Vry 30 Jan: Die Krag van Vergifnis

Lees Kolossense 3: 5 – 17

“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe” (13).

Victor Guaminga, ’n ywerige, belyden­de Christen in Ecuador, was projek-koördineerder van World Vision se werk in sy land. In die World Vision-kwartaalblad van Maart 1986, word onder die opskrif: Forgiveness Un­clogs a Pipeline, vertel hoe Victor Guaminga sy tuis­dorp, Laime Chico, van skoon water wou voorsien om die kwale wat deur vuil water oorgedra word, teë te werk. Maar die waterbron was ’n redelike afstand van Laime Chico af geleë, en die pyplyn sou deur ’n naburi­ge dorp, wat vyandig teen Laime Chico was, gelê moes word. Toe dáárdie dorp van die pyplyn hoor, het hulle ook dadelik gedreig om enige poging om die pyplyn te lê te beveg en enige pype wat aangelê word, da­delik te beskadig. In Laime Chico was ’n sterk, lewende kerk. In die ander dorp was nie ’n kerk nie. Daar was dus geen Christelike basis waarop die probleem benader kon word nie. Laime Chico se kerk besluit toe om in die an­der dorp ’n evangeliese veldtog te hou, met die hoop dat daar ook ’n kerk kan ontstaan en ontwikkel. Dit was ’n moeilike en ook ’n gevaarlike poging. Die belangstel­ling was gering. Uiteindelik het vier van die dorp se men­­se hul harte vir Christus oopgemaak. Hierdie vier persone se geestelike lewe het stadig ontwikkel en deur hulle getuienis het nog ’n paar mense by die klein ge­meen­te aangesluit. Die kerk het stadig gegroei. Toe kom die man wat die pyplynplan die heftigste beveg het tot be­ke­ring. Hy het sy verkeerde houding in­ge­sien, sy buurdorp se vergifnis gevra en sy on­der­steuning vir die pyplyn beloof. Vyf jaar na die aan­vang van die varswaterplan het die eerste skoon, drink­bare water deur die nuwe pyplyn na Laime Chico toe gevloei. Maar nie net na Victor se dorp toe nie, maar toe ook na die eens vyan­di­ge dorp toe. ’n Rukkie later is die water ook na twee ander dorpe in die omgewing toe aangelê. In die vier dorpe is daar nie nou net skoon drink­water nie, maar in elkeen van die dorpe is daar ook groeiende kerke. Nie net gewone water nie, maar ook die water van die lewe het na dorstige mense toe ’n weg gevind, toe die prop van haat uit hulle harte verwyder is.

Mense se lewens is die pyplyn waarmee God sy water van die lewe na verlore mense toe lei. Nyd en haat en toorn kan van die ergste ver­stop­pings wees wat die Here se werk belemmer. Paulus en Barnabas het eenkeer vir mekaar kwaad geword en hulle kon nie langer met mekaar saam werk nie. “Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het…” (Hand.15:39). Die Heilige Gees word deur onmin tus­sen Christene bedroef en die vloei van geestelike seën droog op.

“Here, vandag ondersoek ek my hart en ek bely enige nydgevoel teen ’n ander aan U.”

Do 29 Jan: Borduurwerk van Genade

Lees Romeine 10: 5 – 17
“As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons en ons word gered “ (9,10).

Mitsuo Fuchida was in bevel van die 860 vliegtuie, van die Japanese Lugmag, wat op 7 Desember 1941 Pearl Harbour aangeval het, vertel Robert J. Morgan in sy boek From This Verse. Jacob DeShazer, van die Amerikaanse lugmag, het op 18 April 1942 , as deel van ’n gewaagde wraakaanval, met sy B-25 bomwerper, met die naam Bat Out of Hell, sy bomme op Nagoya gegooi, en in ’n digte mis probeer wegkom. Hy het in die mis koers verloor en sy brandstof het opgeraak. Hy het oor Japanese gebied uitgespring. Hy is gevange geneem, gemartel en met ’n spoedige teregstelling gedreig. Vir amper twee jaar moes DeShazer honger, koue en voortdurende buikloop verduur. In Mei 1944 het sy bewaarder met ’n Bybel sy sel binnegekom. “Jy kan dit vir drie weke hou,” het hy bars gesê. DeShazer het die Bybel gegryp, teen hom vasgedruk en dadelik by Genesis begin lees. Hy het feitlik dag en nag gelees en die Bybel ‘n paar keer deurgelees. Sleutelgedeeltes het hy uit die kop geleer, met die gedagte, as die Bybel teruggeneem word, sal hy die tekse wat hy uit sy kop geleer het, behou. Op 8 Junie lees hy Romeine 10:9. Hy lees dit weer. En daar in sy sel kniel hy en bid en neem Jesus Christus as Verlosser aan. Nou het Matteus 5:44 vir hom ’n probleem geword: “Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg…” Hy besluit hy gaan by sy Japanese bewaarders begin. Sy vyandigheid teen hulle verander in vriendelikheid. Elke oggend groet hy hulle hartlik. Hy begin vir hulle bid en getuig teenoor hulle van Jesus Christus. Toe begin hulle houding teenoor hom ook verander. Elke nou en dan bring hulle vir hom beter kos en ander benodighede. Na die oorlog het DeShazer na Japan teruggekeer – nou as sendeling. Hy het in Nagoya, die stad wat hy gebombardeer het, ’n kerk gestig.

Sy getuienis, in traktaatjievorm, I Was a Prisoner of the Japanese, is wyd en syd in Japan versprei en baie wou die man ontmoet wat sy vyande kon vergewe. Een man veral was baie gretig om hom te ontmoet. DeShazer se getuienis het hom diep getref en Glen Wagner van die Pocket Testament League het dié man na Christus toe gelei. Dit was Mitsuo Fuchida, dieselfde man wat die aanval op Pearl Harbor gelei het! Hy het DeShazer by sy huis gaan besoek en hulle twee het vriende geword. Fuchida het ’n evangelis geword en dwarsoor Japan en ook in die buiteland gepreek en die verhaal van God se groter krag in Christus, om die duiwel se vernietigingswerk deur sonde, in redding te omskep, verkondig.

“Here, vandag soek ek in u krag my redding.”

Woens 28 Jan: Nie Tyd om Bybel te Lees

Lees Hebreërs 5:11-6:3
“Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap (6:1)

Die bekende skrywer, Wilbur M. Smith, skryf in Profitable Bible Study dat die meeste boeke van die Bybel in minder as 20 minute deurgelees kan word. Die hele Ou en Nuwe Testamente, sê hy, kan hardop, stadig en met gevoel in 72 uur deurgelees word. Dan beweer hy: It will astonish many to know that one single, normal issue of The Saterday Evening Post contains as much reading matter as the entire New Testament.” Baie duisende lees so ’n koerant maklik in minder as ’n week deur, skryf hy en voeg by “The number of Christians who read the New Testament through every week, or even one whole book of the New Testament every week, are so few that we need not talk about it.” In die Ou Testament is daar 13 boeke en in die Nuwe Testament 17 boeke wat uit minder as 10 hoofstukke bestaan. Die hele Ou Testament het 930 hoofstukke en die hele Nuwe Testament 261 hoofstukke. Saam is dit 1 191. Gedeel deur die 365 dae van die jaar hoef ‘n mens minder as 3½ hoofstukke per dag te lees om die Bybel in ’n jaar deur te lees. Ons geestelike lewe en geestelike groei is afhanklik van die lees van God se Woord. “Verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei (1 Pet.2:2 Ou Vertaling).

