Vry 1 Mei: Saam met oortreders getel

Lees Jesaja 53: 1 – 12 (Ou Vertaling).

“…omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het” (12).

In Mightier Than The Sword skryf biskop Heas­lett oor sy ervaringe in ’n Japanese tronk. Met groot gevoel skryf hy hoe totaal ver­late en verwerp hy na sy arrestasie gevoel het. Ek gee sy eie woorde: ”The uncleanness of body, the soiledness of mind, the hopeless isolation; the complete iden­ti­fi­ca­tion of myself with thieves, gam­blers, suspects, men who trafficked in women; the ruthlessness of the machine in which I had been caught and in which I was as helpless as a small fly in a large spider’s web; above all, what I thought of of as being the failure of my friends and their aban­donment of me; the accumulated shame and weight of all this brought me that night to bitter tears and the verge of a breakdown.” Toe hy hierdie toe­stand van ver­bryseling en grens van uithouvermoë bereik het, lees hy, of onthou hy, die teks uit God se Woord: ”…Hy is saam met die oortreders getel…” Lig en be­grip stroom in sy hart in. ”For the first time and through my own experience, I knew what our Lord had suffered from His arrest until his crucifixion, as far as the human mind can fathom His experiences.”

Jesus se vereenselwiging met sondaars is die kern van sy evangelie van verlossing. Kan ons óóit vir ons in­dink wat ons Heiland vir óns verduur het? Het ons dit al aangeneem? Het ons Hom al dankie gesê? “…die soldate trek toe sy klere uit en hang vir Hom ’n rooi mantel om. Hulle het ook ’n krans gevleg van doring­takkies en dit op sy kop gesit, en in sy regterhand het hul­le Hom ’n stok laat hou…hulle het Hom ook in die ge­sig gespoeg en die stok uit sy hand gegryp en Hom daarmee oor die kop geslaan…die wagte het Hom ge­klap…hulle het sy oë toegehou en Hom dan met die vuis ge­slaan en gesê: ’Toe jy is mos ’n profeet. Wie is dit wat jou geslaan het?’ Hulle het aangekom op die plek wat Kopbeen genoem word en daar het hulle Je­sus teen die kruis vasgespyker. Hulle het die mis­da­di­gers ook teen kruise gespyker, aan weers­kante van Jesus” (Uit al vier evangelies – Lew. Byb.). Deur Hom met ons te vereenselwig, het die Here Je­sus Christus ons son­de­skuld gedra, vir ons by God vergifnis van al ons skuld ver­kry en vir ons die weg na sy God en Vader se troon toe oop­gemaak. Omdat Hy die pad so saam met ons ge­­loop het, het Hy medelye met ons swakhede en struikelinge en is Hy vir ons ’n ontfermende en on­feilbare Saligmaker.

“Here, vandag aanskou ek u lyding vir my en ek prys U.”

Do 30 Apr: Te goed om te glo!

Lees Handelinge 12: 6 – 19

“Toe dring dit tot Petrus deur wat hom gebeur het en hy dink: nou besef ek eers regtig dat die Here sy engel ge­stuur het om my uit die hande van Herodes te red..”(11).

’n Seuntjie is een somer deur die Tribune Fresh Air Fund vir die vakansie na ’n plaas toe geneem. Vir die eer­ste keer in sy lewe kom hy in ’n plaaswoning se slaap­kamer, vertel dr. A. B. Simp­son in Alliance Week­ly. Die boer se vrou sê hy moet daar slaap,. Dit was vir hom asof hy in ’n ander wêreld kom. Hy het in Londen se agter­buurt groot geword en was ge­woond om in geboue se in­gange of in ’n hoekie in ’n straat te slaap. Alleen in die gesellige slaapkamer, bekyk hy die sagte bed met die wit deken en kussings. Hy kyk rond of iemand hom nie dalk sien nie, gaan bed toe en gaan lê vir ’n paar oomblikke, net om te voel hoe so ’n prag­tige, sagte bed lê. Bang iemand kom op hom af, klim hy gou af en krul hom op die vloer op. Die boervrou gaan kyk in die nag of hy in sy kamer regkom. Sy gee ‘n skree toe sy hom opgekrul on­der die bed kry. Sy en haar man het hom met moeite oortuig, die bed is vir hom bedoel, voor hulle hom kon oorhaal om in die bed te klim.

Hieroor sê dr. A. B. Simpson: “Alas, how many of God’s children are like that poor little lad, sleep­ing under the bed when they might be resting on the soft bosom of His love and enjoying the peace that passeth all understanding”.

“Here, vandag wil ek my in u goeie beloftes verlustig.”

Wo 29 Apr: Swaarkry se goeie vrug

Lees Hebreërs 12: 4 – 12

“Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God” (11)

Die persoonlike sekretaris van ’n New Yorkse sa­keman, wat sy sake met duisende dollar bedryf het, kom een oggend sy jaarlikse finansiële state aan hom voorlê, vertel King’s Busi­ness. Die sakeman het reeds vir ’n lang tyd geweet hoe die verslag gaan lyk. ”’n Swak jaar, Meneer,” sê die jong­man, en in ’n poging om bemoedigend te klink, voeg hy by, “maar sake sal sekerlik binne­kort verbeter.” Die sakeman kyk in stilte deur die state. Groot verliese is getabuleer. Die winste was klein. Vir hom lyk dit of bankrotskap onvermydelik gaan wees. Toe hy praat is sy stem laag, maar sterk. “Dit was vir my ’n goeie jaar, John, ten spyte van alles. Ek dink dit was die beste jaar wat ek nog gehad het. Elkeen van daardie syfers in die rooi, vertel van my ure van worsteling en gebed. Daardie ervarings het my ryk gemaak in hoop, so ryk, dat ek nie glo ek weer oor iets wanhopig sal raak nie. Die toe­koms lyk vir my goed, want ek het in dié tyd geleer dat God se Woord sê: ”Hy weerhou die goeie nie van dié wat opreg wandel nie” (Ps.84:12). ”En mag ek vir u sê, Meneer,” reageer die sekretaris, “dit was u krag en kalmte on­der die teë­spoed, wat my begerig gemaak het om Christus ook te ken soos u Hom ken. Ek stem met u saam, Meneer, dit was ’n goeie jaar.”

