Woens 1 Apr: Ek Ook

Lees Hebreërs 2: 10 – 18

“…Hy (moes)in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoë­priester…kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en ge­ly het, kan Hy dié help wat versoek word” (17,18).

’n Jong klerk in ’n groot firma het sy werk­gewer met ‘n groot som geld bedrieg, vertel Neil Verwey, sen­deling in Japan, vir ons die storie. Die on­eer­­li­ke daad is ontdek en hy is aangesê om by die kan­toor van die seniorvennoot te raporteer. Met swaar hart gaan hy die trappe op na die administratiewe af­deling toe. Hy weet hy gaan afgedank word, en was ook bang dat geregtelike stappe teen hom ge­neem sal word. Sy hele wêreld het ineen­gestort. In die kantoor aan­gekom, vra die seniorvennoot hom oor die misdaad. Is die beskuldiginge waar? Hy erken dit openhartig. Die uitvoerende bestuur­der vra hom: “As jy jou posisie behou, kan ek jou in die toekoms vertrou?” Die jongman ant­woord dadelik, met nadruk: “Meneer, u kan my vertrou. Ek het my les geleer.” Die be­­stuurder sê: “Ek gaan jou nie ge­­regtelik aankla nie en jy kan jou huidige posisie be­hou.” Voor die klerk sy innige dankbaar­heid kan uitspreek, vervolg die bestuurder: “Ek dink jy be­hoort te weet, jy is die tweede man in hierdie firma wat vir die versoeking geval het en wat toegeeflik be­­han­del is. Ek was die eerste. Wat jy gedoen het, het ek ook ge­doen. Die genade wat jy nou ont­vang, het ek ook ontvang. Jy het vergifnis no­dig, ek ook. Maar dit is net God se genade wat ons altwee kan bewaar.”

Dit is elke sondaar se gelukkige posisie voor Chris­tus. Die bestuurder het vir die klerk gesê: “Soos jy, was ek ook in versoeking. Soos jy het ek my ook skuldig gemaak. Nou kan ek in my posisie in die firma jou vryspreek.” So het Jesus Hom met ons vereenselwig. Ons stryd in hierdie wêreld van sonde en ongeregtigheid, het Hy ook ge­ken – net al: Hy het nie soos ons geval en ge­son­dig nie. “Hy was immers in elke opsig net soos ons aan ver­soeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en…gered kan word”(Heb.4:15,16).

“Here, vandag vra ek u vergifnis.”

Di 31 Mrt: 'n Lied met Antwoorde

Lees Matteus 11: 25 – 30

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My… Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (28-30).

In sy boek Amazing Grace vertel Kenneth B. Osbeck van die lied wat die Griekse mon­nik, Stephen the Sabaite, in ‘n klooster ge­skryf het. Dit antwoord gemoedsvrae wat ook in ons har­te ontstaan. Vandat hy tien jaar oud was, het Stephen in die kloos­ter van Mar Saba in die boswêreld van Judea gewoon. Hy was la­ter die ab, of kloos­terhoof, in Engels, abbot, van die klooster, totdat hy op 90-jarige ou­der­dom dood is. Die Engelse le­raar, John M. Neale, het in 1862, hierdie lied, onder die titel Art Thou Wea­ry, in sy liede­re­bundel, Hymns of the Easten Church, op­ge­neem. Die een­vou­dige en direkte rang­skik­king van ’n vraag in die eerste reël en dan die antwoord in die twee­de reël, verseker ons van God se stand­hou­dende getrouheid. Dit het aan talle, ook aan pres. Franklin D. Rooseveldt, bemoedig­ing gegee. Ken­neth Os­­beck lui die lied in met hier­die woorde: “Inspired by Christ’s loving offer of pardon and rest for the weary and dis­tressed soul, this eighth-century Greek monk wrote these plaintive lines.”

Ons het die lied in Afrikaans:

Is u moeg, bedroef, swaarmoedig, of van skuld bewus?
“Kom tot My,” roep Iemand vriend’lik, “Ek gee rus.”
Hoe sal ek Hom ken as Leidsman, hoe volg ek sy spoor?
“Kyk, sy hande, sy en voete is deurboor!”

Kleef ek nogtans aan Hom vaster, wat bied Hy dan aan?
“Rus ná arbeid, en ’n kalme doodsjordaan.”

Sal Hy weier op my bede: “Here, neem my aan?”
“Nee, dan sal die aarde^en hemel eer vergaan.”

Kan ek veilig voorwaarts wandel, steun op sy gena?
“Engel, martelaar, apostel antwoord ‘ja’!

“Here, vandag is dit my hart se lied.”

Ma 30 Mrt: Woorde vir die Sterfbed

Lees: 1 Korintiërs 2:1-5

“Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie, as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.” (2)

Een van Engeland se grootste predikers, C. H. Spur­geon, het op sy sterfbed aan ’n vriend gesê: “My te­o­logie bestaan nou uit vier woorde: Christus ge­sterf vir my. Ek wil nie hiermee sê ek sal nie weer oor ander as­pekte van die geloofslewe preek as ek gesond word nie, maar hierdie vier woorde is genoeg om mee te sterf.” Jesus Christus se kruis­dood, is die onfeilbare waarborg vir toegang tot God se ewige hemel, na ons sterwe. Elkeen wat kan sê: “Christus het vir my ge­­sterf,” het deel gekry aan die ewige lewe en sal nie verlore gaan nie. “En dít is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe” (1 Joh.2:25). In Christus se kruisdood is ons son­­deskuld weggeneem: “Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir die wat glo.” (Rom.3:25). Wie in Christus se kruis­dood glo, daarin ver­trou en vir homself aanneem, ontvang die ewige le­we: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). Ons sterwe, die grootste en sekerste krisismoment van gans ons lewe, is vir ons almal ’n vreesaanjaende vooruit­sig. Die angs word deur ’n opheffende verwagting van saligheid vervang, as ons weet: “Ek het Jesus Christus as my Salig­maker aangeneem en ek weet ek gaan hemel toe as ek sterf!”

“Here, vandag weet ek U is my Verlosser.”

Vry 27 Mrt: Verreikende Krag

Lees Handelinge 16:22-34

“Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing…(25)

‘n Luidrugtige, besope man, gevolg deur sy vrou en seuntjie, strompel ‘n stasie in Skotland binne en klim steierende op die trein, vertel die Ame­rican Holiness Journal. In die trein val die dron­ke op ‘n sitplek neer, waar hy met sy luidrug­tige pratery en liedjies voortgaan. Sy vrou en seun­tjie gaan verleë op ‘n ander sitplek sit. Oor­­kant hom sit ‘n werker van ‘n alkoholiese matig­heids­­vereniging. Hy weet uit ervaring, dit sal geen doel dien om met die man te probeer praat nie. Hy is self ‘n toe­gewyde Christen, wat in sy werk baie steun op Chris­tus se verlossingskrag. Op die in­gewing van die oom­blik, en tot verbasing van die ander passasiers, begin hy een van die be­kende, ou herlewingsliedere sing. Sy ryk bari­ton­stem dra bo die trein se gerammel uit. Dit word stil in die treinwa. Selfs die ou dronkie raak stil­ler en nie lank nie of die ou sit, luid snorkend en slaap. Na ‘n paar uur word die man wakker. Nou is hy meer so­ber. ‘n Rukkie later hou die trein stil en die matig­heidsman maak gereed om af te klim. Die man wat so dronk was, hou sy hand uit en groet hom met die hand en bedank hom vir die lied wat hy gesing het. Vyftien jaar later is hierdie matig­heids­man die spreker by ‘n ma­tigheidskon­gres. Na ‘n goeie le­sing wat hy gegee het, kom ‘n netjiesgeklede man en sy vrou hom groet. Die man vra of die matigheidswerker hom onthou. Hy skud sy kop. Die man sê: “Omtrent vyf­tien jaar gelede was ek dronk op die trein. Jy het my aan die slaap gesing. Ek kon nie wegkom van daardie liedere nie en na ‘n rukkie het ek die Here Jesus as my Verlosser vertrou. My seuntjie, Joseph, wat by was, is nou in ‘n teologiese skool. Hy gaan predikant word.” In la­tere jare was hiérdie Joseph, dieselfde man, dr. Jo­seph Parker, wat ‘n geseënde en invloedryke bediening, in een van Londen se grootste kerke, uitgeoefen het.

