Na 1 Jun: 'n Dag wat anders was

Lees Johannes 19:17-34

“Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe…in Hebreeus Golgota. Daar het hulle Hom gekruisig…” (17,18).

Dáárdie Vrydag sou ’n dag wees, anders as al die an­der dae wat die aarde ooit geken het. Die dag toe God sy profetiese afspraak met die mens­dom nagekom het.

By een van die stadspoorte gil die eerste voor­lopers van haat en venyn. Die eerste lentegras­sies buig en knak voor driftige voete en ’n kreet, wat nooit vergeet sal word nie, swel uit: Kruisig Hom! Kruisig Hom! Die swepe van die soldate klap met wilde min­ag­ting onder die jillende, springende skare…dan val die lenteson op ’n Man wat uit die skadu van die stadsmuur strompel on­der die dwars­balk van ’n kruis. ’n Entjie, asof ge­dra deur die ge­weld van die haat, bly Hy regop, maar as die paadjie op­styg teen die heuwel van Golgota, knak die brose lig­gaam van ’n mens, wat reeds foltering op foltering moes verduur, in die nag wat verbygeskuif het.

Simon van Ciréne word deur die skare voren­toe gestoot: “Kom, ou sterke, dra vir Hom die kruis!” Op teen die paadjie van Gólgota…op onder ’n son wat neerskroei op die flar­de van ’n verskeur­de, gegéselde rug… op na die plek waar die Lam van God ge­slag moet word…op na die rots van skedels.

Sy klere word wegge­neem…die bebloede rug word uitge­strek op die kruis…die arms uitgespalk op die dwarsbalk…Hy bied geen weerstand nie…die skare word stil en stiller… me­taal slae van die hamer val op die spy­kers en die voorste toe­skouers steier terug…sy ving­ers span strak en bewend teen die hout…die voete word oor die genadebalkies gespan en vuil, skerp yster dring deur sag­te vlees en strakke senu­wee … bloed wel stadig op en drup af van die hande en die voe­te… die kruis word op­gehys…die voetstuk glip in ’n vlak gat en word met los klippe vas­gepak…nou moet die oë gelig word om Hom te sien…die skare kyk op en dan bars die haat, aan­ge­­hits deur die leiers, weer los: “Ha! Ander het hy verlos! Laat hy homself nou verlos!” Aan die voet van die kruis tap sy bloed in die stof op die grond…die dobbelstene van die soldate kletter op ’n plat klip…een uur en nog een gaan verby …die skare skreeu en raas deurmekaar…’n dra­len­de oomblik tus­­sen blik­­sem­­straal en donderslag…sy lippe roer: ”Vader, ver­geef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie…… Dit is volbring!”…in die tempel skeur die voorhangsel van bo na onder. Vir sondaars is die weg na God toe oopgemaak!

Dít het Hy vir jóú gedoen, wat doen jy vir Hóm?

“Here, vandag wil ek dié vraag eerlik antwoord.”

Vry 29 Mei: Die Groot Vrug

Lees Kolossense 1: 1 – 8

“Die evangelie het julle bereik…soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei (6).”

 Op ’n dag staan die ryk, geleerde, jong Duitse edel­­man, Graaf Nicholaus Ludwig von Zinzendorf, wat in 1700 in ‘n vooraanstaande Europese familie ge­bo­re is en in ’n om­ge­wing van gebed, Bybelstu­die en lof­­sange opgegroei het, in die kunsmuseum van Dussel­dorf na die skildery Ecce Homo en kyk. Die woor­de onderaan die gehawende figuur van Je­­­sus op die skildery, soos Hy gelyk het na Pi­latus se sol­date met Hom klaar was, gryp hom aan: Dit het Ek vir jou gedoen. Wat doen jy vir my? Hy was reeds ’n Chris­ten, maar hy was ’n besadige vol­geling van die Here Jesus. Aangegryp deur die woor­de sê hy vir homself: “Ek het Jesus al vir ’n lang tyd lief, maar wat het ek al vír Hom gedoen? Van nou af gaan ek alles doen wat Hy van my mag vra.” Daardie dag het teruggegaan huis toe en op sy grond, Hernhut, die Morawiese Sending begin.

 John Wesley, die trotse jong priester van The Church of Eng­land, wat in Ame­rika sendingwerk gaan doen het, het daar met Mora­wie­se sendelinge in aan­raking kom en uit húlle toegewyde geloofslewe agter­ge­kom, hy is self nie regtig ’n bekeerde man nie. Hy is te­rug­ Engeland toe, om sy eie lewe eers te gaan regkry. Dáár het ’n Morawiese prediker vir Wesley na die Here gelei. Die groot oes het begin inkom. John Wesley en sy broer Char­les het die Metodiste-kerk gestig en saam met George Whitefield die leiers geword in die groot herle­wing, wat van die middel van die 18de tot diep in die 19de eeu, geduur het, en selfs na Suid-Afrika toe uitgebrei het, waarvan die jaarlikse pinksterbidure nog ’n navrug is. ’n Geseënde vrug het voortgevloei uit die nederige, erns­tige vraag, van die arm sigeunermeisie, wie se hart deur die Heilige Gees ontwaak is, toe sy na die Here Je­sus se lyding gekyk het. Ek wens ek kon weet wat van Papita geword het, maar ek wil glo sy het die Here Jesus, aan wie sy haar hart eintlik reeds gegee het, be­ ter en beter leer ken. Ek hoop ek sal, saam met u, haar groot loon in die ewigheid kan gadeslaan.

 “Here, vandag bid ek vir die uitbreiding van u koninkryk.”

Do 28 Mei: 'n Klein Saadjie

Lees Galásiërs 2:17 – 21

“…die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (20).

