Vry 1 Aug: Die Onwelkome Gebeurtenis

Lees:  Openbaring 22 : 12 – 21

“Hy wat dit alles getuig, sê: ‘Ja, Ek kom gou!’ Amen! Kom Here Jesus” (20)

Een aand preek Dr. H. A. Ironside in Stock­ton, Ca­li­for­nië oor Christus se wederkoms.   Hy vertel, toe hy sy slot­gebed doen en in die gebed die Here dank oor die voor­uit­sig van die Here Jesus se wederkoms, bid hy: “Kom, ja, kom gou Here Jesus!” Hy word be­wus van ‘n vrou wat op­staan en haastig uit die kerk uit­loop. Dit was die dae toe vroue wye rompe gedra het. Hy sê daaroor: “In those days the skirts would swish whenever a lady walked. It seemed to me that this lady must have gone out in a hurry!” Na hy die diens afge­sluit het en na die deur toe gegaan het om mense by die deur te groet, soos die gewoonte in daardie kerk was, kom hy af op ’n vrou wat opgewonde heen en weer in die voor­portaal op en af stap. Die oomblik toe sy hom sien kom sy op hom af­­ge­stap. “Hoe durf jy so ’n gebed bid – Kom Here Jesus? Ek wil nie hê Hy moet kom nie! Dit sal al my planne ver­ongeluk! Hoe durf jy so bid?” Hy antwoord haar: “My liewe jong dame, Jesus kom weer of jy daarvan hou of nie.” Hy sluit sy storie af met die opmerking: “Oh, if you know Him and love Him, surely your heart says, ’Come, Lord Jesus!’”

Is Jesus se wederkoms vir óns ’n welkome vooruitsig? Baie Chris­te­like kerkmense verlang nie na sy wederkoms nie. Een rede kan wees dat ons die huidige wêreld nog lief het, dat ons le­wenswyse ons bang maak vir sy wederkoms, dat ons nie goeie rekenskap sal kan gee van die taak wat Hy ons opgelê het om die verlore mens­dom vir Hom te wen nie. As ons Chris­tus as ons Verlosser ken en in ’n goeie verhouding met Hom lewe, hoef ons nie vir sy koms bang te wees nie. “En nou, liewe kinders, julle moet in Hom bly, sodat ons almal niks te vrees sal hê wanneer Hy kom nie en by sy wederkoms nie beskaamd voor Hom sal staan nie. Aangesien julle weet dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat regverdig lewe, ’n kind van God is. Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook” (1 Joh.2:28 – 3:1). Die Here Jesus het altyd oor sy wederkoms ge­praat as iets baie goeds wat met ons gaan gebeur. Al die el­len­de en geweld en swaarkry wat hierdie lewe so moeilik maak, sal verby wees. Jesus kom ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde instel waaroor Hy die Koning sal wees. Ons sal in heerlikheid by Hom en sy Vader woon. Kom ons hou ons verhouding met hom daagliks reg deur die krag en werking van die Heilige Gees in ons, en ons sien hartlik uit na sy wederkoms!
  
“Here, vandag wil ek uitsien na u wederkoms.”

Do 31 Julie: Die Regte Plek

Lees Johannes 19 : 17 – 30

“Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel” (17).
  
Die beroemde skilder, Rembrandt (sy voorname word nie dikwels gebruik nie – Harmen­zoon van Rijn) het die kruisigingstoneel van Jesus geskilder. Hy was veral bekend vir die gesigsuitdrukkings wat in sy skilderye na vore kom. Our Daily Bread vertel van `n besondere element in Jesus se kruisigings­to­neel. `n Mens se aandag word heeleerste na die ster­wende Heiland getrek. Later begryp ons hoe­kom Jesus se kruisigingstoneel so `n sterk invloed  op die kyker kan uitoefen – dit het ook die skilder se hart bereik. Van die Persoon van Jesus af dwaal `n mens se aandag na die skare wat om die kruis versamel het. “You are impressed by the various attitudes and actions of the people involved in putting the Son of God to death.” Die kruisigings­gebeure en Jesus se houding en gedrag aan die kruis tref mense altyd. Verskillende reaksies kan op die houding en gesigte van die omstanders ontdek word. Maar die groot bood­skap wat die skildery uitdra, skryf Daily Bread, ontdek `n mens as jou oë die eensame figuur, verskuil in die skaduwees, op die kant van die aktiewe gebeurtenisse, raaksien. Dit is Rembrandt self. Na Hy Jesus, sterwende aan die kruis, en al die mense met hul houdinge en gesigsuitdruk­kings geskilder het, het hy homself ook, laaggebuig, tussen hulle geplaas, waaroor Daily Bread hierdie veelseggende opmerking maak:  “…the artist himself realised that his sins had helped nail Jesus to the cross!”

Deur die Bybel se die vertelling van Jesus se kruisiging, bring die Heilige Gees dieselfde uit­werking in `n mens se hart. Ons moet in die vier evangelies Jesus se kruisiging stadig, pein­­sende lees. Hoe inniger ons, in ons gemoed, lesende na Jesus kyk, oppad kruis toe, by die kruis, aan die kruis, hoe dieper dring die besef van wat Jesus vir ons gedoen het in ons hart in. Die oppervlakkige hantering van die kruisigings­ge­beure is `n groot skade vir ons geloofs­hou­ding. Lukas hoofstuk 23 be­skryf die kruisgingsto­neel duidelik. Rondom die kruis is vroue wat rou­be­dryf en Hom beklaag, die volk staan dit en aan­skou, die owerstes skimp, die soldate dobbel oor sy klere, `n rower bekeer hom, die dissipels en Jesus se familie staar. Kom ons vra onsself af: Hoe kyk ek na Jesus se kruisiging?

“Here, vandag aanskou ek U aan die kruis.”