Die beriggie in die Journal sê nie watter lied die man gesing het nie. Dit kon dalk gewees het: “Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil, is daar lewe vir jou en vir my; Sien gelowig op Hom, word gereinig en leef, want verlossing bied Jesus jou vry.” Of: “Daar’s ‘n dierbare kruis, waar my Heiland be­wys, die liefde wat Hy vir my het; Dáár is alles vol­daan en die vyand verslaan, dáár word ek van sonde gered.” Miskien: “Eew’ge Rots, ge­klief vir my, laat my vei­lig in U bly! Laat die water en die bloed, uit u sy, as le­wensvloed, my tot heil wees en tot krag, teen die son­deskuld en mag!” Of: “Siel vol kommer en vol smart, by die kruis is heil! Bring die weeklag van jou hart, by die kruis is heil! Fluister al jou leed Hom sag, Jesus gee aan swakkes krag; spreek vermoeide, Hy gee ag – By die kruis is heil!” Of dit was: “Net soos ek is, geen hulp naby; alleen u bloed gestort vir my; Getrek tot u deurboorde sy – O Lam van God, ek kom!” Wat­ter lied dit ookal was; vir die siek, magtelose, ver­nederde, skuldige man het die lied ‘n reddings­bood­skap gebring.

“Here, vandag, kom ek met my sondenood na U toe.”

Do 26 Mrt: Vrygemaak

Lees Galasiërs 5: 13 – 26

“Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor die begeertes van die sondige natuur nie” (16).

Toe Charles Weston Shepston ’n student aan die Sendingopleiding Instituut was, het hy ontsteld geraak oor sy sukkelende persoonlike geestelike lewe. Hy het so vasgevang in sy natuurlike dran­ge en vleeslike begeertes gevoel, so dikwels ge­faal in sy getuienis vir Christus, so kortgekom aan ’n oor­vloe­­dige en oorwinnende Christenlewe, dat hy een­dag sy middagete prysgegee het en teen ’n steil rant, agter die Instituut se hoofgebou, uitge­klim het. By ’n rots het hy gekniel en sy hart en han­de opgehef hemel toe en in radeloosheid van siel uit­geroep: “O, God! Wat kan ek doen?” Toe hy sy kop weer afbuig en sy oë oopmaak, sien hy deur die mistigheid van sy trane, reg voor hom, ’n spin­nerak. Juis op daardie oomblik beland ’n klein vliegie in die spinnerak. Hy begin hewig spartel. Charles Shepston hou hom dop. Hoe meer hy spar­tel hoe meer raak hy vas. Skielik storm die spinnekop op hom af en begin hom verder met taai drade vas­spin. Die vliegie se stryd is verlore. Hy kan nie los­kom nie. Charles steek sy hand uit en met sy pinkie, druk hy die vliegie los. Die spin­ne­kop vlug en die vliegie sit vir ’n rukkie, op Char­les se pinkie , voor hy ook vry weg­vlieg. In Charles se hart praat God met hom. Sy eie gespartel kan hom nie loskry nie, maar God het oor­vloedige krag, deur die Heilige Gees in hom, om hom vry te maak. Toe dié wete tot hom deur­dring, kom ‘n groot blydskap en vrede in sy hart.

Charles het ervaar waarvan Paulus in Romeine 7:18 tot 8:5 skryf. (Aanhaling uit Die Boodskap-vertaling): “Ek kan nie verklaar hoekom ek sonde doen nie. Want ek wil dit nie doen nie. Glad nie! Tog doen ek dinge wat ek met my hele wese haat…Dit is omdat die sonde oor my lewe baas­speel. Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die slegte dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek. Iets groots is in my lewe verkeerd. Sonde is my baas… Elke keer as ek besluit om goed te doen, dan pootjie die sonde my. In my bin­neste is ek regtig bly dat ek God se wet ken (verlustig ek my in die wet van God – Ou Vertaling). Maar as ek die wet moet doen, dan wil iets an­ders in my net nie saamspeel nie…Ek is vasge­vang in ’n geweldige tweestryd: aan die een kant wil ek die wet gehoorsaam met alles wat binne-in my is, maar aan die ander kant is my liggaam ’n ge­vangene van die sonde. Wat ’n patetiese mens is ek nie! Ek leef in die doderyk. Wie kan my uit hierdie gemors verlos? Goddank! Daar is wel Iemand wat my uit hierdie doodsbestaan kan bevry. Sy naam is Jesus Christus! Hy is nou die Here oor my lewe…Dit is alles aan die Heilige Gees te danke. Hy het ons splinternuut gemaak. Omdat ons in Christus Jesus glo, het Hy die mag van die sonde en die dood in ons lewe ge­breek. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het God persoonlik met die sonde afgereken… Ons lewe word nie langer deur die sonde oorheers nie. Nee, die Heilige Gees staan nou aan die stuur van ons lewe…mense wat toelaat dat die Gees hulle lewe beheer, doen wat Hy vra.”

“Here, vandag neem ek die vrymaking aan wat U gee, deur die krag van Jesus se reinigende bloed, en die werking van die Heilige Gees, in my hart.”

Wo 25 Mrt: Irritasies

Lees Hooglied 2:15

“Vang vir ons…die klein jakkalsies…wat die wingerde verniel…”

Dr. Thomas Lambie en sy geselskap, het met hul ry­diere deur ’n lang, warm vallei, in Ethiopië ge­­swoeg. Daar­na het hulle ’n steil hang uit­ge­sukkel. Met dank­baarheid verwelkom hulle die koel en verkwikkende lug­gie wat op die kruin van die steil­te trek. Die kamp waar­heen hulle op pad is, en waar die ander sen­de­linge op hulle wag, kan nie meer ver wees nie. Hier­van­daan loop die pad gelyk en effens af­dra­end. Die terrein is met heuphoë, droë gras bedek. Na die moeilike pad tot hier, reis hulle opgewek verder. Dit is ’n makliker pad. Hulle het te gou bly geword. Na hulle ’n endjie gery het, begin almal hewig krap. Selfs die muile begin hul pote ergerlik op die grond stamp. Hulle bekyk die grashalms. Saad­halmpies steek op boontoe. Die punte het ’n menigte skerp stekertjies, almal soos bajonette gevorm. Dit steek die ontblote lig­gaams­­dele, klou aan die klere vas en werk hul pad in na die vel toe, waar dit ondraaglike ir­ri­tasie veroorsaak. Die mak­liker pad oor die gras­veld, is vir hulle meer uitgeputtend, as die moeilike op­dra­ende pad, waarmee hulle tot sover gekom het.