Die beroemde 16de eeuse skilder, Guido Reni, was besig om sy latere, wêreldberoemde skil­de­ry, Ecce Homo – Dít is die Mens – te skilder. Die benaming kom uit Johannes 19:5: “Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: ‘Dít is die mens!’” Hierdie toneel skiler hy. Eendag sien Re­ni ’n jong sigeunerin, baie mooi, met lang swart hare en fonkelende oë, langs die pad sit en mand­jies vleg. Haar ver­­weer­­de rok verraai haar ar­moe­de. Toe sy sien hoe die vreemdeling haar bekyk, spring sy op, klap haar vingers bokant haar kop en dans vir hom, hopende op ’n fooitjie. “Staan net so stil,” roep hy en vinnig maak hy ’n skets van die dan­­sen­de mei­sie. Hy sê vir haar hy wil haar as ’n Spaan­se dan­se­res skilder. Daarna kom sy drie keer ’n week na sy ateljee toe om vir die skil­der­stuk te po­seer. Haar naam was Papita. Ter­wyl Reni haar skil­der, bekyk sy nuus­kierig alles in die atel­jee. Haar oë val op die byna vol­tooi­de skil­der­stuk van Jesus se kruisiging. “Wie is daardie man in die middel?” vra sy. “Dis Jesus,” antwoord Reni kort­af. “Wat maak hulle met hom?” “Hulle kruisig hom.” “Wie is dan al die mense met die lelike ge­sig­te so om hom?” “Kyk hier,” sê Reni ergerlik, “ek kan nie met jou praat as ek jou skilder nie. Stil nou.” Vir die res van die ses­sie kyk sy net, maar sê nie weer ’n woord nie. Met haar volgende po­seer­ses­sie, was sy reg met ’n klomp vrae. “Hoe­kom krui­sig hulle hom? Was hy sleg?” “Nee,” kortaf van Reni af. “Hoekom doen hulle dit dan as hy nie sleg was nie?” “Kyk hier,” skree Reni op haar. “Ek gaan vir jou die hele storie vertel, maar dan bly jy stil dat ek met my werk kan aangaan.” Met groot oë luister Papita na die ver­haal van Jesus se krui­sig­ing – vir haar ’n aan­gry­pende, nu­we verhaal. Die kunste­naar se hart word lankal nie meer deur die verhaal ge­raak nie. Bang vir Reni praat sy nie weer oor Je­sus se kruisiging nie, maar toe haar skildery klaar is en sy haar geld ontvang en omdraai om te loop, kyk sy ’n laaste keer lank na die toneel van Jesus, soos Hy gelyk het na die soldate Hom “ge­gésel, geklap en met dorings gekroon het (Joh.19:1-5).” en Papita sê, met groot gevoel, omdat dit met ver­lange diep uit haar hart kom: “Meneer, jy het Hom seker baie lief, omdat Hy dit alles vir jou ge­doen het.” Die kun­ste­naar het niks geantwoord nie, maar hy kon haar woor­de nie vergeet nie: Hy het dit al­les vir jou ge­doen. Die saadjie was gesaai. Hy het kerk toe gegaan en (as Roomse Katoliek) skuld­be­ly­denis gaan doen. Dit het hom be­­ter laat voel. Tog kon hy nie vrede vir sy hart kry nie. Pa­pi­ta se vraag kom aanhoudend na hom toe terug: Jy moet hom seker baie liefhê. Hy kon nie meer rustig met die skildery van die ly­den­de Jesus voortgaan nie. Een aand gaan luister hy na ’n prostestantse evangelis se preek. Giudo Reni het aandagtig geluis­ter en daar­die nag, in sy kamer, vind hy waarna hy ge­soek het – vrede met God deur Jesus Chris­tus se kruisdood ook vir hom. Na hy die skildery vol­tooi het, het hy onderaan dié woorde geskryf: Dit het Ek vir jou gedoen. Wat doen jy vir my?

Die geringe saadjie wat Papita gesaai het, het deur die Heilige Gees in Giudo Reni se hart ont­kiem. Jesus het gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ’n mosterdsaadjie wat…die kleinste van die soorte saad (is), maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ’n boom, sodat…voëls in sy takke…nes maak” (Mat.13:31,32). Die evangeliesaadjie wat óns saai, kan ook maar klein wees. God gee deur sy Gees die groei. Die ontsaglike boom wat uit Papita se saadjie voort­gekom het, bekyk ons in môre se oordenking.

“Here, vandag wil ek ook vir U ‘n saadjie plant.”

Wo 27 Mei: 'n Geskrewe Verklaring

Lees Efesiërs 1: 15 – 23

“Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus…deur sy Gees…julle geestesoë so verhelder dat jul­le kan weet…watter rykdom…Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo” (16-19).

In Leslie B. Flynn se boek, 19 Gifts of the Spirit, vertel hy hoe die groot prediker, C. H. Spurgeon, ’n bejaarde vrou besoek, waar sy `n enkele kamer, in ’n so­genaam­de Alms House, ’n tehuis vir armlastiges, be­woon. ’n Geraamde, handgeskrewe dokument, met hand­­­te­ke­ning en al, teen die muur, trek sy aandag. Hy vra daar­na. Sy vertel sy het ’n bejaarde man versorg en net voor sy dood het hy die brief van waardering vir haar gegee. Kort daarna is hy dood. Dit was vir haar kos­baar en sy het dit geraam en teen die kamermuur op­­ge­hang. Na baie oor­re­ding laat sy Spur­geon toe om haar kosbare klein­­nood vir ’n paar dae te leen. Spur­geon neem dit bank toe en dit veroorsaak ’n hele op­skud­ding. Die bankbestuurder kom na hom toe en roep uit: ”Dankie! Ons kon net nie uitvind aan wie die ou heer al sy skatte bemaak het nie!” Die vrou in die armetuiste was skatryk, maar omdat sy haar do­ku­ment nie gelees en verstaan het nie, leef sy in armoede.

Ons het ook ’n geskrewe dokument, wat ons rykdom, aan ons beskryf. Ons is erfgename van ’n groot, ewige er­­fenis, met baie huidige voordele, maar ons leef in die ar­moede van spanning en vrees en neerslagtigheid, om­­dat ons ons dokument nie deeglik bestudeer en van ons voor­dele gebruik maak, en ons in ons komende erf­por­sie verbly nie. Ons dokument word Die Bybel ge­noem. God se gawe aan sondaars in Christus Jesus se verlossing word ryklik daarin beskryf. In die Ou Tes­ta­ment staan dit in beeldende en profetiese taal. In die Nu­we Testament word dit duidelik, op die man af, be­skryf: “…die Skrif kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die ge­loof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïn­spi­reer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig…vir elke goeie werk” (2 Tim.3:15,16).

“Here, vandag weet ek u Woord is kosbaar.”

Di 26 Mei: Die Krag van Gedrag

Lees Johannes 15:1 – 7.

“Wie in My bly en Ek in Hom dra baie vrug…my Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is” (5,7).