Wo 30 Julie: Betroubaar

Lees 2 Korintiërs 5: 16 – 21

“Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees” (21)
  
In `n pamflet, onder die titel Could Our Lord Have Sinned? vertel dr. I. M. Haldeman van `n to­neel tussen die berge van die staat New York. `n Treinbrug is oor `n diep afgrond, eint­lik `n kloof, honderde meters diep, ge­bou. Op `n dag hoor hy die eerste trein wat die brug na­der. Hy doen moeite om naby te gaan en hy sien `n gelaaide vragtrein met twee massiewe lokomotiewe vooraan, stadig die brug nader. Hy skryf: “There was a sharp challenging whistle, then the brakes crashed down, and the two great machines came to a standstill. There they waited for fully half a day right in die center of the bridge, with their great tons of iron quivering and beating and the bridge beneath like a great spider’s web supporting them. They were there to demonstrate the strength of the bridge, to show there was no weakness in it; but that it was able to bear up under the greatest test put on it, and so was worthy of the fullest trust on the part of man.” Dr. Haldeman maak hieruit `n toe­pas­sing op die betroubaarheid van die Here Jesus Chris­tus vir ons in ons versoekings en sondes.

Hy brei uit op die versoekinge en toetse waar­­aan Jesus as die gewone man, Jesus van Nasaret, onderworpe was en nooit gestruikel het nie. Hy skryf: “He was temp­ted and tried and tested at every point to prove and de­mon­strate…that we might see Him as the majestic, unbreakable bridge across the deep chasm of sin and death, and so fling ourselves without reserve, and in unhesitating confidence upon Him as the One and all supreme object of our unfaltering faith and profound adoration.”
       
Nooit het Jesus iemand verwerp of iemand te­leur­gestel nie. Selfs toe die moordenaar aan die kruis hom tot Jesus wend, het hy gehoor: “Van­dag sal jy saam met My in die paradys wees.” Die skry­wer aan die Hebreërs skryf: “Die hoëpriester wat ons het, is nie een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vry­moe­digheid na die genadetroon, sodat ons barm­hartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Heb.4:15,16).

 “Here, vandag kom ek met my behoefte na U toe.”

Di 29 Julie: Die Hart van die Verlosser

Lees Psalm 22

“My God, ek roep bedags en U antwoord nie…(3) 

Die bekende prediker C. H. Spurgeon het ’n kom­men­taar, bestaande uit drie volumes, elkeen sowat 450 blad­sye dik, oor die Psalms geskryf. Ek besit gelukkig hierdie drie boeke. In 1975 het ek die hele stel van drie vir R38,85 gekoop. Een aand, voor `n nagmaal, het ek be­hoef­te gehad om my hart vir die herdenking van die Here Jesus se kruisiging voor te berei. Ek het Psalm 22 op­ge­soek en Spurgeon se boek by sy kommentaar oor Psalm 22 oopgemaak. ’n Groot en verrykende onthulling oor Jesus se kruisdood het in my hart gekom. En tog, selfs nou, voel ek ek het nog maar vlak in Psalm 22 ingegaan.

In die evangelies het ons die beskrywing van Jesus se kruisdood stap vir stap. In Psalm 22 het ons dieselfde beskrywing asof  Dawid self by Golgota gestaan het. Die verskil tussen die evangelies se beskrywings en Psalm 22 is, dat die evangelies aangrypend die gebeurtenis se uiterlike ontvouing beskryf, en Psalm 22 bring die lydende Messias se gevoelens en gedagtes  gedurende daardie kruisigingsure na ons harte toe. Die Gees van die Messias beleef in Dawid se menslike hart die kruisiging soos Jesus dit beleef het: sy eensaamheid, verskrikking en pyn.

Ek volg nou Spurgeon se spore (kortpad) deur Psalm 22. “Vir die koorleier (Chief Musician). So ’n verhewe lied kan nie deur ’n mindere hanteer word nie. “Op die wysie van die wildsbok…” Jesus is soos ’n wildsbok gejag (v.1). Jesus se gevoel van diepe verlatenheid:“My God, my God, waarom het U my verlaat en bly ver as ek om hulp roep?”(v.2). Sy hewige onrus: “My God ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie (v.3). Sy verwarring: “Op U het ons voorvaders vertrou…U het hulle gered…hulle het na U om hulp geroep…op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie (4-6)”. Hoekom kry Hy nie antwoord nie? Hieruit kry ons bemoediging, want ons bid ook en dan kry óns nie dadelik die verhoring van óns gebed nie. Sy vernedering: “Maar ek is ’n wurm…Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit en knik met voldoening die kop en sê: ‘Laat dit aan die Here oor! Laat Hy hom red …as Hy dan so baie van hom hou (7-9)’” Sy herinneringe: “Van my geboorte af is ek onder u sorg…is U my God (v10,11). Sy angs: “…die nood is naby… Sy vernietiging: “…hulle het my hande en voete deurgrawe (Ou.Vert.) …hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel…help my tog gou! Red my…kosbare lewe…Red my…!(v17-22)  Sy oorwinning: “U het my gebed verhoor! Ek sal U…in die volle vergadering prys…  (23-27)”. Sy versoening: “Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer…Alle volke sal Hom as koning erken… Hy heers oor die volke…(28-30)”. Sy verkondiging: “Die nageslag sal Hom dien en hulle sal van die Here vertel…aan die volk wat nog gebore moet word van hierdie verlossingsdaad getuig: die Here het dit gedoen (31-32)”.

  “Here, vandag dank en aanbid ek U vir u groot soenoffer.”

Ma 28 Julie: 'n Veranderde Hart

Lees 2 Korintiërs 5:16-21

“Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom…(17)

Louis Zamperini van Compton, California, ’n voor­­malige Olimpiese atleet en Amerikaanse vlieë­nier, moes in die Tweede Wêreldoorlog in die om­ge­wing van Oahu Hawaii, in die see, ’n noodlanding maak. Vir 47 dae het hy byna 2 000 km. ver op sy nood­vlot gedobber, voor hy deur ’n Japanese boot opgepik is. In Now vertel Tom M. Olsen, van Zam­pe­rini se ervaringe as Japanese oorlogsprisonier, voor­dat vrede twee jaar later gesluit is. Hy is uitge­honger en gemartel. Tuis het sy mense hom as dood prysgegee. Hy besit sy eie doodsertifikaat, ge­te­ken deur pres. Rooseveldt. In 1945 het Zam­perini Japan met ’n hart vol haat verlaat. In 1949 woon hy een aand in Los Angelese ’n diens by waar dr. Billy Graham die prediker was. Daardie aand ontmoet die Here Jesus Christus hom en hy kom tot bekering. Vir sy vriende sê hy: “Such a change has come into my life that I feel I have a duty to perform.That duty is to return to Japan and tell them of the saving power of the Lord Jesus Christ.” Zamperini het te­ruggegaan Japan toe met ’n lys van sy gevangenemers en tronkbewaarders se name – en ’n Bybel. Sy doel: om sy Verlosser, Jesus Christus, aan die mense wat hom mishandel het, bekend te maak.              

