“…Hy (moes)in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester…kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (17,18).
’n Jong klerk in ’n groot firma het sy werkgewer met ‘n groot som geld bedrieg, vertel Neil Verwey, sendeling in Japan, vir ons die storie. Die oneerlike daad is ontdek en hy is aangesê om by die kantoor van die seniorvennoot te raporteer. Met swaar hart gaan hy die trappe op na die administratiewe afdeling toe. Hy weet hy gaan afgedank word, en was ook bang dat geregtelike stappe teen hom geneem sal word. Sy hele wêreld het ineengestort. In die kantoor aangekom, vra die seniorvennoot hom oor die misdaad. Is die beskuldiginge waar? Hy erken dit openhartig. Die uitvoerende bestuurder vra hom: “As jy jou posisie behou, kan ek jou in die toekoms vertrou?” Die jongman antwoord dadelik, met nadruk: “Meneer, u kan my vertrou. Ek het my les geleer.” Die bestuurder sê: “Ek gaan jou nie geregtelik aankla nie en jy kan jou huidige posisie behou.” Voor die klerk sy innige dankbaarheid kan uitspreek, vervolg die bestuurder: “Ek dink jy behoort te weet, jy is die tweede man in hierdie firma wat vir die versoeking geval het en wat toegeeflik behandel is. Ek was die eerste. Wat jy gedoen het, het ek ook gedoen. Die genade wat jy nou ontvang, het ek ook ontvang. Jy het vergifnis nodig, ek ook. Maar dit is net God se genade wat ons altwee kan bewaar.”
Dit is elke sondaar se gelukkige posisie voor Christus. Die bestuurder het vir die klerk gesê: “Soos jy, was ek ook in versoeking. Soos jy het ek my ook skuldig gemaak. Nou kan ek in my posisie in die firma jou vryspreek.” So het Jesus Hom met ons vereenselwig. Ons stryd in hierdie wêreld van sonde en ongeregtigheid, het Hy ook geken – net al: Hy het nie soos ons geval en gesondig nie. “Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en…gered kan word”(Heb.4:15,16).
“Here, vandag vra ek u vergifnis.”