Vry 1 Apr: Die Beste Storie

LEES: 1 Korinthiërs 15: 13 – 24

“…en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes…Maar nou Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het (17,20).”

Walter Knight vertel in sy boek Treasury of Illustrations, van die sendeling wat sy gesin vir `n besigtigingtoer na Costa Rica neem. Die sesjaaroue Mark was  die jongste van die kinders. Hulle het `n Katolieke Katedraal in Car­gago besoek. Die kinders het hulle ver­wonder aan die baie aanduidings en her­rine­ringe aan die gekruisigde Jesus, o.a. `n beeld van Chris­tus wat aan `n kruis hang. Later be­soek hulle `n ou Spaanse-sending. Sommige van die kinders het bang geword toe hulle `n wasfiguur (wax figure) van Christus  in `n glaskis sien.

Daardie aand tydens die gesin se aand­godsdiens, sê klein Mark: ”Pappa, ek het vandag so baie keer Jesus dood gesien. Ver­tel vir ons weer die storie van sy opstanding!” Die pa het met groot graagte dele uit die Evan­gelies van Jesus se opstanding gelees en ook nog tussenin verduidelikinkies gegee. Na klein Mark gretig geluister het, sê hy met `n breë glimlag: “Pappa, dít is die beste storie in die hele wêreld.”

So kosbaar as wat die kruisiging van Je­sus vir ons was, en kosbaar elke herin­nering daar­aan, omdat dit sy liefde vir ons openbaar het en vir ons die blydskap van ver­gifnis by God inhou, sou dit vir ons net aardse waarde in­hou. Maar nou, Hy het deur sy op­standing die mag van die dood verbreek en vir ons `n nu­we lewe in hierdie wêreld gebring en ook `n ewige lewe in die hemel by God. Pau­lus skryf in 1 Kor.15 oor hierdie groot waarheid van die be­lang­rikheid van Jesus se opstanding vir ons: “En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook jul­le geloof (14) … dan is julle nog in julle sondes, dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Chris­tus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dode… (17-20).”

“Here, vandag verbly ek my in U opstanding.”

Do 31 Mrt: Die Beste van Alles

LEES: PSALM 31: 20 – 25

“O, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil in die teenwoordigheid van die mensekinders (20).”

Die groot en be­ken­de prediker, John Wes­ley, het aan die einde van sy lewe, wat deur Augustine Birrell beskryf is as, “his unparal­ledled apostolate”, gekom. Hy was nou 88 jaar oud, waarvan meer as 60 jaar, jare van vrugbare diens vir die Here was. Hy was leier van `n herlewing in Engeland en ook stigters­lid van die Wesleyaanse Kerk. Hy het nie gesug en verlang na net nog een jaar van diens en aktiwiteit nie. Daar was geen teken van `n gevoel die beste jare is verby nie. Hierdie laaste ure van hom was net so goed as enige van die goeie jare wat hy deur­gebring het. Die skrywer klee dit in hierdie woorde: “Great as those triumphant years had been, these last hours of his were just as good as any.” Die beste was nou juis hier en hy het sy lewe afgesluit met `n kort sin, wat die rykdom en bevrediging van so `n lewe in­hou: “The best of all is God is with us.” Die beste van die lewe is wanneer God by en met `n mens is. Toe Dean Stanley die verering­s­­tablet in die ingang van die Westminster Ab­bey opsit het hy John Wesley se lewe met die een sin opgesom: “The best of all is God is with us.” Gelukkig is elkeen wat hierdie beson­dere seën in hul lewe het.

Dinge kan verkeerd loop in ons lewe, en ons ervaar dit ook dikwels so, maar as God in ons lewe is, lei Hy dit weer in die beste ka­naal in. As ons die Psalms lees, kry ons dik­wels die tekse waar­in Dawid, in wie se lewe God groot en ver­heer­lik was, sy benoudheid bekend maak, maar altyd met die verwagting, God sal dit regstel. In Jesus Christus is God ons Vader en hy behandel ons soos `n vader. Hiervan het Jesus gesê: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid.” Die beste inhoud van `n mense se lewe is dus, wat Wesley gesê het: “Die beste van alles is, God is met ons.”

“Here, vandag verlang ek God by my.”

Wo 30 Mrt: Die Kragkamer

LEES: Efésiërs 1: 15 – 23

…verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping…en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo…”(18,19)

Walter B. Knight vertel van twee manne wat `n groot fabriek besoek. Hulle word oral rondgewys. Die groot vertrekke waar die groot masjiene draai en werk en `n groot gedreun veroorsaak, met wiele wat teen groot spoed in die rondte draai, bewonder hulle. Die gids neem hulle toe na `n ander kamer toe. In hierdie vertrek is dit doodstil. Nie `n geluid word gehoor nie. ”Hier gaan nie veel aan nie,” sê die een man. Die gids glimlag. “Hierdie is die fabriek se belangrikste kamer,” sê die gids. “Dit is is van hierdie kamer af, waar die krag vandaan kom, om die fabriek se masjiene te laat draai. Ons noem dit die Stilkamer (Quiet Room) en dit is ook die Kragkamer (Power Room).

Walter Knight merk hieroor op: “Ek het gewonder waar kom ons krag vandaan om te doen wat ons moet doen. Het ons `n Stil­kamer. Het ons `n Stilkamer nodig? En `n Kragkamer? Ek is seker omtrent almal sal sê: Ons het `n Kragkamer nodig. Ons het `n plek nodig waar ons die Here kan ontmoet en met Hom praat oor ons sake en behoeftes. Ja, ons het`n plek nodig waar ons die wil van die Here oor ons kan leer ken en dan die krag kry om dit te gaan doen soos ons dit kan vermag. Ons lewens sal vrugteloos en vol foute wees indien ons nie tyd deurbring in die Stilkamer, wat dan ook ons Kragkamer word, waar die Here ons ontmoet en in ons harte seën nie.

“Here, vandag wil ek in my stiltetyd krag vir my lewe vir U ontvang.”

Di 29 Mrt: Die Tas Reggemaak

LEES: Psalm 25

“Here, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag (4,5).”