 Haat, woede en wraaksug is magtige emosies van die menslike hart. Dit is ’n ingebore deel van die sondige mens­like natuur. In die Messiaanse Psalm 22 waar die ge­­moedservaring van die lydende Messias openbaar word, lees ons die omvang van die woede van die mense, om die kruis van Christus: “’n Wreedaardige klomp mense het my omsingel…soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af….soos honde omsingel hulle my…” (Psalm 22:13,14,17). Hoe het Jesus op hierdie woede en haat van sy vyande gereageer? “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk.23:34). Wedergeboorte is `n oor­dra van Jesus se lewe deur die Heilige Gees na `n sondaar se lewe toe.

“Here, vandag vergewe ek mense wat my kwaad aan­doen.”

Vry 25 Julie: Die Groot Prys

Lees Markus 15: 21 – 40

“Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het…Teen twaalfuur…het daar duisternis oor die he­le land gekom en dit het tot drie-uur ge­duur. Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: ‘Eloï, Eloï, lemá sabagtani?’ Dit beteken : My God, my God, waar­om het U My verlaat? Daarna het Jesus hard uit­geroep en die laaste asem uitgeblaas” (25, 33, 37).      

In Happy Hour word vertel van die jong Ame­rikaanse Christenvrou, wat in Indië, elke week `n groep hoëklas Hindoemeisies besoek het. Dan het sy vir hulle, hoofstuk vir hoofstuk,  Je­sus se ver­haal uit The Life Of Christ voor­gelees. Terwyl sy lees het hulle oor hul weeframe met hulle weefwerk voortgegaan. Op `n dag kom sy by die hoofstuk wat Jesus se laaste ses ure, die kruisigingsgebeure, ver­haal. Terwyl sy so lees hoor sy `n gesnik. Sy dink dit is in die vertrek waar hulle sit. Sy hou op lees en kyk rond. Sy sien niks vreemds nie en dink dit kom deur die bamboesafskorting van die agterplaas af. Sy lees verder. Weer die snik­­ke, toe sien sy dit is `n jongmeisie wat half met haar rug na haar toe sit wat so snik. Die vrou gaan kniel by die meisie: “Wat makeer? Voel jy siek? Het jy pyn? Kan ek jou help?” Ek haal aan: “Through her raining tears the Hindu heathen girl answered, with sobs, ‘Oh, I cannot bear it – not another word! He suffered so – and you said it was for me! Oh, I cannot bear it – I love Him so!’” Die Amerikaanse vrou sê, toe sy dit eendag vir ander vertel: “Ek het nooit voor­heen  besef ek het Jesus so min lief nie – ek het nog nooit `n traan oor sy lyding gestort nie.” Die storie sluit af in Happy Hour met hier­die enkele sin, `n deursoekende vraag: “Have you ever thanked Jesus for dying for you?”

Dit is goed om Jesus se kruisigingsverhaal meer as eenkeer te lees, dit agter mekaar uit al vier evangelies te lees, dit in die gedagte te volg en te peins en te weet: “Vir my het Hy so gely en gesterf.” Dit is die groot boodskap dwarsdeur die  Bybel: “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge ver­ge­we…(Ef.1:7).” “…omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het…(Opb.5:9).

“Here, vandag dink ek aan u groot offer vir my.”

Do 24 Julie: Innerlike Verdieping

Lees Johannes 11: 1 – 44


Lasarus se… susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: ‘Here, hy vir wie U lief is, is siek’… Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus lief­gehad … Hy het egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was…”(3,5,6).


 Fellowship News vertel dat die smelter wat kerk­klokke giet, sy klok nie dadelik in die kerk­to­ring op­hang nie. Hy toets dit eers. “He tries it with the hammer, and beats it on everyside, to see if there is a flaw.So when Christ converts a man, He does not at once convey him to heaven, but suffers him to be beaten upon by many temptations and afflic­tions, and then exalts him to his crown.”

Juis net vanoggend lees ek in my persoonlike, daag­likse Bybelstudie, die verhaal van Lasarus en sy susters in Johannes 11. Jesus toets hulle, ver­diep hulle verhouding met Hom en seën hulle won­derlik. So lei Hy ons ook deur beproewings, ant­woord nie dadelik ons gebede nie, leer ons waar­he­de wat ons voorheen nie geken het nie en seën ons in die proses. 

Lasarus word siek, maar hulle skrik nie, want hulle weet Jesus is daar en Hy het hulle lief. Hulle laat Hom weet. Hulle het seker verwag dat Jesus dadelik sou kom. Die dae gaan om en Lasarus word sieker. Twee dae na Jesus die boodskap gekry het, sterf Lasarus. Jesus weet dit, want Hy is mens, maar ook alwetende God. Hy sê dit vir sy dissi­pels en hulle waarsku Hom teen die gevaar waaraan Hy Hom gaan blootstel. Dit neem vier dae om Betanië te bereik, want toe Jesus daar kom, is Lasarus al vier dae in die graf. Meer as `n week het omgegaan van­dat hul­le Jesus laat weet het, en hulle het geen reaksie gekry nie. Toe Jesus daar kom, verwyt Marta Hom: “He­re, as U hier was sou my broer nie gesterf het nie.” Maria hardloop uit na Hom toe, val neer aan sy voete en verwyt Hom met dieselfde woord: “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.” Jesus gee `n nuwe open­baring van sy liefde vir hulle: “Jesus het gehuil.” Jesus hef hul geloofsvlak op: “Ek is die op­stan­ding en die lewe…het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie.?” Vir hulle was alles verby: ”Hy ruik al…hy is al vier dae dood” Hulle beleef Jesus se liefde en krag, soos hulle dit nie sou beleef het, as Jesus dadelik op hull noodroep geantwoord het nie. “’Lasarus, kom uit,’ roep Jesus. En die oorledene het uitgekom….”

Die Here gebruik ons teëspoede en nood­si­tua­sies, die beproewing van ons kennis en ver­troue in Hom, as geleenthede om ons eie gees­telike lewe te verdiep.
  
“Here, vandag vertrou ek in u liefde en krag.”