“Here, vandag lees ek met sielehonger u Woord.”

Di 27 Jan: Klein en Groot Dinge

Lees Matteus 16:13-20

“Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? …maar julle…wie, sê julle, is Ek?” (14)

William L. Stidger vertel in sy boek There are Ser­mons in Stories van die meisie Sadie Smithson wat eintlike arm grootgeword het in Johnsons Falls, Wes Virgiania het. Haar pa was in beheer van ’n perdestal en sy­self het met naaldwerk ’n in­komste probeer maak. Hulle het net bo die armlas­ti­ge vlak geleef. Sy wou graag met die hoër klas van die dorp meng. Haar plan om dit reg te kry, was om lid te word van die Laurel Literary Society, ’n organisasie wat die sosiale glans van haar dorp weerspieël het. Na sy klaar was met hoërskool het sy aansoek gedoen vir lidmaatskap. Haar aansoek is afgekeur. Wel, het sy gedink, miskien sal hulle meer van haar dink as sy deur Europa gereis het. Sy het geld gespaar en gedroom hoe die sagte handskoenhande sal klap as sy haar lesing van My Toer deur Europa gelewer het. Na jare se spaar­saamheid het sy haar droom verwesenlik en saam met ‘n professor en sy vrou die toer aangepak. Juis toe het Wêreldoorlog uitgebreek. Sadie was met die openingskote van die oorlog in België, maar sy het reggekry om ’n rit Parys toe te kry. Die bestuur­der het egter sy koers kwytgeraak en skielik het hul­le oor ’n slagveld gery. Sadie het afgekyk op’n gewonde soldaat wat reg langs hulle voertuig lê. “Water!” skreeu hy. “In hemelsnaam, water!” Sadie het uit die bussie gespring en met ’n beker na ’n nabygeleë fontein gehardloop en vir hom water ge­bring. Toe roep nogeen vir water. Weer hardloop sy fon­tein toe. Die bussie vertrek sonder haar. Heel nag het sy heen en weer tussen die fontein en gewonde sol­date gehardloop. Sy het haar rok repe geskeur en hulle wonde probeer toebind. Sy het sterwende manne se boodskappe aan hulle dierbares neergeskryf. By elke man het sy gebid. Dit was ’n nag van skrik, en donkerte, en gekerm van gewonde soldate. ’n Ambulans met ’n dokter en verpleërs het aan­ge­kom. Hy was verstom om die arm jongvrou van West Virginia tussen die bloed en verwoesting van die oorlog te vind. In William Stidger se woorde roep die dokter uit: “Who are you? What in thunder are you doing here?” “I’m, she said, “and I’ve beenholding hell back all night.” “Well miss Sadie Smithson,” said the young doctor, “I’m glad you held some of it back, for everybody else in the world was letting it loose last night.” Terug huis toe, op die skip, vertel sy haar storie vir ’n medepassasier. “Ek het self nie kinders gehad nie, maar daardie nag was al daardie manne my kinders. Ek daardie nag my le­we vir hulle kon gee,” voeg sy by. Die passasier antwoord: “Wel, ek dink die Laurel Literary Society sal nou bly wees om jou hulle lid te maak. Sadie antwoord, in Stidger se woorde: “No, I’ve nbeen face to face with war and death and helle and God. Now little things like the Laurel Literary Soceity don”t matter te me any more.” “What does matter,” asked the friend. “Nothing,” Sadie said. “Nothing but God and love – and doing what I can do for those He sends me to.”

Iets van die Here Jesus se gesindheid het daardie nag in Sadie se hart wakker geword, sodat klein wê­reld­se weeldes en eer vir haar niksseggende waarde gekry het. Die Here Jesus heet in die donker van die nag na ’n sterwende mensdoem toe gekom. Hy het ons liefgehad en Homself vir ons gegee. As Hy in ons hart kom woon, verander ons perspektief van die lewe.

“Here, vandag vra ek dat U my hart na u vlak ophef.”

Ma 26 Jan: Die Veilige Plek

Lees Johannes 10: 1 – 13

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape (14).

’n Sakeman, Allen Emery, was in die wol­be­dryf. Eenkeer het hy ‘n nag saam met ’n herder en sy skape op die Texasprêrie deurgebring, skryf Robert J. Morgan in From This Verse. Skielik, in die middel van die nag, het die lang ge­huil van die prêriewolwe opgeklink. Die skape wat gelê en slaap het, het verskrik met ’n jam­mer­like geblêr op die been gekom. Die herder het vinnig opgestaan en meer hout op die vuur gegooi. Die vuur het vinnig opgevlam. In die gloed van die vuur het Allen om hom rondgekyk. In die donker het duisende liggies gevonkel. Hy het besef dit is die weerkaatsing van die vuurlig in die skape se oë. Hier is Allen se eie opmer­king hieroor: “In the midst of danger the sheep were not looking out into the darkness, where the coyotes were wailing, but were keeping their eyes set in the direction of their safety, look­ing toward the shepherd.”

Ons ken ook vrees – al wys ons dit nie altyd nie. Allerhande wolwe huil daar buite en bedreig ons. Jesus se vergelyking van ons met ’n herder se kudde is baie vertroostend. Ons is deel van sy kudde as ons in Hom as ons Verlosser vertrou. En Hy is ’n getroue en betroubare Herder. Hoe geluk­kig is ons nie! Ons het ’n getroue en almagtige Her­der wat ons bewaak.

Ons is swak, maar ons skuil by Hom. Hou die oë vertrouend op Jesus: “…die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins. En Hy sit nou aan die regterkant van troon van God. Hou Hom voor oë…dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie” (Heb.12:2,3).

“Here, vandag kyk ek na U en ek skuil by U.”

Vry 23 Jan: Die Deurgekapte Bybel

Lees Hebreërs 5: 12 – 13

“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit…dring deur selfs tot…siel en gees. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (12).

Een van die kragtige evangeliste van die 19de eeu was ’n man, “Uncle” John Vassar. Hy het opgegroei in ’n familiesaak van bierbrouery in Poughkeepsie, New York. Na sy bekering het hy sy bierbroubelange prysge­gee en ’n prediker en sielewenner vir Christus ge­word. Op 15 Mei 1850 is aangestel as die verteen­woordiger van die American Tract Society of New York. Hy het onvermoeid geestelike leesstof verkoop en versprei en met mense oor hulle verhouding met Christus gepraat. In sy boek The Fight for Faith, vertel hy ’n van ‘n ondervin­ding wat hy gehad het.

Hy kom eendag by die huis van ’n vrou wat die Here ken en vir haar man se bekering bid. Haar Bybel was al oud en gehawend en Vassar gee vir haar ’n pragtige, nu­we Bybel. Nie lank na hy vertrek het nie, kom die man tuis en sien die nuwe Bybel. Woedend gryp hy die Bybel, storm uit na die plek waar hy die hout kap, gryp ’n byl en kap die Bybel in die dwarste middeldeur. Hy stap huis toe, gooi die een helfte van die Bybel vir sy vrou en skreeu: “Jy sê die helfte van alles hier behoort aan jou, goed, daar is jou helfte van die Bybel.” Die ander helfte gaan gooi hy in sy werkskamer neer.