Teëspoed en beproewing kan nooit aange­naam wees nie, maar dit kan heilsaam wees as dit met vertroue in God, en gedurige gebed vir die saak, aanvaar word. Vir goeie vrug word gevra dat grond omgespit word en takke gesnoei word. Die pyn en ontsteltenis van die ervaring, gaan oor in die vreug­­de van die vrug wat daaruit voortkom. In ons beproewing het ons gedurig die Here Jesus as ons met­gesel en ondersteuner. Hy het die pad van aard­se pyn, verwerping en misverstand voluit vir ons geloop, sodat Hy vir ons ’n medelydende vriend kan wees: ”Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat ver­soek word” (Heb.2:17,18). ”Voordat ek swaar­gekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord” (Ps.119:67). “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby,maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly” (2 Kor.4:17).

“Here, vandag vertrou ek in U trou en krag.”

Di 28 Apr: So 'n Broer

Lees Lukas 6: 37 – 42

”Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee jule meet, sal ook vir julle gemeet word” (38).

’n Sakeman in San Antonio, Texas, kom by sy nuwe motor. ’n Straatseuntjie staan dit en bewon­der. Hy vertel die storie self so:

Toe ek die sleutel in die motordeur steek, vra die seuntjie: “Is dit Meneer se motor?” “Dis myne, ja.” “Hoeveel het hy gekos, Meneer?” “Ou seun, ek weet nie.” Hy kyk ondersoekend na my: “Meneer, lyk nie na die soort wat ’n motor sal steel nie, maar waar het Meneer dan die motor gekry?” “My broer het dit vir my gegee.” ’n Verlangende uitdrukking kom in die seun se oë: “Ek – ek wens…” Ek verwag hy gaan sê: “Ek wens ek het so ’n broer gehad,” maar hy eindig sy sin anders as wat ek verwag het, en dit raak my diep in my hart: “Ek wens ek kon so ’n broer wees.” Dadelik wil ek hom plesier. “Kom, klim in, dan voel jy hoe ry hy.” “Ek sal Meneer se kar net vuil smeer,” keer hy. Ek dink by myself: jou klere mag vuil wees, maar jou hart is spierwit. Ek dring by hom aan en hy klim gretig voor by my in. “Sal Meneer voor my huis stilhou, asseblief,” vra hy dringend. Ek hou voor ’n trapgang in ’n agter­straat­jie stil. Soos ’n klipspringer is hy uit die motor uit en kom na ’n rukkie stadig terug met ’n kleiner seun­tjie in sy arms. Die seuntjie is inmekaar getrek as gevolg van polio. Saggies sit hy die seuntjie op die onderste trap by die sypaadjie neer. “Daar is hy, Boetie. Sy broer het dit vir hom gekoop. As ek eendag groot is, gaan ek vir jou net so ’n kar koop, dan kan jyself na al die winkelvensters gaan kyk.”

Met ’n knop in my keel sê ek: “Kom julle twee. Jou Boetie gaan sommer vandag die win­kel­vensters sien.” Ek help om die kreupel seuntjie voor by my en die ander een in te tel. Ek ry na die grootste win­kelsen­trum toe in die stad. “Kom ons gaan kyk,” sê ek terwyl ek die kreu­pel oudjie in my arms dra. “Soek uit wat julle wil hê.” Hulle het ruim van my aanbod gebruikgemaak, en die volgende paar uur was die gelukkigste tyd wat ek ooit in my lewe ervaar het. Die loon van aan ander te gee, is nie altyd ma­te­riële loon nie, maar die beter loon van ’n ver­ruim­de en geluk­kige hart. “Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het, daar is ander wat suinig is en tog arm word. Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is” (Spr.11:24,25)

“Here, vandag wil ek aan ander gee.”

Ma 27 Apr: Sien die Kruis

Lees Kolossense 1: 9 – 20

”Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het God die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.” (20)

In 1707 was die liedere skrywer Isaac Watts – hy het in sy leeftyd 600 liedere geskryf – besig om vir ’n nag­maalsdiens voor te berei, skryf Kenneth W. Osbeck, in sy boek Amazing Grace. ’n Be­sef van Jesus se liefde vir hom persoonlik, om vir hom aan die kruis te sterf, oor­wel­dig sy hart. Hy gaan sit en skryf die lied, wat al vir baie van ons tot seën was: Die teoloog, Mat­thew Ar­nold noem dit die grootste lied in die Engelse taal.

Isaac Watts was ’n buitengewone begaafde seun. Hy was 5 toe hy Latyn geleer het en 9 toe hy Grieks ge­leer het. Toe hy 11 was, het hy Frans geleer en op 12 het hy Hebreeus geleer. Toe hy ouer word het die ge­meen­tesang in die Kerk van Engeland, wat bestaan het uit ’n gewigtige, melodiese herhaling van Psalms, hom bedruk. Hy het gesê: “The singing of God’s praise, is the part of worship most closely related to heaven; but its performance among us, is the worst on earth.”

Al vier evangelies in die Bybel beskryf Jesus se kruis­­dood kort en duidelik met vier woorde: Hulle het Hom ge­krui­sig.” Elke evangelie voeg enkele beson­der­­hede by, soos die plek van kruisiging, die verdeling van sy klere, die wyn en mirre wat Jesus nie wou drink nie, maar gee geen beskrywing van die kruisiging nie. Dit is ’n toneel wat ons, deur bepeinsing, in ons eie hart moet vorm. Die kruisdood van Je­sus kan vir ’n ons ’n on­per­soon­like feit wees, ten­sy die Heilige Gees dit vir ons ’n persoonlike werk­lik­heid maak: When I survey the won­drous cross – (Liedboek 396, Hallelujaboek 76).

Aanskou die Heiland, sien die kruis,
die Hemelvors verag verguis.
Vir my het Hy Hom daar laat hang.
Hy leef, Hy sterf – in my belang.

“Here, vandag aanskou ek U aan u kruis.”