`n Reisiger is besig om sy tas vir `n reis te pak. Hy sê vir sy vriend. “Daar is nog `n hoe­kie oop, waarin ek graag `n gidsboek, `n lamp, `n spieël, `n teleskoop, `n boek oor ge­dig­te, `n aantal biografië, `n bondel ou briewe, `n liedboek en `n skerp swaard wil pak. Al hier­­die belangrike artikels moet in daardie hoek van die tas inpas.” “Hoe op aarde wil jy dit regkry?” vra sy vriend verbaas. Hy ant­woord: “Maklik. Die Bybel bevat al hierdie dinge wat ek vir jou genoem het, en daar is net genoeg ruimte nog vir my Bybel.” Walter Knight skryf: “The most wonderful, the most marvelous book in all the literature of the world is the Bible, because it is God’s own Book!”

Jesus is vir ons ons Weg en Gids hemel toe, maar ons beleef aardse situasies wat hulp en raad uit ons hemelse bron nodig het. Ek iden­tifiseer net `n paar, probeer om self die ander raak te sien. Ons  padkaart hemel toe, die lamp wat ge­durig lig moet bring waar dit in ons hart donker word, `n spieël, sodat ons ons­­self kan sien, en dit lei dikwels na be­ly­de­nis van sonde, en so kan ons prakties be­paal wat ons uit die Bybel vir ons reis hemel toe moet gebruik.

Ons is God se mense wat deur hierdie wê­reld van sonde op `n kort en sondebe­dreigde pelgrimstog reis en ons het nodig om een ding te weet, of ten minste daarna te vra: “Is ek nog op die regte weg hemel toe?” God het die koers en die weg hemel toe vir ons duidelik in sy Woord, ons Bybel, aangewys. Die artikels wat die man dus genoem het wat ingepak moet word, is die dinge wat ons ook op `n gewone, moeilike reis nodig sou hê. Hierdie Woord van God is daarom absoluut noodsaaklik as ons praktiese gids en voor­siening, vir ons geestelike behoeftes op ons, soms moeilike reis, hemel toe. Dit gee vir die gevalle mens die beste aanwysings wat hy op hierdie tog nodig het: die liefde, die genade, die ontferming van ons Drie-enige God.

Hoeveel keer, het ons nie in ons daaglikse lees van die Bybel, juis die raad en beloftes gevind wat ons daardie dag, of oomblik, nodig het nie? Kom ons raadpleeg daagliks God se Woord vir God se hulp op ons daaglikse reis ewigheid toe.

“Here, vandag soek ek raad in u Woord.”

Ma 28 Mrt: Die Verbeurde Lewe

LEES: Lukas 12: 15 – 21

“..wees op julle hoede vir die hebsug…want iemand se le­we be­staan nie uit die oorvloed van sy besittings nie (15).”

Een aand preek die gewilde prediker Canon Hay Ait­ken voor `n groot gehoor in Bristol, Engeland. Sy teks was: “Julle moet weergebore word.” `n Skitterende jong­man, Horatio Bottomley, luister met geboeide aandag. Die preek raak hom diep. Aan die einde van die diens nooi die prediker persone wat nog nie gered is nie, om hierdie geleentheid te gebruik om Christus te bely en red­ding te soek. Bottomley dink by homself: “Nie ek nie. Dit is nie vir my nie. Ek wil my eie lewe uitwerk.” Dit het hy ook met sy lewe gedoen en hy het `n fortuin gemaak. Hy het vir baie mense `n held geword. Hy was die kamp­vegter vir die regte van die gewone man. Hy het swende­laars blootgelê en hulle heftig vervolg. Toe hy 63 jaar oud was, is hy ontbloot as iemand, wat self ander verkul. Hy het sewe jaar tronkstraf gekry.

Bottomly word in die tronk besoek deur Capt. Prayer van die Church Army. Hy vertel vir Bottomly die storie hoe hy tot bekering gekom het. “Jare gelede,” sê hy, “was ek in die Colston Hall in Bristol.Die prediker was Canon Hay Aitken. Hy het gepreek oor die teks: ‘Julle moet weerge­bore word.’ Ek het onder sondeoortuiging gekom en be­sef ek het `n Verlosser nodig. Ek het Jesus Christus as my Saligmaker aangeneem en sedertdien was Hy alles in my lewe.” Bottomly het diep ingedagte geraak. Toe sê hy, “Ek het ook daardie preek gehoor. Ek het ook die aand by `n diep gevoel van my nood aan `n Verlosser gekom. Maar ek het Hom daardie dag verwerp.” Hy voeg berouvol by, “`n Lewe sonder God is `n verbeurde lewe.” Sy eie woorde: “A life without God is a wasted life!”

Dit is `n genadige moment in `n mens se lewe om be­wus te word van die nood aan die Verlosser. Die Heilige Gees ontwaak deur die Here se woord daardie behoefte in`n mens se hart. Dít is wanneer die deur wyd oopstaan om kind van God te word en op koers hemeltoe geplaas te word. As u daardie klop aan u hart se deur onder­vind, kniel, of buig net die hoof, en sê: “Here Jesus, red my asseblief. Kom in my hart.” Deur die Heilige Gees se werking in die hart begin die lewe van weder­geboorte en God word in Jesus ons Vader en Jesus word ons Here en die hemel ons eind­bestemming.

“Here, vandag maak ek my hart vir U oop.”

Do 24 Mrt: Die Voordrag

LEES: Psalm 23

“Die Here is my herder (1)”

Tydens `n geselligheid met `n salonfunk­sie, word een van Engeland se leidende ak­teurs gevra om `n voordrag te lewer vir die vermaak van die gaste, vertel The War Cry. Hy stem in en vra of daar iets besonders is waarna die gaste graag wil luister. Na `n paar oomblikke stilte, sê `n ou leraar wat teen­woor­dig is: “Kan jy, Meneer, vir ons Psalm 23 voordra, asb.” Die akteur huiwer vir `n paar oomblike en antwoord dan: “Ek kan, en ek wil ook, maar op een voorwaarde. Na ek dit voor­gedra het, Dominee, sal u dieselfde doen?” “Ek?” vra die leraar verras, “ maar ek is nie `n spraakkundige nie.” Hy  kug. “Maar goed as dit is soos jy dit wil hê, dan doen ek dit.”

