Sy geloof in God verloor

Lees Hebreërs 10: 19 – 25

“Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (23)

 ’n Seuntjie het pas begin Sondagskool toe gaan . Hy was baie trots op die prentkaart, met die woorde: “Julle moet Geloof in God hê”, wat hy by die Sondagskool gekry het. Op pad huis toe glip dié kosbare kaart uit sy hand uit en waai by die bus se oop venster uit.

Ontsteld gil hy: “Ek het my Geloof in God verloor!” Die goeie busbe­stuurder stop dadelik die bus. Een van die gro­ter seuns spring uit en gaan haal die kaart. Met ’n groot glim­lag neem die seuntjie weer sy Geloof in God en hou dit styf vas.

Hieroor het ’n persoon ’n waar­devolle opmer­king gemaak: “Ie­mand het dadelik geskreeu toe hy sy Geloof in God verloor het, ’n ander een het dadelik die bus gestop, en ’n derde een het dade­lik opge­tree om vir die eerste een sy Geloof in God te­rug te laat kry.”

So moedig Paulus ons ook aan om mekaar te on­der­steun: “…as iemand in die een of ander son­de val, moet julle…so iemand in ’n gees van sag­moedigheid reghelp…Dra me­kaar se laste…” (Gal.1:1,2). Die vinnig bewegende lewe, met allerlei dwarswinde, wat by allerlei oop vensters in waai, bedreig ons geloof in God. Het 2017 dalk al vir iemand se verhouding met God, skade gebring?  Vra hulp, gee aan­dag, en help mekaar. Jesus het sy dissipels gewaarsku: “Wees op julle hoede dat julle gees nie…deur die sorge van die lewe afgestomp word nie…” (Luk.21:34).

 "Here, vandag wil ek styf aan U vashou, maar ook uit­kyk vir iemand wat geloofshulp nodig het.”

Soek na God

Lees Psalm 146

“Dit gaan goed…met die mens wie se hoop gevestig is op die die Here, sy God….Hy onder­­steun dié wat bedruk is…en help weeskinders en weduwees…” (5,8,9).

In Die Juniorbode, April 2002, verskyn ‘n mooi, ou verhaal soos Audrey Logan dit in Signs of the Times geskryf het en wat ons Skrifdeel illustreer.

Op die Londenbrug in Engeland staan ’n man ’n dog­tertjie en dophou. Tussen die honderde men­­­­se, ­hard­­loop sy rond. Kyk stip na hulle gesigte en hardloop dan net weer na ander toe, met dieselfde soe­­­kende blik na hulle gesigte. Na ’n rukkie loop hy na haar toe en vra: “Kan ek help, Meisie – na wie soek jy?” “Ek soek na God,” ant­woord sy naby tra­ne. “Soek na God!” herhaal  hy uit die veld ge­slaan. “Wat be­doel jy?” “My pa is lankal dood, en nou is my ma ook dood. Net voor sy dood is, het sy ge­sê ek moet God soek. Hy sal na my kyk. Ek het nê­­rens om te bly nie, en ek is honger – daarom soek ek nou na God.” Die man hurk voor haar, slaan sy arms om haar en bewoë sê hy: “En jy het hom nou gevind.” Hy wou nie maak of hy God is nie, maar hy wou hê sy moet weet: God het haar op iemand laat afkom wat vir haar gaan sorg. Hy neem haar handjie en vat haar na sy huis toe, waar hy haar versorg. Maar hy het ver­der gegaan. Hy was ryk ge­­noeg om dadelik ver­pleeg­sters en an­­der per­so­neel in diens te neem en om hui­se te koop, waar hy begin het om sy weeshuise op te rig, waar 1000e kin­ders versorg sou word. Hierdie man was die later be­ken­de dr. Thomas Bar­nado, wat die Huis vir Kinders bedryf het.

God gebruik mense om Hom aan ander mense, wat Hom nodig het, bekend te maak en vir hulle te doen, wat Hy graag vir hulle wil doen. Soms is ons dié wat Hom nodig het, en soms is ons weer dié wat Hy wil gebruik. “Want Ék weet watter ge­dag­tes Ek aangaande julle koester, spreek die He­re, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om ju­lle ’n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aan­roep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart” (Jer.29:11-13 Ou.Vert.). “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is… (Jes.55:6 Ou Vert.). “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6 Ou Vert.) ”…en Ek sal Hom wat na My toe kom, nooit  uitwerp nie” (Joh.6:37)

“Here, vandag soek ek U.”

Op sand gebou

Lees Lukas 6: 46 – 49

“En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daar­volgens….handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het” (49).

In sy boek, Bones of Contention, vertel prof. Mar­­vin Lubenow die treurige verhaal van sir Arthur Keith, een van die grootste anatomie (liggaam­kun­de) wetenskaplikes van die twintigste eeu. In sy outo­biografie vertel Keith, hy het as jong­man evan­ge­lie­se dienste in Edinburgh en Aberdeen by­ge­woon. Hy het gesien hoe jongmense op die krag­tige pre­di­king reageer, deur Chris­tus as hulle Verlosser en Vriend te kies. Hy het dik­wels self op die randjie van bekering gekom, maar het dit dan weerstaan, want hy het die evangelie van die Here Jesus Christus verwerp. Hy het die Ge­ne­sisbeskrywing van die skepping as ’n mite be­­­skou en die Bybel was vir hom ’n mensgeskrewe boek. Sir Arthur  is as wetenskap­­like geboei, deur die ontdekking in 1908 van die sogenaamde Eoanthro­pus dawsoni, beter bekend as die Pilt­down Man. Sowat veertig myl buite Londen, by Pilt­­down, is die beendere en dele van die skedel van ’n mens ontdek. Die Geo­logical Society of Lon­don het hierdie fonds aange­kondig as “the earliest known Englishman”. Dit is deur we­ten­skaplikes wê­reldwyd bestempel as die  groot ont­dek­king van een van ons vroegste voor­vaders. ’n Mas­sa lite­ra­tuur het oor Piltdown Man verskyn. Meer as 500 doktorale dissertasies is oor hom ge­skryf. Vir Sir Arthur Keith was dit die be­krag­tiging van sy evo­­lusiebeskouings, die mis­sing link, en hy het meer as enigiemand anders oor dié ontdekking ge­skryf. Sy beroemde boek, The Anti­quity of Man, sen­­treer om Piltdown. Die grootste deel van sy le­we het hy gewy aan die studie en verkondiging van hierdie ontdekking.

Die Piltdown-fossiele is tussen 1908 en 1915 ont­dek. Eers in 1953, ont­­bloot die British Mu­seum die hele Piltdown-eskapade as bedrog. Die kake­been was nie veel ouer as die jaar waarin dit ge­vind is nie. Die bene was met ys­ter­soute behandel om dit verouderd te laat lyk. Krap­mer­ke is in die tande ontdek wat daarop dui, dit is met ‘n vyl bewerk. Sir Arthur Keith was 86 jaar oud toe sy vrien­de hom tuis besoek het, om vir hom die nuus te bring. Die fosiel waarin hy 40 jaar lank geglo en waaraan hy sy lewe gewy het, was ’n kullery. Hieroor skryf prof. Mar­ven Lubenow: “A great scho­lar had rejected the witness of both God’s na­tural Creation and the Lord Jesus, whose resu­r­rection validated everything He said and did, only to put a lifetime of misplaced faith in what proved to be a phony fossil.” Hy het sy lewe op sand gebou!

“Here, vandag wil ek seker maak, van die fondasie waarop my kosbare lewe rus.”

Op rots gebou

Lees Lukas 6: 46 – 49

“Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en doen wat Ek sê…is soos ’n man wat… die fondament op die rotsbodem gelê het…” (47,48).