’n Paar maande later is dit reënerig en hy kan nie buite werk nie, maar hy wil ook nie in die huis by sy godsdienste vrou sit nie. Hy gaan sit in sy werkskamer. Die tyd begin hom verveel. Hy sien die halwe Bybel op die vloer in die stof lê. Hy neem dit en blaai die halwe stuk deur. By Lukas 15 kom hy af op die verhaal van die Verlore Seun. Hy begin dit lees en dit boei hom. Maar halfpad is dit afgekap en die einde van die verhaal is in sy vrou se halwe Bybel. Hy sluip saggies die huis binne en soek na sy vrou se halwe Bybel. Hy kan dit nie kry nie, maar daar was nou so ’n angstigheid in sy hart om te weet hoe die pa die seun terug ont­vang het, dat hy nederig vir sy vrou haar Bybel gaan vra. Hy het met die Bybel gaan sit en die verhaal ’n paar keer deurgelees en net daar, met sy vrou se hulp, sy hart vir Here gegee.

Ons sien die drie faktore wat saamgewerk het tot hierdie man se redding: Die ywerige Bybelverkoper, die biddende vrou, God se or­dening van omstandighede en die krag van sy Woord deur die werking van die Heilige Gees. Laat ons ywerig die evangelie versprei. God gee die ontkieming en wasdom. “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding aan elkeen wat glo…In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom.1:16,17).

“Here, vandag wil ek die evangelie na iémand toe deurgee. Help U my asseblief.”

Do 22 Jan: Heroorweeg dit Eers

Lees Matteus 7: 1 – 6

“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy bie op nie?” (3)

Die gewilde skrywer en prediker, F. W. Bore­ham, het eenkeer sy geduld verloor met die kritie­se en snedige dinge wat ’n mnr. Critingden kwytge­raak en selfs in die pers oor hom geskryf het. Na nog ‘n besonder neerhalende kritiek teen hom in die jongste koerant, het Boreham gaan sit en woe­dend aan Critingden ’n skerp, bestraffen­de brief ge­skryf. Hy het die koevert toegeplak, ‘n seël op­ge­sit en by die deur uitgestap om die brief in die pos­bus te gaan gooi. Dit was ’n lieflike aand vir stap en Boreham het by die posbus verby gestap sonder om die brief te pos, met die gedagte dat hy met die terugstap die brief sal pos. ’n Blok verder loop hy ’n vriend raak wat vir hom sê: ”Arme ou Cri­tingden is dood.” Boreham vra geskok. “Regtig? Waaraan is hy dood?” “Hy is skielik dood – vroeg vanmiddag. My jy weet, ek dink dit is vir die beste. Hy het dit moeilik gehad. Jy weet seker van alles.” “Nee,” antwoord die steeds geskokte Boreham,” ek weet omtrent niks van hom af nie.” “O, ek het ge­dink almal weet. Hy het net twee kinders gehad, ’n seun en ’n dogter. Kort na sy vrou se dood is die seun in ’n ongeluk dood. Die dogter het haar ver­stand kwyt geraak en is nou in ’n gestig. Arme ou Critingden. Dit het hom totaal verbitter en hy het om­trent almal se vyand geword.” Boreham is te­rug na sy huis toe sonder om die brief te pos. Hy was be­­skaamd oor homself en diep vernederd oor sy eie kleinlikheid. Hy het die brief in klein stukkies opgeskeur en hulle een vir een in die kaggelvuur gegooi. Toe het hy daar voor die kaggel gekniel, sy lelike gesindheid en swak­heid bely en gebid dat hy die gena­de mag hê om in die toekoms moeilike mense met liefde vriende­lik en sag sal hanteer, soos hy graag wil hê mense met hom moet doen.

Ons menslike natuur is vinnig om nyd met nyd te beantwoord. Tensy ons in ons geestelike lewe so groei dat die Heilige Gees Christus se lewe en ge­sind­heid in ons die oorhand laat kry, sal ons gedurig ru­sie met rusie antwoord. “Laat julle steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor be­geer­tes van julle sondige natuur nie…vyandskap, haat na­ywer, woede, rusies…Die vrug van die Gees daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vrien­delikheid, goedhartigheid…” (Gal.5:16,19,22).

“Here, vandag bid ek dat die Heilige Gees my versterk.”

Woens: 21 Jan: Die Veranderde Uitkyk

Lees 2 Timoteus 4:9-18

“…Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry…”(10)

Uit die Griekse annale vertel die prediker, mnr. C. H. Spurgeon, die storie van ’n soldaat onder Anti­gonus, wat aan ’n uiters pynlike kwaal gely het en wat hom vroeg graf toe sou neem. Hy was altyd heel­­voor in ’n geveg, altyd gereed om die gevaarlik­ste take uit te voer. As hy geveg het, het hy sy pyn vergeet. Omdat hy vroeg sou sterf, het hy geen vrees vir die dood gehad nie. Antigonus het hierdie soldaat van hom raakgesien en bewonder. Hy het een van sy bekwaamste artse aangestel om hierdie jongman gesond te maak. Die soldaat het toe ook werk­lik gesond geword. Daar tree toe ’n groot veran­dering in sy gedrag in. Hy het nie meer lus gehad om te veg nie. Hy het net gerief en plesier gesoek. Hy het nou iets gehad om voor te leef: gesondheid, ’n huis en gesin, ’n gemaklike oudag. Hy wou nie meer sy lewe op die spel plaas soos vroeër nie.

Aardse weelde en voordele trek ons hart weg van God se dinge af. Min mense het die innerlike sterkte om voorspoed en seën verstandig te hanteer. Dit ly dikwels tot geestelike agteruitgang. Paulus het die Here gedank vir die hindernis in sy lewe, heel moontlik ‘n kwaal, waaroor hy die Here drie keer gebid het om dit weg te neem. “Die Here het geweet dat ek dalk hoogmoedig kan word oor die wonderlike dinge wat Hy my gewys het. Daarom het Hy my ’n probleem gegee en ek is nou soos iemand wat met ’n pynlike doring in sy liggaam leef…Ek het driemaal gebid oor hierdie saak en die Here gevra om dit weg te neem. Maar Hy het vir my` gesê: : ‘Die genade wat Ek jou gee, is genoeg. Hoe swakker jy is, hoe meer kan my krag deur jou werk…”(2 Kor.12:7,8 Lewende Bybel).

“Here, ek dank U vandag vir die beproewinge wat U in my lewe gee om my vir U bruikbaar te hou.”