Vry 24 Apr: Te Duidelik

 Lees Handelinge 24: 24 -27

“Feliks (wou) meer hoor oor die geloof in Chris­tus Jesus. Paulus het met hom gepraat oor ’n lewe in gehoorsaamheid aan God, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel. Dit het Felix bang laat word, en hy het gesê: ‘Dit is nou genoeg…as ek tyd het sal ek jou weer laat roep” (25)

Tydens ’n ryk Sjinees se besoek aan Enge­land, is ’n pragtige mikroskoop aan hom gede­mons­treer, ver­tel Roy Zuck. Dit het die Sjinees se be­lang­stel­ling dadelik geprikkel en hy het vir hom een gekoop en saamgeneem Sjina toe. Dit het hom groot ple­sier verskaf om deur die mikroskoop na verskil­len­de voor­wer­pe te kyk. Eendag bestu­deer hy ’n rys­kor­rel, wat hy uit sy middagete se bord geneem het, onder die mikroskoop. Geskok sien hy onder die mikroskoop se lens, die rys­kor­rel is vol lewen­de goedjies. Dit was deel van sy gods­dienstige geloof, dat geen lewende organis­mes geëet mag word nie. Wat moet hy nou doen? Hy is nie net baie lief vir rys nie, maar dit is deel van sy daaglikse stapel­voedsel. Hy sien net een uitweg: vernietig die in­strument wat die afstootlike feit aan hom uit­ge­wys het. Zuck skryf: “Similarly, many peo­ple hate the Word of God because it reveals their true condition.”

Die onbekeerlike mens wil nie hê die Woord van God moet die sondige toestand van sy hart en die verkeerdheid van sy le­wens­gedrag aan hom uit­­wys nie. Teenoor men­se en homself kan hy sy ver­­keerdheid goedpraat. Hy wil nie God se lig op sy lewe hê nie. Hy bly weg van die Bybel af, of soos die ateïste, probeer hy die egtheid van die By­bel afmaak en teëpraat. Die mens weer, wat na bekering en heiligmaking in sy lewe verlang, be­stu­­deer gretig die Bybel om meer oor sy eie lewe en meer oor God se reddingskrag uit te vind. Hy wil skoon wees. Hy wil vir God aan­vaar­baar wees. “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart…kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad” (Ps.139:23).

“Here, vandag bid ek, deurgrond my en ken my.”

Do 23 Apr: Die Geheim van Krag

Lees Handelinge 1: 1 – 8

“Maar julle sal krag onvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem…tot in die uithoeke van die wêreld” (8).

Die Bostonse leraar, dr. A. J. Gor­­­don, be­soek die wêreldskou in Chicago, skryf Ro­bert L. Sumner in sy boek Bibli­cal Evangelism. Die krag van ’n man, in Oosterse drag, wat sonder om te rus of sy gemaklike aksie te verander, vir ure lank ’n pomp se slin­ger draai en ’n dik stroom wa­ter laat uit­spuit, beïndruk Gor­­don. Hy stap nader. Dit is ’n houtpop! Dit is nie hy wat die pomp draai nie, dit is die wa­terstroom, wat die pomp draai en hom aan die gang hou. Sum­ner maak sy gevolg­trek­­king: “Thus it is with those in the Lord’s work. It isn’t our efforts for Him that achieve the results. The flow­ing river of the Holy Spirit, channeled through our lives and lips keeps us going and yields in­fi­nite results through our ministries.”

Ons voel swak en moeg, ons gee moed op, maar ’n groter krag, hou ons aan die gang om die Here se werk te doen. Dit is wat die Here vir Paulus, onder groot beproewing, gesê het: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Kor.12:9). Aan die Efe­si­ërs skryf Paulus: “Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heer­likheid aan julle die krag sal gee om in­ner­lik sterk te word, dat Christus deur die ge­loof in julle harte kan woon…” (Ef.3:16). Vir die Ko­los­sense bid hy: “Mag God wat oor die mag en die heer­likheid beskik, jul­le versterk en… die krag gee om in alle omstandighede…te volhard” (Kol.1:11).

“Here, vandag maak ek staat op u krag in my.”

Wo 22 Apr: God waak oor ons

 Lees Psalm 121

“Die Here beskerm jou…bewaar jou van alle gevare” (5)

Een oggend neem ’n Christen boer van Rhode Island twee sakke koring met sy wa na die meule toe om dit te laat maal vir huislike gebruiksmeel. Die pad voer oor ’n lae brug sonder reëlings. Hy en die perde ken die brug goed. Net toe hy in die middel van die brug is, begin die perde terug rem. Hulle dwing agteruit asof hulle gevaar voor hulle sien. Die boer gebruik al sy vaardigheid om die per­de te laat voortgaan, maar hulle beur so agter­uit dat die kar se een wiel van die brug afglip en die sakke koring beland in die waterstroom. Toe bedaar die perde. Gewillige hande help hom om die kar weer op die brug te kry en die twee sakke kosbare koring uit die wa­ter te haal. Teleurgesteld en ook verskrik draai hy terug huis toe. Vroeër die oggend het hy en sy vrou na gewoonte gebid en die Here se beskerming oor die dag se gebeure ge­vra. Nou verstaan hy nie wat ge­beur het nie. Hy sny die twee nat sakke koring oop en gooi die ko­ring op ’n sementvloer oop om weer droog te word. Toe kom hy agter hoekom die Here sy sake so teleurstellend laat verloop het. In die een sak vind hy tot sy uiterste ont­steltenis ’n paar klein stuk­kies glas. Die glas sou saam met die koring ge­maal ge­wees het en die glas sou met die meel wat hul­le sou gebruik, gemeng geword het. Watter ramp sou dit nie oor hulle gebring het nie!