Kapt. James Haldane was ’n jong, vloekende vloot­offisier, aan boord van die Melville Castle. ’n Jong matroos, onder sy bevel, was ’n Christen. Hierdie jongman, het deur die voorbeeld van sy gedrag en blymoedige houding, en sy openhartige getuienis, sy kaptein vir die Here gewen. Kapt. Haldane het sy loopbaan in die vloot laat vaar en vir byna ’n halfeeu, ’n verkondiger van die evan­ge­lie geword. Hy het die naam van die jong matroos vergeet. Baie mense het onder James Haldane se bediening tot bekering gekom, onder andere sy broer Robert. Die Here het Robert gebruik om Felix Neff, die Switserse protestante leier, vir die Here te wen, sowel as Merle D’Aubigne, die beroemde his­torikus van die Hervorming, en die welsprekende pre­diker, Frederick Monod.

Hierdie vier manne, en mense wat weer deur hul­­le die Here gevind het, sal vir die jong matroos wat sy kaptein na die Here gelei het, en wie se naam op aarde nie bekend is nie, tot ’n blydskap en roem wees op die dag wan­neer die boeke oop­gemaak word en elkeen ont­vang na wat hy vir die Here gedoen het. “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor.5:10). Ons ken die lied wat ons waarsku en aan­moedig om tot die Here se diens te wees:

Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet?
Nie een dag aan Hom gewy nie, niks te offer aan sy voet?

Daar`s g`n vrees vir doodse bande, want my Heiland is getrou;
Maar te gaan met leë hande baar my bittere berou

”Here, vandag wil ek vir U ’n gewillige werktuig wees, en ander vir U bereik”.

Ma 25 Mei: Die Veilige Posisie

Lees Jesaja 41: 8 – 12

“Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek
versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (10).

’n Amerikaanse miljoenêr, Jay Gould, het eens per trein, deur die state, wat langs
die Stille Oseaankus lê, gereis vertel Rail­road Evangelist. Met sy terugkeer
besluit hy om deur Te­xas te reis. Die trein word, in ‘n klein westelike dorpie
van Texas, ‘n paar uur vir herstelwerk vertraag. Om die tyd te verwyl, stap Gould
van die stasie af met die dorpie se straat op. Op ‘n straat­hoek is ‘n groot klomp
mense bymekaar. Gould stap nuuskierig nader. ‘n Vendusie is aan die gang. Die
afslaer roep die hoogste bod, vir die artikel wat hy wil verkoop, ‘n paar keer
uit. Gould vra vir een van die omstanders wat verkoop word. Die man sê ‘n
kerkgebou word opgeveil. Die gemeente kon die bou koste nie betaal nie en nou laat
die bouer die kerk opveil om sy geld te kry. Die afslaer is op die punt om die
koop te beklink toe Gould hoër bie. Die bod word op Gould toegeslaan. Dadelik kom
drie ou grysaards op Gould afgestap. Dit is duidelik dat hulle nie weet wie hy is
nie. Hulle wil weet wat hy met die kerkgebou beplan. Die mil­joe­nêr kyk hulle
vriendelik aan. “Dit is nou myne” sê hy. “Ek kan dit hou as ek wil, of weggee soos
ek goeddink.” ”Ons is die trustees van die kerk en die kerkraad het ons ge­stuur
om te kyk wat met die kerkgebou gebeur. Op hierdie oomblik is die hele gemeente in
die kerk op hulle knieë, om die Here vir uitkoms te smeek, dat ons nie ons kerk
verloor nie.” ‘n Paar oomblikke kyk Gould stilswyend na hulle. Dan sê hy: ”Dit lyk
my julle het die kerk nodiger as ek, en julle kan dit beter gebruik as ek, daarom
gee ek dit vir julle.” Toe eers ontdek hulle hulle is besig om met een van die
land se rykste manne te praat.

Die skrywer sluit sy vertelling af met hierdie woorde: “This true story shows the
remarkable providence of God. Mr. Gould had to return through Texas; the trouble
with the engine happened at the right time; the stop was made at the right town,
where God’s people were praying for their church building. Mr. Gould was led in
his walk to the auction sale, and came to it at the right moment. And thus God
provided the answer to the prayers of the congregation. Yes, God is faithful, and
so it will be as long as God’s children trust and pray to Him in faith.”

“Here, vandag roep ek in my nood tot U, my troue God.”

Vry 22 Mei: Die Groter Ontdekking

Lees 2 Korintiërs 4: 1 – 6

“God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis,’ het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (6)

In Dictionary of Illustrations vertel Walter Bax­endale dat dr. Simpson, wat in 1862 die gebruik van chloroform ontdek het, ’n geliefde seun aan die dood moes afgee. Die jong seun was ’n bely­dende Christen met ’n blye vetroue in Jesus Chris­tus as sy Verlosser. Die manier waarop sy seun gesterf het, sy geloof en vrede en geduld, het hierdie briljante me­die­se pionier diep beïn­druk. In sy hart het die dokter tot die gevolgtrek­king gekom dat blywende gemoedsvrede en ware blyd­skap slegs in Christus gevind kan word. In die ure van sy sterwe het die jongman getuig dat die vrolikheid van die wêreld verbygaande en onse­ker is; dat die wêreld se plesier en vermaak slegs, in sy woorde, vergulde droefheid is. Die vrede wat Jesus met sy bloed gekoop het, is so ewig en bly­wend soos sy troon. Toe hy sterf het die seun ge­sê: “Hoe heerlik en kosbaar is dit nou vir my om van Jesus te praat.” Die dokter, sy vrou en die an­der kinders het rondom die bed gekniel en dr. Simpson het gebid dat hulle huidige be­proe­wing hul­le almal net nader na God sal trek: “Ja, dier­ba­re Jesus, Jamie se God sal nou ons God wees en ons wil vir U getuig soos Jamie dit gedoen het.”

Dit is soos ’n lig wat ons hart inskyn wanneer ons die verlossing in Christus ontdek en die waar­de en krag van Christus se sterwe en opstanding, deur die Heilige Gees, ons eie ervaring word. Die Here gebruik baie maniere om hierdie lig na ons har­te toe te bring. Die luister na ’n evangeliese preek, of ’n evangeliese boodskap wat ons lees, of die evangelie wat iemand aan ons deur getuie­nis oordra, is die algemene weg waar­langs dit na ons toe kom. “Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur ge­leerd­heid tot kennis van God sou kom nie. Daar­om het God in sy goedheid besluit om deur die pre­diking wat vir die wêreld onsin is, dié wat glo te red” (1 Kor.1:21). Soms bereik die Here nie op hierdie gewone manier mense se harte nie. Dan gebruik die Here in sy genade ’n ander manier om by hulle uit te kom.