Wo 23 Julie: Vra Hiervoor

Lees Handelinge 16: 22 – 34

“’Menere, wat moet ek doen om gered te word?’ Hulle antwoord hom: ‘Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin’” (30,31)

In Christian Digest skryf iemand oor die lug­spoor­weg wat deur sy dorp loop. Een van die spoorweg­sta­sies is naby `n begraafplaas wat Cal­vary Cemetery genoem word. Vir baie jare het die trein nie self by daardie stasie gestop nie, omdat daar meer dooie mense as lewendige mense was. Iemand wat daar wou afklim, moes daarvoor vra. Sodra die trein die stasie. voor die begraafplaas­stasie, verlaat, maak die kaartjiesondersoeker die trein­wa se deur oop en roep: “Next station Cal­va­ry. Train stops on signal only. Anybody for Calvary?”

Dit is `n gelykenis van die lewenstrein, sê die skry­wer in Christian Digest. By al die lewen­stasies hou die trein self stil, skryf hy. “At Market Street, at School Street, at University Avenue, at Main street, at Vanity Fair, at Broadway, at Church Street, at Home Avenue. No special notice is needed, but to get off at Calvary – that means a choice and an expressed desire.” 

Ons verstaan wat die skrywer daarmee bedoel. Om by Jesus se kruis uit te kom, om gered te word, om Christen te word, moet `n definitiewe keuse uitgeoefen word. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12”).

 “Here, vandag kies ek U en neem ek U aan.”

Di 22 Julie: Omgang met Godself

Lees Psalm 91

“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red…omdat hy My ken… (14).

 Scripture Truth beklemtoon die kosbare waar­­heid, dat ons altyd welkom is by God, ons Vader, as ons deur nood na Hom toe gedwing word. In sy Woord nooi die Here ons om ons nood aan Hom bekend te maak. Maar dan skryf Scripture Truth: “But we remember the little fellow who nestled very close to his father, who said to him, ‘What do you want now?’ and whose answer was ‘Just to be near you, father.’” Om met ons nood na God toe te gaan is `n geseënde leefwyse, maar om God se teen­­woor­digheid te soek, net om met Hom om­gang te hê, is vir die hemelse Vader, soos vir enige aardse vader, aangenaam. “When we seek His presence because of His love to us and ours to Him,” verklaar Scripture Truth. Hy roep ons om so na Hom toe te kom.

’n Voorval word aangehaal waar `n Chris­ten­man eendag vir `n Ierse straatver­koper, wat sy Bybel by hom het, sê: “Dit is iets wonderliks om te kan sê `n mens is gered.” “Net so, reg­tig,” beaam die Ier dit. “Maar ek weet van iets beter as dit,” sê die man weer. Die Ier ant­woord: “Beter as om gered te wees? Wat kan daar beter wees as om gered te wees?” Die man antwoord met `n glimlag: “The com­panion­­ship of the Man who has saved me.” Dit is `n krag en `n seën in ons lewe as ons nie net wéét ons is gered vir die ewige lewe nie, maar om ook in die teenwoordigheid van ons Verlosser te lééf.

In ons binnekamer, met ons stiltetyd, is dit ons verlange en strewe: ons soek nie net By­­belkennis nie, ons wil nie net ons behoeftes aan die Here bekend maak en vir ander bid nie, maar ons soek die omgang met die Here self. In `n preek van C. H. Spurgeon, Christ Himself, lui een paragraaf: “All things which touch upon his kingdom are to be treated revently by us  for the sake of himself: his book, his day, his church, his ordinances, must all be precious to us, because we have to do with him; but in the front of all must ever stand ‘Jesus Christ Himself,’ the personal, living, loving Jesus; Christ in us the hope of glory, Christ for us our full redemtion, Christ with us our guide and our glory, Christ with us our solace, and Christ above us pleading and preparing our place in heaven.”

Jesus is verheerlik in die hemel. Hoe kan ons Hom so innig in ons eie hart beleef? Spurgeon ant­woord dit in dieselfde preek: “This is the work of the Holy Spirit. ‘He shall glorify Me: for He shall receive of Mine, and shall shew it unto you, (Joh.16:14).’ The Holy Ghost reveals Christ to us and in us.” (Aangehaal uit preekbundel vol.23). Ons hou ons stiltetyd in die binnekamer, ons omgang met God, met vertroue in die werking van die Heilig Gees in ons harte. Ook in ons kerkdienste vertrou ons ook in die werking van die Heilige Gees om Jesus ons Verlosser, en God ons Vader, aan ons te openbaar.

“Here, vandag soek ek U teenwoordigheid.”

Ma 21 Jul: Net 'n Saadjie

Skrifdeel: Markus 4: 26 – 29
 

“Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land…”
 

The Way of Faith vertel die storie van `n vrou wat deur die Londenstasie stap. `n Bejaarde man keer haar voor. “Verskoon my dame, maar ek wil u graag vir iets bedank,” sê hy beleefd. “My bedank!” roep sy uit. “Waarvoor?” “Ek was `n kaartjieondersoeker,” antwoord hy en noem die plek. Sy eie woorde in sy skewe Engels: “When’ver you used to go by you `allays give me a cheerful smile and a ‘good morning’, and you don’t know what a diff’rence it made to me. Wet or fine, it was `allays the same, and I thinks to meself, ‘Wonder where she gets her smile from; one cannot be `allays happy, yet she seems to,’ and I know’d that there smile must come from inside somehow. Then one mornin’ you comes by and you had a little Bible in yer hand, and I says to meself. ‘P’r’aps that’s where she got her smile from.’ So as I went home that night I bought a Bible, and I’ve been readin’ it and I’ve found Christ, and now I can smile too, and I want to thank yer’.”
 

So `n klein saadjie en so `n groot oes. Die waarde van `n glimlag: ”A smile costs nothing, but gives much. It enriches those who receive, without making poorer those who give. It takes but a moment, but the memory of it sometimes lasts forever…Some people are too tired to give you a smile. Give them one of yours, as none needs a smile so much as he who has no more to give.” Die bron van `n ware glimlag is die vrede in die hart van Jesus se volgelinge.

“Here, vandag wil ek u vreugde uitdeel.”

Vry 18 Julie: 'n Uitweg

Lees Matteus 14: 22 – 33

“Die skuit….is deur die golwe geteister, want die wind was van voor…Jesus het gesê: ‘Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie’” (24,27).