Frances R. Havergal is bekend vir die gees­telike lie­de­­re wat sy geskryf het. In 1878 het sy bv. die vertaalde lied ge­skryf: Neem my lewe en laat dit, Heer, U gewy wees meer en meer. Rig my wil, gevoel en daad altyd na u wyse raad. In 1879 het sy, onge­steld­hede ten spyt, ver­skil­lende sangtoere onder­neem en nog liede­re geskryf. Sy het dwarsoor Engeland skole besoek en aan elke kind, wat Jesaja 53 uit die kop geleer het, ’n bybel gegee. Sy het betrokke geraak by ’n veldtog teen drankmisbruik. As deel van die veldtog, het sy dit haar doel ge­maak om met elke jongmens in haar dorp, per­soonlik oor hulle ver­hou­ding met Christus en die ge­vaar van drankgebruik te praat. Op 21 Mei het swaar wolke oor die En­gelse­­-kanaal gedryf en dit het koud geword. On­derweg na ’n same­koms met ’n aantal seuns, het sy nat geword en halfver­kluim by die huis aan­gekom. Sy het siek geword. Toe sy  koor­sig word is die dokter ontbied. Toe sy sieker word, het almal besef, Frances Havergal is op 42-jarige ouder­dom sterwende. Op Pinkstersondag het haar dokter haar met die hand gegroet en gesê: “Tot­siens, ek sal jou nie weer sien nie.” “Dink jy ek gaan sterf?” vra sy. Hy ant­woord: “Ja.” “Van­dag, nog?” “Heel­waarskynlik,” antwoord hy gedemp. “Won­der­lik!” ant­woord sy. “Dit klink te goed om waar te wees.” Toe hy weg is, het sy na haar fa­milie gekyk en ge­sê: “Weet julle hoe wonderlik dit is, om so na­by die poort van die hemel te wees?” Sy het haar broer gevra om vir haar ’n paar liedere te sing. Na ’n rukkie fluister sy met toe oë: “Kom, Here Jesus, kom haal my”. Haar toestand het vinnig agteruit ge­gaan en sy het toeoë gelê. Ek haal nou Robert J. Morgan aan wat die gebeure beskryf:

“She dozed for a few minutes, then awakened, saying, ‘I am lost in amazement.’  She began singing faintly, but clearly:

Jesus, I will trust Thee, Trust Thee with my soul:

Guilty, lost and helpless, Thou hast made me whole:

There is none in heaven, Or on earth, like Thee;

Thou hast died for sinners, Therefore, Lord for me.

Then, as her sister later wrote, she looked up steadfastly, as if she saw the Lord. Surely nothing less heavenly could have re­flected such a glorious radiance upon her face. For ten minutes we watched that almost visible meeting with her King, and her countenance was so glad, as if she were already talk­ing to Him! Then she tried to sing, but after one sweet, high note, “He-,“ her voice failed and her brother commended her soul into the Redeemer’s hands.”

“Geseënd is dié wat hulle klere was sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan” (Op.22:14).

“Here,  vandag vestig ek my hoop en hart, op u hemelse koninkryk deur my vertroue in Christus Jesus.”

Onbekende Rykdom

Lees Lukas 5: 1 – 11

“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” En toe hulle dit doen, het hulle so ’n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur” (5,6)

In Wes-Texas is daar ’n beroemde olieveld, be­kend as The Yates Pool. Gedurende die depres­sie­jare was die olieveld ’n ene Yates se skaap­plaas. Yates het onder die depressiedruk so swak ge­vaar met sy boerdery, hy kon nie meer die rente op sy verband betaal nie. Hy sou bin­­ne afsienbare tyd sy grond verloor. Op ’n dag daag ’n oliemaatskappy se seismografiese span by sy huis op. Hulle vertel hom, daar is moontlik ’n oliebron op sy grond. Hulle vra toe­stemming om vir olie te boor. Hy gee sy samewer­king. Op 1 115 voet (370 me­ter) diepte boor hul­le ’n oliebron raak, wat 80 000 va­te olie per dag lewer. Aangesien die grond nog aan Yates be­hoort het, behoort die mineraalregte toe ook nog aan hom. Hy leef op ’n staatstoelaag en wis nie hy is ’n multimiljoenêr nie! Die skrywer van die verhaal in “Pa­ra­bles”. stel dit so: “A multimil­lionaire living in po­ver­ty: What was the problem? He did not know the oil was there. He owned it, but he did not possess it. That is like many Christians today who don’t realize how rich they are in Christ.”

Dit is ’n groot ontdekking in jou hart, om tot die in­sig van jou rykdom in Christus te kom. Selfs na die wonderlike visvangs en baie ander openbaringe van sy krag voor Petrus se oë, bv. die voeding van die skares, genesings, die opwekking van Lasarus, het Pe­trus in sy hart steeds blind gebly vir sy ryk­dom in Christus. Eers na Christus se kruisiging – want daardie dag nog het hy Jesus drie keer ver­loën: “Ek ken die man nie!” – en na die uit­storting van die Hei­li­ge Gees, gaan sy oë vir sy groot ryk­dom in Chris­tus oop. In sy eerste sendbrief skryf hy aan die gelowiges: “Nou het ons ’n lewende hoop op die on­ver­gank­li­ke, on­besmette en onver­welklike erfenis wat in die he­­mel ook vir julle in bewaring gehou word” (1 Pet.1:4). In ons omgang met God deur sy Woord en deur die wer­king van die Heilige Gees in ons hart, terwyl die Here Je­sus in ons oë al groter word, leer ons ons rykdom ken.

“Here, vandag wil ek leer hoe ryk ek in U is.”

'n Ja - gesig

Lees 1 Korintiërs 9: 6 – 15

“Elkeen moet gee…nie met teësin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief” (7)

In sy boek, Grace Is Not a Blue-eyed Blond, ver­tel R. Lofton Hudson van ’n dag toe pres. Tho­mas Jef­­fer­son met ’n groep van sy ruiters deur ’n vol ri­vier gestuit is. Elke ruiter moes die vol rivier met sy perd aandurf en moes sy uiterste rui­ter­ver­nuf uit­haal, om deur die ri­vier te kom. ’n Vreemde voet­gang­er, wat ook wou deurgaan, het alles aan­skou. Na­dat ’n aantal van die manne die ri­vier vei­lig deur­kruis het, vra hy vir pres. Jefferson of hy agter op sy perd kan sit, om ook deur die ri­­­vier te kom. Die president willig dadelik in en voor die ver­stom­de oë van sy manne, laat hy die man agter op sy perd sit en bring hom deur die rivier. Kort­gedraad deur hulle gesukkel en die gevaar wat hulle moes trot­seer om deur die rivier te kom, en omdat hulle die vreemdeling opgemerk het en ver­moed het watter guns hy van hulle gaan vra, takel hulle hom toe hy van die president se perd afgly. “Hoekom vra jy van alle mense vir die president om jou deur die rivier te ry?” wil hulle woedend weet. Geskok antwoord die man: “Die president! Ek het nie ge­weet dit is die president nie. Al wat ek weet, op julle almal se gesigte was ‘nee’ geskryf gestaan. Op sy gesig was ‘n ‘ja’, daarom het ek hom gevra.”

As daar in die hart ’n ja-gesindheid heers, weer­­spieël die gesig dit. Mense in nood het teen­oor so ie­mand vrymoedigheid om hulp te vra. Dit behoort die Christen-gesindheid te wees. “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertieren­heid…”(Kol.3:12–Ou Vert.).

“Here, vandag soek ek dat U deur u Gees my hart so met liefde sal vul, dat ’n goeie en hulpvaardige gesindheid op my gesig geskryf sal staan.”

'n Beter alternatief

Lees Efesiërs 3: 14 – 21

“Aan Hom wat deur sy krag…magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink…” (12).