Dr. Andrew Murray skryf oor ons ervaring van teëspoed: “Dit is God wat my op hierdie plek gebring het. Dit is sy wil, wat ek nie nou verstaan nie, dat ek my in hierdie noute moet bevind. Tweedens sal Hy my hier in sy liefde bewaar, en aan my die genade skenk om my soos sy kind te gedra. Derdens sal Hy die beproewing omskep in ’n seën en my die les­se leer wat Hy vir my wil leer, en wat ek nie op ’n ander manier sou kon leer nie. Eindelik sal Hy my dan op sy eie goeie tyd weer uit hierdie benoudheid bring – hoe en wanneer, dit weet Hy. Ek is dan hier deur God se be­stel­ling, in sy bewaring, onder sy opleiding en so lank as wat Hy dit goed ag vir my. Ek gaan my dus nie ontstel of bekommer nie.”

“Here, vandag vertrou ek U handelwyse.”

Di 21 Apr: Hou die naam skoon

Lees Openbaring 3:12-13

“En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe” (13)

Die Methodist Recorder vertel hoe Rodger Rickett een aand ‘n sakkeroller op heterdaat betrap het, terwyl hy sy beursie uit sy sak steel. Die dief het homself dadelik ver­ontskuldig deur vir Rickett te vertel hoe hy sukkel om werk te kry. Hy het tronkstraf uit­gedien en nou wil niemand hom in diens neem nie. Hy en sy gesin sterf van honger. Rickett het die man stip aangekyk: “Ek gaan my naam vir jou gee. My naam is nog skoon. Neem dit, gebruik dit en hou dit skoon.” Daarmee gee hy vir hom sy eie naam­kaartjie. Ricket het vir die man werk gekry. Vyftien jaar later word Rickett na die ont­vangslokaal van sy firma geroep waar ‘n man, wat dieselfde naam as hy het, met hom wil praat. Rickett kyk na die man se naam­kaartjie en sien die man is regtig ook Rodger Rickett. Die man is netjies aangetrek, met ‘n aangename voorkoms. Die man groet hom hartlik en sê: “Ek het jou kom vertel dat ek vandag ‘n vennoot geword het in die firma waar jy vyftien jaar gelede vir my werk gekry het. Ek het dit aan jou naam te danke. Ek het jou naam skoon gehou.”

Ons het ook ‘n nuwe naam gekry. Ons het Christus se naam gekry. Ons word Christene genoem. “In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem” (Hand.11:26). Die Naam van die Here Jesus Christus het vir ons ook baie deure oopgesluit. Dit het vir ons die deur hemel toe oopgesluit. Dit is in sy Naam dat ons God kan nader en kan bid. “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh.14:13,14). Ons het ook die groot verantwoordelikheid om hierdie Naam skoon en in eer te hou. In dáárdie tyd het mense geweet wat die naam Christen inhou. Toe Paulus hom voor Agrippa ver­de­dig het, het Agrippa uit­geroep: “Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou ‘n Christen maak” (Hand.26:28). Hy het ge­weet wat dit vir hom gaan inhou om Christen te word. Ons wat Christene is, kan die Naam en Per­soon van Christus verhoog of verneder. Hoe dra ék deur my gedrag by tot die eer of die vernedering van sy Naam?

“Here, vandag wil ek u Naam skoon hou en ook verheerlik.”

Ma 20 Apr: Gebruik die wind

Lees Prediker 11:1-6

“Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie” (4).

Dr. J. H. Jowett het een Saterdagog­gend in sy stu­deer­kamer, vir sy preek, die betekenis van Jes­us se woorde aan Niko­demus in Johannes 3:8 bepeins: “Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid , maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elk­een wat uit die Gees gebore is.” Hy kon die betekenis van Jesus se woorde oor die wind nie heel­temaal begryp nie. Hy be­sluit om ’n end te gaan stap, die wind oor hom te voel waai en sy hart vir dieper be­grip oop te maak. Dit was ’n hel­der len­te­oggend, skoon en koel. Hy stap langs die see af en verlustig hom in die rollende bran­­ders. Op ’n afstand sien hy skepe in die hawe lê. Hy sien ook naby die breek­water ’n ou matroos sit; mes in die hand, pyp in die mond, besig om ’n tou te las. “As enige iemand die wind kan ver­klaar, sal hierdie ou seeman dit kan doen,” dink dr. Howett by homself. Hy gaan sit op die spoel­klippies langs die ou man. “Ou man,” vra hy vrien­delik. “Kan jy vir my die wind verklaar?” Die ou seeman trek aan sy pyp, kyk uit oor die golwende Noordsee, rig sy oë op die bollende seile van die skepe in die hawe. “Nee,” antwoord hy. “Ek kan nie die wind verklaar nie, maar ek kan ’n seil span.” Dr. Howett spring op. “Dan­kie, vriend,” roep hy. “Jy het my my preek help kry!”

Om ons en in ons is godgegewe kragte wat ons nie kan peil nie, maar ons kan dit gebruik. Die werk van die Heilige Gees in ons, is vir ons onbegryplik, maar ons kan ons hart oop­stel en die Gees gehoorsaam. Die redding wat Christus aan ons gee, is vir ons onpeilbaar, maar ons kan dit aanneem en glo. In Psalm 139 spreek Dawid hierdie verwondering oor God se groot werke uit en dan besluit hy: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê… Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!”

“Here, vandag buig ek voor u grootheid neer en ek lê my klein, behoeftige lewe in u hande.”

Vry 17 Apr: 'n Donker Tyd

 Lees Psalm 94:16-23

“Toe ek gedink het my voete gly, het u troue lief­­de my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring” (18,19).