In ons daaglikse gang beleef ons ook klein ir­ri­ta­sies, wat ’n mens se geduld en Christenskap, meer beproef, as groot en moeilike take. ’n Mens kan ’n steil geloof­stoets oorwin en dan deur die klein irritasies sy ge­loofs­vreugde verloor. Geduld is ’n vrug van die Heilige Gees. Maar ons het nie net geduld nodig, vir die irritasies wat uit die omgewing, of van mense om ons wat onbe­dagsaam op­tree, kom nie. Ons het ook met onsself geduld nodig, om nie vir ander, uit onbedagsaamheid, irritasies te skep nie. In ’n nuwe vertaling deur prof. Hennie Stan­der, vir kinders bedoel, daarom vir ons ver­staanbaar, klink 1 Kor.13:4,5 so: “As ’n mens regtig lief is vir Jesus en vir mense dan: sal jy nie lelik wees met iemand wat vir almal ’n pyn gee nie…altyd gaaf wees met mense… nie oor jouself loop en praat nie… nie dink dat jy darem baie belangrik is nie…nie met ander mense lelik maak nie… nie altyd net aan jouself dink nie…nie oor elke ding kwaad raak en dan net wil stry of baklei nie…nie altyd terugdink aan dit wat ander verkeerd teen jou gedoen het nie.”

“Here, vandag wil my ek my oë so op U hou, dat klein dingetjies my nie sal ontstel en my van my vreugde in U beroof nie.

Di 24 Mrt: Die Toets

Lees Efesiërs 5: 6 – 20

“Leef dan as mense van die lig…Wees baie ver­sig­tig hoe julle lewe…Maak gebruik van elke ge­leent­heid want ons lewe in ’n goddelose tyd” (8-16).

’n Christen barones het in die hoogland van Nai­­­robi, Kenia gewoon, vertel Leslie Flynn. Sy het een van die omgewing se in­boorlinge as ’n huis­­hulp in diens geneem. Hy was besonder net­jies, skerp­sinnig en goed­ge­aard. Hy het sy werk vin­­nig ge­leer en die be­langrike vrou was baie te­vre­­de met sy diens. Na hy drie maande vir haar gewerk het, vra hy by haar ’n aanbevelingsbrief om by ’n vrien­delike Sheik, wat enige kilometers verder ge­woon het, werk te kry. Sy wou die knap jongman nie verloor nie en bied hom ’n loon­verhoging aan. Hy ver­duidelik vir haar, dit is nie oor sy loon dat hy wil weggaan nie, maar hy weet hy moet oor sy gods­diens be­sluit. Hy wil nie sonder `n godsdiens­ge­loof deur die lewe gaan nie. Dit is die rede, dat hy vir haar kom werk het. Hy het geweet sy be­hoort aan die Chris­telike ge­loof en hy wou self sien hoe leef so iemand in die huis. Nou gaan hy na die Mos­lem­man toe om te sien hoe leef ’n Moslem. Dan sal hy besluit of hy ’n Christen of ’n Moslem gaan word. Leslie Flynn skryf: “The ba­ro­ness was stun­ned, as she recalled her many ble­mishes in her dea­lings with the houseboy. She could only ex­claim, ‘Why didn’t you tell me at the beginning!’”

Dit is ’n betroubare toets van die egte, innerli­ke lewe: hoe gedra mens jou in jou eie huis, teenoor jou eie mense? En veral teenoor jou minderes, die bediende? ’n Mens het nie van nature, so ’n goedheid in ‘n mens se innerlike lewe, dat Christelike gedrag daar­uit sal voortvloei nie. Slegs as Christus sy eie geaardheid, deur die Heilige Gees, in ’n mens se hart inplant, kan ’n mens dit ook as spontane, priva­te lewenswyse uitleef. “Die…Raad was ver­baas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien (en)… het hulle as volgelinge van Jesus herken” (Hand.4:13).

“Here, vandag wil ek u lig laat skyn uit my lewe.”

Ma 23 Mrt: Waar is Hy Heen?

Lees Amos 4: 7 – 13 – Ou Vertaling

“…maak jou klaar om jou God te ontmoet…(12).

Die skokkende nuus vlieg soos pyle deur die gange en sale van die paleis: Die koning is dood! Hy is dood in sy bed gevind, vertel Robert J. Morgan in sy boek Stories, Illustrations and Quotes. “Waar is hy heen?” vra een van die koning se raadgewers. “Seker hemel toe,” antwoord die ander. “Nee,” sê die eer­ste man ernstig, “ek dink nie so nie. Ek dien die ko­ning al jare lank. Ek het baie saam met hom, oral heen, op sy togte saamgereis. Hy het altyd uitvoerig vir sy togte voorberei en daaroor gepraat. Ek het hom nooit oor die hemel hoor praat nie. Dit is ’n be­stemming waaroor hy nooit navraag gedoen het en ‘n reis waarvoor hy nooit voorsiening gemaak het nie.”

Jesus het ons gewaarsku: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (Mat.7:13,14). Tyd vlieg verby. Ons moet tyd maak om oor ons ewigheidsbestem­ming na te dink. Hoe­kom was dit vir die Seun van God nodig, om met so ’n diep vernedering aarde toe te kom en met so­veel lyding te sterf? Jesus gee die antwoord aan die wat beswaar gemaak het omdat Hy die tollenaar, Saggeus, gered het: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom …Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:9,10). Jesus het na ons, as men­se, toe gekom om ons van die ewige dood te red. In ons alle­daag­se lewe gaan ons by Hom verby, soos die koning van wie ons gelees het. Die ingang na die verdoemenis toe is wyd en maklik.

Die omstandighede van die hel is onbeskryflik ellen­dig. Eensaamheid, pyn, dors wat nooit, nooit, tot in ewig­heid nooit, ophou nie. Dit neem `n aanvang die moment na die onbekeerde mens sy laaste asem uitblaas. Ons gaan, sonder uit­son­de­ring, elkeen, die sterfer­varing deurmaak, en onmiddelik begin die hel as ons nie deur die Here Jesus Christus gered is nie. Niemand het al terug­gekom uit die dood, om ons te vertel, hoe dit met `n mens gaan na jy gesterf het nie. Jesus het dit egter vertel: “En die ryk man het … gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë oopmaak, terwyl hy in smarte was sê hy ‘… ek ly smarte in hierdie vlam…’ (Luk.16:23,24). Moenie so `n toe­koms tegemoet gaan nie. Gaan nóú in by die noupoort. `n Mens gaan in by die nou poort deur, in die hart, na Jesus, wat vir ons aan die kruis die hel se smart gedra het om ons van ons sondes te red, te draai en te sê: “Here, Jesus, ek neem U nou aan as my Verlosser.” Die moordenaar aan die kruis het dit gedoen: “… “’Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.’ En Jesus sê vir hom: ‘Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees’” (Luk.23:42, 43).

“Here, vandag neem ek my ewigheidsbestemming ernstig op en ek vra u redding.”

