle een vir een,
Seëninge jou deur God geskenk!
Tel hul almal, kyk wat God verleen,
en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!

“Here, vandag dank ek U vir al u seëninge in my lewe.”

Vry 19 Junie: Openlik 'n Dissipel van Jesus

Lees Handelinge 9: 26-31

“Barnabas… het…Saulus…na die apostels toe gebring. Hy het vir hulle vertel hoe Saulus…in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. Saulus het toe oral in Jerusalem… rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek” (27,28)

Nelson Bitten vertel in The Regeneration of Chi­na van ’n invloedryke Sjinees wat ‘n hoë amp in Sjinese opvoedkundige kringe beklee het. Hy het goeie vooruitsigte en groot voorregte gehad. ’n Nuwe Testament het in sy hande beland. Hy het dit sorgvuldig deurgelees en tot die oortuiging gekom Jesus Christus is die Verlosser van mense en ook sy Verlosser is. Na ’n periode van worstelinge met homself en die berekening van wat dit hom gaan kos, het hy besluit om Christus openlik as sy Here en Saligmaker te bely. Sy beste vriend het hom pro­beer afraai en ompraat, om in die geheim van sy private lewe, ’n dissipel van Jesus te wees. “Buig vir die Confuciussteen, dis tog net ’n leë eer­biedsvorm. In jou hart kan jy mos glo soos jy wil.” Die man het geantwoord: “’n Paar dae gelede het Iemand in my hart kom woon; my lewe is deur Hom vir altyd verander. As ek vir enige iemand anders buig, kan Hy dalk van my af weggaan.”

Vir ’n sterk, invloedryke en vrugbare Christen­lewe is dit nodig om die Here Jesus openlik te bely en te volg. “Die Joodse Raad was verbaas toe hul­le Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien …want die raadslede het hulle herken as volge­linge van Jesus” (Hand.4:13). In ’n Christelike land is dit makliker om Christus openlik te bely. Hoewel, selfs in ’n Christelike land, is daar omgewings: die werkplek, ook die vermaaklikheidsterrein, vriende- en fami­lie­kring, wat dit steeds moeilik maak om Jesus open­lik te bely en sy getroue dissipel te wees. Die ver­lange om Jesus as Verlosser te erken en te be­ly, hang af van die plek wat Hy in ’n mens se hart het. Die Heilige Gees gee ons vrymoedigheid om Hom te bely. Vir Jesus self is dit belangrik dat ons Hom bely en Hy verwag dit van ons: “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Va­der wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is” (Mat.10:31). Gelukkig, in ons bewuste swakheid om Jesus te volg, is Hy nog ons Voorspraak by die Vader: “Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word”(Heb.4:15).

“Here, vandag wil ek U vrymoedig bely en verheerlik.”

Do 18 Junie: Wie Bedoel Word

Lees Johannes 3:10-21

“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (16).

Die mediese dokter, dr. Walter L. Wilson, vertel in sy boek, The Doctor’s Best Love Story, van een van New York se finansiers wat graag self die evangelie aan die soldate by Sandy Hook wou gaan verkondig. Hy kon nie toestemming kry om te gaan nie. Die verlange om die evangelie by daardie manne te kry, het hom egter aan die dink gesit. Hy het ‘n firma wat advertensiearikels vervaardig genader en ’n paar duisend staalomraamde, handbreedte spieëltjies, laat maak. Op die stewige agterkant van die spieëltjies het hy die woorde van Johannes 3:16 laat druk en onderaan die teks, die woorde laat skryf: “Wil jy sien vir wie God so liefhet dat Hy sy Seun vir hom laat sterf het? Kyk anderkant!” Met die toestemming van die owerheid is duisende van dié handige spieëljies aan die soldate uitgedeel. Elke man wat in die spieëljie sou kyk, kon dan sien wie die man is vir wie God so liefgehad het, dat Hy sy Seun vir hom laat sterf het om hom ewig te red.

Hierdie rykman se optrede maak die evangelie baie persoonlik, baie individueel vir elkeen van ons: ék is die een vir wie God so liefgehad het, dat Hy sy Seun vir my laat sterf het! So ’n besef wen ’n mens se hart vir die Here. En as ek deur sy Seun God se kind word, dan sorg hy elke dag vir die res van my lewe vir my en daarna gee Hy my die ewige lewe en ’n woning in die hemel. “…Hy (het) sy Seun gestuur…om ons…los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur…jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak”(Gal.4:4-7).

“Here, vandag glo ek u liefde en ek glo Christus is my Verlosser.”