Die akteur begin die Psalm indrukwekkend voordra. Sy stem en stembuiginge is presies reg. Hy boei en behaag die gehoor en toe hy eindig breek `n hartlik applous van die kant van die gaste los.

Toe die applous bedaar, staan die ou le­raar op en begin die Psalm eerbiedig voordra. Sy stemtoon is nie waffers nie en sy stem­buiginge, is nie foutloos nie. Toe hy eindig verbreek geen applous die stilte wat oor almal gedaal het nie. Baie koppe is gebuig en talle oë is vol trane.

Die akteur kom op sy voete. Sy stem bewe toe hy sy hand op die ou dominee se skouer lê, en hy sê: “Ek het julle oë en julle ore be­reik, my vriende; hy het julle harte bereik. Die verskil is net dit – ék ken die Psalm, maar hy ken die Herder.”

Die nederige aanvoeling van hierdie gevierde voordragkunsenaar, pas by 1 Korinthiërs 13 se erkenning van uiterlike bekwaamhede wat nie op­weeg teen geeslike krag nie: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek `n klinkende metaal en `n luidende simbaal geword (1).”


“Here, vandag wil ek nie anders as uit my hart U erken en bely nie.”

Wo 23 Mrt: Direkte Getuienis

LEES: Johannes 20: 11 – 18

“Jesus sê vir haar: Maria! Sy draai haar om en sê vir Hom: Rabboeni! Dit beteken Meester (16). “

Die orkesdirigent, Reichel, gee sy groot orkes en koor, `n afrondingsoefening voor die aan­bie­ding van Händel se Messias-koor, voor `n groot gehoor. Die koor sing saam tot by die punt, waar die sopraansangeres alleen die koor­gedeelte, “I know that my Redeemer liveth” sing. Haar tegniek was presies, The Presbyterian of the South, beskryf dit so: “… she had faultless breathing, accurate note placing, flawless enunciation.” Alle oë is nou op Reichel gerig, om sy goedkeuring te hoor. Hy maak die orkes stil. Hy stap met droewige oë na die sangeres toe en vra: “My dogter, weet jy regtig dat jou Verlosser lewe? Wéét jy dit?” “Ja, hoekom?” vra sy met blosende gesig, “ek dink so.” Met luide stem sê Rei­chel: “Maar síng dit dan só! Vertel dit vir my dat ek dit kan weet en dat almal wat hoor, sal weet, jy kén die vreugde en krag van dít wat hulle hoor jy sing!” Hy beduie vir die orkes om dit weer te speel. Hierdie keer sing sy die waar­heid, soos sy dit weet en dit in haar eie siel ervaar en almal wat nou luister, raak bewoë onder die krag van haar lied. Die  konsertmeester kom na haar toe met betraan­de oë, en sê: “Jy wéét dit, want jy het my dit nou vertél.”

By Jesus se graf, het Maria Magdalena se stem, toe Jesus haar by die leë graf vra: “Wie soek jy?” en sy gedink het dit is die tuinier, en sy vra: “Waar het u hom neer­gelê?” ook sekerlik anders geklink, as toe Hy Hom aan haar bekend gemaak het: “Maria!” en sy oorstelp antwoord “Raboeni! Meester!” Eers twyfelend, vra­end, en toe oorwin­nend, seker! In ons eie harte is die krag en heer­likheid van Jesus se opstanding ook anders, wanneer die Heilige Gees dié groot waar­heid, ons eie bewussyn maak, en dit nie net `n afsydige ken­nis is wat ons het nie. Kom ons oordink en bepeins sy opstanding, totdat dit deur die Heilige Gees se werking, vir ons `n heerlike werklikheid is, en nie net kennis van `n waarheid nie.

“Here, vandag wil ek U in my hart as die lewende, oorwinnende Heiland ken en só van U getuig.”

Di 22 Mrt: God kan ons bewaar

LEES: Efésiërs 1: 15 – 23

…verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping…en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo…”(18,19)

Die prediker Charles Inglis vertel die ervaring van `n vrou, soos sy dit in hulle biduur vertel het.

Haar man moes in Europa toer en sy en haar dogters is in een van die Westerse State, in hulle groot, eensame huis, alleen gelaat . Daar was nie geleentheid om veiligheismaatreës te tref nie. Een aand net na hulle hulle gewone Bybellees en ge­beds­­kringetjie gehou het, het elkeen na hulle ka­mers toe gegaan. Toe sy in haar kamer instap, kyk sy op die oorkantstemuur in die spieël en sien `n man wat agter haar hangkas wegkruip. Sy was op die punt om te gil, maar dink toe daaraan, dit sal nie help nie. Wie sal hoor. Wie kan kom help.  In hulle Bybellees van die aand het hulle gelees van God se getrouheid en krag om ons te beskerm.  Sy besluit sy gaan God in hierdie saak vertrou. So dapper as was sy met haar bewende liggaam dit kon doen, loop sy oor die vloer en neem `n Bybel van `n kas af en gaan sit in `n gemakstoel. Hardop lees sy Jesaja 53. Daarna kniel sy by haar bed en bid hardop hoe hulle onbeskermde vroue is en sy vra God om hulle te beskerm van diewe, inbrekers en bose persone. Sy het skaars opgestaan van haar knieë af en weer op die stoel neergesak of `n hand word op haar skouer gelê. `n Stem sê sag, dringend, “Moenie skreeu nie of bang wees nie. Julle is veilig. Ek het hierheen gekom om die huis te beroof, maar daardie hoofstuk wat jy gelees het, het my ma dikwels vir ons in die huis gelees. En toe jy bid, dink ek aan my ma wat vir ons ook so gebid het. Ek gaan nou, maar wees vir niks bang nie.”

Die keuse van haar bybelhoofstuk was God se bestiering. Die man is na sy kinderdae teruggeneem. Ek is net jammer die verhaal vertel nie, wat van die man geword het nie. Het hy tot bekering gekom? Het God hom ontmoet? Ek wil dit dink en glo.