Vry 20 Mrt: 'n Kosbare Sleutel

Lees 2 Petrus 1: 2 – 12 (Ou Vertaling)

“…Hy (het) ons die grootste en kosbare beloftes geskenk, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur…Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (4,11)

In John Bunyan se boek, Pilgrim’s Progress, ver­tel hy op storiegewys hoe ’n Christen se ge­loofslewe ver­loop. Die verskillende belewenisse van ontmoediging en be­moediging in die geeste­li­ke lewe, word in die boek as karakters en plekke geskilder. So is daar eerste Evan­gelis wat vir hom die weg na die hemel ver­duidelik, en dan manne wat hom probeer ont­moe­dig: Koppig, Plooibaar, Wê­­reldwys en ander. Dan kom manne weer op die to­neel wat hom vorentoe help: Welbe­hae, Gods­vrug, Wysheid, Liefde en ander. Hy beland bv. in die Poel van Wanhoop en later in Twy­felkasteel. Op ’n dag word die pad vir Pelgrim te steil. Hy klim oor die heining langs die Nouweg en beland op ’n lekker, sagte pad wat alte lekker gelyk loop. Hierdie nuwe paad­jie word egter al klammer en later modderig (’n gelowige ervaar dit so as hy begin afdwaal). Doringagtige en giftige plante groei oral en Pelgrim begin moeg word. Die son ver­dwyn en die lug word don­ker. Onder ’n akkerboom pro­beer hy skuil teen die reën wat begin uitsak. Dit blits en donder in die lug. Na­by die plek waar Pelgrim nou lê en slaap is Twyfel­kasteel, met die reus Wanhoop as bewon­er. Hy kom op Pelgrim af en smyt hom in Twyfel­kas­­teel se kelder. Pelgrim, wat nou die naam Christen dra, na hy by die kruis van sy swaar las ontslae geraak het en die nou weg gekies het, probeer sing, maar sy gemoed is so donker en swaar, hy kry nie reg om te sing nie. Reus Wan­hoop slaan en kasty hom sonder ge­nade. Elke dag word Christen swakker. In sy sel lê ’n tou, ’n mes en ’n bottel gif. Alles werktuie vir self­moord. Vir ’n oomblik oorweeg Christen om só ’n einde aan sy ellende te maak. Maar toe, een nag, na midder­nag, begin hy bid. Ek haal aan uit Bunyan se boek: “…a little before day, good Christian, as one half amazed brake out into this passionate speech: ‘What a fool am I, thus to lie in a stinking dungeon, when I may as well walk at liberty! I have a key in my bosom, called Promise, that will, I am sure, open any lock in Doubting Castle.’ It did. Using the key of God’s promises, Christian escaped, never again to fall into the clutches of Giant Despair of Doubting Castle.”

So kan ons wanhoop in ons Christenlewe ervaar. God voel ver van ons af. Ons voel swak en skul­dig. Al­les is donker. Dan ontsluit God se beloftes vir ons die deure van hierdie wrede gevangenis. “My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge!” (Ps.119:25 Ou Vert.).

“Here, vandag glo ek U het my aangeneem en U ken my.”

Do 19 Mrt: Drie Woorde in Vergifnis

Lees Efesiërs 11-14

“In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oor­vloedig aan ons bewys het…” (7,8)

’n Vrou is deur iemand verontreg. Sy het ge­wei­er om vrede te maak. Uiteindelik gaan praat die do­mi­nee met haar. “Vergewe haar,” pleit die do­mi­nee. “Goed,” gee sy in. “Ek sal haar vergewe, maar ek sal nie vergeet nie.” Met groot meegevoel antwoord die dominee haar: “Is dit hoe jy wil hê God jou jóú sondes moet vergewe? Moet Hy dit áltyd nog onthou na Hy jou vergewe het?”

Gelukkig vergewe God in sy groot liefde en met sy groot genade ons ons sondes hééltemaal. Adri Wickens, wat ons blaad­jie druk, vertel my hoe die betekenis van vergifnis een oggend, in haar stilte­tyd, vir haar dui­de­lik geword het. Sy ­merk op dat drie woorde, in die woord vergifnis, gesien kan word. Dit is drie onsamehangende woorde, maar dit bring vergifnis se be­te­kenis helderder vir ons na vore: ver-gif-nis.

Wanneer God ons vergewe, neem hy ons son­de­skuld ver van ons af weg. “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oor­tredinge van ons af” (Ps.103:12). Dus: ver-gif-nis.

Gif verwoes lewe, so verwoes sonde ’n mens se gees­­te­like lewe. ’n Skuldige gewete vergif ’n mens se ge­loof en vre­de en liefde vir God. As mens ’n son­dige gevoel jeëns ’n ander koester, wraak of nyd of afguns, vergif dit ’n mens se geestelike ge­stel. Vergifnis neem hierdie gif uit ’n mens se lewe uit en ’n mens word gees­telik gesond. “Dit gaan goed met die mens…wie se sonde vergewe word. Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer…my krag het opgedroog…Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie…en U het my skuld vergewe…”” (Ps.32:1-5): Ver-gif-nis.

God dink nooit weer aan ons sondes nie. “Oor hulle on­ge­regtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie” (Heb.8:12). As Hy ons sondes vergewe, handel Hy dit finaal af. “U het al my sondes agter u rug gewerp” (Jes.38:17 Ou Vert.). ”Hy sal ons sonde tot niet maak. U sal al hulle son­des in die diepsee gooi” (Miga 7:18). Maar óns onthou ons sondes. Dit ver­skrik ons nie meer nie, inteendeel, met dankbaarheid ont­hou ons waarvan God ons gered het. So onthou Paulus sy sonde: “Hy het my krag gegee…al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig…God was genadig teenoor my…Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste” (1Tim.1:12-15). ’n Nis (ver-gif-nis), sê HAT-woor­deboek, is ’n uitholling in ’n muur om iets in te plaas. In ’n gedenkmuur word iemand se as in ’n nis geplaas. So onthou ons ook ons dwaasheid en skan­des en oortredings, soos ’n dooie liggaam se as wat in ’n nis geplaas is. Dit is daar, maar bedreig ons nie meer nie. Ons glo ons vergifnis.

“Here, vandag oordink ek opnuut u vergifnis.

Wo 18 Mrt: Die Gerusstelling

Lees Filippense 4: 2 – 9

“Moet oor niks besorg wees nie…maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle ver­stand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (6,7).

In sy boek, How to Stop Worrying and Start Living, vertel Dale Carnegie van James Cash Penney se er­va­ring in ’n hospitaal. Hy het as gevolg van spanning en bekommernis daar beland. Hy was ’n eerlike, hardwer­ken­de man met ’n skoon en toegewyde lewe. Etlike Bap­­tiste pastors was in sy voorgeslag. In 1929, tydens die Depressie, het hy deur onverstandige beleggings in die moeilikheid beland. Hy het hom begin bekommer oor sy finansiële posisie en gou het slapeloosheid in­ge­tree. Hy het pynlike gordelroos ontwikkel en is hospitaal toe gestuur. Die pyn- en kalmeermiddels het hom nie help nie. Sy geestestoestand het agteruitgegaan. Hy beskryf sy toestand so: “I was broken nervously and phy­si­cally, filled with despair, unable to see even a ray of hope. I had nothing to live for. I felt I hadn’t a friend left in the world, that even my family turned against me.” Een nag het hy vaar­wel­brie­we aan sy vrou en seuns geskryf, want hy het gedink hy gaan sterf. Maar hy het bly leef en die volgende oggend hoor hy mense in die hospitaalkapel sing. Hy hoor die woorde dui­delik: “Be not dismayed whate’er betide, God will take care of you.” So gou en goed hy kon, is hy self kapel toe. Hy luister na die same­sang, die skrif­lesing en gebede. Hy skryf: “Sud­denly – something happened. I can’t explain it. I can only call it a miracle. I felt as if I had been in­stanly lifted out of the darkness of a dungeon into warm, brilliant sunlight.” Sy bekom­mernis het weggeval en ’n besef van die Here Je­sus se groot liefde en sorg vir hom het sy hart vervul. Sy bedruktheid was verby. Hy het daardie er­varing in die hospi­taal­kapel later beskryf as “the most dramatic and glorious twenty minutes of my life.”