Wo 16 Junie: Goeie Nuus vir 'n Dief

Lees Spreuke 28:12-18

 “Wie sy sonde wegsteek moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien sal genade ontvang” (13)

’n Dief het een nag by ’n kerk in Buffalo, New York, ingebreek, vertel Charles F. Fuller in sy boek, Heart-to-Heart Talk. Hy het die gemeen­te groot skade berokken. Die vorige dag was daar ’n fondsinsame­ling en die dief het die kluis oopgebreek en die geld ge­neem. Die nuus van die in­braak het vinnig versprei. Die volgen­de dag verskyn ’n kennisgewing op die kerk se ken­nisge­wing­bord: As die persoon wat by die kerk ingebreek het met die pre­di­kant skakel, sal hy belang­rike nuus kry. ’n Koerant het die dominee ge­skakel en wou weet wat die belangrike nuus is wat hy aan die in­breker gaan mee­deel. Die do­minee se ant­woord: “As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy ver­gewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1Joh.1:9).

Dit is die evangelie se voortdurende goeie nuus, vir enige oortreder, wat weet hy het sonde gedoen en hy bely dit aan die Here. ’n Vrou het eens na ’n dominee toe gekom met haar twee hande vol nat sand. Op sy verbaasde vraag na die beteke­nis van haar optrede, antwoord sy: “Dit is ek en my son­des wat so baie soos hierdie seesandkorrels is. Wat máák ek daarmee?” en sy gaan droewig aan die huil. “Gaan terug strand toe en maak ’n hoop sand, so groot as wat jy kan. Terwyl jy kyk wat die branders met die hoop sand maak, lees jy hierdie teks,” en hy skryf woorde op ’n velletjie papier en wikkel dit onder haar een duim in, wat die handvol sand vashou. Sy kyk na wat hy geskryf het en sy verstaan. ’n Bly glimlag breek deur op haar droewige gesig. Die dominee het geskryf: “U sal al hulle sondes in die diepsee gooi” (Miga 7:19). God vergewe ons heeltemaal op grond van die groot prys wat die Here Jesus Christus betaal het. “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke”(Jes.44:22).

 “Here, vandag bely ek onomwonde al my oortredinge aan U.”

Di 16 Junie: 'n Bakleier se Dankoffer

Lees 1 Tessalonisense 5:12 – 28

“Sorg dat niemand ‘n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie, Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense” (15)

 In Sunday Companion vertel ’n Heilsleëroffisier van ’n ou Maorivrou wat die bynaam Warrior Brown op haar gehaal het, omdat sy so verskriklik kon baklei as sy dronk of kwaad was. Sy het tot beke­ring gekom en ’n week daarna gee sy, by ’n ope­lug­ diens van die Heilsleër, haar getuienis. ’n Omstander wat haar humeur geken het, het ’n sak­kie aartappels by hom gehad. Op die ingewing van die oomblik, haal hy ’n groterige aartappel, uit sy sak­kie en gooi haar daarmee. ’n Week tevore sou hy na so ’n waagstuk homself moes skaars maak. Die Heilsleër-kaptein het ademloos op haar reaksie ge­wag. Warrior het net gebuk, die aartappel opgetel en in haar sak gesit. Niks is verder oor die insident gesê nie. Na verloop van tyd breek die kerk­oes­fees aan. Warrior Brown se by­drae is ’n sakkie aartappels. Met blydskap op haar ou gesig vertel sy, sy het die aartappel, waarmee sy gegooi is, in stuk­ke gesny en geplant. Dit is die opbrengs van die aartappel, wat sy nou as ’n dankoffer aan die Here bring, omdat Hy haar lewe so verander en skoongemaak het.

Paulus self het hewige haat en vyandigheid in sy eie hart beleef. In sy betoog voor koning Agrip­pa vertel hy hiervan: “Ek het self gedink dat ek al­les in my vermoë moes doen teen die Naam van Jesus van Nasaret. Dit het ek ook gedoen…ek het baie van die gelowiges in tronke gestop…ek het hulle in al die sinagoges laat straf om hulle te dwing om hulle geloof af te sweer. Ek het hulle so ge­haat dat ek hulle selfs in die buitelandse stede vervolg het” (Hand.26:10,11). Na Paulus se ontmoet­ing met Christus op die Damaskuspad (Hand.9), het hyself die verandering van hart beleef waarvan hy in 2 Kor. 5:17-21 skryf :“Ons smeek julle na­mens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.”