“Here, vandag wil ek onder u hand skuil.”

Ma 21 Mrt: Hemelse Ingenieurs

LEES: Psalm 18: 1 – 7

“Toe ek benoud was, het ek die Here aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom (7).”

Dan Crawford vertel van `n ondervin­ding, wat sy geselskap terugkerende sende­linge, na hulle Afrikasendinggebied, na `n ver­lof­tyd tuis, ervaar het. `n Redelike sterk rivier­stroom moes oorgesteek word. Hulle het geen bote byderhand gehad nie. Hulle haas om terug te keer was belangrik. Die sende­inge het gekamp en toe begin bid dat die Here vir hulle `n oorgang bewerk. Na `n effen­se tydsverloop, begin `n groot boom, wat vir moontlik `n eeu langs die rivier die krag van die stroom trotseer het, kantel en na `n ruk val dit om. Dit val regoor die stroom. Hulle kon dit soos `n brug gebruik om self en al hulle goed oor te neem na die anderkant toe. Hieroor sê Dan Crawford, en ek gebruik sy eie woorde: “The Royal Engineers of Heaven, had laid a pontoon bridge for God’s servants.”

God het `n doeltreffende brug vir sy sendelinge voorsien. Die natuur is onder God se beheer en Hy wentel en bestuur dit dikwels in antwoord op gebed. Ons ken die gebruik om te bid vir reën.

 “Here, vandag bring ek my nood na U toe.”

Vry 18 Mrt: Kosbare Sekerheid

LEES: Johannes 11: 20 – 26

“Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe…” (25).”

Die Gospel Herald vertel hoe die Britse soldate, na die slag van Inkerman van die Krimoorlog, die gesneuwelde soldate bymekaar gemaak het, om be­gra­we te word en die gewonde soldate, om hospi­taal toe geneem te word. Hulle kom af op die lig­gaam van `n jongman, wat swaar gewond, soos hy was, na die skadu van `n boom gekruip het. Hy het op sy arm gelê asof hy slaap. Hy was egter reeds dood. Toe hulle hom optel hoor hulle papier skeur. Hulle kyk nader en sien, hy het `n oop Bybel onder sy kop. Hy het sy bloeiende vingers op die oop By­bel geplaas. Die bloed het droog geword en sy hand kleef nou aan die bladsy vas en dit is wat hulle hoor skeur. Aan die bebloede hand sit die stuk van die bladsy wat uitgeskeur het nou vas. Hulle bekyk die bewoor­ding van die stuk van die bladsy wat steeds aan sy vingers vaskleef. Die soldaat wat by hom kniel, lees die bewoording op die bladsy wat aan sy bebloede hand vassit. Dit is `n deel van Johannes 11 en tussen die duim en voorvinger kleef die repie bloe­derige papier met vers 25 op: “…Ek is die opstanding en die lewe…(die res van die vers lees: wie in My glo sal lewe al het hy ook gesterwe.”)

Die jong Chrisen is begrawe met die repie papier tussen duim en voorvinger. Met die belofte dat Chris­tus die Lewe is, het hy uit wêreld van die ster­wendes, oorgegaan na die land van die lewendes, van stryd na oorwinning, van duisternis na lig, van pyn na vrede.  Ons sal die stukkie papier met so `n belofte op nie saam met ons graf toe neem nie, maar is dit in ons hart geskryf? Want dan is ons gered en gelukkig.

“Here, vandag wil ek die teks se woorde in my hart bêre.”

Do 17 Mrt: Lied en Melodie

LEES: 1 Petrus 1 : 3 – 9

“…al word julle nou – as dit nodig is – `n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud, wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word, tot lof en eer en heerlikheid by die opbenbaring van Jesus Christus…” (6,7)

“Hier is `n nuwe melodie wat ek geskryf het; wat sê dit vir jou?” Mev. Joseph Knapp, die komponiste van van talle geestelike liedere, kuier by Fanny Crosby, skryfster van die woorde van talle van die liedere wat ons sing. Mev. Knapp het sopas `n nuwe liedmusiek gekomponeer, maar sy het nie die woorde vir haar musiek nie. Terwyl die blinde lied­skryfster, Fanny Crosby, luister speel mev. Knapp die wysie oor en oor op die kla­vier. Die volgende sinne wil ek in die oorspronklike Engels skryf. “Sud­denly, Fanny Crosby’s face was lighted with inspriration. ‘Why, that music says ‘Blessed assu­rance, Jesus is mine!’ she answered.” Dit is hoe een van ons gewilde en geliefde Halleluja-liedere  geskryf is.

Fanny Crosby kan nie onthou of sy sy ooit die lig van enige dag gesien het nie. Altyd, solank sy kan onthou, was sy blind. Ons moet haar bewonder vir die wonderlike manier waarop sy haar ge­brek omge­skakel het in `n seën. Sy het nooit toegelaat dat iemand haar oor haar blindheid bejammer nie. Op `n dag het `n predikant met haar gesels en hy noem haar blindheid. Die blinde digteres het hom verras toe sy sê, soms is sy bly sy is blind. “Verstaan,” het sy verduidelik, “as ek in die Hemel kom, sal die eerste gesig wat ooit my sienvermoë gaan verheug, dié van my Verlosser wees.”

Petrus skryf, geloof is kosbaarder as goud, en tog word goud met vuur gelouter. Hoe moet die vuur nie wees warmee die |Here ons geloof louter nie. Die loutering is ook altyd na ons krag. Fanny se loutering was baie diep, maar suiwer geloofsgoud het na vore gekom.

Háár verduideliking oor die oorsprong van Blye Versekering, na aanleiding van mev. Knapp se lied­melodie, is: “It seemed to me one of the swee­test tunes I had heard in a long time.” Sy gaan voort: “Toe sy my vra om `n lied vir die melodie te skryf, het ek ge­voel, ter­wyl ek woorde en klanke bymekaar bring, die melo­die en die woorde is vir mekaar bedoel. In die hon­derde kere wat ek dit hoor sing het, het die ge­voel dat melodie en woorde bymekaar hoort, verdiep.