In Lukas 11 nooi Jesus ons om met ons pro­ble­­me na Hom, as ons Vriend, toe te kom: “Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word’” (Luk.11:9).

“Here, vandag bring ek ’n groot probeem na U toe.”

Di 17 Mrt: Die Belangrikste

Lees Markus 9: 33 – 37

“…hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is” (34).

G.B.F.Hallock vertel van ’n groep Engelse toe­ris­te wat die huis, waarin Beethoven sy laaste jare deur­ge­bring het, besoek het. Die gids bring hulle in ‘n belang­ri­ke vertrek in die huis, die kamer waar Beethoven se kla­­vier bewaar word. Sag, eintlik eer­biedig, sê hy: “En hier is die meester se kla­vier.” ‘n Jong vrou druk van agter af vir haar ’n pad oop en gaan sit voor die klavier en speel, nog­al behendig, een van Beethoven se sona­tas. Sy hou op, kyk na die gids en sê: “Ek neem aan baie pianiste geniet dit om op hierdie kla­vier te speel?” “Wel, Juffrou,” sê die gids met ’n uitdruk­king­lose gesig, ”dit is seker so. Ignacy Paderew­ski was verlede somer met ’n groep van sy klavierstudente hier. Hulle wou hê hy moet op die klavier speel. Hy wou nie. Hy het gesê: ‘Ek kan­nie, want ek is dit nie werd om op die meester se klavier te speel nie.’” Hallcok maak die opmerking aan die einde van sy storie: “The greatest ex­pression of humility is simply to remain silent and let the applause go to the other person, the person of greatness.”

Min dinge word in mense juis so waardeer as op­­reg­te nederigheid. So ’n gesindheid is alleen moont­lik as ’n mens van ’n groter persoon bewus is. Dit is die ge­heim van die Christen se ne­de­rig­heid: ’n besef en be­wus­­syn van Christus Jesus se grootheid. Dit was die be­palende ge­sind­heid van Paulus: Jesus Christus se groot­heid. “Maar wat my betref…ek is met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe…” (Gal.2:19,20).

Ma 16 Mrt: Die Kenner

Lees Psalm 139

“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my…U het my ge­vorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moe­der…Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (2, 13, 24).

Billy Graham vertel in sy boek World Aflame van ‘n man wat met sy ou Ford langs ‘n onbeken­de roete op pad is. Die motor gee ‘n paar rukke, die enjin gaan dood en die motor staan. Wat nou gedoen? Hy weet nie veel van ‘n motor af nie, maar hy klim uit en maak die enjinkap oop. Hy peu­ter aan die drade, kyk vir iets wat dalk los is, kap hier, kap daar. Toe hoor hy ‘n motor aankom. Dit kom nader en hy sien dit is ‘n blink, nuwe Lin­coln. Die man is so gaaf om stil te hou. Hy klim uit en kom nader. “Wat skort?” vra hy. Die man sê, ”My ou Ford het net die gees gegee.” “Laat ek bie­­tjie kyk,””sê die vriendelike vreemdeling. Hy kyk, voel aan enjindele, trek aan die drade. “Het jy ‘n skroe­wedraaier?” vra hy. Met die skroewedraai­er maak hy ‘n verstelling aan een van die enjin se de­le, klim in die motor en die motor kom dadelik aan die gang. “Wonderlik,” roep die Ford­eienaar uit. “Jy kén ‘n Ford! Wie is jy?” en hy steek sy hand uit om te groet. Die man trek sy baadjie aan en glimlag: “Ek is Henry Ford. Ek behoort darem die motor wat ek self gemaak het te ken.”

Dit is ons groot voordeel in ons onderhande­linge met God oor ons lewe. Hy het ons gemaak. Hy ken ons. “Soos ‘n vader hom ontfem oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor dié wat Hom vrees. Want, Hy weet watter maaksel ons is, ge­dagtig dat ons stof is” (Ps.103:1,14 OU VERT.) Nog meer: in Jesus het God ‘n mens geword. Ek sê dit met eerbied, God het in eie lyf gevoel hoe dit is om in hierdie wêreld ‘n mens te wees. Jesus het hon­ger geword, dors geword, is uitgeskel, het moeg geword, is deur die duiwel versoek, Hy het fisies gely, Hy het geestelik gely. Daarom die groot ver­troosting in Hebreërs 4:15,16: “Die Hoë­pries­ter wat ons het , is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan ver­soe­king onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”

“Here, vandag kom ek vrymoedig by U redding vra.”

Vry 13 Mrt: Selfvernietiging

Lees ROMEINE 6 : 11 – 14 NUWE LEWENDE VERTALING

“Julle moenie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie (12).

Onder die titel, Sin’s Peril, deur Paul Harvey in die Leadership Journal van 1987, vertel hy hoe die Es­ki­mo’s wolwe doodmaak. Hulle neem ’n skerp, langlem mes en bedek dit met bloed. As die bloed gevries is, doop hulle die lem weer in bloed. Hulle herhaal die proses totdat die skerp lem met ’n dik laag bloed bedek is. Dan steek hulle die mes se hef stewig in die grond vas, sodat die bloedbe­dekte lem boontoe opsteek. ’n Wolf ruik die bloed en begerig en hongerig volg hy die bloedreuk, tot­dat hy by die bloedbedekte mes uitkom. Die wolf lek aan die bevrore bloed. Die smaak op sy tong maak hom vinniger lek. In Paul Harvey se eie woor­­de: “Feverlish now, harder and harder the wolf licks the blade in the arctic night. So great becomes his craving for blood that he does not notice the razor-sharp sting of the naked blade on his own tongue, nor does he realize that his insatiable thirst is being satisfied by his own blood. He just craves more and more until he drops dead in the snow. We are consumed, the Bible warns us, by our own lusts.”

Dit is ’n selfvernietigende weg om onbeheersd aan die luste van ons sondige natuur toe te gee. Ons het die inwonende Heilige Gees se krag in ons nodig om sonde se aanspraak op ons te weer­staan. Die beste tyd om teen sonde te stry, is om aan die begin van ’n versoeking ’n mens se toevlug tot die Here Jesus te neem en dit te bely. “’n Mens wil in jou hart graag teen die versoeking veg, maar die menslike geaardheid het nie die krag om dit te doen nie” (Mark.14:38 LEWENDE BYBEL). Jésus het dit vir sy dis­sipels in die tuin van Getsemané gesê. As Mens het ook Hy die krag van sonde geken, maar nooit daaraan toegegee nie. Hy, wat ons so goed ken, is vir ons ’n Hel­per in ons stryd teen versoeking en ook vir ons ’n Voorspraak by sy Vader. “En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voor­spraak by die Vader” (1 Joh.2:1). Dr. F. B. Meyer skryf in sy boek The Christ Life for Your Life dat dit Christus se doel is om ons van die krag van sonde te ver­los. “Abide in Jesus. Let the Holy Ghost in you keep you abiding in Jesus, so that when Satan comes to knock at your door, Jesus will go and open it, and as soon as the devil sees the face of Christ looking through the door, he wil turn tail…”.