“Here, vandag wil ek luister na u evangeliewoord.”

Do 21 Mei: Die Erkenning

Lees Handelinge 7:54-60

“Kyk,” het Stefanus gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan” (56).

Die Victoriakruis vir dapperheid is in 1857 die eerste keer deur koningin Victoria self in Hyde-park, Londen, toegeken. Die King’s Busi­ness haal ’n insident in dié geskied­kun­dige gebeurtenis aan. Een van die leër se veterane, gruwelik in ’n geveg vermink, het na die koningin toe opgestap, of lie­­wer opge­sukkel, om sy medalje te ontvang. Die ko­nin­gin kyk na hom, gooi die medalje neer, draai haar rug op hom, bedek haar gesig met haar hande en gaan bitterlik aan die huil. Die verminkte man bly heel tyd doodstil staan. Uiteindelik kom die koningin tot bedaring, vee haar oë met haar sakdoek droog en speld die medalje teen die man se bors vas. Sy sê vir hom ’n paar woorde. Hy antwoord met ’n stralende gesig: “God bless Your Majesty; we’d bear it all again for Queen and country.” Hieroor maak King’s Bu­siness die op­merking: “It was not the medal itself that brought joy to the soldier’s heart, but the fact that his service for the Empire was recognized at the hand of his sovereign.”

Die Bybel beloof beloning, bo die gawe van die ewige lewe, aan almal wat in die Here se konink­ryk gewerk het: “…elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duide­lik word …as iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word…” (1 Kor.3:13-15). Ons word uit genade gered, soos die moordenaar aan die kruis, maar ons werk vir die Here word beloon. Ons sal ons loon uit die Here se hand ontvang. Petrus beskryf die loon as ’n kroon van heerlikheid: “…wan­neer die Opperherder kom, sal julle die heer­lik­heid as on­ver­ganklike kroon ontvang” (1 Pet.5:2,4). Die be­lo­ning gaan wonderlik wees, maar dat ons die Here se eie erkenning sal ontvang, maak dit heer­lik. Stefanus het by sy steniging uitgeroep: “…ek sien…die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan”. Watter prys is te hoog vir ons as ons dink aan die wonder om uit Jesus se deurboorde hand ’n kroon te ontvang!

“Here, vandag wil ek U voluit vir my kroon dien.”

Wo 20 Mei: Blywende Uitstraling

Lees Filippense 2: 12 – 18

”Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra” (15,16).

In Sunday School Chronicle verskyn ’n kort be­spre­king van radium se werking. As ’n mikro­sko­piese krum­el ra­dium dopgehou word, sal ge­sien word hoe ’n on­ophou­de­li­ke stroom vonke uitgestuur word. Hierdie von­ke gee lig en hitte af, maar die korrel ra­dium ver­loor niks van sy eie energie nie. Soos die brandende do­ringbos in Moses se ge­skiedenis, is dit ’n wonderwerk. Dit bly onveranderd al stuur dit vir altyd chemiese en elek­trie­se energie uit. As dit in yskoue vloeibare lug of waterstof geplaas word, hou dit net aan hit­te en lig uitstraal en word nie deur die hef­tigste koue atmosfere gedemp nie. Die skrywer merk op: “Such ought to be the Christian life – living because Christ lives, a manifestation of the life and light of Christ.”

Die Heilige Gees gee in die hart ’n geestelike le­wens­­energie wat warmte en lig versprei, ongeag in wat­ter ne­ga­­tiewe atmosfeer dit plaasvind. Dit het die Chris­tene on­der vervolging krag gegee om in die aangesig van die dood hul getuienis te gee. Dit gee ook die Christen krag om in onvriendelike omstandighede van die werksplek of woon­omgewing Christus se Naam bekend te maak en sy le­wensbeeld uit te dra. “Vroeër was julle die ene duister­nis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aan­neemlik is, en moenie meedoen aan die die vrugte­lose praktyke van die duisernis nie, maar stel dit eerder aan die kaak” (Ef.5:8-11).

“Here, vandag wil ek deur u krag warmte en lig versprei.”

Di 19 Mei: As ons God vergeet

Lees Deuteronomium 8: 1 – 20

“Sorg dat jy nie die Here jou God vergeet…nie. As jy nie gehoorsaam is nie, kan dit gebeur dat jy genoeg eet en mooi huise bou en rustig woon…dat jou silwer en goud vermeerder en jou besittings al hoe meer word, en dat jy dan hoogmoedig word, en die Here jou God vergeet wat jou…bevry het…” (11-14).

“Soms dink ek ek is nie ’n Christen nie,” sê ’n jong seun vir sy dominee, met wie hy oor sy per­soonlike gees­telike lewe gaan praat het, vertel Bible Expositor and Illuminator. Dis of ek nie die­self­de geesdrif vir die Here se dinge het as vroeër toe ek lidmaat van die kerk geword het nie. Dis nie vir my maklik om aan God te dink en Hom te ont­hou nie.” Die dominee bid vir wysheid, want hy weet die seun het met sy belydenisaflegging sy hart vir die Here gegee. Hy antwoord met ’n vraag: “Hoe was dit die tyd toe jou pa so lank van die huis af was. Was dit vir jou swaar om hom te onthou?” ”Nee, glad nie,” antwoord die seun dadelik. ”Ons het elke week ’n brief van hom af gehad en ons het vir hom geskryf, en een keer ’n week het ons me­kaar gebel, en ons het omtrent gedurig van hom ge­praat. Daar was nie ’n kans dat ons hom kon ver­geet nie!” ”Veronderstel julle het nie van hom brie­we gehad of vir hom geskryf nie, of julle het mekaar nie gebel nie en julle het nooit oor hom gepraat nie, sou jy hom dan dalk vergeet het?” Die seun begin verstaan waarop die dominee afstuur. “Dan het ons hom dalk makliker vergeet,” sê hy met ’n glimlag. “Ek sien jy verstaan klaar wat ek vir jou wil sê,” sê die dominee ook nou met ’n glimlag. “Ja, dit is hoe dit met ons en God ook werk. Ons sien Hom nie en ons het niks om ons aan Hom te her­inner nie. As ons nie sy Woord daagliks lees, en daagliks bid en met ander gelowiges gedurig oor Hom praat nie, kan mens Hom maklik vergeet.”