Blye verseekring, Jesus is myn’

O, watter vreugde heerlik en rein!

Wedergebore, rein deur sy bloed,

Smaak ek sy vrede in my gemoed.

“Here, vandag dank ek U vir hierdie vreugdevolle versekering wat ek ook het.”

Wo 16 Mrt: Meer Anderkant

LEES: 1 Korinthiërs 2: 7 – 16

“Wat die oog nie gesien die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir dié wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees ge­open­baar…ons het die sin van Christus (9,10,16).”

Voor Columbus die Nuwe Wêreld vir sy landgenote ontdek het, het die Wapenteken van Spanje die woorde gedra: “Ne Plus Ul­tra”, wat beteken: “Daar is niks anderkant nie.” Ek gebruik Walter Knight se woorde: “The 3-mile limit of their shore line was the limit of their utmost horizon.”  Hulle strand se lewenswydte om hulle was 3 myl. Dit was hul­le horison. Columbus se gewaagde verde­re uitsig om `n onbekende see aan te durf, en sy ontdekkings, het meegebring dat die “ne” uit die landswapen weggelaat is en slegs die Plus Ultra  het gebly. Wat beteken het: “Daar is meer anderkant “There is More Beyond”.

Voor die Here Jesus Christus in ons wê­reld gekom het en lewe en onsterflikheid aan die lig gebring het, was die graf ons uiter­ste lewens­litmiet. Die grens van alle hoop.  Die spreuk Ne Plus Ultra was die leuse van die mens, totdat Jesus die dood van sy angel ontneem het en die glans van `n ewige lewe op die donker vallei van die dood gewerp het. Ek gebruik weer Walter Knight se mooi woorde: “Now there shines from the portals of death the hope-inspiring words; ‘Plus Ultra’ – THERE IS MORE BEYOND.” Vanaf die portale van die dood kom die in­spirerende be­moediging: ”Daar Is Meer Ander­kant.” Hoeveel meer, sal die ontvouende ewig­heid aan ons bekend maak. Slegs die onmeetlike ewig­heid sal dit vir ons bring. Selgs met ons ver­heerlikte lewens in die hemel, sal ons iets van die omvang van God se ewigheid kan meet. Paulus skryf in 1 Kor. 2:9: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van `n mense nie opgekom het nie, wat God berei het vir dié wat Hom liefhet.” Die mens wat verlore gaan na die dood, moet nie net die onbeskryflike lyding van die verdoemenis ontbeer nie, maar mis ook die heerlikheid van God se hemel. En Jesus het sy pynlike verlossingswerk kom doen, dat elkeen wat wil, die weg van die lewe na die ewige hemel kan gaan. En Jesus het die toe­gang na so `n lewe so maklik en binne ons bereik gebring. Hy klop aan ons hartdeur en sê: “As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe… (Opbaring 3:20).

   “Here, vandag hoor ek en ek nooi U in my lewe in.”

Di 15 Mrt: 'n Oop saak

LEES  Matthéús 10: 28 – 32

“Elkeen dan  wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is (32).”

`n Amerikaanse prokureur kom met groot opgewondenheid by sy huis aan. Toe hy sy vrou groet, sê hy vir haar: “Vroutjie, wees saam met my bly. Ek het vanaand by die diens, wat ek bygewoon het, tot bekering gekom. Kom ons hou sommer nou ons eerste aandgodsdiens,” “My man, ek is so bly saam met jou, maar in die sikamr sit drie prokureurs vir jou en wag om `n saak te bespreek. Ons kan nou saambid, maar ons sal dit nou eers sommer in die kombuis moet doen.” Haar man reageer baie beslis. “My vrou,  ek het Jesus nog nooit in my huis ingenooi nie, en ek sal hierdie eerste keer, Hom regtig nie kombuis toe vat nie. Hiermee stap hy sitkamer toe. Sy vrou trippel onseker saam. Toe hy in die sit­kamer kom, groet hy sy kollegas met `n wuif van die hand en sê: “My vriende, heel eerste wil ek graag vir julle sê, ek het vanaand die Here Jesus Christus as my Verlosser en Here aanggeneem. Sal julle asb. nou ons saam laat bid. Ek wil die Here dank dat hy uiteindelik in my lewe en daarom ook in my huis ingekom het. “ Die drie manne buig hulle koppe en sluit die oë en die nuwe volgeling van die Here Jesus dank eers die Here vir sy eie redding en bid toe vir vriende om hom spoedig te volg.

Die nuwe bekeerling wat Christus dadelik na sy sitkamer toe geneem het en Hom voor sy vriende bely het, het voortaan hierdie uitgesproke getuienis gehandhaaf. Ek haal die oorsproklike skryfwer aan: “This new convert made a clear-cut confession of Christ as his Lord and lived to witness for Him. He became Chief Justice of the United States Supreme Court, John McLean. Die Here Jesus moedig hierdie openlike getuienis vir Hom, en dan natuurlik ook die lewe wat daarby pas, aan deur te beloof: “Elkeen dan  wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. God eer hierdie gesindheid ook, deur vir sy nuwe kinders weë vorentoe oop te maak.

“Here, vandag wil ek U openlik bely.”

Ma 14 Mrt: 'n Skeermes se snykant

LEES: Romeine 6: 22 – 23

“Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here (23).”