“Here, vandag skuil ek by U teen die mag van sonde.”

Do 12 Mrt: Ingeskryf in die Hart

Lees 2 Korintiërs 3:1-6

“…julle (is) ’n brief van Christus…geskrywe, nie met ink nie maar met die Gees van die lewende God, …op die harte van mense” (3)

In Lahore, Indië, het Christene Nuwe Testa­men­te onder die mense van die stad versprei, ver­tel Good News. Hulle wou agter op elke Nuwe Testament wat hulle uitgee die woorde van Mat­teus 11:28 aanbring: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Hiervoor het hulle ’n rubberstempel nodig gehad, maar ’n stempel met daardie woorde op, was on­ver­krygbaar. Daar was net een raad: hulle moet so ’n stempel laat maak. Hulle het vir een van Lahore se stempelmakers, ’n Moslem, verduidelik wat hulle verlang en vir hom ’n Nuwe Testament ge­gee, sodat hy presies kon weet hoe om die stem­pel te maak. Hy was ’n bedrewe vakman en hulle was baie tevrede met die stempel wat hy na ’n paar dae vir hulle gebring het. Hy wou nie vergoeding vir sy werk neem nie. “Ek het die boek wat julle vir my gegee het gelees, want ek wou sien hoe die mooi woorde op die stempel by die boek inpas,” vertel hy. “Na ek die boek deurgelees het, en gesien het die woorde staan in daardie boek, het ek begin om die woorde in die rubber in te sny.” Met ’n breë glimlag vervolg hy: “Terwyl ek die woorde in die rubber insny, het God dit in my hart ingesny. Ek het na Jesus toe gekom, soos die boek sê, en nou weet ek ek is ook ’n Christen.”

Die woord van God word in ons Bybels met druk­kers­ink op papier geskryf. Ons lees dit en ver­staan die woorde met ons verstand. Maar iets meer gebeur. Terwyl ons sy gedrukte woord lees of daarna luister, skryf die Heilige Gees daardie boodskap in ons hart. Ons lees in Handelinge 16 hoe Paulus in Filippi aan ’n groep vroue die evan­gelie verkondig het. “Lidia, ’n purperver­koop­ster …het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is” (Hand.16:14). Ons kennis van die evangeliewoord is meer as net verstandsbegrip. Dit word innig deel van ons hart. “Ek sal my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees” (Heb.8:10). As ons God se woord lees en begryp, werk God in ons hart om dit in ons gestalte te gee.

“Here, vandag open ek my hart vir u inskrywing.”

Woens 11 Mrt: Motivering

Lees 1 Johannes 5:1-5

“Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie…” (3,4).

In die Sunday School Superintendent word ’n verhaal vertel, moontlik denkbeeldig, maar dit illustreer hoe God se wet vervul moet word.

’n Vrou is deur omstandighede gedwing om te trou met ’n man wat sy nie liefgehad het nie. Hy was ’n streng, veeleisende persoon. Hy het haar gedwing om elke oggend vyfuur op te staan om sy ontbyt te kook en dit presies om sesuur aan hom te bedien. Sy moes hom volgens presiese, geskrewe reëls dien. Hy het haar lewe ongelukkig gemaak. Uiteindelik is hy dood. Na ’n paar jaar trou sy weer. Hierdie keer trou sy met ’n man wat sy liefhet en oor wie se liefde vir haar, sy versekerd was. Sy was nou ’n gelukkige en ontspanne vrou, sonder vrees en angs in haar man se teenwoor­digheid. Op ’n dag maak sy huisskoon en kom af op die lys van streng reëls wat haar vorige man vir haar uit­geskryf het en waarvolgens sy presies moes leef. Sy lees dit: “Staan vyfuur op. Bedien ontbyt presies om sesuur.” Aan en aan lees sy met beklemde hart. Toe maak sy ’n wonderlike ontdekking en sy lag spontaan. Sy vervul steeds elkeen van daardie reëls in haar nuwe huwelik, maar sy het dit nie agtergekom nie, omdat sy haar nuwe man liefhet.

Dit is die geheim van ’n gelukkige geestelike lewe: as ons God dien omdat ons Hom liefhet! In, onder andere, Psalm 19 en Psalm 119 praat Dawid uit sy groot liefde vir God, omdat die Gees van God, die Gees van die Messias, reeds in sy hart geheers het. Psalm 19:10-12: “Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas. Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle regverdig. Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek. Die volgende tekse uit Psalm 119 haal ek uit die Lewende Bybel aan: “Die ware geluk lê by iemand wie se gedrag onbesproke is, omdat hy volgens die Here se maatstaf lewe (1).” “Met my hele hart wil ek U dien; laat my tog nie van u bevele afdwaal nie; leer my om te lewe soos U wil hê (10-12).” “U bevele maak my bly en ek het hulle lief. Omdat ek hulle liefhet, het ek eerbied vir hulle, en ek gee aandag aan u bepalings (47,48).”

“Here, vandag dien ek U uit liefde.”

Di 10 Mrt: Wees Betyds met Lof

Lees Spreuke 12: 18 – 28

“Bekommernis druk ’n mens neer; ’n vriendelike woord vrolik hom op” (25).

In Sounds vertel ’n vrou dat ’n bejaarde man gereeld by hulle antieke winkel in New Hampshire langs gekom het om meubels te verkoop. Eendag na hy vertrek het, sê sy vir haar man sy wens sy het vir die ouman vertel hoe hulle sy besoeke ge­niet. Haar man antwoord: “Volgende keer vertel ons hom.” Die volgende somer kom ’n jong vrou na die winkel toe en stel haarself voor as die dog­ter van die ouman wat altyd daar meubels kom ver­koop het. Haar pa is dood, sê sy. Die vrou ver­tel haar van haar en haar man se ge­prek die laaste keer toe die ouman daar was. Die dog­ter se oë word vol trane. “Ag, hoe sou dit hom nie op­gebeur het nie,” antwoord sy huilend. “Hy was ’n teruggetrokke mens wat altyd nodig gehad het om te hoor mense hou van hom.” Die winkelvrou het later gesê: “Sedert daardie dag sê ek dit dade­lik as ek iets is goeds van ’n persoon dink. Ek kry dalk nie weer kans om dit te doen nie.”

’n Mens kan deur wat jy vir iemand sê soveel goed, maar ook soveel kwaad doen. As dit iets goeds is, sê dit dadelik. As dit iets kwaads is, dink eers weer en wag ’n rukkie voor mens dit vir die per­soon sê: “Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê” (Spreuke 12:18).

“Here, vandag wil ek goed van ’n ander praat.”

Ma 9 Mrt: Word Gedra

Lees Jesaja 63: 7-10

“Hy het hulle verlos deur sy liefde en ontferming; Hy het julle opgetel en hulle altyd gedra” (9)

Dr. Philip Brookes het ’n dogtertjie in Boston, wat sy Sondagskool bywoon, besoek toe sy siek was. Terwyl hy by haar bed staan, merk hy op hoe ongemaklik sy lê. Die kussing was geduik en die lakens was deur­mekaar. “Kindjie, laat ek jou optel, dan kan jou mammie die kussings en lakens vir jou lekker maak.” Met daar­die woorde neem hy haar in sy arms en tel haar op. Haar ma maak gou die bed netjies en gemaklik. Hy lê haar daarna tederlik neer en nie lank nie of sy raak aan die slaap. Toe sy wakker word sê sy vol verwondering vir haar ma: “Om te dink dr. Brookes het my opgetel! Dit was lekker om te voel iemand wat so sterk is, tel my op.” Daardie aand het ’n nagverpleegster by haar kom waak en uit die Bybel vir haar gelees: “Die ewige God is ‘n skuilplek., sy arms is altyd onder jou” (Deut.33:27). ’n Rukkie lê die meisietjie die woorde en oordink, toe sê sy: “Ek weet wat dit beteken. Dis soos vanmiddag toe dr. Brookes my opgetel het. Hy het gemaak soos hierdie teks in die Bybel sê.” Sy glimlag tevrede en voeg by: “Dis lekker as God mens in sy arms vashou. Dan kom die wêreld onder jou reg.”