Di 20 Jan: Hy Soek en Red

Lees Handelinge 26: 9 – 18

“Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jou net seer deur jou te verset” (4)

Die 1994 uitgawe van Gideon Testimonies from International Extension Countries vertel, onder die titel, From Smoking the Word to Speaking the Word, die verhaal van Jacob Koshy. Hy het in Singapore opgegroei met net een verterende ambisie: om al die geld wat hy kan maak, en besittings wat hy kan vergader, in die hande te kry. Dit het hom in die dwelm- en dobbelwêreld ingelok. Hy het die leier, die lord, van ’n internasionale smokkelnetwerk geword. Hy het skatryk geword, maar in 1980 is hy gearresteer en in ’n dwelmrehabilitasietronk in Singapore opgesluit. Hy was uitermate gefrustreerd. Al sy drome, ambisies en doelwitte het rondom hom in die beknopte tronksel aan skerwe gelê. Hy was ’n strawwe roker, maar sigarette was in die tronk verbode. Hy het tabak ingesmokkel en dit in die blaaie van ‘n Gideonbybel gerol om te rook. Terwyl hy eendag een van dié selfgemaakte sigarette lê en rook raak hy aan die slaap. Hy word wakker en tussen sy vingers lê die uitgebrande flentertjie papier. Met die beweging van sy hand, val die stukkie van die Bybelblad wat oorgebly het, oop. Hy lees die woorde wat daarop staan: “Saul, Saul waarom vervolg jy My?” Geraak deur die woorde vra hy ’n ander Bybel en lees die hele verhaal van Saulus se bekering. Dit kom in sy hart op: As God iemand soos Saulus kon help kan God hóm ook help. Daar in sy sel kniel hy en vra dié Jesus van wie hy nou gelees het, om ook in sy lewe in te kom en hom te verander. Hy begin huil en kan nie ophou nie. Dit is asof die trane oor sy verspeelde lewe, die pyn in sy hart wegwas en hy weet God het hom gered. Hy het dadelik begin om sy ondervinding met die ander gevangenes te bespreek. Sy veranderde lewe het tot ’n vroeër vrylating gelei en hy het dadelik by ‘n kerk betrokke geraak. Hy het ’n Christenvrou ontmoet met wie hy getrou het en hy het sendeling in die Verre-Ooste geword. Ver en wyd vertel hy: “Who would have believed that I could find the truth by smoking the Word of God?”

Toe die mense Jesus kwalik geneem het omdat Hy by die tollenaar Saggeus tuisgegaan het, was sy antwoord: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:10). God beheer die omstandighede waarin sy Woord na iemand toe kom. Die Heilige Gees gebruik God se Woord, al is dit ’n enkele sin op ’n uitgebrande Bybelbladsy, om ’n sondaar se hart te laat ontwaak om na redding te verlang. As ’n ander dienaar van die Here beskikbaar is, gebruik die Here so iemand om die soekende siel te help om die weg van saligheid te verstaan, soos in Saulus se geval. Maar, God kan ook, deur die werking van die Heilige Gees, en die kennis wat die persoon oor Christus se verlossing bekom het, al is hy alleen, die wonder van wedergeboorte in sy hart laat gebeur. “Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God” (1 Pet.2:23).

“Here, vandag bid ek dat U my red.”

Ma 19 Jan: 'n Gevaarlike Plek

SKRIFDEEL: Openbaring 20: 11 – 15

“As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi” (15)

George Lennox was ’n berugte perdedief in vroeë Amerika, skryf Die Bode van Maart 2004. Eenkeer moes hy vir sy gevangenisstraf in ’n steenkoolmyn werk. Hy werk op ’n gevaarlike plek, word hy gewaarsku. Hy maak dit as onsin af. Ure later stort die dak van die myn ineen en hy word lewendig begrawe. Twee uur later is hy onder die steenkool uitgegrawe en deur die tronkdokter dood verklaar. Toe sy tronkmakkers hom in sy kis plaas, laat hulle hom per ongeluk val. Tot almal se verbasing kreun hy en maak sy oë oop. Sy verligting en blydskap, toe hy sien hy is in die tronkhospitaal, was aanrypend. In sy diep bewustelose toestand het hy verdoemenis ervaar. So beskryf hy dit:
“Ek het die hele oggend ‘n voorgevoel gehad iets vreesliks gaan gebeur. Toe die steenkooldak padgee, was dit stikdonker om my. Voor my het ’n ysterhek oopgeswaai. Dit was doodstil en ek was stoksiel alleen. Ek het deur die hek geloop. Voor my het ’n skrikwekkende gedaante verskyn. Seker drie meter lank, met vlerke op sy rug. Hy was heeltemaal kaal. Sy oë was twee vuurballe, sy hare swart, ruig en lank, tot op sy skouers. Sy tande was soos ’n roofdier s’n. Aan weerskante van die gang kon ek mense hoor skreeu en smeek na water en ek het gewéét dit is die hel. Ons het op ’n breë vlakte uitgestap. Ver bokant my, in die verte, het ek die helder verligte hemelstad, waarvan die Bybel vertel, gesien, met vreugdevolle verlostes en engele wat rond beweeg en die lieflikste liedere sing. Ek het my ou Moeder, wat aan ’n gebroke hart oor my slegte lewe gesterf het, ook gesien. Sy het my smekend na haar toe gewink. Maar tussen ons was ’n onoorbrugbare kloof. Ek het by die ingang na die Poel van Vuur gekom. Groot golwe vuur en swael het oormekaar gerol, soos die branders van die see in ’n hewige storm. Uit die diepte van die vlammende branders het mense telkens verskyn om net weer onder die golwe te verdwyn. Hulle vloeke en jammerlike geroep na water was hartverskeurend. “Dit is jou lot vir ewig,” neem my gids van my afskeid. Die grond sak onder my voete weg en ek is in die poel van vuur. ’n Onbeskryflike dors oorweldig my.
In daardie oomblik van diep verlorendheid, maak ek my oë in die tronkhospitaal oop. En was ek bly! Maar één ding is seker. Daarheen wil ek nooit, nooit weer gaan nie. Die eerste ding wat ek gedoen het, na ek in die hospitaal bygekom het, was om my hart vir die Here te gee, in Hom te glo en my te bekeer. As ek nou sterf sal ek na die stad van lig toe gaan om vir ewig saam met die verlostes fees te vier.

Ons weet nie of die hel regtig so is nie. Lennox was nie regtig dood nie, so hy was nie regtig by daardie skrikwekkende, aaklige plek nie. Dit lyk eerder of die beeld wat sy vroom moeder se onderrig in sy gemoed weggebêre het, in daardie omstandighede na vore gekom het. Jesus het geweet hoe dit regtig is om verlore te gaan. In sy gelykenis van die rykman en Lasarus skets Hy dit baie kortliks. Iets daarvan kom in Lennox se vertelling na vore: “Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe…(sover kén ons die proses! Dan die onbekende deel)…Toe hy in die doderyk in pyn ver keer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en Lasarus langs hom en hy roep: ‘Vader…stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, ek ly verskriklik in hierdie vuur…” (Luk. 16: 22-26). Maar Lennox se droom of visioen het die verdoemenis vir hom so ’n werklikheid gemaak, dat hy na Jesus toe gevlug het. Vir ons moet dit ook werklik word.

“Here, vandag vlug ek na U toe vir redding.