“Here, vandag wil ek ook die offer van danksegging bring omdat U my lewe skoongemaak en verander het.”

Ma 15 Junie: Die Oes Rondom

Lees Johannes 4: 27 – 42

“Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes” (35).

’n Skitterende jong akteur, op pad na die teater waar hy moet optree, word deur ’n eenvoudige vrou ’n trak­taat­jie in die hand gestop. Hy steek dit in sy sak en vergeet daarvan. Die aand in sy ho­telkamer haal hy dit ingedagte te voorskyn. Hy lees dit eers vinnig en onver­skillig deur. Tog boei dit hom. Toe lees hy dit sorg­vuldig deur. Wat hy lees dwing hom om die volgende oggend een van die stad se leraars te gaan spreek. Dié ver­staan die man se behoefte, vertel hom van God se lief­de, Jesus se offer vir ons sondes aan die kruis en die lewendmakende werk van die Heilige Gees in ons hart. Die jong man vind daardie oggend die Here Jesus as Ver­­losser. Vyf maande later verlaat hy die teater­wê­reld, skryf as student by ’n teologiese uni­ver­­si­teit in en word predikant. Hy is later die krag­tige, bekende en geseën­de predikant van Tremont-Tempel in Bos­ton VSA, dr. George Lorimer. Predi­king sou hom nie bereik nie, want hy het nie kerk toe ge­gaan nie. Die saadjie wat die gewone vrou in sy le­we geplant het, het die prag­tige boom van genade opgelewer. Ons saai die saad­jies, maar God gee die ontkieming, groei en wasdom.

“Here, vandag saai ek net waar ek kan u saad.”

Vry 12 Junie: Nie Eers Probeer Nie

Lees Daniël 12: 1 – 3

 “…dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre” (3).

’n Brand het in ’n openbare gebou in Chi­cago uitgebreek. In die stormloop om uit die ge­­bou te kom, is mense doodge­trap. Ander is in kantore vas­gekeer. Dit was ’n tragiese dag vir die mense van daardie welvarende stad. Een jong vrou wat onge­deerd uit die gebou gekom het, moes la­ter behan­deling ontvang vir die skok wat sy op­ge­doen het. Sy het in onbeheersde huilbuie uit­­gebreek. Hulle probeer haar troos: “Jy moet dankbaar wees jy het aan daardie vrees­­like vlammedood ontkom.” Dan sê sy: “Ek is dankbaar, maar ek het nie eers één van die mense gered nie.” Weereens ver­troos­ten­de woorde: “In daadie verskriklike oomblikke van vrees en angs het jy heel­te­maal reg gehandel om jou eie veiligheid te soek.” Sy huil weer en sê: “Ja, maar ek het nie eers probéér om iemand te red nie.”

Niemand kan die weg tot die ewige le­we vind, tensy iemand, op een of ander ma­nier, Christus as Verlosser direk aan hom of haar bekend maak nie. Dit kan by­wy­se van ’n gesprek wees, ’n stukkie leesstof, prediking hoor, vir hom of haar bid. Dit gaan eendag ’n ontstel­lende selfverwyt wees: “Ek het nie eers probéér om iemand by Christus te bring nie.” Die kleinste poging kan groot vrug ople­wer. Jesus sê sy koninkrykslewe word soos ’n mos­terd­saadjie in iemand se hart ingedra, dit ontkiem, groei en word ’n boom. Nie die een wat die saadjie saai, bepaal die groei nie, maar die saadjie self. ’n Predikant moes eens die siek vrou van ’n onver­skil­­lige kroegman be­soek. Hy het daarteen opgesien, want hy het geweet hoe ru haar man was. Tot sy ver­ba­sing kom hy by ’n ge­redde vrou uit. “Hoe het dit ge­beur?” vra hy verwonderd. Sy gee hom ’n ou, verkreu­kelde koe­rant. ’n Deel van ‘n preek van Spurgeon, oor Jesus se ver­­soe­­nings­dood aan die kruis, is op die koe­rant gedruk. “Dit het vir my die lig gebring,” sê sy. “Maar waar kry jy dit?” “Ie­mand het vir my ’n pakkie uit Londen gestuur en dit was in hier­die koerant toegedraai.”

 Kom ons waag om die saad van die evan­ge­lie, soos ons daaroor beskik, al lyk dit vir ons onbenullig, in iemand se lewe te saai.

 “Here, vandag wil ek U aan iémand bekend maak.”