In ons onrus, wanneer omstandighede ons onge­mak­lik en vreesagtig maak, kan ons opsien na God toe om ons in sy arms vas te hou en ons te dra. Dit word oorvloedig in die Skrif beloof aan almal wat in God ver­trou. “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, ek is jou God…Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou (Jes.41:10). Ook in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra… en Ek sal julle vashou” (Jes.46:4).

“Here,vandag rus ek in u ewige arms wat my vashou.”

Vry 6 Mrt: Die Waarde van 'n Belofte

 Lees 1 Korintiërs 1: 17 – 24

“Jesus Christus, die Seun van God …is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al sy beloftes…dit (is) ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop ‘Amen’ sê” (19,20).

In sy boek Knowing God vertel J. I. Packer van ’n ou Puritynse prediker, Thomas Watson, wat in sy klein kerkie, een Sondag, 17 Au­gus­tus 1662, tref­fend oor God se beloftes gepreek het. “The pro­mises are great supports to faith. Faith lives in a promise, as the fish lives in the water. The promises are both comforting and quickening, the very breast of the gospel; as the child by sucking the breasts gets strength, so faith, by suck­ing the breast of a promise, gets strength and revives. There is no condition that you can be in, but you have a pro­mise.” Dit is tot ons skade as ons nie ons Bybel genoeg lees, vir God om vir ons sy beloftes, vir ons situasie te gee nie.

Dr. Everel Storms van Ontario skryf in Contact Ma­ga­zine: “The Holy Scriptures contain a grand total of 8 810 pro­mi­ses. How do I know? I counted them.” Hy het dit gekla­sifi­seer: 7 487 be­loftes is deur God aan mense ge­maak; 991 is beloftes van mens tot mens; 290 beloftes is deur ’n mens aan God gemaak. Engele het beloftes gemaak, meesal in Lukas. Die duiwel het 9 be­lof­tes aan mense ge­maak. Bv. een aan Eva in die Tuin: “…die dag as julle van daardie boom eet… sal julle soos God wees…” (Gen.3:4). Tot haar bitte­re skade het sy uitgevind ’n mens kan Satan nie glo nie. Een van Satan se ander beloftes was aan Jesus: “…die dui­wel…wys Hom in ’n oogwink al die koninkryke van die wê­reld…’Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee…as U maar net voor my buig en my aanbid’” (Mat.4:6). Gelukkig vir ons het Je­sus die duiwel goed geken en eerder God se Woord ge­hoor­saam. Jesus antwoord: “Daar staan ge­­skrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Mat.4:8). Gehoor­saam­heid aan God het vir Jesus uitgeloop op die kruis­dood, maar dit het God ver­heer­lik, ons verlos en vir Jesus na die opstand­ing ewige heer­likheid en eer in die hemel gebring. Dr. Storms skryf verder In die boek Titus is geen belofte nie. Aan die ander kant bevat Jesaja, Jeremia en Esegiël meer as 1 000 beloftes elk. Dan eindig dr. Storms: “The most outstanding chapter as far as pormises are concerned is Psalm 37. Practically every ver­se is a most won­der­ful promise.” Dit sal ons loon om hierdie Psalm uit die kop te ken vir ons daag­likse omstandighede. En Spurgeon voeg by: God never gives his children a promise which he does nog intend them to use.” Dan belangrik: ’n belofte het net waarde as dit geglo word.

“Here, vandag lees ek u beloftes en ek glo U.”

Do 5 Mrt: God se handskrif teen die Muur

Lees Handeling 27: 18 – 28

“Daarom hou moed , manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is” (25).”

Jan Winebrenner skryf in sy boek, Steel in his Soul, oor Dick Hillis en sy gesin se ervaringe in Shen­kiu in Sji­na, ty­dens die Japannese inval. Ge­rug­te oor die na­de­rende Ja­pan­nesemag het groot span­ning in die dorp verwek. Juis toe tref ‘n blinde­derm­aanval Dick en moes hy op 15 Januarie 1941, in der haas, hospitaal toe, in ‘n ander dorp, ver­­voer word. Margaret en die kinders het ag­tergebly. Die Sjinese kolonel het kom sê die Japan­ne­se is naby en die dorp moet ontruim word. Margaret het behoorlik gebewe van vrees. Sy wis Johnny, 1½ jaar oud, en Margaret Anne slegs 2 maande oud, sou so ‘n vlugpoging nie oorleef nie. Sy het in haar huis aan­gebly. Die volgende oggend skeur sy die muurka­len­der se blad af en lees die nuwe dag se teks en oor­den­king: Psalm 56:4 – “Die dag as ek bang word, ver­trou ek net op U.” Die dorp het deur die dag leegge­loop en die volgende oggend voel Margaret al­­leen en ver­stote. Weer skeur sy die vorige dag se blad­sy van die muurkalender af en lees die nuwe teks, Psalm 9:10,11 – “Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die He­re ‘n toe­vlug…want U, Here, laat dié wat na U vra nie in die steek nie.” Die volgende oggend word sy wak­ker met die klank van kanonvuur in haar ore. Haar groot be­kommernis is egter kos vir die kinders. Dié oggend is die muur­teks Genesis 50:21 – “Moenie bang wees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het.” Van nêrens af nie verskyn ‘n ou vrou by die deur met ‘n emmertjie stomende bokmelk in haar hande. ‘n Ruk­­kie later bring iemand anders vir haar ‘n man­djie eiers. Deur die dag word die oorlogklanke al harder. Daar­die nag slaap Margaret nie. Heelnag bid sy vir verlos­sing. Die volgende oggend skeur sy gister se kalender­blad af en die nuwe muurteks is Psalm 56:10 – “Die dag as ek na U roep om hulp val my vyande terug.” Deur die dag word die kanongebulder en geweervuur nóg har­der en weer kan Margaret nie gaan lê om te slaap nie. Die in­name van die dorp lyk onvermydelik. Weens uit­put­ting sluimer sy deur die nag in haar stoel in. Toe sy teen oggend wakker word, is dit doodstil. Dorpin­wo­ners begin terugkeer huis toe. Die Sjinese kolonel klop aan haar deur. Om een of ander rede het die Japanne­se te­rug­getrek, lig hy haar in. Niemand kan dit verstaan nie, maar die gevaar is verby. Margaret kyk na haar ka­len­der teen die muur en sy voel in haar hart die op­hef­fen­de blydskap van ‘n wete dat sy God se handskrif teen die muur gelees het en daardeur getroos is.

Die wete dat God betroubaar is, omdat die Hei­lige Gees dit in ons harte bevestig, en die ken­nis van sy beloftes, maak die Christen oorwin­nend in sy noodsituasies in hierdie wêreld: “Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het” (Rom.4:21).

“Here, vandag luister ek na u belofte en ek glo.”