’n Vrou skryf in Gospel Witness, sy het eens in ’n dorp met min winkelgeriewe gewoon. Sy was aan­­­ge­wese op posbestellingdienste. Eendag be­stel sy, na aan­leiding van ’n advertensie, ’n artikel van ’n groot ste­de­­li­ke winkel af. Sy stuur die geld saam. Hul­le stuur vir haar ’n bestelvorm terug,  met dié woor­de on­­­der­aan ge­skryf: “As ons nie die artikel wat u bestel het in voorraad het nie, kan ons ’n alternatief voor­sien?” Bietjie onseker skryf onderaan: “Ja”. Hulle hét toe vir haar die ander artikel gestuur. Beter en tweemaal die waarde as haar eerste keuse. Dit was die groot winkel se be­leid. Die artikel wat hulle nie kan voorsien nie, vervang hulle met een van beter gehalte. Daarna het die vrou elke keer met groot hoofletters, onder aan die bestelvorm geskryf: “J-A”.

Dit moet ook ons gesindheid in ons gebeds­le­we wees: “Here, dít is wat ek vra, maar laat u wil geskied.” God gee op die beste tyd vir ons sy bes­te gawe. Toe die twee susters, Marta en Maria, in Johannes 11 en 12 vir Jesus laat weet het, hulle broer, Lasarus, is siek, het Hy nie dadelik na hulle toe gegaan nie. Hulle het teleur­ge­­steld gedink, Hy het te laat gekom. Maria het vir Hom gesê: “Here, as U hier was sou my broer nie gesterwe het nie.” En Marta het Hom gekeer toe Hy die graf wou laat oopmaak: “Here, hy ruik al, want dit is al die vier­de dag.” Jesus se antwoord was: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van God sien nie?” Die opwekking van Lasarus, op Jesus se tyd, was meer geseënds as net sy gene­sing, op die susters se tyd. God se alternatief vir ons is beter.

 “Here, vandag laat ek my saak in U hande.”

'n Begrafnis

Lees Romeine 6: 1 – 14

“Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie:” (6).


Walter B. Knight vertel in sy boek van die nag toe die slawe in 1838, in Ja­­maika bevry is. Jamaika is die mooi­ste van die Suid­see-eilande wat deur Columbus ontdek is. For­­tuinsoekers uit Europese lande het op die ryk ei­land toegesak. Onder Spaanse bewind het die bevolking in slawerny verval. Daardie nag in 1838 het die slawe ’n doodskis van maho­niehout ge­maak en ’n graf gegrawe. Wal­ter Knight beskryf dit so: Into that coffin the liberated slaves threw the re­min­ders of their former life of sla­very – whips, tor­ture irons, branding irons, coarse frocks and shirts, large hats, fragments of a treadmill and handcuffs. Daar­na is die kis se dek­sel vasge­skroef. Toe die middernag klok slaan, laat hul­le die kis in die graf afsak. Hulle gooi die graf toe. ’n Danklied word ge­sing. Hulle slawelewe was verby. Hulle was vry.

In Paulus se tyd was slawerny nog ’n bekende prak­tyk. Hy pas die bevryding uit sla­wer­ny toe, as beeld van die redding uit sonde. ’n Nuwe, bevryde lewe, begin in Christus. So moet ons met die ou lewe van sonde klaar wees as ons, deur geloof in Christus en deur die Heilige Gees se weder­gebore, deur God se ganade, die nuwe lewe begin. “As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe… Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader” (Rom.8:13-15). Weer skryf Paulus: “Julle het met die ou sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper” (Kol.3:9-11). Pe­trus skryf onomwonde, oor die ou lewe wat verby moet wees en die nuwe lewe wat begin het: “Julle is immers wedergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewi­ge woord van God….Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaad­pratery… “ (1 Pet.1:22-2 Pet.2:3).

“Here, vandag vra ek die werking van u Heilige Gees in my hart om die nuwe lewe in Christus in my oorwinnend oor die ou lewe van sonde te maak..

Lewe uit 'n laai

Lees Psalm 40:1-6

“U het my ’n nuwe lied in die mond gelê” (4)

Op ’n Septemberdag in 1963, is June Mullins, vir die soveelste keer opgeneem in ’n psigiatriese inrigting. Ag­ter haar was 10 jaar van magtelose stryd teen ver­do­wingsmiddels. Elke moontlike vorm van rehabilitasie wat die samelewing kon bied, het misluk.

Nadat die staaldeur agter haar toegesluit is, kyk June in die kamer rond. Daar is ’n klein vensterjie, met ’n staal skerm daarvoor, ‘n bed en ’n laaikas met vier laaie. En ‘n swart boek, wat sy dadelik as die Bybel herken, op die kas. “Ag, nee, nie dít nie! Wat doen ek daarmee?” Sy kan dit nie uitgooi nie. Die deur en die venster is gesluit. Die laaikas! Sy trek die onderste laai oop en gooi die boek in die laai. Sy stof haar hande af asof sy van ‘n las ontslae is. June gaan op haar bed lê. Kort-kort betrap sy haarself dat sy na daardie vierde laai lê en kyk. Dit is asof die laai twee oë het wat haar aanstaar. Teen die vierde dag kan sy dit nie meer verduur nie. Sy dink: “Miskien moet ek dit uithaal en bietjie daarin lees. Dan sal my siel miskien rus kry.”

June voel ’n benoudheid in haar toe sy oorstap na die laaikas toe en die Bybel uithaal. Dit is soos ’n lewende ding in haar hande en sy weet nie wat om daarmee te doen nie. Sy erg haar vir haarself oor haar gewaarwor­ding. Waar moet sy lees? Vir baie, baie jare het sy nooit die Bybel gelees nie. Vir haar is die Bybel net ’n kerk­boek met ’n klomp hoofstukke en klompe on­verstaanbare en onsamehangende verse.

Sy gaan sit op haar bed en maak die Bybel half in die middel oop. Waar sy oopmaak, begin sy lees. Sy het by Psalm 40 oopgemaak. (Dit is 1963 en daar­om die ou vertaling). Dit is haar eie lewens­verhaal wat sy begin lees: ”Ek het die Here lank verwag en Hy het Hom na my toe neegebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ’n rots gestel; Hy het my gange vasge­maak.” Sy hou aan lees. Hoofstuk na hoofstuk. Ses dae later word sy uit die inrigting ontslaan. Genoeg gestabiliseer om huis toe te gaan.

Sy het uitgegaan, met die Woord van God en die belofte van Psalm 40 by haar. ’n Week later het sy die Here Jesus Christus as haar Verlosser aange­neem. Nege jaar later getuig sy: “Komende Sep­tember, sal dit nege jaar wees vandat ek daardie middag God se belofte van redding gelees het. Wat in my begin is, word steed sterker en beter.



“Here, vandag dank ek U vir die geopende deur van U redding en U genade, wat my oë op daardie deur, vestig.”

