“Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe…in Hebreeus Golgota. Daar het hulle Hom gekruisig…” (17,18).
Dáárdie Vrydag sou ’n dag wees, anders as al die ander dae wat die aarde ooit geken het. Die dag toe God sy profetiese afspraak met die mensdom nagekom het.
By een van die stadspoorte gil die eerste voorlopers van haat en venyn. Die eerste lentegrassies buig en knak voor driftige voete en ’n kreet, wat nooit vergeet sal word nie, swel uit: Kruisig Hom! Kruisig Hom! Die swepe van die soldate klap met wilde minagting onder die jillende, springende skare…dan val die lenteson op ’n Man wat uit die skadu van die stadsmuur strompel onder die dwarsbalk van ’n kruis. ’n Entjie, asof gedra deur die geweld van die haat, bly Hy regop, maar as die paadjie opstyg teen die heuwel van Golgota, knak die brose liggaam van ’n mens, wat reeds foltering op foltering moes verduur, in die nag wat verbygeskuif het.
Simon van Ciréne word deur die skare vorentoe gestoot: “Kom, ou sterke, dra vir Hom die kruis!” Op teen die paadjie van Gólgota…op onder ’n son wat neerskroei op die flarde van ’n verskeurde, gegéselde rug… op na die plek waar die Lam van God geslag moet word…op na die rots van skedels.
Sy klere word weggeneem…die bebloede rug word uitgestrek op die kruis…die arms uitgespalk op die dwarsbalk…Hy bied geen weerstand nie…die skare word stil en stiller… metaal slae van die hamer val op die spykers en die voorste toeskouers steier terug…sy vingers span strak en bewend teen die hout…die voete word oor die genadebalkies gespan en vuil, skerp yster dring deur sagte vlees en strakke senuwee … bloed wel stadig op en drup af van die hande en die voete… die kruis word opgehys…die voetstuk glip in ’n vlak gat en word met los klippe vasgepak…nou moet die oë gelig word om Hom te sien…die skare kyk op en dan bars die haat, aangehits deur die leiers, weer los: “Ha! Ander het hy verlos! Laat hy homself nou verlos!” Aan die voet van die kruis tap sy bloed in die stof op die grond…die dobbelstene van die soldate kletter op ’n plat klip…een uur en nog een gaan verby …die skare skreeu en raas deurmekaar…’n dralende oomblik tussen bliksemstraal en donderslag…sy lippe roer: ”Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie…… Dit is volbring!”…in die tempel skeur die voorhangsel van bo na onder. Vir sondaars is die weg na God toe oopgemaak!
Dít het Hy vir jóú gedoen, wat doen jy vir Hóm?
“Here, vandag wil ek dié vraag eerlik antwoord.”