Wo 4 Mrt: Oorwinning

Lees Johannes 20: 19 – 25

“Alhoewel die deure gesluit was omdat die dis­sipels bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’” (19).

’n Interessante verhaal word vertel hoe die nuus, van die afloop van die geveg by Waterloo, tus­­sen die Engelse, onder Wellington, en die Fran­­se, onder Napoleon, in Londen bekend ge­maak is. ’n Skip het tot naby die Engelse kus gekom en met vlae die bood­­­skap na die Win­ches­ter Cathedral toe begin sein. Die letters van die boodskap, soos die vlae dit gesein het, is een-een neergeskryf:

W*E*L*L*I*N­*G*­T*O*N D*E*F*E*A*T*E*D

en toe sak die mis oor die skip toe en die res van die boodskap kon nie ge­sien word nie. Geheel Lon­den was geskok oor genl. Wel­ling­ton se neer­laag teen keiser Napoleon. ’n Neer­­slagtigheid het oor die Engelse neergesak. Toe lig die mis weer op en die res van die bood­skap word gesein:

N*A*P*O*L*E*O*N.

Dus: Wellington defeated Napoleon. Hierdie wonder­li­ke nuus het soos ’n hup­pe­lende lied geheel Engeland deurgalm.

Die heerlike nuus van die Here Jesus se op­stan­ding en sy oorwinning oor Satan en die dood, het am­per dieselfde proses deurloop. Die aan­vank­like nuus van sy opstanding was somber en dubbelsinnig. Oor die twee Emmausgangers se gesprek met Je­sus, wat na sy opstanding by hulle aangesluit het, lees ons in Lukas 24:13-24: “Je­sus vra hulle toe: ‘Wat is dit wat julle so ernstig met me­kaar loop en bespreek?’ Met som­ber gesigte gaan hulle staan…en antwoord Hom: ‘Die dinge in ver­band met Jesus…en hoe ons Raad Hom…ge­krui­sig het…’n paar vroue…het ons ook nog ont­stel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf …hulle het…engele gesien wat sê dat Hy lewe. Sommige van ons mense het graf toe gegaan…maar Hom het hulle nie gesien nie.” Selfs toe Jesus tussen die dissipels verskyn het, lees ons in Luk.24:36 “Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ’n gees…”

Laat ons met blydskap, in die oorwinning van Je­sus se opstanding uit die dood, leef. Die Heilige Gees kan deur die Here se woord dit vir ons werk­lik­heid maak. “Ons het dieselfde Gees wat die ge­loof wek, en ons glo … ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon stel” (2 Kor.4:13,14). Wanneer Je­sus in sy opstan­dings­heer­likheid vir ons ’n werk­lik­heid word, kry sy kruis­dood vir ons nu­we betekenis. Jesus verskyn aan sy dissipels en wys vir hulle sy wonde. “Jesus het gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle’…nadat Hy dit gesê het wys Hy sy hande en sy sy vir hulle…” (Joh.20:19,20). Tomas het selfs gesê hy sal nie glo voor hy nie sy vinger in die merke van die wonde gesteek het nie. “Jesus sê vir To­mas: Bring jou vinger…kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy…” (Joh.20:24,25,27).

“Here, vandag juig ek oor u kruisdood en opstanding.”

Di 3 Mrt: Die Krag van Die Kruis

Lees Galasiërs 6:11-18

“…mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus…(14)

Sir John Bowering, die begaafde natuur- en taalkundige van amper twee eeue gelede, was ’n leidende politieke en finansiële figuur in sy tyd. Hy kon in dertien tale en dialekte skryf. Op ‘n keer was hy goewerneur van Hong Kong. Dit is hy wat die floryn, die Engelse tweesjielingstuk, uitgevind het. In 1825, vertel Our Youth, het Sir John aan die suidkus van Sjina, in die omgewing van die ha­­we van Macao, skipbreuk gely. Die Portugese setlaars het ’n massiewe katedraal op ’n heuwel, wat oor die hawe van Macao uitkyk, gebou. ’n Aardbewing het die katedraal, in puin gelê. Net die toring, met ’n kruis op, het in die bouvalle gedeeltelik staande gebly. Sir John se skip het naby dié plek gesink. Hy het aan ’n stuk van die wrak vasgeklou. Hy kon die kruis, op die stuk toring tussen die bouvalle op die heuwel, sien uitsteek. Hy het dadelik geweet waar hy hom bevind en dit het hom koers gegee om die land te bereik en by mense uit te kom. Na hierdie ervaring van hom het hy ’n lied geskryf wat aan miljoene bekend geword het:

In the cross of Christ I glory;
Towering o’er the wrecks of time;
All the light of sacred story
Gathers round its head sublime.

Uit die puin van hierdie wêreld waarin ons leef, verrys die kruis, die boodskap van God se liefde en die Here Jesus Christus se redding, en gee aan dren­ke­linge koers en hoop. “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” het die sipier van Filippi die nag van die aardbewing by die tronk uitgeroep. Paulus en Silas het geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word…” (Hand.16:30,31). Sterwend aan die kruis het die veroordeelde mis­da­di­ger na Jesus toe uitgeroep: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!” Jesus het dadelik geantwoord: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk.23:42,43). So roem Paulus in die hoop van die evangelie van die Here Jesus Christus: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo…” (Rom.1:16).

“Here, vandag gee u evangelie my hoop.”

Ma 2 Mrt: 'n Geleentheid Verbeur

Lees Johannes 12: 1 – 8

“Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardus­olie ge­bring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die olie” (3)

Roy Zuck vertel dat Queen Mary eendag met haar twee kinders in ’n woongebied van Londen ge­loop het. Sy het al­ledaagse klere aangehad om te voor­kom dat mense in die straat om haar saambon­del. Sy was lief om met gewone mense te meng. ’n Reënbui oorval hulle. Sy gryp die kin­ders se hande en hardloop na ’n nabygleë huis. Vie­serig laat die huisvrou die nat vrou en twee ewe nat kinders in haar huis in. Queen Mary vra of sy ’n sambreel kan leen om in die reën huis toe te kan gaan. Sy beloof om die sambreel die vol­gen­de dag terug te stuur. Die huisvrou het darem nie lus om haar goeie sambreel vir die vreemde vrou te leen nie. In ’n stoorkamertjie het sy ’n ou sam­breel met twee gate in en een van die strekribbes gebreek, maar sy leen dit vir die vrou. Kom dit nie terug nie is dit nie ’n skade nie. Die vol­gende dag bring een van die deftige paleiswagte in vol­le uni­form dit terug. Hy sê vir die ver­won­der­de huis­­vrou: “Die koningin stuur dit terug. Sy sê baie dan­kie dat jy dit vir haar ge­leen het.” Verstom roep die vrou uit: “Die ko­nining. Was dit die koningin!. Ag, wat ’n geleentheid het ek ge­mis. Ek sou vir haar my beste sambreel gegee het as ek net geweet het!”

Wanneer ons eendag die Here Jesus Christus in sy volle heerlikheid sien, gaan ons ook spyt wees ons het Hom tydens ons aardse lewe die stuk­kende sambreel gegee het, tweede of der­de beste van ons lewe, in plaas van heel bes­te. As ons nie moeite doen en ruimte maak om Hom in ons stiltetyd, deur gebedsomgang en Bybelstudie, te leer ken nie, kan ons maklik in ons toewyding aan Hom kortkom.

“Here, vandag wil ek U leer ken en die beste van my lewe aan U gee.”