Vry 16 Jan: Onbekende Rykdom

SKRIFDEEL: Lukas 5: 1 – 11

“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” En toe hulle dit doen, het hulle so ’n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur” (5,6)

In Wes-Texas is daar ’n beroemde olieveld, be­kend as The Yates Pool. Gedurende die depres­sie­ja­re, was die olieveld, ’n ene Yates se skaap­plaas. In die depressiejare het hy swak ge­vaar met sy boerdery. Hy kon die rente op sy verband nie betaal nie. Die gevaar het bestaan hy kon binne afsien­ba­re tyd sy grond verloor. Hy kon sy gesin nie ver­sorg nie en hy het van ’n staatsubsidie af­­hank­lik geraak. Op ’n dag kom ’n oliemaatskappy se seismogra­fie­se span by sy huis aan. Daar is dalk ’n oliebron op sy grond. Kan hulle vir olie boor? Hy gee sy same­wer­­king. Op 370 diepte boor hulle ’n oliebron raak wat 80 000 va­te olie per dag lewer. Aangesien die grond nog aan Yates be­hoort het, behoort die mine­raal­regte toe ook aan hom. Hy leef op ’n staatstoe­laag en wis nie hy is ’n multimiljoenêr nie! Die skrywer van die verhaal in Pa­ra­bles stel dit so: A multimil­lionaire living in po­ver­ty: What was the pro­blem? He did not know the oil was there. He owned it, but he did not possess it. That is like many Christians today who don’t realize how rich they are in Christ.

Dit is ’n groot ontdekking om tot die insig van ons rykdom in Christus te kom. Selfs na die wonderlike visvangs en baie ander openbaringe van sy krag voor Petrus se oë, bv. die voeding van die skares, ge­nesings, die opwekking van Lasarus, het Pe­trus in sy hart steeds blind ge­bly vir sy rykdom in Christus. Dit was eers na Chris­­tus se kruisiging – want daardie dag nog het hy Jesus 3 keer ver­loën: “Ek ken die man nie!” – en na die uit­storting van die Hei­li­ge Gees, dat sy oë vir sy groot rykdom in Chris­tus vir oopgegaan het. In sy eerste sendbrief skryf hy aan die gelowi­ges: “Nou het ons ’n lewende hoop op die on­ver­gank­­li­ke, on­be­smette en onverwelklike erfenis wat in die he­­mel ook vir julle in bewaring gehou word” (1 Pet.1:4). In ons om­gang met God deur sy Woord en gebed en die wer­­king van die Heilige Gees in ons hart, word die Here Je­sus in ons oë al groter en leer ons ons rykdom ken.

“Here, vandag wil ek leer hoe ryk ek in U is.”

Don 15 Jan: Die Waarde van die Bybel

SKRIFDEEL: Matteus 4: 1 – 11

“’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (4)

’n Vrou wat erg aan senuweespanning gely het, het die wêreldberoemde dr. Howard A. Kelly be­soek. Die le­wens­druk het ’n tol geëis, fisies en selfs ver­stan­delik. Sy het hom van al haar simp­tome vertel en hy het haar deeglik ondersoek. Sy voorskrif het haar verbaas. “Wat jy nodig het, Mevrou,“ het hy gesê, “is dat jy die Bybel meer sal lees.” “Maar, Dokter….” het die verwarde vrou be­gin teëpraat. Hy het met sim­pa­tieke gesag her­haal: “Gaan huis toe en lees vir ’n maand lank jou Bybel ’n uur elke dag, en kom dan te­rug na my toe.” Eers wou sy haar vererg. Sy besef toe egter met ’n steek van haar gewete dat sy die af­ge­lope tyd die lees van die Here se woord totaal verwaarloos het. By haar huis het sy gaan bid en haar versuim van die lees van die Here se woord, en haar gebedsomgang met God, bely. Met haar terug­keer na die Here toe en haar daag­likse Bybellees en bid, het die vreugde van haar vo­ri­ge geloofsver­hou­ding met die Here teruggekeer. Toe sy ’n maand later na dr. Kelly toe terug­gaan sê hy dadelik: “Wel, ek sien jy was ’n gehoorsame pasiënt. Voel jy steeds dat jy medikasie nodig het?” “Nee, Dokter,” ant­woord sy, “ek voel ’n nuwe mens. Maar hoe het u geweet dat ek dít nodig gehad het?” Hy tel sy eie verslete en goed­ge­merkte Bybel op. Hy sê: “As ek my daaglikse Bybel­lees verwaarloos, ver­loor ek nie net my vreugde nie, maar ook my bron vir krag en bekwaamheid….” Hy gaan voort, in sy eie woorde: “Your case called not for medi­cine, but for a source of peace and strength ouside your own mind. My prescription, when tried, works wonders!”

Ons daaglikse Bybellees moet nie net met ons oë wees om die inhoud te ken nie, maar ook met ons denke om wat geskryf is te verstaan, en ook met ons hart, om wat ons lees en ver­staan, te oordink. Iemand het gesê oor­denking van die Here se Woord is so nodig soos die spysvertering van die kos wat ons eet. Ons is nie alléén in die oordenking van die Here se woord nie. Deur die Heilige Gees is die Here by ons en praat Hy met ons. Die Heilige Gees maak die Bybelwoorde wat ons lees en ver­staan vir ons voedsel, ­water, lig, krag, medisyne. “…wan­neer die Vader in my Naam die Voorspraak (Trooster – Ou Vert.), die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en her­inner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh.14:26).

“Here, vandag lees en oordink ek u Woord.”

Woens 14 Jan: 'n Deurboorde Hand

SKRIFDEEL: Johannes 20: 19 – 31

“Maar Thomas sê vir hulle: ‘As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek nie…sal ek nooit glo nie.’ Ag dae later…het Jesus gekom en tussen hulle gestaan…Daarna sê Hy vir Thomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na my hande…’” (25,27).

’n Man het eens ’n fabriek besoek. Die bestuur­der het hom in die fabriek rondgewys. Die netjiese toe­stand van alles in die fabriek en die geesdrif van die be­stuurder, het op die man ’n groot indruk ge­maak. Hy het die bestuurder opreg bedank vir die moeite om hom so rond te wys en sy hand uitge­steek om die hom ’n hartlike hand­druk te gee. Hy het van so ’n energieke man ’n stewige handdruk verwag, maar die hand wat hy neem was pap en sonder krag. Hy het die be­stuurder se hand teleurgesteld gelos. Die bestuur­der het verleë geglimlag: ”Verskoon as­seblief my hand. Toe ek ’n vakleerling was het ’n spyker my hand deurboor. Daarna kon ek nooit weer my hand toemaak nie.” Die besoeker steek da­delik weer sy hand uit. ”Mag ek u weer ’n handdruk gee, Meneer,” sê hy met aandoening, ”en mag ek u herinner aan ’n ander Man wie se hand 2 000 jaar gelede ook met ’n spyker deurboor is en wat daarna ook sy hand nooit weer kon toemaak nie.”

Die Here Jesus se hande was tydens sy lewe op aarde altyd oop vir enigiemand wat Hom nodig ge­had het en iets van Hom gevra het. Toe is sy hande deurboor, sodat Hy aan ons die ewige waardes van vergifnis van sonde, verlossing, die kindskap van God as ons Vader, en ewige lewe kon gee. Sy han­de bly altyd oop, om aan ons alles te gee wat vir ons geestelike of tydelike lewe nodig is. Kom na Jesus toe. Vra wat u nodig het.

“Here, vandag kom ek na U toe en ek vra.”