Hy soek en red

Lees Handelinge 26: 9 – 18

“Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jou net seer deur jou te verset” (4)

Die 1994 uitgawe van Gideon Testimonies from Inter­national Extension Countries vertel, on­der die titel, From Smoking the Word to Speak­ing the Word, die verhaal van Jacob Koshy. Hy het in Singapore opgegroei met net een ver­terende ambisie: om al die geld wat hy kan maak, en besittings wat hy kan vergader, in die hande te kry. Dit het hom in die dwelm- en dobbelwêreld ingelok. Hy het die lei­er, die lord, van ’n inter­na­sio­nale smok­­kelnet­werk geword. Hy het skatryk geword, maar in 1980 is hy ge­ar­res­teer en in ’n dwelmre­ha­bi­litasietronk in Sin­ga­pore op­ge­sluit. Hy was uitermate gefrus­treerd. Al sy drome, am­bi­sies en doelwitte het rond­om hom, in die be­knop­te tronksel, aan sker­we gelê. Hy was ’n strawwe ro­ker, maar si­ga­ret­te was in die tronk verbode. Hy het tabak in­ge­smok­kel en dit in die blaaie van ‘n Gi­deonbybel ge­rol om te rook. Ter­wyl hy eendag een van dié self­ge­maakte sigarette lê en rook raak hy aan die slaap. Hy word wak­ker en tussen sy vingers lê die uitgebrande flentertjie pa­pier. Met die be­we­ging van sy hand, val die stukkie van die By­bel­blad wat oor­gebly het, oop. Hy lees die woor­de wat daarop staan: “Saul, Saul waarom vervolg jy My?” Geraak deur die woorde vra hy ’n ander Bybel en lees die hele verhaal van Sau­lus se be­ke­ring. Dit kom in sy hart op: As God ie­mand soos Saulus kon help, kan God hóm ook help. Daar in sy sel kniel hy en vra dié Jesus, van wie hy nou gelees het, om ook in sy lewe in te kom en hom te verander. Hy begin huil en kan nie ophou nie. Dit is asof die trane oor sy ver­speelde lewe, die pyn in sy hart wegwas en hy weet God het hom ge­red. Hy het da­delik begin om sy on­dervinding met die ander gevange­nes te be­spreek. Sy veranderde le­­we, het tot ’n vroeër vry­la­ting gelei en hy het da­de­­lik by ‘n kerk betrokke ge­raak. Hy het ’n Chris­ten­­vrou ontmoet met wie hy getrou het en hy het sen­deling in die Verre-Ooste ge­word. Ver en wyd ver­tel hy: “Who would have believed that I could find the truth by smo­king the Word of God?”

Die mense het Jesus kwalik geneem, omdat Hy by die tollenaar Saggeus tuisgegaan het. Sy verweer was: “Die Seun van die mens het im­mers ge­kom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:10). God beheer die om­standighede waar­in sy Woord na iemand toe kom. Die Heilige Gees ge­­­bruik God se Woord, al is dit ’n enkele sin op ’n uit­­gebrande Bybelbladsy, om ’n sondaar se hart te laat ontwaak om na redding te verlang. “Julle is immers weergebore, nie uit ver­gank­like saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God” (1 Pet.2:23).

 “Here, vandag bid ek dat U my red.”

Hy laat my sien

Lees 2 Korintiërs 4: 1 – 6

“God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duis­ternis’, het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (6).

’n Man het weens sy besondere intellektuele ver­moë, ’n hoë geleerdheid bekom en ’n uitne­men­­de posisie in die samelewing bereik. Maar hy was blind – blind gebore. ’n Ewe talentvolle vrou het sy lewensmaat geword. Sy was vir hom ’n wa­re gees­genoot. Hulle pragtige huwelik is verryk met drie, ewe talentvolle, kinders. Hy het die be­proe­wing van sy blindheid opgeweeg teen die seëninge wat die Here hom gegee het en daar­­om was hy, ten spy­te van sy blindheid, ’n dank­bare mens. Hy het jaarliks ’n oogarts besoek om te sorg vir die ge­sondheid van sy blinde oë. So kom hy op ’n keer, onder die aandag van ’n beroemde oog­arts. Na die onder­soek sê dié dokter vir hom, sy blindheid is te wyte aan ’n op­pervlakkige oorsaak. ”As ek twintig jaar ge­le­de jou oë kon opereer, sou ek byna seker jou sig kon herstel. Nou kan ons pro­beer, maar ek kan jou nie be­loof jy sal kan sien nie en dit kan vir jou on­no­di­ge lyding veroorsaak.” ”Die lyding sal ek ver­duur,” roep die blinde man harts­togtelik uit, ”maar pro­beer tog net om my te laat sien!” Die operasie is ge­doen en dit was ’n won­derlike sukses. Ver­won­derd het die man na alles om hom gekyk. Sy vrou en kin­ders was by toe die verbande ver­wy­der is. Hy het na hulle gekyk asof hy nie genoeg kon kry om hulle te sien nie. Toe roep hy skielik uit: ”Hoe kon ek eerste na ander dinge kyk? Waar is die man wat my laat sien. Wys my my dokter. Ek wil hom graagste sien!”

Dit moet die hartstogte­li­ke taal van die verloste mens wees. “Ek wil Jesus sien! Ek wil Hom be­won­der!” Ons kan Hom nie fi­sies sien nie, maar die geestelike aan­skouing van Christus in sy Woord, deur werk van die Hei­li­ge Gees, maak Hom vir ons ‘n werklikheid, sodat ons na die belewing van sy teenwoordigheid ver­lang. ”Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle…deel aan die sa­lig­heid…die einddoel van julle geloof…”(1Pet.1:9). Om deur bekering geestelik siende te word, open vir ons ’n wye geestelike wêreld. ”Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet wat­ter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo” (Ef.1:18,19).

“Here, vandag wil ek tyd neem om U te aanskou.”

Hoe kom ek daar?

SKRIFDEEL:  Handeling 4:8-13

“…dié Jesus, vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het …Hy bring die ver­lossing en niemand anders nie.” (10,12).

In die loop van die eerste jaar van my bedien­ing in my eerste ge­meente, bel die ge­meente se koster my een og­gend. Aan sy stem hoor ek hy is ontsteld. Hy wil nie oor die te­le­foon sy probleem vir my vertel nie.  So gou  ek kon besoek ek hom. Hy en sy nejiese vrou wag my in op die stoep. Ons sit skaars in die sitkamer of hy vertel my sy moei­likheid. “Ek het laas nag gedroom ek klim met ’n touleer op hemel toe,” begin hy. “Maar nes ek halfpad kom, val ek af tot onder. Dan probeer ek weer op­klim, maar halfpad val ek af. Elke keer gebeur dit. Hoekom kan ek nie in die hemel kom nie? Ek en my ou vrou leef tog ’n skoon lewe. Ons leef vir die kerk. Ons probeer die Here dien. Hoekom val ek af? Hoe kom ek in die hemel?”

Ek het vir ’n paar oomblikke verslae gesit. Ek was nog jonk en so­ver ek weet, lei die waardige oom regtig ’n onbesproke lewe. Dit is net ’n droom weet ek, maar ek weet ook: jy droom die dinge wat jou in die hart kwel. Ek vra hom die enigste vraag waaraan ek kon dink. “Oom Hansie, het Oom al ooit die Here Jesus in Oom se hart as  Verlosser aangeneem?” Vir ’n rukkie sit hy stil, net na my en kyk. Ek word bang en dink, ek het die oom met so ’n direkte vraag verneder. Maar hy het my vraag verstaan. Hy antwoord: “Ek glo en ek stem in met wat die Bybel van die Here Jesus Christus sê. Maar ek het Hom nog nooit definitief gevra om my te red nie.” “Is Oom gewillig en be­gerig om dit van­og­gend te doen?” Dadelik knik hy met sy kop. Ek kniel saam met die twee ou mense by die rus­bank. In ’n eenvoudige gebed dank oom Hansie eers sy Verlosser, die Here Jesus Chris­tus, dat Hy vir hom aan die kruis gesterf het. En toe vra hy die Here om hom te red en sy sonde te vergewe. Na hom bid die tannie min of meer die­selfde woorde. ’n Tyd daarna sê oom Hansie een­dag vir my: “Ek kan nie verstaan, dat die Here sy hand so­veel jare na my toe uitgehou het en ek dit nou eers geneem het nie.”