George Matheson was in die tweede helfte van die 19de eeu, een van Skotland se be­kend­­ste predikante. Hy het ’n vrugbare be­diening bedryf met seën veral vir mense wat moei­like omstandighede beleef het. George Math­eson was blind. As jongman was hy op die punt om met ’n lieflike jongmeisie te trou, toe sy dokter op ’n dag vir hom sê: “Jy beter goed na jou vriende kyk, want binnekort gaan dit vir jou te donker word om hulle te kan sien.” Dit was die dok­ter se manier om vir Matheson te sê hy is besig om blind te word. Hy het sy toekoms­tige bruid vertel wat met hom gaan gebeur. Hy het haar die geleentheid gegee om die verlowing te ver­breek. Sy het dit te baat geneem. Sy toenemende blindheid en die eensaamheid wat sy teleurgestelde liefde ge­bring het, het sy toewyding aan die Here ver­diep. Hy het toe besluit om predikant te word en ander mense wat lewenspyn moet ver­duur, te help. Uit eie ervaring skryf hy:

Daar kom ‘n tyd dat ons roem juis in daar­­die ding sal bestaan wat nou pyn ver­oorsaak. Vir Jakob was dit droewig toe hy, met sy kop op ‘n klip vir ‘n kussing, op die harde aarde moes slaap. Dit was vir hom ‘n tyd van een­saam­­heid en vrees. Dit was vir hom nag. God het ver van hom af ge­voel. Tog was die Here op dáárdie plek, en Jakob het ontdek dat die nag van sy be­proewing die dagbreek van sy triomf was. So het Abraham dit op die berg Mo­ria on­dervind, toe hy gereed gemaak het om Isak te offer. Dáárdie ge­beur­tenis het sy hartlike verhouding met God ingelui, en hy het die plek genoem Die Here sal Voorsien. Josef se roe­te deur die Egip­tiese tronk het hom onderkoning van Egip­te en redder van sy vader en broers laat word. Rut het afval koringare in Boas se land vir haar skoonma opgetel. Dit lei daar­toe dat Boas met haar trou en sy in die ge­slags­lyn van Christus se koms ge­kom het. Da­wid se liedere het uit die nagte van sy verdrukking ge­kom. Johan­nes se ver­hewendste uur was op die eiland van sy verbanning, Patmos. Die uur van jou pyn sal jou kroon word. Die dag van jou bedruktheid sal jou feesdag word. Jou woestyn sal in sang uitbreek. Elkeen wat in ‘n don­ker tyd, ons troue God en Vader vertrou, reis ‘n dag van lig en verheerliking tegemoet

“Here, vandag is dit vir my donker en ek het nie krag om self my weg te vind nie.”

Do 16 Apr: Belangrikste Moment

Lees 2 Korintiërs 6: 1 – 7

“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou… die dag van redding” (2).

Die gevangeniskapelaan moes ’n be­rug­te, maar sterwende sak­keroller, in sy tronk­sel, in sy laaste le­wens­oomblik­ke by­staan. Hy het ernstig en dring­end met hom gepraat en die weg van saligheid probeer ver­duidelik. Hy beklemtoon God se groot liefde vir son­daars en Jesus se lyding en sterwe aan die kruis: “So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, so­dat elkéén wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh.3:16). Hy pleit met die man, om soos die moordenaar aan die kruis, in hierdie laaste oomblikke van sy le­we, by Jesus redding te vra: “Dink aan my, Here, wan­neer U in u koninkryk kom” (Luk.23:42). Die hele tyd hou die man sy oë stip op die kape­laan gevestig. Hy kniel by die man en bid vir hom. Toe hy weer reg­op kom, was die man dood. Tus­sen die vingers van sy reg­terhand hang die goue ketting van die leraar se sakhorlosie. In hier­die be­langrikste mo­ment van sy lewe, was sy ver­har­de hart nie by wat die do­minee vir hom oor die ewigheid probeer sê nie, maar by die lok­kende goue ketting aan die dominee se sy.

’n Stukkie statistiek uit Richardsbaai se 1981 ge­meen­te­blad: Meer as 2¼-biljoen men­se leef op aarde. Elke jaar sterf 50 mil­. Elke maand sterf 4 166 466. Elke dag sterf 136 986. Elke uur sterf 5 707. Elke mi­nuut sterf 95. Elke sekonde sterf 2. Dit het u dalk 10 sekondes geneem om die paragrafie tot hier te lees: 20 mense het in die 10 se­kon­des gesterf. Oor ’n uur kan daar meer as 5 000 mense, wat op hierdie oomblik nog leef, dood wees.

Ons mag ­nie in die laaste sekonde, wat ons nog leef, ongered wees nie, want dan wag ’n ewig­heid van smart vir ons. Weet ú al Jesus is u Verlosser? As u twy­fel of nee antwoord, gebruik hierdie se­kon­­de om uit u hart te roep: “Here Jesus, red my!” En ’n ewigheid in die hemel word u deel.

“Here, vandag gryp ek u redding vas.”

Wo 15 Apr: Net soos ek Is

Lees Lukas 23: 33 – 43

“Verder sê hy: ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom’. Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.’” (42,43)

Hierdie bekende lied is aan báie van ons be­kend: Net soos ek is, geen hulp naby; alleen u bloed gestort vir my; getrek tot u deurboorde sy – o Lam van God, ek kom! In sy boek Amazing Grace skryf Kenneth W. Osbeck: “….the simply worded text by Charlotte Elliot has in­flu­enced more people for Christ than any hymn ever written or per­haps any sermon ever preached.” As jong meisie in Brighton Enge­land, was mej. El­liot bekend as “carefree Char­lotte”, skryf Os­beck. Sy was ’n gewilde portet­skil­der en skry­wer van pittige gedigte. Op 30-jari­ge ouder­dom word sy ernstig siek en die nadraai is dat sy vir die res van haar lewe ’n invalide word. Sy word lus­teloos en depressief. Die bekende Switserse evangelis, dr. Caesar Malan, besoek haar. Haar geestelike nood tref hom. Hy roep uit: “Charlotte, kom net soos jy is – ’n sondaar – na die Lam van God toe, wat die sonde van die wêreld wegneem!” Sy reageer dadelik en plaas haar volkome ver­troue in Christus se reddende offerande vir haar. “She experienced inner peace and joy in spite of her physical afflicition until her death at the age of eigthy-two,” skryf Osbeck. Sy het 150 lie­de­re gedurende haar lewe geskryf. Sy word as een van die beste Engelse liedere­skry­wers be­skou. Oor haarself het sy gesê: “God sees, God guards, God guides me. His grace surrounds me and His voice continually bids me to be happy and holy in His service – just where I am!”