In die Gideon Magazine vertel Dr. Will H. Hough­ton, die insident van`n man wat Chicago besoek het om goedere vir `n New Yorkse sakekamer te ver­koop. Hy het geld van die onderming gesteel, totdat hy `n paar duisend dollars geskuld het. Hy het `n manier uitgedink om sy gewete stil te maak. Hy sou elke dag hard werk. In die aand dan plekke van vermaak, tot laat in die nag, besoek. Dit het gemaak dat hy nie saans wakkergelê het en aan sy oor­treding gedink het nie. Een oggend, in sy Chicago­hotel, slyp hy sy outydse skeermes, op die leer skeermesstroper, om dit skerp te kry. Hy soek `n stukkie papier om die skeermeslem aan af te vee. Al wat hy raaksien, is `n Gideonbybel wat op die kas lê. Hy skeur `n bladsy uit die Bybel en vee sy skeermes daaraan af. Op die spoor van die skeerseep lees hy `n sin op die Bybelbladsy. “Die loon van die sonde is die dood; maar die gawe van God is die ewige lewe deur ons Here Jesus Christus.” Die ontnugterde verkoopsman sit die Bybel vir twee ure lank en lees. Hierna gaan hy op sy knieë langs die bed staan, met die Bybel oop voor hom en hy bely sy sonde en sy nood aan God en hy neem Christus aan as Verlosser. Hy kom onder die indruk van die nuwe lewe wat aan hom gegee is. Hy laat weet sy firma in New York hy keer terug. Aan die firmabestuurder bely hy die diefstal van die geld. Hy is nie vervolg nie, ook nie ontslaan nie, maar hy word toegelaat om maandeliks, soos hy dit kan bekostig, `n terugbetaling van die geld te doen.

Dr. Will Houghton sê, die laaste wat hy van die man gehoor het, is dat hy nou in New Jersey woon, sy Christenskap uitleef en getuig van die krag van die Bybel en die reddings­krag van sy Verlosser, Jesus Christus.

As`n skuldbewussyn die gewete kwel, of `n vrees van die ewigheid maak die hart onrustig, draai dadelik na Jesus toe en roep Hom aan, bely die probleem en vra sy redding. Hy neem almal aan wat met sondeskuld vir redding na Hom toe kom.

“Here, vandag vertrou ek in U as my Verlosser.”

Vry 11 Mrt: Neem die Geskenk Aan

LEES: Efésiërs 1: 15 – 23

 …verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping…en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo…”(18,19)

“Ek onthou my vergeefse pogings om die Chris­tenlewe te begin,” skryf W. Y. Fullerton in Wal­ter Knight se boek, Treasury of Illustrations. “Een Son­dagoggend het ek tot die besluit ge­kom, om van daardie dag af `n Christen te wees. Ek het nie ge­twyfel dat ek weet, wat my te doen staan nie. Die slegte dinge in my le­we gaan ek dadelik laat vaar. Ek het verskillende slegte dinge in my lewe `n plek gegee. Die goeie dinge moet nou vookeur kry: my Bybel meer lees, meer bid, dadelik omdraai as ek in versoeking kom om iets slegs te doen, en as ek dit kan regkry, moet ek ook huil, as ek die slegte doen. Dit is begryplikerwyse die regte ma­nier. So begin ek toe. Dié Sondag het ek nogal geslaag, Maandag ook en die Dinsdag toe ook darem nogal. Maar daardie Woensdag en Donderdag struikel ek soveel keer struikel dat ek Vrydag en Saterdag tou opgegooi. Ek het nie heel moed verloor nie, want ek het be­sluit, ek begin weer Sondag, en nou weet ek beter watter foute ek gemaak het. Ek het dus nog méér Bybel gelees, méér gebid, soveel gebid dat ek partykeer langs die bed aan die slaap geraak het. Dit het vir my ook gevoel my berou is dieper as voorheen as ek iets verkeerds gedoen het. Soms het ek  trane laat vloei.

Een wonderlike Sondag­mid­dag het `n be­soe­kende leraar vir ons gepreek. Hy het baie dinge gesê wat ek vergeet het, maar een sin van hom onthou ek en dít was die lewende woorde vir my dorstige, soe­kende siel: “Al wat u hoef te doen om gered te word, is om God se geskenk van redding, wat Jesus aan die kruis uitgewerk het, te neem en ‘Dankie’ te sê.” Hier was vir my nuwe lig. Tot hier het ek probeer om van my lewe vir God `n geskenk te maak, wat vir Hom werd sou wees om aan te neem. En nou hoor ek, ek is die een wat die ge­skenk moet aanneem wat God vir my, teen so `n groot prys, voorberei het, en ek moet vir Hom net dankie sê. Daardie Sondag­middag het my hart na God gedraai en ek het die geskenk geneem. Van toe af het ek met my lewenswyse vir Hom dankie probeer sê. (Eie woorde) I have not yet learned to say it well, but I keep on trying to say it better, and some day, by infi­nite grace, I believe I shall have learned to say it perfectly”. “So lief het God die wêreld ge­had dat Hy sy eniggebore Seun ge­gee het, so­dat elkeen wat in Hom glo, nie ver­lore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Joh.3:16).”

“Here, vandag hou ek op om self te probeer, ek glo en neem U redding aan.”

Do 10 Mrt: Skade vir Pligsversuim

LEES: Lukas 10: 29 – 37

“”Maar `n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom….innig jammer gevoel en na hom gegaan…sy wonde verbind…en hom na `n herberg geneem…” (33,34).”

Ons storie gaan oor `n koning wat `n groot rots in die middel van die pad, wat gebruik word, laat plaas het. Hy het daarna, sonder iemand se medewete, naby die rots geskuil, sodat niemand hom kon sien nie. Verskillende persone het verbygekom en sommige het hardop die koning verwyt dat hy die rots nie laat verwyder nie en hulle nou moet sukkel om verby te kom. Nie een het eers probeer om die sigbare, swaar rots te verwyder nie. Heel laaste het `n arm man by die rots gekom. Hy het sy vrag groente wat hy in die dorp wou gaan verkoop eenkant neergesit en met groot kraginspanning die rots in die rioolsloot gerol. Hy draai om om sy groente op te tel en daar sien hy `n beursie lê waar die rots gelê het. Die beursie is vol goue muntstukke en `n briefie van die koning wat sê, die beursie is die eiendom van die persoon wat dit optel.

Ons pad is vol versperrings, kruise, las­tige swaar padversperings. Maar onder elke kruis of las het ons Koning `n verborge seën geplaas. Van ons optrede maak ons Ko­ning uit die hemel ook `n waarneming. Ons kan wegdraai van die kruis of las wat ons pad ver­sper, of verby dit skuur, maar ons is ver­loorders as ons dit sou doen. Ons kan nie die kruis ontduik, sonder om ook God se seën te verloor nie. Soos die koning in die storie, is ons Hemelse Koning, se oë ook op ons gerig.