In ons daaglikse gang beland ons soms onver­wags in ontstellende en dreigende probleme. H. O. Van Gilder vertel van `n werksman wat by `n bou­pro­jek betrokke was en soms tot laataand moes werk. Op die kant van `n muur, etlike verdiepings hoog, verloor hy eenkeer sy ba­lans en glip van die muur af. Hy kry egter reg om die kant van die muur met sy vingers vas te gryp. Daar hang hy. Onder is dit donker. As iemand hom tog net raaksien! Hy skreeu om hulp, maar sy stem word oordonder deur  die gedreun van masjiene. Hy voel sy arms word lam en sy vingers dreig om hulle greep op die muur se kant te verloor. Hy probeer bid, maar geen wonderwerk vind plaas nie. Uiteindelik glip sy lam vingers van hul greep op die muur los en met `n snik van ontsteltenis val hy – net drie duim ver. Hy land op `n steier wat daar al langs die muur opgerig was en wat hy in die donker nie kon sien nie. 

In ons daaglikse ervaringe en ook in ons gees­telike belewinge, kom ons in situasies wanneer ons des­peraat raak en voel ons moet met ons vingers vas­­klem aan wat ons het. Van Gilder skryf: “How like a lot of Christians! Conscious of their weakness and aware of dangers, are fearful, anxious and un­happy most of the time: yet underneath, all the while, are the everlasting arms of a faihful, loving and all-powerful Saviour – our Lord Jesus Christ, willing and able to save and assist us.”

“Here, vandag val ek terug op u nabyheid en krag.”

Do 17 Julie: GOD slaap Nie

Lees Psalm 121

“Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here beskerm jou” (4,5).
      
In `n afgeleë huis het `n ma en haar vier­jaar­oue dogtertjie reggemaak om te gaan slaap. Die kind was bang vir die donker in die groot huis. Weens hul eensaamheid was die ma self huiwerig en bang. Die ma maak uit­ein­de­lik die lig dood. Buite waai die wind en dit is donker. Albei lê bang in die bed. Deur die oop venster sien die dogtertjie die vol maan skyn. “Is die maan God se lig?” vra die kind. “Ja,” ant­woord die ma, “God se lig skyn altyd.” Die kind se volgende vraag: “Sal God ook netnou sy lig doodmaak en gaan slaap?” Die ma ant­woord: “Nee, my kindjie, God slaap nooit nie.” Die dogtertjie antwoord met kinderlike ver­troue: “Mamma, as God wakker is, is ek nie bang nie.” Sy sê dit met so `n oorgawe en ver­troue dat die ma ook sommer dadelik gerus voel. God waak en Hy sal hulle bewaar.
  
Dit is `n ou en bekende storie, maar die waar­heid daarin is so kosbaar, dat ons dit weer kan oordink. As ons aan God behoort is ons vir Hom kosbaar en Hy bewaar ons. Sy waak­saamheid verslap nooit nie. Gedurig kan ons in Hom vertrou en na Hom toe vlug as ons bedreig voel. Die skrywer van die verhaaltjie wat ek nou weer gelees het, sê in eie woorde: “How often we allow fear – of darkness, of failure, of suffering, of death – to rob us of our sleep and of our joy in life? God’s ligth never goes out; He is ever awake to our needs.”
  
“Here, vandag weet ek U leef en U waak oor my.”

Wo 16 Julie: 'n Hindernis vir Gebed

Lees Matteus 18: 15 – 35

“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is” 15

           
Gebed is toegang tot God om Hom te aanbid en dinge wat ons no­dig het te vra. Hierdie toegang kan blokeer word. In Christ and the Student World skryf Robert Wilder: “Nothing will hinder prevailing prayer more than an unforgiving spirit.” Dan vertel hy die storie van `n kind wat langs `n straat afloop. `n Groot hond kom blaffende na haar toe. Ver­skrik gaan sy staan. `n Vreemdeling kom vinnig na haar toe. “Toemaar, kindjie, jy kan nou verder loop. Hy het opgehou blaf.” Sy bly egter nog vreesbevange staan en antwoord: “Ja, maar sy blaf is nog in hom.” Sy het na die hond se dreigende oë gekyk. Robert Wilder merk op: We Christians are too civilized to quarrel outwardly, but is there not sometimes a bark inside – an unforgiving spirit?” 

Ons baklei nie uiterlik nie, maar in die hart is so `n stram gevoel teenoor iemand wat op een of an­der tyd, op een of ander manier, ons te na gekom het. “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.” Na Jesus in Matteus 18:15 oor vergifnis gepraat het, sê Hy: “As twee van julle…oor enige saak bid, sal my Vader wat in die hemel is, julle dit laat kry.” Hierop vra Petrus: “’Hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?’ Jesus antwoord hom: ‘Ek sê vir jou… selfs sewentig maal sewe keer.’” (Mat.18:21,22). Vy­andigheid in ons hart is `n groot geestelike hindernis in ons verhouding met God.


“Here, vandag vergewe ek my medemens.”

Di 15 Julie: God sorg vir ons

Lees Psalm 9:1-13

“Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ’n toe­vlug, ’n skuilplek in tye van nood. Daarom ver­trou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie” (10,11).
           
 ‘n Sendinggenootskap het jare gelede vir die eerste keer vroue as sendelinge begin uitstuur na plekke toe wat eintlik vir “manswerk” bedoel was. Twee jongmeisies is gekies om onder die Mazateca Indiane te gaan werk. ’n Ervare sendeling het be-swaar gemaak en daarop gewys dat niemand ooit nog daardie gevaarlike gebied  betree het nie. Hy het hom tot die ywerige twee meisies gewend en gesê: “Moet liewer nie gaan nie. Dit is te gevaarlik.” Hulle het na die voorsitter van die sendingraad, wat verantwoordelik was vir die uitstuur van die sendelinge, gedraai en onrustig gevra: “Sal God dan nie vir ons sorg nie?” Dit was vir hom ’n uitdagende geloofsmoment. Hy het besef dat as hy aan die vertwyfeling en vrees, wat ook in sy hart opgekom het, gaan toegee, gaan dit die geloof­stutte waarop hulle hele sendingbeweging rus, on­der hulle uitslaan. Hulle het vir al hulle planne en  toekomstige onderneminge geen ander waarborge as net God se getrouheid en almag gehad  nie. Hy het na die bekommerde gesigte van die ander raads­lede gekyk. Hy het die twee gretige jong­mense in die gesig gekyk. Toe antwoord hy met ’n toenemende vertroue in sy eie hart: “Ja, God sal vir julle sorg, want Hy kan vir julle sorg as julle sy werk gaan doen.” Hulle het gegaan en die Here het hulle enduit bewaar. Die tydskrif Sunday School Times maak hieroor die opmerking: “Vandag het die Mazateca Indiane die woord van God, omdat Eunice Pike en Florence Hansen gewaag het om God te vertrou.”
           