’n Lewe, net soos dit is, oorgegee aan die Here Jesus Christus, word deur Hom skoon gemaak, nuut gemaak, bruikbaar gemaak. By herhaling gee die Nuwe Testament hier­die boodskap, soos in Efesiërs 2:13, deur: “Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Chris­tus.” Dit is hierdie verlossende kruisdood van Christus, wat Charlotte Elliot, by elkeen van haar lied se 7 verse herhaal: “O Lam van God, ek kom!”

“Here, vandag kom ek net soos ek is.”

Di 14 Apr: Met God se Krag

Lees Filippense 2: 12 – 18 Nuwe Lewende Vertaling

“Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen” (13)

Lank gelede toe treinvervoer in som­­mi­ge plat­te­land­se gebiede nog ’n rariteit was, staan ’n sta­sie­meester van ’n klein stasietjie op die plat­form vir die trein en wag. Sy oë rek vir wat hy voor hom sien. ’n Ou man, koffer in die hand, kom sta­dig en sukkelende al met die spoorlyn aange­strompel. Die stasiemeester verwag hy gaan van die spoorlyn af weg­draai na die platform toe om ook vir die trein te wag. Maar die ou man stap met ’n knik van die kop verby. “Oom, hoekom loop jy op die spoor?” vra die stasie­meester steeds verbaas. “Dis met die spoor­lyn baie korter na die volgende dorp toe as met die pad,” antwoord die ou man en stap net aan. “Maar, Oom, jy mag nie daar op die spoorlyn loop nie,” wys die stasiemeester hom tereg. “Ek mag,” ant­woord die ou man en sit sy koffer langs hom neer, steek sy hand in sy binnesak in en trek ’n beur­sie uit. “Ek het ’n kaartjie gekoop om hier te loop,” sê hy vry­moedig en haal ’n stukkie papier uit sy beur­sie uit. “Kyk self.” Die stasiemeester kyk na die kaar­tjie. “Maar dis ’n treinkaartjie, Oom. Dis om op die trein te ry.” “Op die trein te ry? Hoe?” kom dit verbaas van die ou man af. Die sta­sie­mees­ter neem hom aan die arm en trek hom met kof­fer en al van die spoorlyn af. “Die trein is nou-nou hier, Oom. Ek help Oom.” Net daarna fluit die trein en stoom die stasie binne. Die stasiemeester ver­dui­delik vir die kon­dukteur en hulle laat die ou man met sy koffer op die trein klim. Hy kry ’n sitplek. Tot sy verbasing ry hy sonder inspan­ning nadie dorp toe waarheen hy moeisaam wou stap.

So verstaan sommige mense ook die red­ding wat Chris­tus gebring het. Hulle glo in die Bybel en die evan­gelie, soos die ou man in die Spoorweg geglo het. Hy het gedink hy moes in eie krag van die spoorlyngerief ge­­bruikmaak. Hy wis nie hy kon met die Spoorweg se krag, sonder sy eie vreeslike inspan­ning, sy bestem­ming bereik nie. Mense wil met ’n hoeveel­heid Bybel­lees, bid, kerk­toe­­gaan, offergawes gee, kerk­werk doen, geloofseise nakom, die hemel te bereik.

Jesus se redding beteken: Hy het Self die werk ge­doen. Ons moet dit net dankbaar aan­vaar. Waar die ou man in die trein se kompartement gesit het, het die trein se krag hom na sy bestemming gevoer.

Sekerlik geld dit ook vir die geredde Chris­ten om hard aan sy Christenlewe te werk. Maar as ons in die ge­krui­sigde en verrese Ver­losser, vir sy redding, ver­trou, kom woon Hy met sy nuwe lewe, deur die Heilige Gees, in ons. Sy krag werk in ons die wil en die lus en die vreugde van die lewe vir Chris­tus.

Die groot prediker C. H. Spurgeon skryf hieroor en ek haal sy eie woorde aan: Justi­fi­­cation (regverdigmaking, redding) is not at all by hu­­man effort, but by the free gift of God. The se­cond part of salvation consists of a work in us – this is the operation of God the Holy Ghost. As we are redeemed by the blood of Jesus, are we also in due time renewed in the spirit of our minds.

Ons noem dit heiligmaking – die groei van ons gees­telike lewe uit die krag van die inwonende Heilige Gees, deur die lees van die Woord van God, gebed, omgang met ander ge­lowiges en om vir die Here te werk.

“Here, vandag wil ek die Christenskap wat U deur u Gees in my gee, met toewyding uitleef.”

Ma 13 Apr: Los Hom Uit

Lees Matteus 5: 38 – 42

“”Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie” (39)

’n Geselskap toeriste sit in die Yellowstone Park en wag vir ’n dier, wat die skrik van die bos­se genoem word, die grysbeer, om te verskyn, vertel Dale Carnegie in sy boek How to Stop Wor­rying and Start Living (beskikbaar by boekwinkels). ’n Hoop afvalkos, uit die hotel se kombuis, is naby neer­gesit, om die beer te lok. Nie lank nie hy kom massief uit die donkerbos te voor­skyn. Die wild­be­waarder, maj. Mertindale, vertel vir die mense, die grysbeer is enige dier in die weste­li­ke half­rond se moses, behalwe miskien die buffel en Kadiakbeer. Terwyl hulle so kyk, kom nog ’n dier uit die bos uit en begin saam met die grys­beer die lekker afval­kos vreet. Die grysbeer sou geen an­der dier dit toegelaat het nie, maar nou laat hy hierdie een sy gang gaan. Dit is die stink­muis­hond. Die beer kon hom met een hou van sy geweldige voorpoot plat gevee het, maar die beer het al geleer: Lol met hom, en jy stink vir dae aanmekaar!

Daar is viervoetige muishonde, én daar is twee­voetige muishonde, sê Carnegie. Hy haal goeie raad aan uit ’n verslag van die Polisie­kan­toor in Mil­wau­kee: “As selfsugtige mense probeer voor­deel trek uit jou, skrap hulle van jou lys, maar moenie hulle probeer uitbetaal nie. Jy sal net seer­­­­der kry as hulle.” Dit is onver­stan­­­dig om eni­ge mens te probeer uitbetaal, want dan gee ons hulle mag oor ons: mag oor ons slaap, ons eetlus, ons bloed­druk, ons gesond­heid, ons geluk. Ons vyan­de sal opspring van vreugde as hulle kon weet hoe hulle ons kwel, kwes, ons laat ly. Ons haat en wraakgedag­tes maak hulle nie seer nie, maar dit omskep ons eie dae en nagte in donkerte.