Geloofsekerheid kan in iemand se hart ontbreek, om­dat daar nooit ’n besliste geloofshandeling was om Chris­tus as Verlosser aan te neem nie. Die gebrek aan ge­loof­sekerheid  beteken nie noodwendig ’n ge­brek aan salig­heid of vervreemding van God nie, maar dit kán ook `n ver­ontrustende simptoom van ’n ver­lore toestand wees. Lie­wer moet mens seker maak en ’n definitiewe onder­han­deling met die Here Jesus aan­gaan, om Hom as Ver­los­ser aan te neem. Dan ge­tuig mens daarvan teenoor ’n mens se dominee, of teenoor ’n betroubare vriend wat dit sal verstaan. Die mon­delinge getuienis oor die geloofs­posisie van persoon­like redding, is vir ’n mens se eie ge­loof­sekerheid no­dig. “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood op­ge­wek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. (Rom.10:9,10,13).

Die Engelse woorde van die 2de vers van die be­kende Hallelujalied: “O blye dag, waarop my siel deur Jesus bloed gereinig is”, klink so: “It’s done, the great transaction’s done, I am the Lord’s and He is mine.”

“Here, vandag glo ek U is vir my sonde gekruisig. Ek neem U aan as my Verlosser.”

God se vergewende krag

Lees Kolossense 2: 6 – 15

“Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker het Hy dit vir goed weggeneem” (14).


Een aand in ’n kerkdiens het ’n jongvrou, die He­re se aanspraak op haar lewe en sy roeping om sy redding aan te neem, in haar hart ervaar. Sy het die Here Jesus as haar Verlosser en Here aan­ge­neem. Sy het ’n ruwe verlede gehad: drank, verdo­wingsmiddels, prostitusie. Die verandering in haar lewe was diep en blywend. Sy het mettertyd ’n ge­troue lidmaat van die kerk geword en by die ge­meente se kinderbediening ingeskakel. Toe sien die dominee se seun haar raak en hy raak op haar ver­lief. Hulle verhouding het gegroei en hulle het trou­planne begin maak. Daar het die moeilik­heid begin. Sy was so ’n bekende slegte vrou in die dorp, ’n groot deel van die gemeen­te het nie gedink sy is geskik, om húlle predikant se seun se vrou te wees nie. Argu­mente en stry­ery tussen lid­mate het ontstaan. Dit het so erg ge­raak, ’n ge­meen­tevergadering moes belê word, om die saak open­lik te bespreek. In die vergadering is menings gelug en mense het heen en weer ge­stry. Dit het gelyk of die vergadering buite be­heer raak.

Vir die meisie was dit baie ontstellend. Haar vorige le­wens­ge­drag het weer heftig ter sprake ge­kom. Sy het aan die huil geraak. Die predikant­seun staan op. Hy kon die mar­teling van sy toe­koms­tige vrou nie langer verduur nie. “Dit is nie my verloofde se verlede wat hier ter sprake is nie,” sê hy. “Wat julle betwis, is die Here Jesus se ver­lossing­krag. Julle betwyfel dit of Jesus se bloed regtig iemand se sonde wegneem. Sy was ’n son­dige vrou, maar sy het haar toevlug tot haar Ver­losser, die Here Jesus Christus ge­neem. Julle moet nou besluit: Het sy bloed haar sonde bedek en weggewas, of staan haar sonde nog teen haar?” ’n Stilte en be­woënd­heid, het neergedaal.

Aanvaarding van iemand se bekering, is ’n be­lang­rik. Iemand se redding deur Chris­tus wis die blaam van sy verlede uit. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Kor.5:16,17).

“Here, vandag dank ek U vir die nuwe lewenskans wat U aan ’n mens gee.”

God se duur metodes

Lees: Psalm 105:16-23

“Hy het iemand voor hulle uitgestuur: Josef is as slaaf verkoop .Hulle het hom in die gevangenis gehou” (17,18).

 ’n Jong seun stap op ’n dag vrolik, fluitend, straat af. Die stewige stok in sy hand swaai hy op die maat van sy deuntjie heen-en-weer. Agter hom stap ’n man. Hy hou die seun dop en dink by homself: “As daardie stok uit sy hande gly, gaan ons hier tussen die huise ‘n lelike ongeluk sien.” Skaars het hy dit gedink, of die stok glip uit die seun se hand, trek oor die lae heining en tref die huis, naby die straat, se een venster. Die man bly ge­am­mu­seerd staan. “As ek nog nooit ’n seun sien hol het nie, gaan ek dit nou sien,” dink hy weer by homself. Die seun gaan verskrik botstil staan. Net vir ’n oomblik talm hy, toe maak hy die voorhekkie oop en stap op na die huis se voordeur toe en klop. ’n Briesende man pluk die deur oop. Die man in die straat kan as ge­volg van die huisbaas se luide stem hoor wat aangaan. Die seun se stem hoor hy nie, maar hy kan hom indink hoe die seun die voorval vertel. “Maar is jy seker jou pa sal betaal en kom reg­maak?” skreeu die huis­baas. Die seun knik en be­duie. “Laat ek net jou pa se naam, adres en tele­foon­nommer neer­skryf,” klink die huisbaas se stem. Die seun bly voor die deur staan totdat die man weer verskyn en op ’n papier be­sonderhede neer­skryf. Die man wat alles so aanskou, talm op die sypaadjie. Die seun se gedrag is vir hom baie inte­res­sant. Hy val by die seun in toe dié uitkom. “Sleg­te ongeluk, nè? Hoekom het jy nie gehardloop nie? Jy het meer as genoeg tyd gehad om weg te kom.” Vir ’n paar oomblikke is die seun stil, toe sê hy dap­per: “Meneer, ek volg die Here Jesus en ek wil nie iets doen wat Hom sal grief nie. Hy sien tog alles wat ek doen.” Sonder `n verdere woord slaan die man nadenkend sy eie koers in. Hy is self ’n onver­skillige man wat min erg aan die Christelike lewe het. Maar wat hy so pas beleef het, sit hom aan die dink. As geloof in Christus so ’n greep op ’n seun se lewe kan hê, moet daar iets in die Chris­te­li­ke le­we steek. Hy gaan meer daar­oor uit­vind. Die eerste Sondag daar­na gaan hy kerk toe. Ge­lukkig is daar ’n getroue diens­kneg van die Here op die kansel. Na ’n paar Sondae voer hy met dié leraar ’n ge­sprek. Hy neem Christus aan as sy Salig­ma­ker. Die seun het mis­kien gewonder hoe­kom die Here hóm, wat die He­re tog getrou probeer dien, so ’n ver­ne­derende on­geluk laat oorkom het. Hy het dalk nooit op aarde uitgevind, hoe die Here hom vertrou het, om met hom so ’n duur paadjie te loop, om by ’n verlore man uit te kom nie.

 “Here, vandag wil ek deur my gedrag vir U ’n lig en ’n getuie wees.”

Gehoorsaamheid

Lees 1 Samuel 15:17-23

“Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme” (22).


In sy boek “How to be a happy Christian”, wat in die 70-tiger jare verskyn het, vertel J. Nieboer van ’n sakeman, wat altyd sy tiende aan die Here gegee het. Op ‘n dag kry hy kennis om binne ‘n jaar sy sakeperseel te ontruim. Ses maande lank soek ver­geefs na ’n ander perseel. Intussen bied die bank aan om die gebou op te rig, as hy die bouper­seel voorsien. Binne ’n paar weke kry hy ’n geskikte stuk grond. Die prys was $30 000. Hier het sy stryd begin. Hy het $30 000 in die bank, maar $10 000 hiervan was tiende geld wat hy laat oploop het, om aan ’n sendingonderneming te stuur. Die ver­koper wys sy aanbod van $20 000 van die hand. Die versoeking was gróót om die $10 000 te gebruik. Juis daardie dag, lees hy Maleagi 3:10. Bring die hele tiende na die skathuis, en beproef My tog hierin of Ek vir julle nie vensters van die he­mel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloed sal uitstort nie. Dit het vir hom die saak beslis. Hy het dadelik die sen­dingkantoor gebel en hulle van die $10 000, wat hy vir hulle het, in kennis gestel. Hulle moet dit asb. dadelik laat haal. Pas het hy die telefoon neergesit of dit lui weer. Nou was dit die eiendomsagent wat bel. “Ek het vir jou goeie nuus,” sê hy. “Jy kan die grond nou vir $20 000 kry.” Vir die sakeman se geestelike lewe was dit ’n geseënde ondervinding.