Di 13 Jan: 'n Sonde Bewussyn

SKRIFDEEL: Psalm 51 : 1 – 21

“Ja, my oortredinge ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë” (5,6)

S. M. Haughton skryf dat kapt. Hedley Vicars ’n pynlike bewussyn van sy persoonlike sondes ervaar het. Hy het geweet hy het sonde gedoen en hy het geweet dat God se toorn op hom rus. Na ’n onrustige, slapelose nag, het hy by die ontbyttafel gaan aansit. Tot sy verligting was daar niemand anders nie. “Ek, ellendige mens, wie sal my verlos?” het hy gekreun toe hy gaan sit. Met dié val sy oog op ’n Bybel wat naby sy sitplek by 1 Johannes 1: 7 ooplê. Hy lees die woorde: “Die bloed van Jesus Christus sy Seun reinig ons van alle sonde…” Dit is of ’n groot las van hom afrol. “Dan reinig dit my ook van my sonde,” sê hy vir homself. Vrede en blydskap het van sy hart besit geneem. Haughton skryf: “From that time to the hour in which he lay bathed in his own blood, in the trenches before Sebastopol, he never doubted his forgiveness, or God’s ability and willingness to pardon the chief of sinners.”

Dit is ’n groot voordeel as ’n mens intens van sonde in jou lewe bewus word, want dan gryp die hart met oorgawe na Christus Jesus se verlossing. Dit is die werking van die Heilige Gees in die hart wat dit te weeg bring. Nadat die profeet Natan deur God gestuur is om met Dawid oor sy owerspel met Batseba te praat, het hy God se genade gesoek: “Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees…Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!….Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God” (Ps.53:9,12,19). Die bewussyn van sondeskuld maak Christus Jesus vir ’n mens ’n kosbare werklikheid, want Hy alleen neem sondeskuld weg. Dit was Paulus se antwoord op die sipier van Filippi se bekommerde vraag: “’Menere, wat moet ek doen om gered te word?’ Hulle antwoord hom: ‘Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.’” (Hand.16:30,31).

“Here, vandag glo ek dat die bloed van Jesus Christus ook my van my sondeskuld reinig.”

Ma 12 Jan: Deur 'n Sleutelgat Sien

SKRIFDEEL: Spreuke 18: 1 – 15 – Lewende Bybel

”As ’n mens sommer jou opinie oor ’n saak gee voordat jy mooi geluister het waaroor dit gaan, is jy dom en sal jy in die skande kom” (13)

’n Plaasseun het eenkeer masels gekry en moes toe in ’n donker kamer in die plaashuis bly, so¬dat sy oë nie deur die sonlig beskadig word nie, soos sy ouers geglo het. Die tyd het hom gou verveel en hy het by sy buitedeur gekniel en deur die sleutelgat gekyk wat buite aangaan. Hy kon nie wyd sien nie. Hy kon net die dinge sien, wat in die nou sigveld van die sleutelgat by die deur verbygaan. Een oggend kom sy pa se spog perd by die deur verby, gelei deur ’n stalwerker. Die perd se pens en bene is vol bloed. Dadelik is die seun kwaad. Die slegte werker, dink hy, hy het die perd natuurlik oor ’n doringdraad laat spring en die perd het homself beseer. Hy wonder wat sy pa met hom sal maak. Hy verdien om terdeë gestraf te word. Net toe verskyn sy pa in sy gesigsveld en hy sien hoe sy pa met die werker praat en oor die perd se pens streel. Hy kan nie hoor wat gepraat word nie, maar hy word eintlik warm net by die gedagte wat sy pa nou vir die werker sê. Bietjie later kom loer sy pa by hom in. Die eerste waarna hy vra, is wat sy pa met die slegte werker, wat die perd verniel het, gaan maak. Sy pa gaan sit op die bed. ”Nee, Seun, daar is nie fout nie,” sê hy bedaard. Die perd was siek en die werker was so oplettend om dit raak te sien en vir my daarvan te vertel. Ek het dadelik die veearts laat kom en hy het bloedgelaat. Dit is die bloed wat jy aan die perd se pens en bene moes gesien het. Jy het deur die gaatjie te min gesien en daarom het jy ’n verkeerde gevolgtrekking gemaak. Leer vanmôre hierdie goeie les: moet jou nooit uitspreek oor iets wat jy net deur ’n gaatjie sien nie.”
Dit is die groot gevaar om uit te praat oor iets wat mens net by iemand anders gehoor het. ’n Verstandige mens kry éérs die feite voor hy sy gevolgtrekking maak. Ons onderlinge verhoudinge, en veral ons verhouding as Christene met mekaar, vra vir versigtigheid in ons beoordeling van mekaar: “Wees altyd beskeie…geduldig, en verdra mekaar in liefde” (Ef.4:2).

“Here, vandag wil ek versigtig wees in wat ek van ’n ander hoor en dan van die ander dink.”

Vry 9 Jan: As die Skaduwee Groei

SKRIFDEEL: Miga 6 : 6 – 9 (Ou Vertaling)

“Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (8)

In The Challenge skryf ’n persoon oor ’n waarheid wat vir sy hart oopgegaan het, toe hy een aand onder ’n lamplig deur geloop het op pad iewers heen. Toe hy reg onder die lig was kyk hy toevallig af op sy voete. Sy skaduwee was ’n klein ronde kring om sy voete. Namate hy verder stap, groei sy skaduwee en word langer en langer. Hy draai om en gaan terug na die lig toe. Sy ska­duwee krimp en reg onder die lig is daar feitlik geen skaduwee nie, net ’n kringetjie om sy voete. Die skrywer druk sy ge­dagtes oor hierdie onder­vin­­ding so uit: “When we get away from the Light of the world, the Lord Jesus Christ, we begin to think more high­ly of ourselves that we ought to think. It is when we are closest to the Light that we get the truest measure of ourselves.”

Hoe kleiner ons in ons eie opinie is, hoe bruik­baarder is ons vir die Here. Bewus van Jesus se groot­heid ken ons ons eie kleinheid. Johannes die Do­per het van Jesus gesê: “Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie” (Joh.1:27). Hy het ook gesê: “Hy moet meer word en ek minder” (Joh.3:30). ’n Nederige mens, iemand wat nie van hom/haarself ’n hoë opinie het nie, is nie net vir die Here meer bruikbaar as ’n self­vol­dane, trotse mens nie, maar so iemand is vir ander ook aangenamer om mee saam te leef, as iemand wat gedurig vol is van hom­self of haarself. Uit die nederige persoon vloei ’n aange­­naam­heid van lewe.

Iemand het die op­mer­king gemaak, dat die groot voëls nie sing nie. ’n Vol­struis, ’n adelaar, ’n aas­voël, sing nie. Die sangers is die klein voëltjies, die kanaries, die duiwe, die nagtegaal. ’n Trotse mens is dik­wels ook ’n onvriendelike mens, stuurs en een­kant. God is lief vir ’n nederige mens: ”So sê Hy wat hoog en ver­hewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die heilige is: ’Ek woon in ’n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die ne­deri­ges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes” (Jes.57:15,16).

“Here, vandag wil ek naby U bly om in my eie oë klein te wees.