Soms gebruik die Here beproewing om ons aan Hom te herinner. Voorspoed is ’n sterk verdowing van ons bewussyn van God. Dit is wat met Salomo gebeur het (1 Konings 11). Sy afhanklikheid van God aan die be­gin en sy toewyding om die tempel vir God te bou, het sy gedagtes geboei en die Here het groot plek in sy lewe gehad. Hy het God se dinge verkondig, selfs twee Bybelboeke geskryf. Maar sy voor­spoed en die ander volke en konings se vriendskap en bewondering, het hom van God af weggetrek. En veral het sy heidense vrouens, ’n duisend van hulle, wat elkeen ’n eie god gedien het, kort voor lank Salomo van sy God laat ver­geet en hy is ’n afgodsdienaar dood. “Veral in sy ouder­dom het Salomo se vrouens hom verlei om ander gode te dien…hy het nie getrou gebly aan die Here soos Dawid, sy pa, nie” (1 Kon.11:3-8).

“Here, vandag wil ek my aandag stip op U konsentreer.””

Ma 18 Mei: Die Waarde van Die Bybel

Lees Matteus 4: 1 – 11

“’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (4)

’n Vrou wat erg aan senuweespanning gely het, het die wêreldberoemde dr. Howard A. Kelly be­soek. Die le­wens­druk het ’n tol geëis, fisies en selfs verstandelik. Sy het hom van al haar simp­tome vertel en hy het haar deeglik ondersoek. Sy voorskrif het haar verbaas. “Wat jy nodig het, Me­vrou,“ sê hy, “is dat jy die Bybel meer sal lees.” “Maar, Dokter….” be­gin die verwarde vrou teë­praat. Met simpatieke gesag her­haal hy: “Gaan huis toe en lees vir ’n maand lank jou Bybel ’n uur elke dag, en kom dan terug na my toe.” Eers wou sy haar vererg. Sy besef toe egter, met ’n steek van haar gewete, sy hét die afgelope tyd die lees van die Here se woord totaal verwaarloos. By haar huis gaan sy bid en bely haar versuim van die lees van die Here se woord, en haar gebedsomgang met God. Met haar terugkeer na die Here toe, en haar daag­likse Bybellees en bid, keer die vreugde van haar vo­ri­ge geloofsverhouding met die Here terug. Toe sy ’n maand later na dr. Kelly toe terug­gaan sê hy da­delik: “Wel, ek sien jy was ’n gehoorsame pasiënt. Voel jy steeds dat jy medikasie nodig het?” “Nee, Dokter,” ant­woord sy, “ek voel ’n nuwe mens. Maar hoe het u geweet ek het dít nodig?” Hy tel sy eie verslete en goed­gemerkte Bybel op. Hy sê: “As ek my daagliks Bybellees verwaarloos, ver­loor ek nie net my vreugde nie, maar ook my bron vir krag en bekwaamheid….” Hy gaan voort, in sy eie woorde: “Your case called not for medi­cine, but for a source of peace and strength ouside your own mind. My prescription, when tried, works wonders!”

Die Heilige Gees maak die Bybelwoorde wat ons lees en ver­staan vir ons voedsel, ­water, lig, krag, medisyne. “…wan­neer die Vader in my Naam die Voorspraak (Trooster – Ou Vert.), die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en her­inner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh.14:26).

“Here, vandag lees en oordink ek U Woord.”

Wo 13 Mei: Gevaarsone

Lees Johannes 14: 22 – 31

“Vrede laat Ek julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (27)

In sy boek, An Oral His­to­ry of World War II, ver­tel Studs Terkel, die storie van ‘n 18-jarige seeman, Da­vid Milton, wat aan­boord was van ’n handelskip, wat in 1942 Sherman-tenks, na Europa ver­­­voer het. Die skip het een­dag, in ’n storm, in die moei­lik­heid geraak. In die middel van die At­lantiese Ose­aan, in die storm, het die swaar tenks, elkeen twintig tot der­tig ton gevaartes, los­ge­breek van die kabel wat hul­le aan die skip vasge­an­ker het. Milton vertel: “As the ship would roll, these tanks would just slide through the hole and bang up against the bulkhead. Then they’d roll the other way, just shaking the ship apart. So we pulled out of the con­voy.” Die storm self was nie hulle pro­bleem nie. Die swaar tenks, los binne-in die skip se ruim, was hulle probleem. Nie die hoë branders buite die skip sou die skip laat sink nie, maar die on­beheerbare vrag binne in die skip sou die skip se einde beteken. Die ma­trose het in die vrag­ruim­te afgegaan en met lewensgevaar die tenks weer met die staal­ka­bels aan die skipromp vas­geanker. Studs Terkel se opmerking hieroor is: “We can handle the stresses without only when we are battened down within.”

’n Stormagtige hart, maak dit vir ’n mens on­moont­lik, om die lewens­bran­ders, wat van buite af op ons af­storm, die hoof te bied. Hoe kry ons ’n vrede in ons hart wat ons moed gee om teë­spoed, lyding en bedreiging te han­teer? Jesus het aan sy dis­­si­pels so ’n vrede beloof. Ons deel deur geloof ook in sy vrede. “Daar het nou vrede gekom tus­sen God en ons…ons is nou nie meer skuldig nie. Dit is Jesus Christus wat hierdie vrede vir ons bewerk het…ons geniet nou die goedheid van God… ons (word) nooit teleurgestel nie, want God het vir ons sy Heilige Gees gegee en die Gees maak ons har­te vol van die…liefde wat God vir ons het” (Rom.5:1-5). Bewus van God se vredevolle teen­­woordigheid, het ons krag teen die aanslae wat van buite af kom.

“Here, vandag soek ek die vrede van u nabyheid.”