Die weg van die Here lyk soms na ’n nadelige pad, maar dan ontdek ons, gehoorsaamheid aan die Here, loop op die einde op ’n wensaak uit. “Ont­hou die trekpad waarlangs die Here julle veertig jaar lank deur die woestyn gelei het. Hy het julle in die moeilikhede laat beland om julle te toets en te kyk hoe julle gesindheid sou wees…of julle sou gehoorsaam” (Deut.8:2-5). Hoe ons op teleurstelling en versoeking reageer, leer ook aan ons wat die in­houd van ons hart is. In so ’n toetsperiode kom die Here se woord ons met raad en leiding tegemoet. Ons houding  moet altyd wees soos dié van Dawid in Psalm 25:3-5: “Niemand wat sy verwagting in U stel sal beskaam word nie…Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin…in U stel ek elke dag my verwagting.”


“Here, vandag vertrou ek u woord en ek wil U gehoorsaam .”

Die pragtige paleis

Lees Psalm 19: 1 – 15      (The Railway Messenger, May 1971):

“Die woord van die Here is volmaak: dit gee le­we… die gebod van die Here is helder, dit gee insig…” (8,9).


Die bofbalspeler, Billy Sunday, het in ’n ope­lug­diens tot bekering gekom. Daarna word hy evan­gelieverkondiger. Hy was ’n baie gewilde pre­di­­ker, want hy het sy bof­­­balslang in sy prediking be­hou. Hy het die Bybel die Chris­tendom se paleis ge­noem.  Hy vertel só van sy ken­­nismaking en om­gang met die Bybel:

Drie en twintig jaar gelede het ek met die Hei­li­ge Gees as my gids, die wonderlike paleis van die Chris­­tendom betree. Ek het by die ingangs­por­taal van Ge­ne­sis ingegaan en met die lang kuns­gal­lerye van die ou Testamentiese geskiedenis af­ge­stap. Aan die mure het die portrette van No­ag, Abra­ham, Isak, Jakob, Moses, Josef, Jona, Daniël en baie ander gehang. Daar was ook die prente van die uittog uit Egipte, die val van Jerigo se mu­re, Josua se oorwinning, toe hy gebid het die son moet in die hemel bly stilstaan en so baie ander. Ek het verby gestap tot in die musiekkam­er van die Psalms, waar die Gees oor die klawer­bord van die groot orrel van die natuur gestreel het, totdat elke orrelpyp getril het, van die groot musiek van Dawid se harp. Ek het die sake­kan­toor van Spreuke ingestap, waar ek die praktiese elemente van die regte lewe leer ken het. Toe kom ek in die sterrewag van die profete, waar tal­le teleskope opgestel is om die toekoms te aan­skou. Al die teleskope was veral gefokus op die Blink Môrester van die komende Messias. Hierna stap ek in die Koning van die Konings se eie ka­mer in en ek kry ’n insig, in sy heerlikheid soos Matteus, Mar­kus, Lukas en Johannes dit teken. Hierna betree ek die besige vertrek van die Handelinge van die apostels waar die Heilige Gees die baba-kerk van Chris­tus op­voed en leer. Hierna kom ek in die skryfkamer van die apostels en ek lees die briewe van Paulus, Petrus, Johannes, Jakobus en Judas. My volgende tree het my in die troonkamer van die Koning self gebring – en nou in Billy Sunday se eie woorde: ”…In Revela­tion’s glit­tering peaks I got a vision of the King sitting upon the Throne in all His Glory, and I cried out:

All hail the power of Jesus Name!

Let angels prostrate fall.

Bring forth the Royal Diadem

And crown Him Lord of All!


“Here, vandag wil ek u Woord tree vir tree deurstap.”

Altyd betyds

Lees Jesaja 65: 21 – 25

“Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor” (24)

Sophia Ironside se man, John, het sy kort lewe grootliks aan evangelieverkondiging gewy: hy het op straat, in parke, in sale, in teaters, net waar hy ge­leent­heid ­kry gepreek. Op 28-jarige ouderdom is hy aan maagkoors dood. Hy het Sophia en sy twee seuntjies, sonder enige in­kom­ste van pensi­oen of ’n belegging agter­ge­laat. So­phia het met  naaldwerk die pot aan die kook ge­­hou. Die een seun­tjie, Harry, wat later die beroemde dr. Harry Iron­side, pastor van die Moody Memorial Church en vrugbare skryw­er, sou word, het sy ma stip dopgehou. Eendag sou hulle kui­ermense vir ete kry. Sy het omtrent alles wat hulle ge­had het, saamgeskraap en ’n ete voor­berei. Na die be­soekers vertrek het, kry sy onder een van die leë borde ‘n $10-noot – in daardie dae baie geld. Met be­traande oë het sy dadelik, met ’n arm om elke seuntjie, God daarvoor gedank.

Toe kom die dag dat die koskas regtig heel­te­maal leeg was. Sy roep haar twee kinders om by ’n leë tafel ontbyt te kom eet. Hulle het net water om te drink. Weer slaan sy haar arms om die twee: “My seuns, ons gaan dankie sê vir die wa­ter.” Hulle maak oë toe en sy bid: “Vader, U beloof in u Woord (sy haal Je­sa­ja 33:16 aan): “’So ’n mens se kos sal hy kry en sy water sal nie opraak nie’. Ons het die wa­ter en ons dank U. Maar nou vertrou ons U vir ons kos.” Net toe word aan die deur geklop. ’n Man staan voor die deur. Hy sê vir haar: “Ek voel eintlik baie skaam. Ons skuld jou al vir maande lank geld vir ’n rok wat jy vir my vrou gemaak het, maar ons het regtig nie geld gehad om te betaal nie. Ons is nou besig met die aartap­pel­oes. Sal jy asseblief solank ’n sakkie of twee aar­tap­pels neem, totdat ons jou kan betaal?” “Verse­ker!” roep Sophia uit. “Baie dankie.” Binne minute na sy vertrek begin die vars aar­tap­pels in die braaipan sis en die seuns ge­niet `n beantwoorde gebed se kos vir ontbyt.

As ons verhouding met die Here reg is, on­der­vind ons hierdie betydse hulp in ’n verleë si­tu­asie. In een van Spurgeon se boeke staan:

Never say: from whence will God relieve my care,

For omnipotence has his servants everywhere.

His methods are sublime,

his heart profoundly kind;

God never is before his time, And never is behind.

 “Here, vandag vra ek en ek kyk uit vir  U hulp.”

Wraak met 'n soet smaak

Lees 2 Timoteus 2:19-21

“As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere gebruik wees … bruikbaar vir enige goeie diens” (21).

Alice Fisher, ‘n afgetrede onderwy­se­­res, het op ‘n net­jiese kleinhoewe gewoon. Op die grens tussen haar en die bure, maar aan haar kant, het ‘n pragtige, groot in­heem­se boom gestaan. ‘n Nu­we buur­man het aange­bied om die boom af te kap en dan deel hulle die vuur­maak­hout. Alice het geweier. Sy was lief vir die  boom en die boom was ‘n sie­raad vir die om­ge­­wing. Op ‘n keer was sy vir ‘n paar weke  weg van die huis af. In haar af­we­sigheid het die buurman die boom afge­kap. By haar terugkeer was die hout reeds op­ge­kap en vei­lig in die buurman se pak­ka­mer wegge­pak.