Don 8 Jan: Uit die Dood na die Lewe

Lees Johannes 5: 24 29

“Ek verseker julle: Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wan­neer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat…gehoor gee, sal lewe.” (25).

In The Way Out vertel P. W. Philpott dat hy een Januarie-aand, as jongman, in ’n klein Kanadese dor­pie, op ’n straathoek, by ’n groep mense verby­loop wat be­sig is om ’n opelugdiens te hou. ’n Vrou sing met ’n mooi, helder stem ’n lied. Hy gaan staan om te luister. Vir hom is alles nuut, want geestelike liedere, kerk of Sondag­skool was ver buite sy belangstellings­veld. Die vrou sing:

When I survey the wondrous Cross
On which the Prince of Glory died
My richest gain I count but loss
And pour contempt on all my pride.
Na elke vers sing sy ’n refrein:
O Calvary! Dark Calvary!

Speak to some heart from Calvary.

Terwyl sy so sing, haar gesig opgehef na die he­mel, maak die Heilige Gees in hierdie luisterende wê­­reldse man, die kruis van Golgota ’n werklikheid. Vir die eer­ste keer daag dit in sy hart dat Jesus Chris­­tus in sy plek aan die kruis gesterf het. Hy het nie gees­teli­ke kennis of ’n raadgewer gehad om vir hom te sê wat besig was om met hom te gebeur nie. Hy skryf: “Later, when I began to read my Bible and found those terms of ‘saved’ and ‘born again’, I felt: ‘Why, they express my experience. I was surely ‘born again’ as I stood before the Cross of Christ. As one of the old hymn writers has expressed it:

My conscience felt and owned its guilt,
And plunged me in despair;
I saw my sins His blood had spilt
And helped to nail Him there.’”

Toe hy daardie aand by die huis kom, doen hy iets wat hy nog nooit voorheen ge­doen het nie. Voor hy in die bed klim, kniel hy en hy bid. En tot sy groter verbasing en blydskap, spreek hy God aan as: “…my dear heavenly Father” en voeg by: “For 58 years now, I have been thus addres­sing Him. He has been more than a Father to me.”

Die volgende dag het hy verder hulp gekry. ’n Man wat as ‘n Christen bekend was, het uit die blou­­te met hom ’n gesprek aangeknoop. Die man het hom dalk daar­­die aand by die opelugdiens raak­ge­sien. Die man maak sy sak­by­beltjie oop en lees vir hom stadig Jo­han­nes 5 vers 24: “Dit ver­se­ker Ek julle: Wie luis­ter na wat Ek sê, en in Hom glo wat My ge­stuur het, het die ewige lewe. Hy word nie ver­oor­deel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.” Die man vra hom om dit self te lees. Hy kan die beteke­nis nie mooi snap nie. Die man vra hom om dit weer te lees. Toe vra hy vir hom: “Weet jy wie dit sê?” Maar hy weet nie. Die man antwoord: ”Dit is Jesus self wat hierdie wonderlike woorde vir jou sê.” Die man laat hom die vers weer lees en vra: “Wat sê Hy hét jy nou?” Hier is Philpott se eie woorde: ”’Why, He says I have everlasting life.’ Then the man asked, ’Now, what do you say you have?’ And in 58 years I have never doubted that great and glorious fact. I have eternal life!”

Deur die Heilige Gees word geloof in ons hart gewek en ons word as kinders van God weder­gebore: “jul­le is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganlike, deur die lewede woord van God wat tot in ewigheid bly” (1 Pet.1:23).

“Here, vandag glo ek dat ek deur U die ewige lewe het.”

Woens 7 Jan: Die Datum

Lees Openbaring 21:1 – 8

“Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde” (6).

Dr. Charles S. Robinson het vir ’n vooraan­staan­de sa­ke­man gevra: “Wat beteken Christus vir u?” Die man het geantwoord: “Ek dink nooit oor Hom nie.” Toe voeg hy met ’n skewe glimlaggie by: “Chris­tus Jesus maak nie deel uit van my leefwêreld nie.” “As ek mag vra. In watter jaar is u gebore?” vra dr. Ro­bin­son vervolgens. Dadelik verstrek die man die jaartal. “Voor Christus of na Christus?” vra dr. Ro­bin­son, ook met ’n skewe glimlaggie. Verleë kyk die man na dr. Robinson. Hy verstaan die vraag. Gedu­rig gebruik hy die jaartal wat begin met Christus se geboorte en hy het gedink Jesus Christus maak nie deel uit van sy leefwêreld nie.

Dit is vir niemand moontlik om van Christus Je­sus, die Here, af weg te kom nie, want Hy omspan die heelal en die ewigheid. Gelukkig elkeen wat be­tyds by Hom as Verlosser uitkom: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:10). “Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie” (Joh.6:37). Dit is jammerlik ongeluk­kig om eers as dit te laat is, by Hom, as Reg­­ter, uit te kom: “Toe het ek ’n groot wit troon ge­sien en die Een wat daarop sit…Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boe­ke is oopgemaak… Die dooies is toe geoordeel vol­gens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het… As daar bevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi” (Op.20:11-15). Het die Here Jesus Christus al as Verlosser in u leefwêreld plek gekry? Moenie uitstel nie.”Kom! En elk­een…wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Op.22:17).

“Here, vandag maak ek my lewe vir U oop.”

Di 6 Jan: Die Pad deur die Kerkhof

Lees 2 Korintiërs 5:110

“Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon” (8)

’n Bejaarde predikant het eenkeer in ’n plaas­omgewing op die grondpad verdwaal. Nêrens was ’n padwyser om hom rigting te gee nie. Hy het die rit alleen aangepak. Uiteindelik sien hy ’n boerewoning. Hy draai in en vra pad. ’n Sproetgesig seun kom na hom toe en beduie vir hom die pad. “Gaan reguit aan met hierdie pad soos Oom gekom het. Net op­pas, daar is heelwat slegte kolle en sanderige plekke. Op een plek is daar ’n sloot oor die pad, maar as Oom mooi op die klipperige spoor hou, sal Oom nie in die modder vassit nie. As Oom dan nog ’n ent aanhou, kom Oom by ’n begraafplaas. Ry reguit deur die be­graaf­plaas. Die hek sal oop wees. Nes Oom deur die be­graafplaas is, sal Oom op die teerpad kom. Draai dan regs en die plek waarheen Oom op pad is, is net ’n klein entjie om die draai.” Toe hy verder ry, dink die ou dominee by homself. Dit is net soos dit nou met hom in sy lewe gaan. Sy lewenspad is nou, veral na sy vrou hom ontval het, ’n stampe­rige, sanderige, slo­terige grondpad. Soms voel dit vir hom ook of hy wil vasval. Maar net nog ’n entjie en dan kom hy ook by sy eie begraafplaas aan en sy probleme sal verby wees, want net na die be­graaf­plaas is God se hoofweg en God se woning is net om die draai.