Di 12 Mei: God het geweet en gesorg

Lees Genesis 22: 1 – 14

“Abraham…sien agter hom ’n skaapram wat aan sy ho­rings in ’n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun…geoffer. Toe noem hy die plek: ‘Die Here voorsien.’ Daar word nou nog gesê: ‘Op die berg van die Here word voorsien.’” (13,14)

In The Pilgrim van Desember 1976, vertel S. Nathan dat die sendeling, An­gus Brower, wat diep in die Kon­go­­woud sendingwerk gedoen het, deur van gram­mo­foon­plate, met die evangelie in die inboorlingstam se taal, gebruik gemaak het. Dit was natuurlik in die tyd voor die gerief van kassetbande. Toe raak sy gram­mo­foon­naal­de op. Hy het in die destydse Leopoldville en ander be­reik­bare win­kels vergeefs na grammo­foon­naalde ge­soek. Toe Kerstyd nader kom, het Nathan in Enge­land gereël dat ’n alge­me­ne win­kel vier pakke met droë­­vrugte na vier ad­res­se in die Kongo (nou Zaïre), moes stuur. Een van die pak­ke het by ’n sendinghos­pi­taal beland. Mej. Forrel, die se­kretaresse van die hos­pi­taal, het dit ontvang en oop­ge­maak. Net daar­­na kom Angus Brower daar aan. Sy eerste be­soek in sewe jaar aan die hospitaal. Sy nooi die sen­de­ling om vir hom van die droëvrugte uit die pak uit te haal. Net toe hy die pakkie droë­vrug­te uit die houer uit­lig, roep hy in verbasing uit: “Loof God!” Die bodem van die houer lê vol gram­mo­foonnaalde, wat blykbaar in die winkel, sonder dat iemand dit opgemerk het, in die houer uitgeval het. “Ek het so gebid vir grammofoonnaalde,” ver­dui­delik hy aan die verbaasde mej. Forrel.

Soos met Abraham weet God van sy kinders se behoeftes en Hy voorsien op sy eie wonderlike ma­nier vir hulle. Die geheim is egter: dit gebeur met die Christen wat in die wil van God beweeg. Abra­ham het in gehoorsaamheid aan God sy seun gaan offer, en op daardie plek van gehoorsaam­heid, het die Here in sy behoefte voorsien. Weg van God af, op ’n weg van ongehoorsaamheid, sal dit nie gebeur nie, tensy die persoon tot stilstand kom en na God toe omdraai. Elkeen wat weet hy bevind hom op die berg van die Here, die plek van gehoorsaamheid aan God, kan vertrou in God se presiese, tydige voorsiening.

“Here, vandag wil ek in u wil wandel en gerus wees.”

Ma 11 Mei: Merkwaardige Insidente

Lees Lukas 19: 1 – 9
“Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuisgaan…Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (5,10).

Die plekke en maniere waarop die Here Jesus Christus mense ontmoet, roep en red, is merkwaardig. Hy roep Saggeus wat in ’n boom sit, die vrou van Sigar by ’n put (Joh.4), Matteus wat agter sy toonbank in sy tolhuis sit (Luk.5). So gebeur dit ook in ons dag. Deur die evangeliewoord werk die Heilige Gees in iemand se hart en hy/sy kom tot bekering.

Een so ’n persoon was die president van die kommunistiese Scottish Worker’s Republican Party, in Glasgow, Skotland, Keir Hardy. Oor homself skryf hy in ’n blaadjie van die M.P.Tract Society: “I held, with enthusiasm, the sentiments of the doubter and agnostic, and eventually discarded completely the idea of a God, and poured scorn upon Him and His Christ from platforms thoughout Britain.” Eendag woon hy die begrafnis van ’n jong meisie by. Om die graf sing die familie en vriende die aangrypende lied: “Veilig in Jesus arme, sag aan sy bors gesus, daar in sy liefdeskadu vind ook my siel eens rus!” Dáár praat God met hom, skryf hy: “My cold, logical mind was melted in the divine gulfstream of His love, and an actual revolution took place in my soul. The pleading of a Risen Christ was irresistable.” Nou het hy ’n vurige getuie vir Christus geword. Die Skotse koerante het die storie van die bekende kommunis se bekering tot Christus wyd en syd verkondig. Na ’n jaar se bedrywige evangeliese werk, word hy aangestel as sendeling van die Skotse Sending. As hy gaan preek, neem hy ‘n draagbare orrel saam. Op ’n dag vra hy ’n werksman by ’n werkerskamp om sy orrel te help dra, na ’n ander preekplek, ’n myl of wat daarvandaan. Die man weier, maar wys grappenderwyse na sy maat, ’n endjie verder. Keir Hardy herken hóm as een van die leiers van ’n tak van die werkersunie wat hy ook vroeër besoek het. Tot sy verbasing is die man gewillig om die orrel te help dra, maar hy waarsku Hardy, hy sal beslis nie die diens bywoon nie. Aangekom by die preekplek moet Hardy uitvind, daar is nie vir ’n orrelis gereël nie. Hy weet egter die man wat hom die orrel help dra het, is ’n bekwame pianis. Tot sy verbasing is die man gewillig om die orrel tydens die diens te bespeel. Sy preek is dié middag oor Johannes 3:16: “God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Hy sluit sy vertelling af: “After the service I had the joy of leading my former comrade to Christ.”

“Here, vandag weet ek dat U my wonderbaar geroep het.”

Vry 8 Mei: 'n Grafsteen Praat

Lees Johannes 3: 1 – 21

“Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (3).

’n Gesiene sa­­­ke­man, Robert Brown, vertel The Chris­­tian Railroader, was ’n goeie man, gods­diens­tig en al­tyd ge­reed om ’n an­der te help. Uitgeput deur tal­le sakeverpligtinge, gaan hy en sy vrou va­kan­­sie­­hou in Skotland. Hul­le kry in ’n plattelandse her­berg huisvesting. Tevre­de met hulle verblyfplek, begin hulle die omge­wing verken.

Robert is alleen toe hy op ’n ou en ver­waar­loos­de kerkhof afkom. Hy lees die graf­skrif­te. Die eien­aar­dige, ou­derwetse Skotse uit­druk­kings op die graf­ste­ne boei hom. Hy kom op ’n plat graf­steen af wat met klim­op­­ranke half toegegroei is. Hy trek die ranke weg om die grafsteen se opskrif te lees. Hy skrik. Sy eie naam staan op die grafsteen, en hier­die Robert was feit­lik net so oud as wat hy nou is, toe hy dood is. Ro­bert was nie bygelowig nie, maar die voor­val ont­stel hom. Waar sou hy nou ge­wees het, as dit reg­tig sy graf was? Is hy gereed om te sterf? Jesus se gesprek met Nikodemus kom in sy ge­dagte. Je­sus het vir Nikodemus gesê, hy sal nooit in die he­melse ko­nink­ryk kom, as hy nie weer­ge­bo­re word nie. Toe Nikodemus vra hoe ’n mens weer­ge­­bore word, was Jesus se antwoord: “Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees ge­bore is, is gees” (Joh.3:6). Robert raak so rus­teloos, dat hy en sy vrou hulle va­kan­sie kortknip.