Do 11 Junie: Onsekerheid se Stilstand

Lees Hebreërs 5: 7 – 14

“Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grond­waarhede van die woord van God moet onderrig: (12)

Aan twee immigrante word elkeen ‘n plaas toe­ge­­ken. Die grond is ewe groot en ewe goed. Van ower­heidsweë is die grond gemeet en as hul eien­dom beskryf. Alle wetlike aspekte is ten volle na­ge­kom, sodat daar geen twyfel kon bestaan dat hulle die wettige eienaars van hulle grond is nie. Die een man het die dokumente bestudeer, met sy vuis teen sy papiere geslaan en uitgeroep: “Dis myne!” Vol moed en blydskap beplan hy sommer al daar­die aand hoe hy die volgende dag die boerdery gaan aanpak. Dag vir dag werk hy om dit te ploeg, te saai, sy kampe te maak en sy huis te bou. Die ander man het die aand ook sy dokumente bestu­deer en die nag daaroor gelê en dink. Hy voel ef­fens onrustig oor die hele saak. Dit is so ‘n groot voordeel wat sommer so mak­lik, voel hy, in sy skoot geval het. Iewers verstaan hy dalk die dinge nie reg nie. Die volgen­de oggend ry hy dorp toe. In die aktekantoor gaan hy eers weer 100% seker maak dit is regtig nou sy grond. Hy kry bevestiging van die korrektheid waarmee alles afgehandel is. Tevrede begin hy met sy werk op sy nuwe plaas. Die onrus wil egter nie heeltemaal gaan lê nie. Tel­kens onderbreek hy sy werk om eers weer dorp toe te gaan en te gaan seker maak. Is die op­me­tings reg gedoen? Was die landmeter goed ge­kwa­lifiseer? Daar is nie dalk in die verlede foute gemaak nie? Watter een van die twee stukke grond gaan eerste tekens van vordering, groei en ‘n oes toon? En waarom lê die een stuk grond nog net soos die man dit gekry het? Ons antwoord dit maklik.

Die­­self­de kan in ons geestelike lewe ge­beur. Een Christen vorder in die geestelike lewe. ‘n An­der een se geestelike groei staan stil en gaan selfs agteruit. Die een het die Woord van God met blye sekerheid aan­vaar, die belofte van die verlossing in Christus Jesus ge­glo, in die krag van Heilige Gees vertrou, daagliks sy geestelike lewe met die Woord en deur gebed begin lewe en sy lewe toon vordering en vrug. ‘n Ander een hou hom met twy­felvrae besig, toets sy gevoelens, hou sy swakhe­de dop en sy geestelike ontwikkeling word onderbreek en kom tot stilstand.

Die prediker C. H. Spurgeon het een oggend, voor hy begin preek, sy hande opgesteek en vir sy ge­meente ge­sê: “Ek voel vanoggend onbekeerd. Gelukkig lê ons red­ding nie in ons gevoelens nie, maar in wat ons uit God se Woord weet.” Hy vervolg: “God’s wit­­ness concerning his Son is this, that if you trust his Son you are saved. His Son suffered for you, his Son bore the punishment that was due to your sins: God declares it that you are forgiven for Christ’s sake…it is a matter of certainty, it is not a matter of ‘ifs,’ and ‘ands’, and ‘buts’ but of facts.’Believe in the Lord Jesus Christ, and thou shalt be saved’.”

“Here, vandag glo ek U het my gered.”

Wo 10 Junie: Bedreiging en Bewaring

Lees 1 Petrus 5:8-11

“Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brul­lende leeu, op soek na iemand om te verslind” (8).

’n Week na die dranksugtige regsgeleerde, dr. C. I. Sco­­field se bekering, daag die werklikheid van die nuwe le­we wat hy binnegegaan het, oor hom. Oor hierdie nu­we lewe het Paulus, wie se eie bekering so ’n totale le­wens­verandering ingelei het, aan die Korintiërs geskryf: “Iemand wat aan Chris­tus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is ver­by, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself ver­soen…” (2 Kor.5:17,18). In daardie eerste week ont­vang Scofield ’n groot bemoediging in sy hart. Hy sê hy stap in ’n straat van St. Louise by ’n kuns­winkel verby. In die uitstalvenster hang ’n prent van Daniel in die leeu­kuil. Dit toon hom waar hy tussen die leeus op­kyk om die ko­ning te antwoord: “My God het sy engel ge­stuur om die bekke van leeus toe te sluit dat hulle my niks kon aandoen nie…” (Daniel 6:22). Toe Scofield daar voor die prent staan en daarna kyk, vloei gerusstelde ge­loof en hoop in sy hart in. Hy sê vir hom­self: “Om my is baie leeus – my ou gewoon­tes en sondes, ou vriende, kroeë in hierdie straat af. Maar God, die God wat die leeus se bek­ke gesluit het om Daniel nie te verskeur nie, sal my ook bewaar!” God het Daniël nie van die leeukuil bewaar nie, maar ín die leeukuil was Hy by Daniel om hom veilig te hou.