Alice was woedend en vir ‘n paar dae lank het sy al­lerlei wraakgedagtes gekoester. Alice was ‘n kind van die Here en die krag van die Heilige Gees in haar, het Chris­tus se liefde, oor haar natuurlike toorn,  laat seëvier. Sy het ‘n koek gebak en die helfte vir die bu­re geneem. Die deur is in haar gesig toe­ge­maak. Weer het daar vir ‘n paar dae ‘n stryd in haar hart gewoed. Weer het Christus se ge­sindheid oorwin. Sy het klein koe­kies ge­bak en vir die bure ‘n bord vol geneem. Hier­die keer is die deur op ‘n skrefie oopgehou en ie­mand het “nee dankie” gemompel. Twee dae later het sy weer gegaan. Hierdie keer met ‘n bos blom­me uit haar eie tuin. Dit is huiwerig aangeneem, maar sy is nie inge­nooi nie. ‘n Week later is die buurman aan ‘n hartaanval dood. Die vrou het haar tot Alice gewend om hulp. Die dae daarop het Alice vir die gesin gesorg en al die reëlings vir die be­grafnis en boedelafhandeling ge­tref.

Hoe dankbaar was Alice nou dat sy die leiding van die Heilige Gees gevolg het en liefde be­toon het, toe haar natuurlike drang na vergelding ge­hunker het. Sy het ‘n wesenlike teenwoordig­heid van die Here ervaar. Jesus se woorde aan die kruis: Vader, vergewe hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie”, was vir haar soet woorde, want sy het geweet sy het in sy voetspore gevolg.

Alice was nou nader aan die Here as ooit te­vore. Sondige wraak is soet vir die oomblik, maar laat ‘n bitter leegheid in die hart agter. Om kwaad met liefde te antwoord, kos ‘n prys, maar agterna is die hart vol vrede en vreugde.  “Moenie julle wreek nie, geliefde, maar gee plek vir die toorn…oorwin die kwaad deur die goeie (Rom.12:29). In ons sondige natuur is diepgesetelde kwaad. Die Here gebruik omstandighede om ons geestelike lewe te verdiep en vir ons deur sy Gees ‘n oor­win­nings­­le­we te gee. “Ons bid ook dat julle so sal lewe dat alles wat julle doen vir Hom vreugde sal gee. Dan sal julle lewe nuttig wees. Julle sal baie kan doen wat goed is en julle sal God al beter leer ken” (Kol.1:10).

.”Here, vandag wil ek uit moeilike omstandighede leer om U beter te ken en beter vir U te leef.”

Voorspraak

Lees Hebreërs 7: 18 – 28

“Aan die ander kant het ‘n beter hoop in­getree… Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree” (Heb.7:19,25)

Gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog het ’n jong soldaat aan die slaap geraak ter­wyl hy moes wagstaan. Hy is gevonnis om voor ’n vuurpeleton te sterf. ’n Afvaardiging het by pres. Lincoln vir die jongman se lewe gaan pleit. Hy was ’n goeie en ge­wilde lid van sy gemeenskap, die lieflingseun van sy ouers­. Die president het egter besluit dat die dissipline in die leër die vol­trekking van so ’n von­nis vereis. Die groep het droewig van die pre­si­dent afskeid geneem.

Sy seuntjie, Tad Lin­coln, het on­opsigtelik in ’n hoek van die ka­mer gesit en speel. Nou sluip hy nader, gee ’n plukkie aan sy pa se mou. “Asseblief, Pa, moenie dat hulle daardie ar­me man dood­skiet nie.” Lincoln, reeds ont­roer deur die pleidooi van die af­vaar­diging, kon sy seuntjie se smeking nie weier nie. Hy het die vonnis herroep.

’n Mens voel verlig die saak het so goed af­geloop en die jongman se lewe is gespaar. Tog voel ’n mens die president was nie reg­verdig nie. Hy het nie reg gehad om bloot op die pleidooi van sy seuntjie, wat ’n sagte plek in sy hart gehad het, die jongman se skul­dige daad af te skryf nie. Die Seun van God tree ook vir ons in by sy Vader: Jesus se voor­spraak vir ons by sy Vader het regver­di­ge waarde: “Christus Jesus het (vir ons) gesterf… Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons” (Rom.8:33). ’n Groot ge­rus­stel­ling vir ons in ons stryd teen ons sondigheid.

“Here, vandag vertrou ek in u voorspraak vir my.”

Oorlopende blydskap

Lees Lukas 19 : 1 – 10

“Hy het Jesus met blydskap ontvang…Daarop sê Jesus: ‘Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom…die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (6,9,10)

’n Skeepspassasier val in ’n ontstuimige see oor­­boord. Die kaptein vra vry­wil­li­gers om hom te pro­beer red. Die onderkaptein en twee ma­trose waag om met ‘n bootjie die reuse branders te trot­seer. Na ’n ge­vaarlike en inspannenede stryd bereik hulle die man. Hy was gedaan en op die punt om te sink. Met geweldige inspanning, na ure van roei, bereik hulle weer die skip die dkip met hom. Hulle was self totaal uitgeput en die drenke­ling was te swak om te staan.. Hy om­hels sy redders se bene en soen hulle nat voete. Verleë maak hulle hulle van hom los. Hy kruip agter hulle aan en van dank­baarheid huil en lag hy terwyl hy van die grond af na hulle opkyk. Die onder­kap­tein het later gesê: “So iets het ek nog nooit in my lewe aanskou nie. Hy het ons nat voetspore ge­streel en met liefde gesoen. Hy was een van die passasiers. Vir die res van die vaart het hy ons met die grootste ag­ting behandel en op elke moontlike wyse sy dankbaarheid be­toon. Na landing het hy ons met geskenke oorlaai.

So diep is die dankbaaheid van ‘n man teenoor sy red­ders wat hom, ten koste van hul eie lewe, uit ’n aak­li­ge dood gered het. Hoe groot moet ons dankbaarheid teenoor die Here Je­sus Chrisus dan nie wees. Hy het so ’n groot prys betaal, sy kos­bare bloed laat vloei, om ons van die ewige verdoemenis te red. Die koudheid van ons harte, is daaraan te wyte: ons besef nie heel­te­maal wat die Here Jesus opgeoffer het om ons te red nie; ons besef nie uit watter aaklige lot Hy ons verlos het nie. Een­dag in die hemel, wanneer ons Hom, en die wonde in sy han­de en voete sien, die won­derlike plek waarin Hy ons ge­bring het, beleef en besef van watter aaklige plek Hy ons gered het, sal ons die regte blydskap ervaar. Dit is tot Jesus se verheerliking en sy blydskap, as ons noual, op el­ke moontlike wyse, ons dank aan Hom betoon. As ons met woorde Hom gedurigdeur loof, elke moont­like taak vir Hom op aarde wil verrig, en ons toelê om te leef soos Hy dit graag wil sien. Daarom is daar so ’n groot blydskap in die hemel. “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te  glo, al sien jul­le Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die eindoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1 Pet. 1:8,9).

 “Here, vandag dank ek U vir u offer om my te red.”

Onweerstaanbare krag

Lees: Jeremia 23: 23 – 29

“My woord is soos vuur, sê die Here, soos ’n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word” (29).

Ludwig Harms, stigter van die Hermannsburgse Lutherse Sen­dinggenootskap, vertel hier­­die  storie. Sieg Engelbrecht het dit vir ons uit die Duits vertaal.