Tuis soek Robbert God se redding, maar hy kan nie vrede in sy hart kry nie. Ra­de­loos en soekende na die weg van red­­ding, lees hy die By­bel. Hy lees Saggeus se ver­haal in Lukas 19. Je­sus se woorde tref hom: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:10). Hy lees ook Ro­mei­­ne 5:8: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Dit bring Johannes 3:16 in sy gedagte: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, so­dat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

Dit dring tot hom deur: Hy is verlo­re! Op grond van menslike beoordeling is hy nie godde­loos nie, inteen­deel, hy is goed en godsdienstig, maar op grond van God se oordeel is hy ’n sondaar en ver­lore. Die Heilige Gees het hom oortuig, en hy bely in gebed aan God: “Ek is ’n sondaar en ek is verlore, Here, ek vertrou in Jesus Christus, wat vir my sondes gesterf het, en ek glo u vergewe my en neem my aan.” Vrede kom in sy hart. Hy rus op God se belofte: “Daar is dus nou geen ver­oor­deling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood” (Rom.8:1,2).

In later jare het hy dikwels na sy ondervind­ing in die kerkhof verwys en dit as ’n geleentheid gebruik om te getuig en aan ander die weg van saligheid aan te dui.

“Here, vandag soek ek u redding.”

Do 7 Mei: 'n Lewensbron

Lees Johannes 4: 1 – 26

“Maar Jesus antwoord haar: ‘Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee’” (13).

Die sendeling, dr. Robbert Moffat, en sy helpers was na ’n lang dagskof moeg, honger en dors toe hulle by die inboorlingdorpie aankom. Hulle was in leeuwêreld en wou die nag liewer in die inboor­ling­dor­pie oornag. Die mense van die dorpie het hulle egter met vyandige uitroepe weggejaag. Dr. Moffat het die paar knope wat aan sy baadjie was, aange­bied vir water en melk. Dit is botweg ge­weier. ’n Ge­vaar­like nag van honger en dors het vir hulle voor­gelê. Toe die skemer toesak, sien hulle ie­mand kom van die dorpie se kant af nader. Dit was ’n vrou met ’n drag hout op haar kop en ’n kan melk in haar hand. Sonder ’n woord gooi sy die hout neer en gee die melk vir dr. Moffat. Sy loop te­rug na die dorpie toe. Na ’n rukkie kom sy weer aan. Hier­die keer het sy ’n kookpot op haar kop en in haar hande ’n kan water en ’n stuk vleis. Sy maak vuur en begin die kos voorberei. Hulle praat met haar, maar sy ant­woord nie. Sy deel die kos aan hulle uit. Dr. Moffat praat weer met haar. Hoekom sorg sy vir hulle, terwyl die dorpie se mense so vyandig is. Met geboë hoof antwoord sy: “Ek het Jesus lief en dien Hom. Julle werk vir Hom. Ek moet vir julle sorg. My hart is so vol blydskap dat julle hier is, dat ek nie kan praat nie.” Dr. Moffat is totaal uit die veld ge­slaan. Hier in die donker heidendom brand ’n lig vir Here. Hy vra haar hoe sy dit regkry om so aan te hou om vir die Here te lewe, terwyl almal om haar so kwaai teen Hom is. Sy haal ’n boekie uit. Dit is ’n Hollandse Nuwe Testament wat sy ge­kry het, toe sy jare te vore in ’n sendingskool tot bekering gekom het. “Dít,” antwoord sy, “is die fontein waaruit ek drink; dít is die olie wat my lamp aan die brand hou.”

Soos ons fisiese lewe voeding en water nodig het, het ons geestelike lewe ook voeding nodig. Uit Christus se kruisdood en opstanding het God, deur sy Woord, deur die werk van die Heilige Gees, die geestelike lewe in ons ge­­skenk. Die­selfde Woord, die Skrif, ons Bybel, hou ons gees­te­like lewe lewend, gesond en groei­end. “Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewi­ge woord van God….Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk (van die Woord), sodat julle daar­deur kan opgroei en die saligheid verkry” (1 Pet.1:23 & 2:2). Sonder Bybellees kwyn ons gees­telike lewe.

“Here, vandag wil ek uit u Woord gevoed word.”

Wo 6 Mei: Nuwe Lewenskrag

Lees Lukas 13:6-9

“Maar die tuinier antwoord: ‘Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom…bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra” (8,9).

Alex Allen vertel van 19-jarige Robert wat in sy tronkbybelklas tot bekering gekom het. Na sy ont­slag, het Allen hom, by sy huis besoek. Ek haal Allen se eie woorde aan, om die krag van die nu­we lewensenergie wat bekering in ‘n mens se le­we bring, uit te beeld: “The area in which this Chris­tian young man of nineteen lived with his wife was one of indescribable squalor and filth, but his own home was showing signs of practical Christianity in the removal of some of the layers of filth that had ac­cumulated over years. Robert had started mo­ving around among his neighbours telling them of the Saviour he had found in prison”.

‘n Jongvrou, wat Robert met sy ywerige getuie­nis vir die Here in sy omgewing, bereik het, wou met Alex Allen praat. Robert het ‘n ontmoeting ge­reël. “She told me a fascinating sto­ry”, skryf Allen oor die onderhoud. Sy was 28 jaar oud. Haar man was in die tronk en sy moes alleen haar drie kin­ders versorg. Sy was self ‘n dwelm­verslaaf­de. Sy het vir Allen die merke van die spuitnaalde op haar arms ge­wys. Sy was reeds 12 jaar aan dwelms ver­­­slaaf. Een na­mid­dag besluit sy sy gaan die kin­ders vroeg in die bed sit en dan ‘n oordosis pille drink. Haar lewe het vir haar on­draaglik geraak. Net na sy die kinders in die bed gesit het, klop Robert aan haar deur. Hy vertel haar van die ver­andering in sy lewe, vandat Christus in sy lewe gekom het. Hy het vir haar ‘n stelletjie Bybellesings saam­­­gebring en hy oorreed haar om dit deur te werk. Sy besluit om haar selfmoordplan vir ‘n uur of twee uit te stel en eers die lesings deur te kyk. Wat sy daarin lees, gryp haar aan, want dit hou vir haar die moontlikheid van ‘n nu­we lewe en nuwe hoop in. Alex Allen sê dit was vir hom ‘n vreugdevolle belewenis om hierdie verlore vrou na Christus te lei, en voeg by, “…and it is an added joy to know that she goes on well after five years, with the drug habit completely broken”.