`n Gediggie word ook geplaas, maar van die 4 verse gee ek dié een:

O Lord who knowest every need of mine,

Help me to bear each cross and not repine

Grant me fresh courage every day,

Help me to do my work alway

Without complaint


“Here, vandag wil ek oplet vir geleenthede waar ek vir iemand anders `n las kan help wegneem.”

Wo 9 Mrt: Wie hou wie vas

LEES: Jesaja 40: 9 – 11

“Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra (11).”

Die klein dogtertjie Maisie was moeg en lastig. Die ma tel haar op en hou haar styf en liefdevol teen haarself vas. Na `n kort rukkie is sy rustig en te­vrede. Die ma self was moeg, want haar eie moeder is `n kort rukkie gelede oorlede. Sy treur nog oor `n ma wat háár vasgehou het toe sy klein was. Die ma sug bokant die gouekrulkoppie wat so lekker teen haar lê. Maisie vra: “Wil Mamma nie hê ek moet Ma vas­hou nie.” Teen haar sin kom die ma se trane. Die kleintjie streel die ma se wang en dink waarmee kan sy haar ma troos. Eindelik fluister sy vir die ma: “Mamma, sal Jesus Mamma nie vashou nie? Sal Hy nie”? Die ma wat vir haar klein dogtertjie in die Bybel gelees het hoe, die Here, die Herder, die klein skapies vashou en dra, voel dadelik diep getroos.

Ons hét baie bedroewende omstandighede, maar gelukkig het ons `n Here wat self gesê het: “Ek is die goeie Herder: die goeie herder lê sy lewe af vir sy skape (Joh.10:11).”

“Here, vandag rus ek in U arms teen U bors.”

Di 8 Mrt: Waar is God?

LEES: Lukas 18: 15 – 17

“Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hul­le nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God (16).”

In The Life Line word `n kinderlike hospitaal­storie vertel. Ek gebruik eers Life Line se woorde want dit kleur die storie vir my mooier.: “Doctor, I want you to get me well by Sunday!” said a dear little lad not yet five years old, stricken suddenly with a fatal disease.

Dié seuntjie, skaars vyf jaar oud, lê met `n nood­lottige kwaal in die hospitaal en nou dring hy by sy dokter aan om hom teen die Sondag gesond te hê. “Hoekom, my seuntjie?” vra die goedige dokter. Die seuntjie antwoord: “Ons juffrou by die kinderkerk het ons verlede Sondag gewys hoe lyk die tent waarin die mense God gedien het. Ons het net die buite­kant gesien, want daar was `n gordyn, en ons juffrou sê, net die priester gaan daarin om met God te praat. Maar hierdie Sondag wat kom gaan sy vir ons wys hoe dit daar binnekant lyk en wat gebeur. Ag, Dokter, sal ek kan gaan? Ek wil so graag sien hoe lyk dit daar binnekant waar God is.” Die dokter loop na die venter toe terwyl klein Charlie praat. Hy kom nou terug na die kind se bed toe en lê `n strelende hand op die kind se koorsige voorkoppie. Sag antwoord die dokter: “Volgende Sondag, my kind, sal jy dalk by die regtige plek wees waar God is.” Die volgende Sondag is sy bedjie leeg. Klein Charlie het oorgegaan van die aarde af na die plek waar God is.

            In die grootheid van sy iefde het Jesus vir kinderhartjies wat na Hom verlang `n besondere liefde gehad. Ek wil dink klein Charlie is regtig hemel toe. Jesus het gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos `n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie (Luk.18:17).”

“Here, vandag verlang ek na die plek waar God is.”

Ma 7 Mrt: Vir Elkeen Persoonlik

Lees Johannes 12: 44 – 50

”Ek het as `n lig in die wêreld gekom sodat elkeen wat in My glo , nie in die duisternis sou bly nie (46).

’n Man wat lief was vir visvang, neem met voor­­­bedagte rade, een Saterdagmiddag sy visge­rei en ry af na die groot dorpsdam toe. Langs die wye waterkant van die dam sit van sy hengel-maats reeds, elkeen op sy uitsoekplek, hoek in die water. Hy kry sy visstok reg, sit aas aan die hoek en gooi in. Toe gaan sit hy in sy seilstoel en laat sy gedagtes loop. Hy het ’n probleem met sy gees­telike lewe.

Die verhouding tussen die Christen en die He­re is vir hom nie duidelik nie. Vroeër die week het hy gelees hoe Jesus saam met sy dis­sipels langs die see, tussen die visnette en vis wat hulle ge­vang het, gesit het en hulle vrae be­ant­woord het. Dít is wat hy vandag by die viswater kom soek het: ’n ant­woord. Sy probleem was: hoe kan die Here hóm, as enkeling tussen miljoe­ne mense op aar­de, persoonlik ken, hóm persoonlik liefhê en hom per­sóónlik roep? Hy glo al die evangelie­waar­hede: God het die mens lief en het sy eniggebore Seun as ’n offer vir die wêreld se sonde gegee. Hy glo Jesus se opstanding en hy glo die koms van die Heilige Gees na hierdie wêreld toe ná Je­sus se hemelvaart. Hy glo dat iemand wat in Chris­tus as Verlosser glo, na sy dood hemel toe sal gaan. Maar die stok in sy wiel was: hoe ken die Here hom persóónlik en hoe het die Here hóm persoonlik lief, gelyktydig met die miljoene an­der mense in die wêreld.

Die dominee het verduidelik dat God se liefde, deur Christus en deur die werking van die Heilige Gees, na elke mens toe uitgaan, net soos die lig en warmte van die son, deur die atmosfeer gedra, na elke mens toe uitstraal. Elke mens voel die warm­te van die son op sy vel en elke mens loop in die lig van die son se lig.  Dit beantwoord egter nie sy diepste behoefte nie. Hy voel die son se warm­­te op sy lyf en sien die son se lig met sy oë, maar dit is steeds as deel van ’n geheel, van ’n me­nigte. Hoe kan hy dit verstaan en glo en weet: die Here ken hóm en het hóm lief.