 Ons kan waag om op God te vertrou: Hy is almagtig: “Niks is vir God onmoontlik nie” (Luk 1:37). Hy kan ons help en vir ons sorg. Toe die dissipels in die storm in hulle boot in die nood was, het Jesus hulle te hulp gekom, al moes Hy alle natuurwette oorbrug om op die water na hulle toe te loop. Hy is getrou: “Weet dan nou: die Here jou God…is die betroubare God…” (Deut.7:9). “God is getrou …”(1 Kor.1:9). ’n Mens kan dit waag om op Hom te vertrou. Hy is liefde: “Maar God is ryk in barm-hartigheid en het ons innig lief” (Ef:2:4). Hy wil ons help en vir ons sorg. Die grootste bewys van God se liefde is die redding wat Hy vir ons in Christus gegee het: “Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortrednge, saam met Christus lewend gemaak.” Deur ons verhouding met Christus is ons God se kinders en Hy sorg vir ons soos ’n vader vir sy kinders sorg. “Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is” (Ps.103:13,14).

 “Here, vandag vertrou ek in U om vir my te sorg.”

Ma 14 Julie: Die Beter Pad

Lees: Jesaja 30: 19 – 26

“Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou `n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’” (21)

Die Gospel Herald vertel van ’n buitengewoon aantreklike en bekwame jongmei­sie, inwoner van een van die Sendinginstituut se weeshuise, in Indië. Sy het op ’n waardige jongman verlief geraak en hul­­le sou, met die Instituut se goedkeuring, trou. Kort voor die huwelik begin sere aan haar hande ver­skyn. Dit is vasgestel sy is melaats. Die troue is afgestel en sy is na ’n melaatse gestig oorgeplaas. Mooi aangetrek gaan sy die dag na die melaatse gestig toe. Saam met haar broer stap sy die ver­skrik­like plek in. Al die vroue om haar is vuil en verwaarloos, hulle gesigte droewig en vol wanhoop. Sy gryp haar broer vas en gaan droewig aan die huil. “Moet ek soos hulle word?” snik sy. So wanhopig was sy dat sy dopgehou moes word dat sy nie dalk in die diep waterput sou spring nie. Die sen­delinge het saam met haar gevoel, diep met haar gesimpatiseer. Een van hulle het vir haar ge-sê: “Wil jy nie vir die arme vroue ’n hulp wees nie.?” ’n Straaltjie lig het vir haar deurgebreek. Sy het ’n skool begin en die vroue en jongmeisies in die gestig leer lees en skryf. Die sendelinge het vir haar ’n vouorrel gebring. Sy kon dit bespeel en die vroue leer sing. Stadigaan het ’n transformasie begin plaasvind. Die huise is skoon en netjies gemaak. Die vroue het hulself en hul klere begin was en hulle hare gekam. ’n Atmosfeer van hoop en vreugde het begin posvat. Dit het ’n plek van seën geword. Na sy ’n lang ruk daar was, het sy getuig dat sy met haar aankoms in die gestig in God begin twyfel het. Dan gaan sy voort om te sê: “Now I know God had a work for me to do, and if I had not become a leper, I never would have discovered my work. Every day I live, I thank Him for having sent me here, and had given me this work to do.”

Die pad waarlangs die Here ons soms neem om vir Hom nuttig te wees, kan ’n steil en moeilike pad wees. So het Paulus en Silas dit ervaar toe hulle die evangelie in Filippi se tronk moes indra. Hulle is aangekla, geslaan en met hulle voete in ’n blok opgesluit. Baie groot seën en redding het hieruit voortgevloei (Hand.16). Ons is veilig as ons ons aan God se wil onderwerp. Hy weet hoe om ons langs die regte pad te lei om te kom waar Hy ons wil hê en gebruik. In sy swaarkry, was dit gedurig Dawid se gerustellende wete: “Maar ek vertrou op U, want ek weet U is my God. U het beheer oor my omstandighede(Ps.31:15,16)

“Here, vandag luister ek om u stem te hoor.”

Vry 11 Julie: Die Onsigbare Fontein

Skrifdeel: Johannes 7: 37 – 39

“Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” (38)
  
 ’n Man het ’n pragtige plaas geërf. Daar was groot moontlikhede vir ontwikkeling, maar daar was nie water nie. Die lieflike, vrugbare grond moes onbewerk bly lê. Een aand het die man bui­­te tussen die rante gestaan en oor sy pro­bleem gepeins. Dit was ‘n stil aand. Selfs die wind was stil. Hy verbeel hom hy hoor water loop. Dis nie moontlik nie, want daar is binne my­le nie water nie. Tog hoor hy weer duidelik die ruising van ’n waterstroom. Vir ’n paar aan­de daarna het hy op dieselfde plek gaan staan en luister. As dit baie stil was, het hy die water ge­hoor. Hy het die hulp van ’n geoloog inge­roep. Opmetings is gemaak, grondformasies ge­toets en ’n boorgat gesink. ’n Geweldige on­der­aardse fontein is blootgelê. Binne ’n kort tydjie is die waardelose plaas omskep in ’n paradys.

Jesus beloof in Johannes 4:13,14 vir die Sa­ma­ri­taanse vrou ’n fontein in die hart: “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die wa­ter wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” Hierdie belofte van Jesus van ’n fon­tein in die hart is vervul met die koms van die Heilige Gees op Pinksterdag. Hy woon in die hart van die gelowige en gee in daardie hart, ’n volheid van geestelike lewe wat uitvloei ook na ander toe.

Elke kind van die Here verlang na ’n oorvloedige lewe wat sy Christenwees vir homself en vir ander ’n seën maak. Die onsigbare fontein is gegee. Wie stil genoeg word om die ruisende stroom in God se beloftes te hoor, vind die fontein. Die soekende, luis­terende hart sal die oorvloedige lewe vind.

 “Here, vandag verlang ek na die volheid van die Heilige Gees.”