God voel vír ons en sáám met ons, in `n ver­soeking: “God sal nie toelaat dat julle bo julle krag­te versoek word nie; as die ver­soe­king kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan” (1 Kor.10:13). “Omdat Jesus self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb.2:18).

“Here, vandag skuil ek by U vir die versoeking.”

Di 9 Junie: 'n Openhartige Gesprek

Lees Handelinge 9:10-19

 “In Damaskus was daar ’n…volgeling van Jesus… Ananias…die Here sê vir hom: ‘Gaan dadelik na Reguitstraat toe…na ’n man van Tarsus met die naam Saulus… Ek het hom gekies as my werktuig… (10,11,15).

 Een van die regsgeleerde, dr. C. I. Sco­field, se kliënte, Tom McPhetters, gaan spreek hom een­­dag oor ’n regsaangeleentheid. Na die beraad­slaging staan McPhetters op om te loop. Met sy hand op die deurknop draai hy terug na dr. Sco­ field toe. “Jy weet, Scofield, ek is die groot­ste laf­aard op aarde.” “Hoekom, Tom?” vra Scofield ver­baas. “Wel, vir meer as ’n jaar loop ek met ‘n vraag in my kop rond wat ek jou wil vra, en tot van­dag toe het ek nog nie die moed gehad om dit te doen nie.” “Kom sit, Tom,” nooi Scofield sy kliënt. “Vra my enige vraag wat jy lus het. Ek luister.” Tom kyk sy prokureur in die oë: “Dit is my vraag: Hoe­kom is jy nie ‘n Christen nie?” Scofield gee ’n ver­leë lag­gie. “Jy ken my groot probleem, Tom. Die Bybel sê tog uit­druk­lik ’n dronkaard kom nie in die hemel nie.” “Nee, Scofield, jy antwoord nie my vraag nie. Sê my reguit: Hóékom is jy nie ’n Chris­ten nie?” Scofield kyk af op sy hande. “Die feit is, Tom. Ek weet nie hoe om ’n Chris­ten te word nie.” Tom haal ’n sakby­bel­tjie uit sy binnesak uit, maak dit oop en lees vir Scofield Johannes 3:16: “God het die wê­reld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun ge­gee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Toe blaai hy na Johannes 5:24 toe: “Wie luis­ter na wat Ek sê, en in Hom glo wat My ge­stuur het, het die ewige lewe.” Daarna lees hy Johannes 6:47: “Dit verseker Ek julle wie in My glo, het die ewige lewe.” En hy lees ook nog Johannes 10:28: “My skape luister na my stem… Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in ewig­heid nooit verlore gaan nie.” Scofield kug. “Uit wat jy vir my voorgelees het, lei ek af ek moet in Chris­tus Jesus glo om gered te word.” “Dis reg,” beaam Tom. “Sal jy dit nou doen?” “Jy het my aan die dink gesit en ek gaan daaroor dink,” antwoord Sco­field. “Jy het al lank genoeg daaroor ge­dink, Sco­field. Gaan jy die Here Jesus as jou Verlosser aanneem?” Sag antwoord Scofield: “Ja, ek wil Hom as my Verlosser aanneem.” Oor hierdie be­sluit het Scofield later aan mnr. Trumbull, skrywer van sy biografie, geskryf: “It was a Bible con­ver­sion. Instantly the chains of sin were broken never to be forged again; the passion for drink was gone. Devine power did it, wholly of grace.”

Dr. Scofield het later sy regspraktyk vir die bediening en die regsbank vir die kansel verruil. Hy het ’n vrug­bare prediker en skrywer van die evan­gelie geword. Van Tom McPhetters hoor ons nie weer nie. Hy was net die gehoorsame dissipel van die Here Jesus Christus om hierdie open­hartige gesprek met sy vriend te voer en ‘n buitengewone, bruikbare man in die Here se koninkryk in te lei.

“Here, vandag wil ek oor myself seker maak en ook na iemand toe gestuur word.”

Ma 8 Junie: Die Bloedgemerkte Deur

Lees Eksodus 12: 21 – 23

“As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan”(23).