Die vrug van die jong Robert se werk in sy ongure buurt word verder beklemtoon deur ‘n berig in die Church of the Nazarene se tydskrif waarin die omge­wing uit­druklik ver­meld word: “Over the past year the church at …has increased its membership by fifteen, all of these directly due to the witness of a young man who re­turned from prison, having found the Saviour there.” Paulus beskryf die krag van die nuwe lewe wat uit die jongman, Robert, se lewe gevloei het in 2 Korintiërs 5:17: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit is alles die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou…dat God deur Chris­tus die wêreld met Homself versoen het en die men­se hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van die versoening het Hy aan ons toevertrou.” Satan wil verwoes en dood­maak. Dit is die doel van sonde. Chris­tus wil red en lewe gee. Dit is die doel van die evangelie.

“Here, vandag wil ek ook vir u ‘n kanaal wees waardeur u nuwe lewe na ander toe kan vloei.”

Di 5 Mei: Ook vir Hom

Lees Openbaring 5: 6 – 14

“…omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie” (9).

Die Amerikaanse prediker, D. L. Moody, was ‘n verbeelding- en kleurryke prediker. Eenkeer preek hy oor Jesus se opdrag aan die dissipels, om die bood­skap van sy kruisdood en opstanding, die wê­reld deur te verkondig, sodat mense gered kan word: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels…” (Mat.28:19). Moody ver­tel hoe Petrus teëstribbel: “Here, maar geld dit ook vir die men­se wat U so wreed gekruisig het? Daardie sol­daat wat die doringkroon gevleg en op u kop geplak het – moet ons vir hóm ook gaan sê?” “Ja,” ant­woord Jesus, “gaan sê ook vir hóm en sê vir hom, as hy na My toe kom, sal ek vir hom in my ko­nink­ryk ‘n kroon van heerlikheid gee.” “…dan…sal julle die heerlik­heid as onverganklike kroon ontvang” (1 Pet.5:4). “En Here,” maak Tho­mas beswaar, “daar­die een wat so spottend die pers mantel om U ge­gooi het, en kastig voor U gebuig het – moet ons vir hóm ook gaan sê?” “Ja,” antwoord Jesus, “en gaan sê vir Hom, as hy na My toe kom, sal ek die wit kleed van verlossing ook om hóm hang en hom plek in my ewige hemelwoning gee. “…ek het ‘n groot menigte gesien…hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon… gestaan. Hul­le het wit klere aangehad.” Johannes maak keel­skoon. “He­re, en dáárdie een wat met die spies deur u sy in u hart in gesteek het – moet ons vir hóm sê?” “Ja,” antwoord Jesus, “en sê vir hom daar is ‘n náder weg na my hart toe as om My met ‘n spies te deur­boor.” “…Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie” (Joh.6:37). Sou daardie man­ne Jesus se groot liefde en vergifnis vir húlle ver­staan, dit waardeer, dit aanneem?

Dan peins Moody oor Je­sus se plek in óns har­­te, want die wêreld het Hom nie ontvang nie: “Die wa­re lig wat elke mens ver­lig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wê­reld…en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie” (Joh.1:10,11). Toe Hy gebore is was Hy nie welkom nie: “En sy het…Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie” (Luk.2:7). Hy het as Redder na ‘n wêreld toe gekom wat Hom nie wou hê nie, Hom verwerp het, Hom gekruisig het. Moo­dy vra: “As Christus na die aarde toe sou terugkom, is daar ‘n volk wat Hom nou sou verdra? Is daar ‘n stad in die wéreld wat nou vir Hom sou stem? Hoe het die aanbieding van die goeie nuus van red­ding al in óns harte gevaar?

“Here, vandag is U in my hart Here en Koning.”

Ma 4 Mei: Plekke Omgeruil

Lees 2 Korintiërs 5: 11 – 21

“Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees” (21)

In ’n dokter se wagkamer sit ’n lang ry mense hul beurt en afwag. Elke keer wanneer iemand ingeroep word, skuif die ry een sitplek op. ’n Man het ingekom, die situasies opge­som en ewe getroos op die laaste oop stoel gaan sit. Mettertyd het hy opgeskuif totdat hy die vol­gende een sou wees was na die dokter toe kan in­gaan. Skielik gaan die deur oop en ’n vrou, wat sigbaar siek is, kom binne. Sy kreun toe sy die lang ry wagtende mense, wat alweer bygekom het, sien. “Ag, Meneer,” sê sy vir die man wat nou heelvoor sit. “Mag ek asseblief eer­ste ingaan. Ek voel so bitterlik sleg!” Hy huiwer nie ’n oom­blik nie. Hartlik sê hy: “Verseker.” Juis op daardie oomblik gaan die deur oop en die ’n ver­pleeg­ster roep: “Volgende, asseblief!” Dank­baar gaan die vrou in. Die man wil weer gaan sit, maar die man wat tweede gesit het, het reeds die eerste stoel in­ge­neem. Hy wil protesteer, maar een uit die ry roep: “Dis reg so. Jy het jou eerste plek vir haar gegee en nou moet jy haar laaste plek vat.” ’n Goedige, “Hoor! Hoor!” klink op. Die man glimlag en gaan ewe getroos weer op die laaste oop stoel sit. Hy sê: “Julle is reg, vriende. Ek het my goeie sitplek vir haar gegee en nou moet ek haar swak sit­plek in­neem. Dit is presies wat die Here Jesus vir ons gedoen het. Hy het sy goeie posisie as Seun van God en erfgenaam van die hemel vir ons ge­gee, en Hy het ons swak plek as verlore son­daars in­ge­­neem en in ons plek die straf vir mis­daad, die kruis­­dood, gesterf, so­dat ons deur geloof in Hom kin­ders van God kon word en plek in die hemel kon kry.” ’n Eerbiedige stilte het in die wag­kamer geheers. Hulle het die boodskap verstaan.

Die man was self ’n Christen, maar hy het ook in sy hart ’n gereedheid gehad om ’n geleentheid om vir die He­re te getuig, te benut. Uit ons eie het ons nie so ’n gre­tigheid om Jesus se verlossing oral bekend te maak nie. Ons het behoefte aan so ‘n inwoning van die Heilige Gees in ons hart, dat ons hart sal brand om Jesus se Naam en sy Verlossing oral te verkondig.

“Here, vandag benut ek geleenthede om vir U te getuig.”