Do 10 Julie: Die Sagte Juk

Lees Matteus 11: 25 – 30

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle…leer van My…Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (28-30)

 Die superintendente van `n sendingskool, vertel eerw. Mark Guy Pearse, het bogenoemde teks, en ver­al die woorde: “My juk is sag”, vir `n klas Son­dag­skoolkinders ge­lees. Sy draai na die klas toe en vra: “Wie kan my vertel wat `n juk is?” Vinnig gaan `n paar hande op. Die een antwoord: “Dit is iets wat om die nekke van osse gesit word.” Toe vra sy: “Wat beteken, God se juk, as die Bybel sê: My juk is sag?” `n Rukkie is daar stilte. `n Vierjaaroud dog­tertjie se hand gaan op. “Ja?” vra die superin­tendente. Die dogtertjie antwoord: “Dan sit God sy arm om ons nekke.” Eerw. Pearce merk op: “What could be more comforting than that?”

Die dogtertjie het `n goeie antwoord gegee. Jesus het gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos `n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie” (Luk.18:16,17). En nou is dit treffend dat die on­mid­delike gebeurtenis na hierdie woorde van Jesus in verse 16 en 17, van vers 18 af en verder,  die voorval van die ryk jongman is, wat van Jesus af weggedraai het omdat hy geoordeel het Jesus se eise vir sy koninkryk is te moeilik. Jesus vra nede­­rige vertrouende harte vir sy inwoning. In só `n kin­derlike hart wek die Heilige Gees geloof in die Here Jesus Christus en die vestiging van God se koninkryk. 

"Here, vandag kom ek vertrouend na U toe"

Wo 9 Julie: 'n Boekwurm

Lees Romeine 10: 8 – 21 Ou Vertaling

“Die geloof is dus uit die gehoor en die gehoor is deur die woord van God” (17).

Die bekende prediker en skrywer, C. H. Spurgeon, was eenkeer in Skotland. In Our Boys and Girls word vertel hoe hy daar afge­kom het op `n ou en verslete Bybel. Vol be­wondering hou hy die ou Bybel eerbiedig in sy hande. Terwyl hy dit van kant tot kant bekyk, merk hy `n klein gaatjie in die voorste omslag. Hy kyk goed. `n Wurmpie het die Bybel van die voorste omslag, dwarsdeur die bybelblaaie, tot by die agterste omslag, deur­ge­vreet. Spurgeon roep uit: “From Genesis to Revelation it has gone clear through the Bibel. Lord, make me a book worm like that!”

Dit was `n krag in Spurgeon se prediking; sy wye kennis van die Woord van God. Dit is ook die beste manier van Bybelstudie: Lees die Bybel van kant tot kant deur. Ekself probeer elke dag 4 hoofstukke lees. Ek lees een hoofstuk uit die vier evangelies, een na die ander, dan `n hoofstuk uit `n sendbrief, dan een van die Psalms en profetiese skrifte, en dan `n geskiedenishoofstuk uit die eerste boeke van die Ou Testament. Die Heilige Gees gebruik die Woord van God om ons geloof te bou en ons God se stem te laat hoor. Uit die lees van die Skrifte word Jesus ook vir ons werklikheid. En dit is treffend hoe dikwels die tema uit die verskillende dele van die Bybel by mekaar aanpas. Dit is waarlik God se Woord aan ons. “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (Heb.4:12).

“Here, vandag lees ek u Woord en ek luister.”

Di 8 Julie: Die Helper

Lees Psalm 142

“Ek het alle moed verloor…Ek soek hulp…Ek roep na U om hulp, Here, ….luister tog na my hulpgeroep, want ek is magteloos” (4,5,6,7).

Die bekende prediker, Henry Moorehouse, het hom eens in sy werk in beproewende om­stan­dighede bevind. Bedruk kom hy eendag met `n pakkie vir sy vrou by die huis. Sy ver­lamde dogtertjie sit op haar stoeltjie op die stoep in die sonskyn. Hy gaan na haar toe en soengroet haar. “Waar is Mamma?” vra hy. “Bo in die slaapkamer,” antwoord sy. “Wel, ek het `n pakkie vir haar.” “Laat ek dit vir Mamma neem,” bied sy opgewek aan. “Ag, Minnie, lief­ling, hoe kan jy vir Mamma die pakkie gaan gee? Jy kan jouself nie eers dra nie,” sug hy bedroef. Met `n glimlag op die gesig antwoord sy, “O, nee, Pappa, ek kan. Pappa gee vir my die pakkie en dan dra Pappa my op na Mam-­ ma toe en dan gee ek dit vir haar.” Hy gee haar die pakkie en tel haar liefderik in sy arms op. Op daardie oomblik skyn die Heilige Gees die Here se woord in sy hart in. Ek haal Chistian Herald aan wat die storie vertel: “This was just his position in the work in which he was engaged. He was carrying his burden, but was not God carrying him?” 

Oorvloedig nooi God ons in sy woord om ons las na Hom toe te bring. Ons sukkel om dit met ons krag te dra, maar ons Hemelse Vader wil ons, met ons las, in sy arms dra. “Soos `n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is” (Ps.103:13,14).
                                 
         “Here, vandag gee ek myself en my las oor in u hande.”

Ma 7 Jul: Die Rede vir Sy Offer

Lees Romeine 5:1-6

“Ons moenie aan onsself dink nie: ons moet aan ons naaste dink…wat vir…hom goed is (2).


`n Boer in ­North Carolina ry op `n dag dorp toe met sy twee hooggeteelde perde voor sy duur en netjiese waentjie, skryf L. G. Broughton. Hy hou voor die winkel stil, en wou net by die winkel instap, toe die perde losruk van skrik vir `n ongewone geraas. Hy spring dadelik voor hulle in en gryp die teuels. “Maddened by strange noises, the horses dashed down the street, the man still clinging to the bridles. On they rushed, until the horses, wild with frenzy, rose on their haunches, and leaping upon the man, all came with a crash to the earth”, beskryf Broughton die gebeure. Mense storm uit en red die man se bloeiende liggaam onder die warboel uit. Dit lyk of hy gaan sterf. `n Vriend buig oor hom en vra: “Hoekom het jy jou lewe gewaag en die perde nie hulle gang met die waentjie laat gaan nie?” “Gaan kyk in die waentjie,” fluis­ter die man swakkies. Die vriend draai om en gaan kyk in die waentjie. Daar, op sagte strooi, lê die man se seuntjie en slaap. In stilte verstaan almal skielik die man se wan­ho­pige poging om die perde tot bedaring te bring en die waentjie te behou.