Gedurende ’n wrede en bloedige oorlog, het die aan­voer­der van ’n regiment troepe, voor sy manne ’n eed ge­neem, om al die inwoners, van ‘n bepaalde dorp, wat hom probeer dwarsboom het, dood te maak. Hy het sy bloed­dronk soldate op die dorp losgelaat, Hulle het straat op en straat af beweeg, mense uit hul huise ge­sleep en voor die voet, mans, vrouens en kinders dood­ge­maak. Een van die dorp se inwoners het, in sy poging om vir die soldate weg te kruip, ’n voorval ge­sien wat hom en ’n aantal van sy vriende van ‘n ge­wis­se dood gered het. Hy het gesien hoe die soldate bloed gooi, teen die deur van elke huis, waar hulle hulle dood­slag gelewer het. Soldate wat dan verbykom het so ’n deur eenvoudig verbygegaan, wetende daardie huis se mense is reeds doodgemaak. So vinnig as wat hy kon, hardloop hy na ’n groot huis, waar ’n aantal van sy vrien­de reeds skuil. Uitasem vertel hy hulle wat hy gesien het. In die agterplaas was ’n klein bokkampie. Gou slag hulle een van die bokke en gooi die bloed teen die deur…en wag. Nie lank nie of ’n afdeling soldate storm die straat in, ver­sprei op en af met die straat, en van huis tot huis sleep hulle die inwoners uit en maak hulle dood. By hier­die deur, met die bloedmerke op, hardloop hulle verby sonder om te talm. Van hulle makkers was reeds hier, dink hulle en storm verby.

Dit is wat met die Paasnag in Egipte gebeur het. Die paas­lam se bloed, aan die deurkosyn, het die boodskap uit­gespel: Die dood was reeds in hierdie huis. Dit was ’n geldige boodskap wat deur die doosengel eerbiedig is, want God het dit ingestel. Die doodsengel het so ’n huis dan oorgeslaan. Die Engelse benaming van hier­die geskiedkundige nag is: The Passover (pass over). Die huis is oorgeslaan.

Hierdie menslike verhaal, laat ons die gebeure van die Paas­nag en die evangelieboodskap, duideliker ver­staan. Jesus het ons met sy bloed van die gewisse oor­deels­dood vrygekoop. In die geval van die dorpie se inwoners was dit ’n stukkie misleiding – goeie mislei­ding – die bok was nie regtig een van hulle nie. Maar in die geval van die paaslam die nag in Egipte, was dit nie misleiding nie. God het bepaal dat die lam die plek van die eersgeborene ingeneem het, want die ware Lam van God, sou kom en regtig ons plek inneem en vir ons sterf. “Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus” (1Kor.5:7). Die nag van die eerste nag­maal, net voor Je­sus gekruisig is, toe Hy en sy dissipels die Paasmaaltyd gehou het, het Hy dit duidelik gemaak. Hy neem die plek van die lam, wat met Paasfees geslag is, in. “Toe neem Hy die beker en…sê vir hulle: ‘Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word’” (Markus 14:24). Johannes die Do­per het dit ook so ver­kon­dig: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh.1:29).Elkeen wat weet: deur my geloof in Chris­tus is my lewe ook, soos die huise in Egipte, met God se Paaslam se bloed bestryk, kan ook met gerustheid weet: ek is veilig teen die sonde se ewige dood. God se oordeel sal my oorslaan!

“Here, ek eien my vandag die ewige veiligheid toe wat die bloed van die Here Jesus aan my gee.”

Vry 5 Junie: In die Kleine Getrou

Lees Lukas 16: 1 – 12 (Nuwe Lewende Vertaling).

“As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees. As jy selfs ’n klein bietjie oneerlik is, sal jy nie eerlik wees met groot verant­woordelikhede nie… (10).