Jesus se woorde: “Julle moet julle vyand lief­hê,” verkondig moderne gesondheidskun­de. Toe Jesus vir Petrus gesê het: “Jy moet 70×7 keer vergewe,” was Hy besig om ons te vertel hoe om hoë bloed­druk, hartkwaal, maag­swere en baie an­der kwale te vermy. Hy het ook raad gegee hoe om ons voor­koms te verbeter. `n Mens se met ge­sig kan ver­rimpel en verhard raak deur haat en mis­maak word deur wrok. Niks kan gelaat­skoon­heid bewerk soos vergewensgesind­heid, teer­heid en liefde nie! Laat ons onsself so liefhê dat ons nie sal toelaat dat an­der, met hulle slegte gesindheid, óns lewe bederf nie. Con­­fusius het gesê: Om ver­ont­reg en beroof te word, is niks, tensy jy aanhou om dit te onthou.

Ongelukkig is haat en ergerlikheid sterker as onsself. ’n Slegte gesindheid is soos ‘n lokomotief wat die trein sleep. Al weet ons verstand ons moe­nie haat, gebelgd voel of ’n wrok koester nie, die sondige hart is sterker as verstandige denke. Ons het hier Iemand groter nodig. Ons het Jesus self nodig, om deur sy Gees in ons hart sy liefde te gee en te laat groei. Só sal ons ons Hemelse Vader met ons lewensgedrag verheerlik.

“Here, vandag wil ek met u liefde ander liefhê.”

Vry 10 Apr: Die Goeie Belegging

Lees Lukas 6: 37 – 42

“Gee en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee” (38)

Jare gelede was werk skaars in Nieu En­ge­land. ’n Chris­tenman het gebid vir werk, maar kon nie werk kry nie. Een Sondag gaan hy kerk toe. Die kollekte word opgeneem. Hy het nog net een dollar oor in sy sak, maar hy gooi die helfte, 50c in die bordjie.

Daardie Maandag­og­gend hoor hy van ’n werk in ’n naburige dorp. Hy gaan stasie toe om ’n trein­kaar­tjie daar­­heen te koop. Die treinkaartjie kos ’n dollar. Hy koop met die 50c wat hy nog het, ’n kaar­tjie tot halfpad. Halfpad na die dorp toe klim hy af om die res van die pad te stap. Skaars ’n blok verder sien hy ’n kennis­gewing dat ’n werknemer ’n entjie daarvandaan benodig word. Hy gaan vra en hy kry die werk. En hulle betaal $5 meer as die vorige werkplek waarheen hy eintlik op pad was.

Dit is ’n skoenfabriek waar hy sy nuwe werk kry. Hier­die man was W. L. Dou­glass wat die beroemde skoen­fabrikant ge­word het! Niemand het nog ooit vry­ge­wigheid aan God se belange berou nie. God is ryk en almagtig en hy kan iemand wat ruim aan Hóm gee, seën en terugbetaal. “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droef­heid of uit dwang nie, want God het ’n bly­moe­dige gewer lief. God het mag om alle ge­nade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat jul­le altyd in alle opsigte volop kan hê en oor­vloedig kan wees tot elke goeie werk” (2 Kor.9:7,8).

“Here, vandag belê ek in u koninkryk.”

Do 9 Apr: Geen Skuiling

 Lees 1 Korintiërs 6: 9 – 11 Nuwe Lewende Vertaling

“Daar was ’n tyd toe sommige van julle pre­sies so was, maar nou is julle sonde afgewas en God het julle aan Homself toegewy. Julle is vry­ge­spreek­te men­se op grond van wat die Here Jesus Christus en die Heilige Gees van God vir julle gedoen het” (11).

Sommige van die Isle of Wright se kuste is vol grotte. ’n Man se geraamte is in een van hierdie grot­te gevind. Hy was ’n prisonier wat ontsnap het. Hy het in die grot geskuil met die hoop hy sou saam met een van die skepe wegkom. Die goeie geleentheid het nooit gekom nie. Hy kon nie waag om uit te kom nie. Sy krag het al minder geword. Sy lot was aaklig. So het hy eensaam gesterf. Hy het wel skuiling gevind, maar dit was ‘n bedrieglike en noodlottige skuiling.

Mense verlaat hulle soms ook op ’n be­drieg­like en tydelike skuiling, bv. leuens of be­drog. ’n Kos­ba­re lewe word geslyt in die ge­­vaarlike skuiling van oneerlikheid. ’n Be­droewende skuiling is ook die on­eerlike voorgee van Christenskap, om in kerklike kringe aanvaarbaar te wees, maar daar was nooit ware bekering en ontmoeting met Christus nie. Nog ’n gevaarlike wegkruipplek is nuwe gods­diens­beskouinge, omdat dit ’n mens se lewenstyl beter pas. Dit laat ruimte vir sondi­ge praktyke. Die be­drieg­likste skuilplek is on­kunde, wat jou met jouself tevrede laat voel, maar jou ewige sieleheil is in ge­vaar. Die Nu­we Lewende Vertaling van die Bybel gebruik in 1 Korintiërs 6:9 ’n bekende woord aan men­­se wat tevrede voel om steeds met sondige prak­­tyke voort te ­gaan: Moenie julleself bluf nie. Die sin word voorafgegaan met hierdie waarsku­wing: Besef julle dan nie dat mense wat ’n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie?

Ons het net één betroubare, blywende, wa­re skui­ling: Die kruisdood van Jesus vir ons, en, ás ’n mens by daardie skuiling ingegaan het.

Jesus, Rots, vir my geslaan, laat my nie verlore gaan!

U was self van God verlaat, laat u lyding, sonder maat,

My tot heil wees en tot krag teen die sondeskuld en mag.