In Jesus het God Homself opgeoffer om ons te red, omdat Hy ons liefgehad het. So verduidelik Jesus dit aan sy dissipels: “…want die Vader self het julle lief…Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld” (Joh.16:27,28). En die vers wat ons almal so goed ken met die verstand, maar dalk nog nie heeltemaal met die hart verstaan nie, beskryf die groot liefde van God vir ons: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). Ons vertroue in die groot offer wat Jesus vir ons redding gebring het, maak ons kinders van God en so, soos die ver­haal van die Verlore Seun dit aan ons verstand bring, word God se hart verbly en bevredig.

“Here, vandag wil ek u kind wees in die groot red­ding wat Jesus bewerk het.”

Vry 4 Jul: 'n Brugbouer

Lees Romeine 5:1-6

“Ons moenie aan onsself dink nie: ons moet aan ons naaste dink…wat vir…hom goed is (2).

Die dorpsraad van ’n plattelandse dorp, het ’n dik waterpyp oor ’n diep en lang sloot gelê, om vir ‘n woonbuurt meer water te voorsien. Nie lank nie of die woonbuurt se inwoners, en veral die kinders, het, tot ergernis van die raadslede, oor die waterpyp kortpad dorp toe en skool toe begin loop. Die lopery oor die pyp het nie alleen skade vir die pyp nie, maar ook gevaar vir die gebruikers ingehou. ’n Raads­­vergadering is belê om ’n oplossing te kry. Een raads­lid het voor­gestel dat doringdraad om die pyp ge­draai word. “Lemmetjiesdraad,” voeg ’n an­der raadslid by. “Lang, skerp pen­ne moet onder in die sloot ingeplant word. Dit sal die mense afskrik,” was ’n ander voorstel.  Na al die afskrikplanne oor­weeg is, sê ’n raads­lid wat heeltyd stil na alles ge­­luis­­ter het: “Ons is verantwoordelik vir ons dorps­men­­­se se veiligheid, maar ook vir hulle gerief. Die misbruik van ons waterpyp het getoon ’n be­hoefte aan so ’n kortpad bestaan. Ek stel voor ons ver­sterk die pyp en bou ’n brug oor die pyp, met reëlings aan weerskante vir veilig­heid.” Sy voorstel word eenparig aanvaar.

Ons is dikwels in die posisie om vir iemand anders ’n hek op te rig, óf om vir hom ’n brug te bou. Psalm 15 beskryf ’n man in ’n geëerde posisie: “Wie mag op u heilge berg vertoef? Hy wat …doen wat reg is…nie kwaadpraat nie, sy medemens nie kwaad aandoen nie.” God het ’n groot behae in ’n mens wat aan ’n ander goed doen. Die hekoprigter is gewoonlik ie­mand wat in eie hart ongelukkig en onbevredig is en dan sy eie ongelukkigheid ten kwade laat oor­vloei na ’n ander toe, en dan nog ongelukki-ger word. Die brugbouer is iemand wat in eie hart gelukkig en tevrede is en sy ruim­har­tig­heid ten goede laat oorvloei na ’n ander toe, en dan in sy eie hart nog gelukkiger word. “Moenie ’n weldaad weerhou…terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie” (Spr.3:27). “Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen…”(Gal.6:10).
  
“Here, vandag wil ek vir iemand ’n brug bou.

Do 3 Jul: 'n Lied se Krag

Lees Handelinge 16: 22 – 34

“Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot God te sing…(25)
      
‘n Luidrugtige, besope man, gevolg deur sy vrou en seuntjie, strompel ‘n stasie in Skotland binne en klim steierende op die trein, vertel die American Holiness Journal. In die trein val die dronke op ‘n sitplek neer waar hy met sy luidrugtige pratery en liedjies voortgaan. Sy vrou en seuntjie gaan verleë op ‘n ander plek sit. Oorkant hom sit ‘n werker van ‘n alkoho­liese matigheidsvereniging. Hy weet uit er­va­ring dit sal geen doel dien om nou met die man te praat nie. Hy is self ‘n toegewyde Christen, wat in sy werk baie steun op Christus se verlossingskrag. Op die ingewing van die oomblik, en tot verbasing van sommige ander passasiers, begin hy een van die bekende, ou herlewingsliedere sing. Sy ryk baritonstem dra bo die trein se gerammel uit. Dit word stil in die treinwa. Selfs die ou dronkie raak stiller en nie lank nie of die ou sit luid snorkend en slaap. Na ‘n ruk word hy meer sober wakker. Toe die trein later wil stilhou en die matigheidsman gereedmaak om af te klim, hou die man wat so dronk was sy hand uit, groet hom met die hand en bedank hom vir die lied wat hy gesing het. Vyftien jaar later is hierdie matigheidsman die spreker by ‘n matigheidskongres. ‘n Netjies­ge­klede man en sy vrou kom groet hom. Die man vra of die matigheidswerker hom onthou. Hy skud sy kop. Die man sê: “Omtrent vyftien jaar gelede was ek dronk op die trein. Jy het my aan die slaap gesing. Ek kon nie wegkom van daardie liedere nie en na ‘n rukkie het ek die Here Jesus as my Verlosser vertrou. My seuntjie, Joseph, wat by was, is nou in ‘n teologiese skool. Hy gaan predikant word.” In latere jare was hierdie Joseph, dan ook die dr. Joseph Parker, wat ‘n geseënde en invloedryke bediening in een van Londen se grootste kerke uitgeoefen het.
     
Die beriggie in die Journal sê nie watter lied die man gesing het nie. Dit kon dalk gewees het: “Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil, is daar lewe vir jou en vir my.” Dit kon ook gewees het: “Daar’s ‘n dierbare kruis, waar my Heiland bewys, die liefde wat Hy vir my het; Dáár is alles voldaan en die vyand verslaan, dáár word ek van sonde gered.” Of anders was dit: “Net soos ek is, geen hulp naby; alleen u bloed gestort vir my; Getrek tot u deurboorde sy – O Lam van God, ek kom !”
      Watter lied dit ookal was; vir die siek, mag­telose, vernederde, skuldige man het die lied ‘n reddingsboodskap gebring.

 “Here, vandag luister ek na u lied van redding.”