’n Man se voertuig het hom in ’n afgeleë om­ge­wing, baie kilometers van sy bestemming af, in die steek gelaat. Hy kon nie ‘n sein op sy selfoon kry nie. Hy sou moes stap om iewers hulp te kry. Hy volg die pad en hoop hy is op die regte koers. In die versengende hitte begin ’n dors hom pak. Na ‘n lang ruk sien hy die pad lei na ’n verwaarloosde werf toe. Die gehawende huis staan leeg. Tot sy blydskap, sien hy ’n handpomp in die hoek van die ruie agterplaas. Vol verwagting loop hy op die hand­­pomp af en begin pomp. Daar is geen druk in die boorgat se pyp nie. Geen water kom uit nie. Toe sien hy langs die pomp, ’n bottel vol wa­ter lê. Hy gryp dit om te drink, maar sy oë val op die woorde wat op die bottel geskryf staan. “Gooi die water af in die pyp. Pomp dan.” Nou is hy in ’n ge­moedstryd gewikkel. Sê nou hy gooi die kosbare water in die boorgatpyp af en daar kom tog nie wa­ter uit nie? Daar is nog iets op die bottel geskryf: “Maak die bottel weer vol water en laat dit daar vir ’n volgende verdwaalde persoon.” Nou is sy stryd groter. Hy kan dalk nog waag om die water in die pyp af te gooi, maar dan sou hy baie graag die bot­tel vol water wou saamneem. Hy weet nie hoe ver hy nog van die dorp af is nie. Met ’n laaste kyk na die water in die bottel, gooi hy dit in die boor­gatpyp af. Hy begin weer pomp. Met die eer­ste paar hale is daar nie druk in die suier nie. Wan­hoop wil net die oorhand kry, toe voel hy die pomp word stywer en na ’n paar oomblikke se pomp, stroom skoon, koel boorgaterwater uit die kraan uit. Hy vul die bottel en drink. Vul dit weer en drink dit weer uit. Hy drink nog ’n bietjie. Verkwik en versadig staan hy na die bottel water en kyk. Hy sou dit nou graag wou saam neem. Maar wat dan vir ’n volgende persoon wat in die­selfde omstandighede daar aan­kom? Hy maak seker die bottel is tot bo vol en toe sit hy dit by die voet van die pomp neer. In sy hart kom ’n vrede van weet, hy het reggedoen, aan ’n ander mens gedink en nie net sy eie beswil gesoek nie. Na nog ’n lang stap, kom hy by ’n dorpie uit. Sy lewe gered, deur iemand wat voor hom ook by daardie boorgat getrou was, om die regte ding te doen; ’n bottel water agter te laat.

By die bodem van ’n ontroue daad, lê selfsug: die doen dit vir jou eie ontwil, ongeag wat dit ander sal kos. Of dit in die verkeer op die pad is, of dit in ’n sake tran­sak­sie is, of dit in die huwelik is – waar ookal: ontrou­heid het selfsug – die dink eers­tens aan jouself – as basis. Getrouheid, die nakom van verantwoordelikheid, ook tot beswil van ander, is ‘n teken van karaktervast­heid, wat ’n mens selfs by ’n ongelowige kan kry, maar veral is dit die vrug van die Heilige Gees se werking en in­vloed in die gelo­wige se hart: “Die vrug van die Gees …is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goed­hartigheid, getrouheid, nederigheid en self­be­heersing (Gal.5:22). En die werklike toets van ge­trou­heid is nie in groot dinge waar mens in die kalk­lig is nie, maar in klein dingetjies waar ander dit nie sien nie.

“Here, vandag wil ek ander se verwagting van my nakom tot húlle beswil en tot U eer.”

Do 4 Junie: Oop en Bloot

Lees Psalm 139: 1 – 6

“U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom … daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees… (2,4).”

Toe hy nog ’n seun was, ver­tel David Morgan in sy boek Stories, Illustrations and Quotes, het sy ouers hom na die skou, Tennessee Valley Fair, ge­­­neem. Wat hom en sy ouers die meeste beïn­druk het, was ’n uit­stal­ling van byekorwe vol bye. Die korwe was almal van glas en dus heeltemaal deur­­sig­tig. Hulle kon die dui­sen­de bye se bedry­wig­­­heid duidelik in die deur­sig­­tige kor­we bekyk. Die uitstal­ler wys vir hulle die ko­ningin, die wer­kers in die bye­­­­koe­­ke, die wagte, die water­draers, al­­mal baie besig en hulle weet nie die mense hou hulle dop nie. “In the same way, our heads are like glass hives, and God sees every hust­­ling, bustling thouht buzzing through our brains,” sê hy.

Ons ken mense aan wat hulle sê en doen. Ge­lukkig is ons gedagtewêreld vir mekaar geslote. Maar die Here ken ons gedagtes deur en deur. Vir Da­wid was dit nie ’n skok dat die Here sy gedag­tes ken nie, inteendeel, hy vra die He­re moet nog die­per kyk en sy hart ken. “Deurgrond my, o God, deur­grond my hart, onder­soek my… kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die be­proefde pad.” Ons sondige, menslike aard, vind aan­­­sluiting by ver­soeking, wat die ge­­dag­tes op­wek. Ons moet, toegewy aan die He­re, ons ge­dagte­lewe van hierdie in­dringers skoonhou. Sleg­te gedagtes loop uit op sondige woorde en dade.