Leeg, net met my sondelas, hou ek u verdienste vas.

Ek kom vergewing vra; U het ook my skuld gedra!

U, geslaan tot heilsfontein, was my, Heiland, maak my rein!

Here, vandag kom ek in U skuil.”

Wo 8 Apr: Ontspan

Lees Jesaja 43: 1 – 4

“Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” (1)

’n Ouma in West Virginia het nog nooit vlieg­tuig ge­ry nie. Haar kleinseun was ’n geesdriftige vlie­ënier. Op ’n dag oorreed hy haar om saam met hom in die vliegtuig op te gaan. Teësinnig wil­lig sy in. Na ’n kort vlug land hulle weer veilig. “En toe, Ouma. Hoe het dit gevoel?” wil hy plesierig weet. Sonder geesdrif antwoord sy: “Ek het in die vlieg­tuig opgegaan, ek het in die vliegtuig geland, maar ek nie vir ’n oomblik my gewig op hom neergesit nie!” Roy Zuck merk op: “That fearful, distrustful grand­­ma is like many of God’s children. In all His great­ness, we too often neglect to rest com­pletely in His all powerful hands.”

Augustinus het gesê: Vertrou die verlede toe aan God se genade (ons het vergifnis no­dig); die hede aan sy liefde (ons het aandag nodig); die toekoms aan sy voorsie­nigheid (ons het versorging nodig.) Corrie ten Boom het geskryf: Never be affraid to trust an unknown future to a known God.

“Here, vandag rus ek my in u krag.”

Di 7 Apr: Na die Kruisiging

Lees Markus 15:42-47

“Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat…hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het…hy het die lyk vir Josef gegee” (42-45).

Walter Baxendale vertel in sy boek Dictio­nary of Illustrations van ’n skildery deur ’n groot kunstenaar, van ’n besondere toneel van Jesus se kruisiging. Die skildery toon die plek van die kruisiging na alles verby was. Die ska­re is terug huis toe en het hulle ge­wone lewe gaan hervat, die aardbewing is stil, die son skyn weer, die soldate en Jesus se vriende, al­mal, is weg. Die kruis lê op die grond en rondom is baie spore. ’n Klompie kinders is op die toneel. Hulle het kom kyk wat daar gebeur het. Hulle bekyk alles nuus­kierig. Party buig oor die kruis wat daar lê; an­der kyk af in die gat in die grond waar die kruis geplant was; ander bekyk die droë bloed­vlekke op die grond. Een van die kinders, op die voor­grond van die skildery, met onskuld en verba­sing en skok op die ge­sig, het een van die spy­kers, vol bloed wat droog geword het, in die hand.

Die groot gebeurtenis waarvan die profete geskryf het, is verby. Jesus se liggaam lê koud en magteloos in die grafkelder. Die kinders kyk net na die tekens, die bewyse van wat gebeur het, dit wat agter gebly het.

Ons kan nie eers só na Jesus se kruisiging kyk nie. Ons het net die woorde van die profete en die getuienis van die apostels wat vir ons in die Bybel opgeskryf is. Ons het ook die Heilige Gees wat na Jesus se opstanding en hemelvaart aarde toe ge­kom het. Die Heilige Gees maak die beskrywing van die kruisdood van Jesus vir ons ’n werklikheid en bring in ons hart die besef, die begrip en ge­loof te weeg en ons weet met gerustheid en blydskap, ons skuld is betaal, ons sonde is versoen.

“Here, vandag rus ek in U kruisdood vir my.”

Do 2 Apr: God Beloon

Lees Lukas 19: 11 – 17

“Mooi so, jy is ’n goeie slaaf. Omdat jy in ’n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede” (17)

’n Gewone Macedoniese soldaat het op ’n dag voor Alexander die Grote ’n muil, belaai met ’n vrag goud, gelei. Die muil het onder die swaar vrag moeg geword en gaan lê. Die sol­daat het die kos­­bare vrag afgetel, dit op sy skou­ers gesit en dit self begin aandra. Alex­an­der het hom dopgehou en gesien hy begin ook onder die gewig struikel. Hy was op die punt om die sak goud op die grond neer te gooi toe Alexander hom toeroep: “Man­skap, moenie opgee nie. Dra dit tot by jou tent dan is dit joune. Ek gee dit vir jou.” Die skywer van die storie maak die opmerking: “Dis onnodig om te sê met watter nuwe krag en moed die man die kos­ba­re vrag, wat hom ryk sou maak, verder gedra het.”

Die arbeid vir die Here se koninkryk is ook ’n veel­eisende taak. Die vrag wat gedra moet word, word swaar. Ons Koning wat sy eie las tot die bloe­dige einde gedra het, bemoedig ons: “Vol­hard dit is tot jou eie rykdom.” God be­loof om sy diens­kneg wat Hom getrou dien, ryk­lik te beloon. Die loon oortref die arbeid. In Je­sus se gelykenis het die kneg met sy een geld­stuk tien ander geld­stuk­ke gewin. Maar sy be­loning was tien stede! Die een kneg het niks vir sy Heer gedoen nie. Hy moes leë han­de staan. Ons kan ons arbeid vir die Here nie be­paal deur dit met dié van ander te vergelyk nie, want: “Die Heer het aan (elkeen van sy kneg­te) vol­gens sy bekwaamheid gegee” (Mat.25:15). Ons weet self of ons die Here na die beste van ons vermoë dien, en of ons, wat God se belange betref, maar laat slap lê.

Ons kan die wonderlike grootte van ons be­lo­ning, omdat ons God ge­dien het, nie be­reken nie. Redding, vergifnis, salig­heid is God se gawes aan ons. Ons kan nie son­de­ver­gif­nis en saligheid ver­dien nie. God gee dit op grond van die Here Jesus se reddingsver­diens­te. Die loon eendag word eg­ter verdien. Dit is God se bonus aan sy getroue kinders. “…die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is” (1 Kor.3:14,15). Paulus bemoedig die gelowiges wat hartlik die Here se konink­ryk bevorder: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Die swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en ewig bly” (2 Kor.4:16).

“Here, vandag werk ek vir U.”