Terwyl hy so peins, en nie eers opmerk hy het ’n byt nie, sak die son laer af aan die westerkim. Vanwaar die son aan die westerhemel hang, weerkaats ’n baan lig oor die spieëlgladde watervlak, direk van die son af, na hom toe. Hy staan op en stap ’n paar tree laer af. Die baan lig volg hom en kom weer direk na hom toe. Hy stap na ’n ander visserman toe en terwyl hy met hom gesels, kyk hy na die son se weerkaatsing op die water. Dit kom reguit na hom toe. Uit ervaring weet hy dat elkeen van die manne wat langs die waterkant versprei sit die son ook so na húlle elkeen persoonlik toe sien straal.

’n Groot blydskap kom in sy hart. ’n Eenvoudige na­tuur­verskynsel het vir hom die antwoord op sy vraag gebring. God ken hom persóónlik en Hy kom in Christus Jesus, deur die werking van die Heilige Gees, direk na hom persóónlik toe.  In die diepte van sy hart fluiser hy: “My Vader, my Here, en my God.”

“Here, vandag weet ek dat U my ken en my liefhet.”

Vry 4 Mrt: Die Behoefte

LEES: Lukas 18 : 35 – 43

“Here, dat ek kan sien (41).”

The Christian Herald vertel van `n verslonsde ou man, wat op `n dag met `n hewige verkoue by `n apteker se apteek, direk op die apteker afstap. “Asseblief, Meneer,” sê hy, “gee my iets vir my slegte griep.” Die apteker reageer dadelik: “Het jy `n voorskrif gebring.” Die man antwoord: “Nee, ek het nie `n voorskrif by my nie, maar ek het die verkoue by my om gesondgemaak te word.” The Christian Herald maak die opmerking: “How often sinners seeking a cure for sin try to bring their prescription to God.” Maar dit is nie waarvoor God vra nie. Hoe dikwels het Jesus nie vir `n behoeftige persoon gevra: Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” Al wat die Here van ons wil hoor, as ons sy redding en hulp soek, is dat ons ons behoefte stel. Die Herald stel dit mooi: Jesus asks for nothing, save that the sinner should say, ‘Just as I am, without one plea, but that thy  blood was shed for me.’”

“Here, vandag vra ek redding van my sonde.”

Do 3 Mrt: Die Diep Krag

LEES: Jesaja 53: 1 – 12  Ou Vertaling

“Maar hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (5).”

“Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongereg­tigheid van ons almal op Hom laat neerkom (6).”

“Hy is mishandel hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos `n lam wat na die slagplek gelei word en soos `n skaap wat stom is voor sy skeerders – ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie (7).”

In The Illustrator vertel Dr. J. H. Wilson, hoe hy  enige jare gelede, saam met een van die mees gesiene Jode van daardie tyd, Dr. Cappa­dose van Amsterdam, gereis het. Die belangrike Jood sê vir Dr. Wilson. “Sou jy graag wou weet hoe ek `n Christen geword het?” “Baie, graag,” antwoord Dr. Wilson. Dr. Cappadose vertel: “Ek was besig om my Hebreeuse Ou Testament te lees. Ek kom by Jesaja 53. Ek het die hoofstuk al voorheen gelees, maar hierdie keer is dit of my oë geopen word. Vir die oomblik wonder ek, of ek nie ingedagte, ‘n Nuwe Testament in die hande gekry het nie. Ek draai die rugkant na my toe, om seker te maak dit is regtig my eie Bybel. Soos ek die hoofstuk oor en oor lees, sien ek wat ek nooit voorheen opgemerk het nie – sonde is op iemand anders gelê. En wie anders sou dit kon wees as die Here Jesus. Die einde is, ek het `n Christen geword, geheel sonder gebruik van die Nuwe Testament.

Eeue en eeue terug, in die Ou Testament, het profete reeds die boodskap van Jesus se krui­sig­ing, ter sprake gebring, maar Jesaja is een van die duidelikste vooruitvertellings, van wat met Jesus sou gebeur. Ons eie hart gaan ver­sterk word vir ons eie Goeie Vrydagherdenking, as ons Jesaja 53 deurlees.

“Here, vandag herdenk en glo ek wat U soveel eeue voor sy koms tot sy Verlossersheerlikheid laat weet het.”

Wo 2 Mrt: Die Gerusstelling

LEES: 1 Johannes 1: 5 – 10

“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig (9).”

Soldier’s Evangel vertel van `n Britse mili­têre hospitaal, wat vol swaar gewonde soldate was. `n Verpleegster het elkeen volgens sy nood probeer gerusstel. Iemand hoor hoe die ver­pleeg­ster een van die soldate, wat beson­der swaar gewond was en dalk nie sou lewe nie, probeer gerus stel. “Jy hoef nie oor jou sondes onrustig te wees nie,” sê sy vol self­versekering. “Enigeen wat sy lewe vir sy land gegee het, soos jy gedoen het, se sake is reg by God.” Die soldaat gelimlag effens, maar skud sy kop en antwoord: “Dis `n fout om so te dink. Toe ek daar in die veld gelê het, het ek geweet ek het my deel gedoen. Ek het my koning en land gedien. Maar dit het my nie gehelp, om met vrede, te dink ek moet voor God staan nie. Ek was nie gereed om te sterf nie en ek het dit geweet. Dit was vir my sedert­dien `n daaglikse bekommmernis. Maar die an­der vrou wat elke dag ons kom besoek en vir ons uit die Bybel lees en vir ons bid, het my laat verstaan, die Here Jesus is vir my sondes ge­straf, sodat ek met gerustheid na God toe kan gaan. Vrede het in my hart gekom. Hoe wonderlik was dit van Hom om vir `n mens soos ek te sterf, dat ek gered kan word! Soldier’s Evangel skryf dit so: No works of righteousness we have done can save us, for our righteousnesses are but as filthy rags in the sight of the all-holy God. Laat die Naam van Christus, ons enigste gerusstelling en ver­troue wees, as ons die ewigheid moet ingaan.”

“Here, vandag vertrou ek in Jesus vir my sondevergifnis.”