“Here, vandag wil ek waak oor my gedagtelewe en dit onder u toesig plaas. Ken my hart, Here!”

Wo 3 Junie: Genoeg

Lees Psalm 23

 ”Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk”(4,5)

 “Ek was op pad huis toe na ’n harde dagtaak,” skryf C. H. Spurgeon in een van sy boeke. “Daar was baie om my te ontmoedig en ek het moeg en terneergdruk gevoel. Skielik, soos ’n weerligstraal, skiet die bekende teks my te binne: ‘My genade is vir jou genoeg’ (2 Kor.12:9). Toe ek by die huis kom, soek ek dit in die oorspronklike Grieks op en bepeins dit todat die volle betekenis my eensklaps aangryp: ‘My genade is vir jou genoeg!’ Ek bars uit van die lag. ‘Natuurlik is dit, Here!’ roep ek uit. Ek kon my kortsigtigheid nie glo nie. My ongeloof het skielik so onbenullig gelyk. Dit is soos ’n klein vissie wat baie dors het, maar hy is bang hy sal die rivier leeg drink. Nou sê die rivier vir hom: ‘Drink maar, ou vissie, my stroom is vir jou genoeg.’ Of soos ’n klein muisie in een van Josef se graanskure in Egipte, wat bang is hy gaan van honger omkom. Nou sê Josef vir hom: ‘Eet maar, ou muisie, my graanskure is vir jou genoeg.’ O, laat ons God vertrou. Wees groot gelo­wig­es. ’n Klein bietjie geloof sal u siel moontlik in die hemel bring, maar ’n groot geloof sal die hemel in u siel bring!”

 “Here, vandag glo ek in u groot krag om ten volle in my behoefte te voorsien!”

Di 2 Jun: Begin Weer

Lees Spreuke 24: 13 – 18

 “Al val die regverdige ook hoeveel keer, hy staan weer op” (16).

 Eenkeer preek Robert J. Morgan oor die ge­leent­heid en die genade van ’n nu­we be­gin. “The first person to invent the wheel only dis­co­ver­ed what God had al­ rea­dy de­signed, for the Lord created things in circles.” Die sterre en planete is rond en beweeg in sir­kel­bane. Die na­tuur­lewe be­weeg in siklusse. Na elke honderd jaar het ons ’n nuwe eeu. Na elke 365 dae het ons ’n nuwe jaar. Na elke 24 ure het ons ’n nuwe dag. Na elke 60 minute het ons ’n nuwe uur. Na elke nag het ons ’n nuwe dag en na elke winter het ons ’n nuwe lente. “God cre­ated the potential for new begin­nings into the very design of our universe.” Hy noem voorbeelde van die be­hoef­­te aan ’n nuwe begin soos ons dit in die Skrif lees: Abraham soek ’n nu­we geleentheid, na hy in Egipte gesê het sy vrou Sara, is sy suster en Farao hom weg­ge­jaag het; Ja­kob, na hy sy blinde vader, Isak, be­ drieg het; Moses, na hy die Egiptenaar doodge­slaan het; Dawid, na sy owerspel met Batseba; Elia, na sy emosionele in­een­storting onder die be­sembos in die woestyn; Jo­na, na hy sy op­drag om in Nenive te gaan preek pro­beer ont­vlug het; Petrus na hy Jesus drie keer verloën het.

 Die helfte van 2010 is verby. Het ons iewers gestruikel, misluk? God bied ons die moont­lik­heid van ’n nuwe begin aan, ’n nuwe begin met ons lewe. Ons durf dit nie al­leen, of in eie krag aan nie. God nooi ons om saam met Hom ’n nuwe begin te maak. In Hosea se prediking belowe die He­re om dit te doen: “Keer terug na die Here, jou God, Israel, want jy het geval deur jou sonde. Bely jou sonde en kom terug…” Dan belowe die Here: “’Ek sal hulle ontrou genees. Ek sal hulle van harte liefhê…Ek sal vir Israel wees soos die dou…hy sal bloei soos ‘n lelie en hulle sal so vas staan soos die Li­ba­non’…Wie wysheid het, sal op hierdie woorde ag slaan. Wie verstandig is, sal dit ter harte neem, want wat die Here doen, is reg” (Hos.14:2-10).

 “Here, vandag kom maak ek by U ’n nuwe begin.”