Die grondpad van ons aardse lewe is nie vir ons al­mal só ’n moeilike en onbegaanbare pad nie. Som­mige grondpaaie is so netjies geskraap en ver­sorg, dat dit so glad soos ’n teerpad ry. Dit is ’n groot guns as die Here sy kind so seën dat sy aardse lewe son­der stampe en stote verloop. So iemand moet dan steeds uitsien na die baie heerliker hemelse be­stem­ming. Johannes waarsku in 1 Johannes 2:15 teen `n te maklike pad: “Moenie lief raak vir hierdie sondige wêreld of die dinge wat dit ’n mens aanbied nie. Want as ’n mens se hart vol word van hierdie dinge van die wêreld, is daar nie plek om die Vader lief te hê nie.” Baie van ons ervaar egter ’n stamperige pad. Dawid se pad was baie stamperig, so erg dat hy uitroep: “Ek is uitge­put van verdriet, ek huil die hele nag deur, ek deur­week my bed met trane…” (Ps.6:7). Beproewinge, maar ook baie seëninge, was Dawid se lewens­er­varing. Reeds van uit sy Ou Testamentiese posisie ver­­trou hy vir sy eie behoud in Christus se opstan­ding, soos Petrus dit in Handelinge 2:26-27 vertolk: “Daar­­om is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe, want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie…” As ons stip na die kruis en dan na die leë graf kyk, word ’n op­stan­dingshoop en blydskap in ons harte wakker. “In sy groot ontferming het Hy (God) ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onver­ganklike, onbesmette en onverwelklike erfe­nis wat in die hemel…in bewaring gehou word” (1 Pet.1:3,4).

“Here, vandag soek ek krag en oorwinning uit u opstanding.”

Ma 5 Jan: Hy faal jou Nie

SKRIFDEEL: Lees Psalm 116

“Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het… ek het benoud en bekommerd geword… ek was magteloos, maar Hy het my gered…die Here het goed aan my gedoen” (2,3,6,7)

Dr. J. H. Jowitt was eenkeer in groot moei­likheid wat hom radeloos gelaat het. Dit was asof hy nie met sy gebed die Here kon bereik nie. Hy kon aan geen uitweg dink nie. Hy het hom tot sy vriend, dr. Berry, van Wolverhampton, gewend vir raad. “Wat sou jy in my plek gedoen het?” vra hy vir dr. Berry. “Ek weet nie, Jowitt,” antwoord dr. Berry. “Ek is nie daar nie, maar onthou, jy is ook nog nie daar nie. Wanneer moet jy in die saak optree?” Dr. Jowitt antwoord: “Vrydag.” “Dan,” antwoord dr. Berry, “sal jy Vrydag jou weg oop sien. Die Here sal jou nie in die steek laat nie.” En so was dit toe ook. Toe Vrydag aanbreek, het dr. Jowitt ’n oplossing vir sy probleem gekry en geweet wat hom te doen staan.

Hieroor sê dr. F. W. Boreham – hy het op 14 jarige ouderdom in ’n steenfabriek begin werk waar hy sy regtervoet in ’n ongeluk verloor het; hy was 24 jaar oud toe hy in sy eerste gemeente gekom het; hy het 46 boeke geskryf voor hy dood is op 88-jarige ouderdom: ‘’Gee God tyd. Al moet jy soos Abraham reeds die mes ophef om jou Isak te offer, sal jy betyds die plaasvervangende ram met sy horings in die takke vas sien staan. Jy sal die plek van jou beproewing dan ook noem: Die Here voorsien. (Gen.22:8-14). Gee God tyd. Al storm die moeilikhede op jou af soos Farao se leërmag op Moses en die Israe­liete afgestorm het, sal jy die pad sien wat God betyds vir jou deur die water oopkloof (Eks.14:15-18). Gee God tyd. Al droog die spruit op, sal jy betyds God se leiding ontvang om na die weduwee in Sarfat toe te gaan (1 Konings 17:7-9).

Ons kan gerus voel. Die Here verseker ons in Psalm 31:15 (Lew.Bybelvert.) van betydse hulp: “Ek vertrou op U, want ek weet U is my God. U het beheer oor my omstandighede”.

“Here, vandag laat ek al my bekommernis in U hande rus.”

Vry 2 Jan: GOD Gaan Voor ons Uit

Lees Jesaja 40:9-11

“Soos ’n herder versorg Hy sy kudde…”(11).

Die bekende prediker en Christenskrywer, dr. F. B. Meyer, sê van die Oosterse herder: “Hy loop voor sy skape uit. Hulle kom waar hy reeds gewees het. Enige aanval op hulle moet met hom rekening hou, want hy gaan voor hulle uit. Dawid, wat self ’n herder was en geweet het hoe ’n herder teenoor sy skape voel en wat ’n herder vir sy skape doen, sê van die Here: ‘Die Here is my Herder.’ Jesus het Homself ‘die Goeie Herder’ genoem. As God ons Herder is en as ’n herder voor sy skape uitgaan, beteken dit God is voor ons. Hy is reeds in môre. Ons moet nog by môre kom. Dit is môre waarvoor ons bang is. Môre hou vir ons bedreiging in. Maar God is reeds daar.

Al die môres van ons lewe moet eers by God verby kom voor hulle by ons kan kom. Ons kan met vrede in ons hart vorentoe gaan, want ons sal God daar vind.”

’n Ou vrou het eens gesê sy is nie bang vir die toekoms nie. Sy het baie gisters belewe. In elke gis­ter het God vir haar gesorg. En vandag het sy uitge­vind: God het ook vir vandag vir haar voorsiening gemaak. Daarom weet sy, môre sal Hy haar inwag en vir haar sorg.

Ons kan God vertrou. Die Here Jesus het sy dissipels, kort voor Hy van hulle sou weggaan terug hemel toe en hulle hulle pad alleen sou moes loop, die groot gerustelling gegee: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God. Glo ook in My” (Joh.14:1). Wat moet ons doen met die bekom­mer­nis wat in ons hart opstapel? ”Werp al julle be­kommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1Pet.5:7). “Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Moenie be­kom­merd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (Jes.41:10).

”Here, vandag wil ek met vertroue in U as my Herder die toekoms ingaan.”

Do 1 Jan: Die Nuwe Jaar Het Begin

Lees Psalm 16:5-8

Ek het eenkeer in ’n geselskap gesit terwyl ’n klein seuntjie in sy spel heen en weer oor die mat hardloop. Die hoek van die tafel, amper in die middel van die vloer, was net so hoog as die seuntjie se kop. ’n Skerp hoek. Elke keer as die kind rakelings met sy koppie by die uitsteek tafelhoek verby hard­loop, hou ek my asem op. Sy pa het die gevaar ook ge­sien. Hy het nie die kind se spel belet nie. Hy het ook nie die gevaarlike tafel verskuif nie. Hy het sy hand oor die tafelhoek gesit en ons het met die ge­selskap voort­gegaan. Ook nie lank nie toe gebeur wat ons almal voorsien het. Meneertjie hardloop met sy koppie teen die gevaarlike tafelhoek vas. Maar dit is nie die tafel­hoek wat hom tref nie. Hy kry nie seer nie. Dit is sy pa se sagte hand waarmee sy kop in aanraking kom. So handel ons Hemelse Vader ook met ons. Ons gaan voort met ons lewe en die gevaarlike elemente bly om ons, maar ons Vader beskerm ons teen die leed wat dit ons kon aandoen.

“Here, vanjaar vertrou ek op u alsiende Oog wat die gevaar sien, en u almatige Hand wat dit toemaak.”