‘n  Londense hoteleienaar, het deur die oor­ma­tige be­skik­baarheid van alkohol en ander twy­­­fel­ag­tige ple­­siertjies ’n ver­derflike lewe gelei. Met God wou hy niks te doen hê nie. Hy het sy gaste ook in hierdie maalkolk van sonde in­ge­suig. Op ’n dag sterf een van sy naaste familielede en hy moes, teen wil en dank, die begrafnisdiens in die kerk by­woon. Hy besluit hy sal gaan, maar hy gaan sy ore toe­druk. Die woord van God wil hy nie hoor nie. So sit die hotelbaas die dag soos ’n dowe on­der die geklank van die Here se woord. Hy hoor niks. ’n Muskiet kom sit op sy neus en steek hom. Hy pluk sy een hand uit sy oor uit en klap die mu­skiet weg. Juis op daardie oomblik haal die pre­di­ker God se boodskap, wat Hy deur Jesaja aan  His­kia gestuur het, in 2 Konings 20:1 aan: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer leef nie.” On­mid­­­dellik druk die man sy ore weer toe en wag vir die einde van die diens. Maar daardie enkele sin gaan met hom saam huis toe. Hy kan dit nie af­skud nie. Die woorde staan smorens saam met hom op, gaan saans saam met hom bed toe en kom selfs in sy drome terug. Dit dryf hom amper tot raserny. Uit­ein­delik swig hy onder die krag van God se woord. Hy breek voor God, bring sy hart na die Here Jesus toe en kom tot beke­ring. ’n Nuwe lewe kom in hom tot stand. Hy gee sy hele le­wens­­huishouding oor aan God. Sy hotel verander uit ‘n spelonk van sonde, in ’n ware herberg – ’n tuiste van Christelike gastevriendelikheid.

Die Heilige Gees gee aan God se woord ’n indring­ingsvermoë in die hart van die mens: “Die woord van God is lewend en krag­tig. Dit is skerper as enige swaard met twee sny­kan­te en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg Dit beoordeel die be­doelings en gedagtes van die hart” (Hebreërs.4:12).

 “Here, vandag luister ek na u woord.”

'n Vrywillige gevangene

Lees Psalm 91

“Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Aller­hoog­ste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref nie” (9, 10).

‘n Jong soldaat het tydens die Tweede Wêreld­oorlog manalleen, ‘n groep Ja­pan­­nese gevange ge­neem en na sy basis ge­­­bring. Hy wou die medalje wat aan hom toe­geken is nie aanvaar nie. Hy het sy rede gegee:

“Ek en vyf van my maats is deur die Ja­pan­nese gevange geneem,” het hy vertel. “Hulle het ons met gevelde bajonette teen ons rug, deur die oerwoud laat marsjeer. Ek moes aanskou hoe my maats een na die ander gedood is. Ek het Psalm 23 opgesê. Ek het die Onse Va­der opgesê. Ek het God geken, deur my geloof in Jesus Christus, maar dit was ‘n moeilike tyd. Sterwe moes ek, maar ek was vasbe­slote om my gevangenemer nie te laat sien hoe bang ek was nie. Bewende van kop tot to­ne, terwyl ek tot oor my enkels in die modder marsjeer, met die punt van ‘n bajonet teen my rug, het ek begin fluit, soos ek as ‘n seuntjie gedoen het, wanneer ek in ‘n donker­straat moes afloop. Ek het gefluit:

‘Ons kom saam en bid om die Here se leiding;

Sy wil en sy weg maak Hy spoedig bekend.

Die bose verdrukking,slaan oor in verrukking!

Loof God wat sy kinders bewaar tot die end.’


 “ Ek kom agter iemand anders fluit saam met my – dit was my Japannese gevangene­mer. Hy trek sy geweer terug en kom loop langs my. Ek ruk soos ek skrik toe hy in goeie Engels sê: ‘Ek kan nooit ophou om die Christelike liedere te bewonder nie.’ ‘n Kort gesprek bring aan die lig, hy het Eng­els geleer in ‘n sending­skool waar­voor ek ook al bygedra het. Hy praat van die oorlog en hoe moeilik dit vir die Ja­pannese Christene is. Ons praat oor ons huise en ons families. Hy dwing my stadig­aan weg van die ander af en na ‘n rukkie is ons alleen in die woud. Op sy voorstel kniel ons in die modder en bid saam vir die lydende mensdom en al­mal, wat as gevolg van die wrede oorlog, swaar­kry en ons eie behoef­tes. Ons staan op van ons knieë af en omhels me­kaar vir ‘n oomblik van broederskap. Hy stel voor ek moet hóm nou gevange neem en na die naaste Ame­ri­kaanse basis neem. Hy weet waar ander Ja­pan­nese Christene skuil. Hy neem my na hulle skuilplekke toe. Nooit sal ek die hoop en blydskap vergeet, wat in hulle oë gekom het toe my vriend hulle een vir een vertel, hoe ons mekaar gevind het en waarheen ons hulle nou wou neem nie. Die hele pad het ons oor Chris­tus gesels en hoe ons saam vir Hom moet lewe, al behoort ons aan twee vy­an­dige volke. Toe ons naby die kamp kom, trek almal hulle gesig suur en don­ker en ek, met die Japan­nees se geweer in my han­de, marsjeer hulle die kamp in. Ek verdien dus nie hierdie me­dal­je vir daardie wonderlikste ervaring van my lewe nie.”

As ons in al ons omstandighede naby God bly, Hom bely, Hom vertrou, bring Hy vir ons oorwin­nende uitkoms – bo wat ons verwag het. Dit is vir my wonderlik om te dink dat God gesorg het vir sy kind en wat vir dáárdie Japan­nees, wat ook die Here se kind was, as sy wag laat optree het. Daar is geen einde aan die wonderlike maniere waarop God vir sy kin­ders sorg nie. Ons mag gerus wees.

”Here, vandag skuil ek onder u vleuels.”

God soek nie uit nie

Lees: Lukas 19: 1-10

“Saggeus…het Jesus met blydskap ontvang. Almal…het beswaar gemaak en gesê: ‘Hy gaan by ’n sondige man tuis.’” (7)

In die maandblad van die Pacific Garden Mission vertel Carl Henry van die jongman, William James Taylor, alias Bill Hennessy, alias Ed Lynch, alias Tom O’Brien. Hierdie jongman, met die baie skuilname, was ’n per­manente vlugteling vir die gereg. As 3-jarige seuntjie het hy in die agterplaas van sy pa se kroeg sy vingertjies in gebreekte glase en bot­tels gesteek en ’n smaak vir drank ontwikkel. Op 12-jarige ouderdom was hy ’n besope, drankverslaafde straatkind. Na twee jaar in ’n ver­be­ter­ingskool, het hy doelloos rond­geslen­ter, totdat ’n tweede arre­sta­sie hom in ’n ny­wer­heidsinstituut beland het. Die op­heffings­werk daar, het hom nie verbeter nie. Dobbel, verdowingsmiddels en drank was sy lewens­patroon. Hy was gedurig vlug­tend vir die ge­reg en moes daarom altyd on­der ’n skuilnaam rondbeweeg. Die aand toe hy in Chi­cago aan­land, het hy dadelik na die Pa­cific Garden Mis­sion toe gevlug, want ’n po­li­sieman in die straat het hom dopgehou en gevolg. Die vol­gende aand het hy terug­ge­keer Pacific Gar­den Mission toe. Hy het geluister na ge­tuienisse van men­se soos hy, oor wat God in hulle lewens ver­mag het. Hy het by een van die werkers van die sending hulp gevra en die sondaars­gebed gebid: “Here, wees my sondaar ge­na­dig. Jesus, red my ook.”,

Agterna het hy getuig: “Ek kan nie alles vertel wat Jesus Christus vir my gedoen het nie. Maar een ding kan ek doen, en dit is om ander van Hom te vertel. En daar is baie dinge oor God wat ek nie weet nie en nie verstaan nie, maar één ding kan ek sê: ‘God ain’t any picker of persons’!” Elkeen wat, hoe sleg ookal, God se genade vra en by Jesus redding soek, vind `n lewende Redder.

 “Here, vandag kom ek net soos ek is na U toe.”